Carina van der Walt gesels met Strijdom van der Merwe en Victor van Aswegen
Landkunstenaar Strijdom van der Merwe se oeuvre word binnekort vereer met ’n pragtig-genuanseerde dokumentêr deur filmprodusent en -regisseur Victor van Aswegen. Sculpting this earth is ’n gesamentlike produk van hierdie twee toegewyde kunstenaars uit die Kaapse metropool. Hulle het 16 maande lank skouer aan skouer sonder ’n filmspan in son, wind en reën daaraan gewerk. Verfilming het dikwels in afgeleë gebiede plaasgevind. By ’n film speel nie net statiese beelde soos foto’s ’n rol nie, maar word ook elemente soos beweging en klank in die vorm van teks en musiek toegevoeg. Sculpting this earth is ’n kunswerk op sigself. Die titel van hierdie film is ontleen aan Sculpting the earth, ’n koffietafelboek met foto’s wat in 2011 by Protea Boekhuis gepubliseer is.
View from the window at Le Gras is die eerste vae, maar permanente foto wat tussen 1826 en 1827 deur die Fransman Nicéphore Niépce geneem is. Van der Merwe se laaste fase van elke landkunswerk wat hy maak, is om ’n foto daarvan te neem. Sodoende word sy kuns gedokumenteer. Anders waai die wind dit weg of laat die son dit verdamp. Kuns in die natuur met natuurlike materiaal is kwesbaar. Anders as Niépce heg Van der Merwe nie baie waarde aan titels vir sy kuns nie. Hy beskryf liewer sy proses. Skrywers worstel soms met onhandige lang titels. Dit is waar ’n film handig te pas kom. Nou kan Van Aswegen Van der Merwe se prosesse aan die publiek toon sonder dat die werke se name ’n rol speel. In 1878 eksperimenteer die Engelsman Eadweard Muybridge met sy eerste film. Sallie Gardner at a gallop was ’n bewegende reeks van 24 foto’s met die perd Sallie. Vir daardie tyd was so ’n galoppende perd blitsvinnig, maar Van Aswegen se film verloop teen die trae tempo van die natuur. Sculpting this earth omvat ’n volle jaar deur al vier die seisoene.
Strijdom en Victor, waar, wanneer en hoe het julle mekaar ontmoet en was daar ’n spesifieke aanloop tot hierdie ontmoeting?
Strijdom: ’n Kennis van Victor, Arina Vermeulen, het dit goedgedink om ons aan mekaar voor te stel. Victor het my gebel en ons het in Stellenbosch gaan koffie drink. Die res is geskiedenis. Snaaks genoeg het ek vir ’n kort tydjie saam met Arina aan my heel eerste werk by Sanlam (1986) gewerk. Sy het van my foto’s gebruik. Ons het goed oor die weg gekom. Die herinnering daaraan het seker by haar vasgesteek. Miskien het jy dit vergeet, Carina, maar jy het Victor se film Displaced oor Emma Willemse se kuns gesien. Jy was baie beïndruk daarmee en het toe teenoor my genoem dat my werk dalk ook goed op film kan werk.
Victor: Ek het vir Strijdom in 2018 genader en ons het mekaar in Stellenbosch ontmoet. Ons het gesels oor die moontlikheid van ’n film. Ek het ons gedagtes in ’n breë konsep begin vaspen. Oor ’n paar ontmoetings het ek en Strijdom die plan vir die film en die maak daarvan geleidelik verfyn en skerper in fokus gebring. Ek het nie Strijdom se werk geken voordat ons aan mekaar voorgestel is nie, maar hy het boeke oor sy werk goedgunstiglik vir my present gegee. Deur die bestudering daarvan en deur ons gesprekke het ek sy werk leer ken. Daar is verskeie dinge wat my aangetrek het tot hierdie projek.
............
Eerstens is die kunswerke wat in die natuur met natuurlike materiaal gemaak word baie mooi. Dit is goeie filmmateriaal. Tweedens is die aard van hierdie tipe kuns vlietend. Dit kan gevolglik net by wyse van fotografie of film vertoon word. Strijdom se gewone werkswyse is om op sy eie in die landskap te gaan stap, ’n werk te maak en ’n foto daarvan te neem. Sy foto word dan die enigste rekord van die werk.
...............
Eerstens is die kunswerke wat in die natuur met natuurlike materiaal gemaak word baie mooi. Dit is goeie filmmateriaal. Tweedens is die aard van hierdie tipe kuns vlietend. Dit kan gevolglik net by wyse van fotografie of film vertoon word. Strijdom se gewone werkswyse is om op sy eie in die landskap te gaan stap, ’n werk te maak en ’n foto daarvan te neem. Sy foto word dan die enigste rekord van die werk. Derdens: ’n Film skep meer moontlikhede. Dit kan, anders as ’n stilfoto, beweging vasvang – ’n sleutelelement in baie van Strijdom se kuns. Dit kan wys hoe die werk tot stand kom. Dit kan die verbygaan van tyd uitbeeld met lig wat kom of gaan. En dit kan Strijdom sélf ’n teenwoordigheid as mens gee wat nie met foto’s moontlik is nie – sy stem, sy gedagtes en iets van sy persoonlikheid. By die meeste films oor kuns of kunstenaars bly al die werke in die film elders onafhanklik voortbestaan as beelde, skilderye en foto’s. Met landkuns is film as keuse vir ’n alternatiewe manier van dokumentasie vinnig gemaak. Óf daar bestaan net stilfoto’s, óf daar is geen rekord nie. ’n Verdere oorweging was die enkele vollengte films wat al oor landkuns gemaak is. Hulle handel almal oor kunstenaars in die noordelike halfrond. Sculpting this earth was dus ’n geleentheid om nie net by te dra tot die wêreld se skat van vollengte films oor landkuns nie, maar om ook heel eerste so ’n film in die suidelike halfrond te maak. Laastens: Strijdom is eenvoudig net ’n wonderlike mens.
Die lokfilm van Sculpting this earth begin met die vier seisoene en spreek mense universeel aan. Is hierdie sikliese verloop van tyd ’n deurlopende tema in die film?
Strijdom: Ja, beslis. Ons begin in die somer en eindig in die somer. Ek en Victor is albei geweldig geduldig. Dit het baie gehelp. Ek glo as mens ’n film wil maak, moet jy geduldig wees. Ek moes baie dinge weer en weer vir die kamera doen en Victor moes veel meer weer en weer afneem ter wille van die beste filmskote. Ons het ewe veel respek vir mekaar se beroep en kreatiwiteit en het geweet dat daar baie oomblikke sal wees waar ons professioneel moet optree en die natuur sy gang moet laat gaan.
..............
Ons het ewe veel respek vir mekaar se beroep en kreatiwiteit en het geweet dat daar baie oomblikke sal wees waar ons professioneel moet optree en die natuur sy gang moet laat gaan.
..............
Daarom het ons nou ’n wonderlike eindproduk. ’n Ander tydsiklus, die siklus van die oseaan, is tydens ’n sonsopkoms by Churchhaven verfilm. Die opeenvolging van hoog- en laagwater het my bewus gemaak van wat die getye se impak op my werk is. In die film sê ek: “Die proses en die voorreg om in daardie oomblik te wees, is so mooi en kwesbaar dat jy kan wegloop en waarneem hoe die natuur oorneem, terugneem, dit verander.” Ek het die teks vir die film geskryf. Victor het soms voorstelle gemaak dat iets langer of korter moet wees of wanneer daar stiltes moes val. Sommige woorde, soos summer, autumn, winter en spring, is afsonderlik opgeneem om dit strategies by skote in die film te plaas. Die enigste ander klanke van my kant af was my stapskoene op die grond of wanneer ek met my knipmes bamboes of met my tang gras gesny het. Victor het dit wonderlik uitvergroot.
Victor vul aan: Dit was vir ons belangrik om die gedeeltes waar Strijdom in die film praat reg te kry. Baie tyd is hieraan gewy. Met die uitsondering van een kort gedeelte van Strijdom se stem is alle spraakopnames vir die film in 2022 gedoen – dus afsonderlik van en maande na die verfilming van die maak van die kunswerke. Die afneem van Strijdom wat voor die kamera praat en die opneem van sy stem met die mikrofoon sonder die kamera was amper soos ’n aparte projek. Ons benadering was om soveel moontlik stemmateriaal op te neem waar Strijdom oor sy kuns of homself of oor sy lewensuitkyk gesels. Hy was baie geduldig. Ons het altyd rustig en ongestoord in die natuur van die Jonkershoekvallei aan hierdie opnames gaan werk, so ver weg as moontlik van al die geluide van die beskawing. Dit was vir ons ’n baie aangename proses. Uiteindelik het ek geweldig baie stemmateriaal gehad om mee te werk in die redigeerproses – veel meer as wat ek uiteindelik in die film gebruik het. Die doel was om nie ’n “praterige” film te maak nie, maar een waarin die kyker tyd saam met Strijdom en sy kunswerke kan deurbring en kan sien hoe dit tot stand kom – dus eerder ’n visuele as ’n verbale ervaring. By sommige werke was dit gepas om net die klanke van die natuur by Strijdom se aksies te hê, by ander net musiek, by ander ’n kombinasie van die twee.
............
Die doel was om nie ’n “praterige” film te maak nie, maar een waarin die kyker tyd saam met Strijdom en sy kunswerke kan deurbring en kan sien hoe dit tot stand kom – dus eerder ’n visuele as ’n verbale ervaring. By sommige werke was dit gepas om net die klanke van die natuur by Strijdom se aksies te hê, by ander net musiek, by ander ’n kombinasie van die twee.
.............
Gevolglik het ek doelbewus stiltes laat val. In ander gevalle het mens weer Strijdom se stem nodig gehad saam met die natuurlike klanke en musiek. Dit het daaroor gegaan om die regte ritme, balans en afwisseling tussen die verskillende klankelemente in die loop van die film te kry, asook die regte betekenislyn van dít waaroor Strijdom praat.
Victor: Om jou vraag oor die vier seisoene te beantwoord, moes ek teruggaan na my konsep van Januarie 2021, Carina. Daarin het ek geskryf: “Hierdie struktuur van die seisoene se siklus is bedoel as ’n middel om grootliks by te dra tot die aantrekkingskrag van die film. Dit lê aan die basis van alles. Dit verwys terug na ’n diepgewortelde, oeroue menslike geheue. Dit maak aanspraak op ’n sterk universele aanslag; ’n sterk emosionele krag. As dit goed uitgevoer word, sal dit bydra tot ’n diep bevrediging in die kyker se ervaring.” Strijdom praat baie mooi daaroor in die film. 2021 was ook die jaar waarin Strijdom sestig geword het – ’n mylpaal in sy lewe, en waardevol om juis op daardie tydstip sy kunspraktyk vas te lê.
Strijdom, kan jy jou ’n film oor jou werk in swart en wit voorstel? Hoe belangrik is kleur vir jou en sien jy ’n ooreenkoms tussen jou en die Engelse landkunstenaar Andy Goldsworthy uit die noordelike halfrond se kleurgebruik, soos in sy film Leaning into the wind?
Strijdom: Nee, glad nie. Die natuur is kleur. Die film handel oor die vier seisoene wat elkeen sy eie kleurpalet het. Daarom kan dit nie anders as om in kleur te wees nie. Dit is belangrik, want dis waarmee ek werk. Heelwat ander landkunstenaars, soos Goldsworthy, werk ook met die natuur se kleure. Die verskil lê in wat ons daarmee skep, terwyl die lug in die halfronde verskil. Die suide het ’n geel en warm ondertoon en die noorde het ’n koelblou ondertoon.
Victor, anders as met jou vorige film Displaced oor Emma Willemse se kuns wat hoofsaaklik ’n bruin en warm kleurpalet het, is Sculpting this earth veelkleurig. Wil jy iets daaroor vertel?
Die verskil in kleurgebruik tussen die twee films was ’n direkte gevolg van die verskil in kleurgebruik in die werk van die twee kunstenaars. Willemse se werk neig oor die algemeen na ’n neutrale kleurpalet wat bestaan uit bruin, wit en swart. Die klem op bruine in haar werk is die gevolg van haar keuse van materiaal: houtblokkiesvloer. Dit word weerspieël in Displaced.
Die kleurpalet in Strijdom se werk is baie wyer – hy werk in die natuur met dít wat die natuur hom bied en maak ten volle gebruik van die ryk verskeidenheid kleure. Dit vind noodwendig neerslag in Sculpting this earth. Die gang van die seisoene bring nuwe kleure en moontlikhede. Die veranderende kleure in die loop van die jaar was een van die aspekte van die verfilming wat ons baie geniet het.
..............
Die kleurpalet in Strijdom se werk is baie wyer – hy werk in die natuur met dít wat die natuur hom bied en maak ten volle gebruik van die ryk verskeidenheid kleure. Dit vind noodwendig neerslag in Sculpting this earth. Die gang van die seisoene bring nuwe kleure en moontlikhede. Die veranderende kleure in die loop van die jaar was een van die aspekte van die verfilming wat ons baie geniet het.
..............
Die kleurgradering van al die skote in die film was ’n belangrike aspek van die vervaardigingsproses. Ek werk doelbewus in sogenaamde 4K RAW, ’n proses wat baie data van die kamera se sensor af stoor (24 keer per sekonde) en wat jou gevolglik in staat stel om die kleure oor ’n wye spektrum te kan rondskuif en aanpas in postproduksie. Dit het ek regdeur die film gedoen om Strijdom se pragtige kuns ten beste te toon. Die herfsskote in die film is ’n goeie voorbeeld. Die geleidelike oorgang van groen blare na groengeel na ryk geel en uiteindelik na geelbruin was belangrik om die geleidelike draai van die jaargetye uit te beeld. Dit is wat die kyker nou sien. Niks is toevallig nie. Ek en Strijdom het die herfskleure baie mooi dopgehou en seker gemaak dat ons die regte kleure vang voor hulle verdwyn. Toe het ek die presiese volgorde van die herfswerke in die film so gerangskik dat die geleidelike beweging van groen na bruin uitgekom het. Die verfilming in kleur verg nie meer tyd of tegniek nie, maar die digitale werk in die postproduksieproses om die kleure presies te kry soos wat mens dit graag wil hê, verg geweldig baie tyd. Ek skat dat die werk aan kleurgradering in totaal seker die ekwivalent van tien tot twaalf voltydse weke in beslag geneem het.
Is daar landkunswerke wat spesifiek vir die gebruik van hommeltuigskote gevra het, Victor?
Daar was net enkele kunswerke in die film waar ek en Strijdom gevoel het ons wil definitief hommeltuigskote hê om die werk ten beste vir mense te kan wys. Hulle was almal in die Tankwa Karoo – die kringe met gruisklippies wat soos waterkringe op die droë bodem lê, die kruisende lyne in ’n sirkel wat Strijdom met sy voet getrek het, en die ongebroke lyn van krulletjies in ovaalvorm wat Strijdom ook met sy voet getrek het. In al drie hierdie gevalle het mens ten minste een skoot nodig gehad wat die werk van hoog uit die lug wys om ’n gevoel van skaal te gee. Dit moes vanuit ’n nuwe perspektief wys hoe die werk in die landskap geplaas is. In die Tankwa Karoo was so iets onmoontlik van die grond af.
Filmmusiek
In die openingstoneel van Sculpting this earth hoor ’n mens hadidas en tortelduiwe laatmiddag in die Jonkershoekvallei. Direk daarna verskuif die toneel en hoor ’n mens krassende voetstappe deur ’n bamboesbos en die saag waarmee bamboeslatte gesaag word. Weerkaatsings in ’n dam. Agter die rimpelings stap Van der Merwe versigtig deur die water met sy selfgemaakte driehoeke van bamboes en klink die eerste musiek in die film. ’n Sku paddatjie kwaak deur die note. Minimalistiese strykmusiek tel die hele proses van hierdie spesifieke installasie op tot ’n verheffing van die gees. Inspirasie stroom deur ’n goed-gekomponeerde vlegwerk van kuns en musiek en maak jou as kyker ontvanklik vir die res van die film.
...........
Inspirasie stroom deur ’n goed-gekomponeerde vlegwerk van kuns en musiek en maak jou as kyker ontvanklik vir die res van die film.
..............
Later in die film klink weer klassieke musiek as Van der Merwe groen blare gekonsentreerd teen ’n boomstam aanbring. Elke blaar se posisie word haarfyn aangevoel. Dit is ’n demonstrasie van sy intuïsie. Onder Arnold Schönberg se Verklärte Nacht word dit ’n feestelike fraiingrok se val waarmee die volheid van die laatsomer gevier word. Maar as Van der Merwe die onderste blare se rigting verander, word dit ’n band, ’n lyn, ’n ring van toewyding en liefde om die boom se vinger. Hoendervleis uitgeslaan is hierdie assosiasie miskien ook ’n bietjie Schönberg se skuld.
By al drie die tonele wat met ’n hommeltuig in die Tankwa Karoo verfilm is, speel die meeslepende nuwe komposisies van Kristi Boonzaaier ’n groot rol. Behalwe by die eerste toneel waarin hierdie deel van die land uitgestrek onder reënwolke lê en jakobsleer silwer sonstrale deurlaat, hoor en sien mens telkens eers Van der Merwe se stapskoene wat ’n patroon sleep. Los dralende klanke beweeg deur na nuwe toonhoogtes. Dit word onderbou deur stemme wat slegs neurie soos in ’n koorstuk. Dít is die gregoriaanse musiek van die natuur. Die musiek eindig elke keer in ’n crescendo as ’n mens hoog uit lug op die landkunswerk afkyk.
Wanneer Van der Merwe ’n net met groterige gate van dun geel takkies op die grond uitpak, hoor ’n mens drie keer die uitgerekte klanke van ’n ghong. Tussendeur koer duiwe. ’n Serene staat van afsondering bemeester jou. Meditasie. Hierdie bos word ’n tempel. Dit geld ook later op ’n strand. ’n Ghong draal twee keer. Van der Merwe sny ’n sekelmaan in die nat sand en pak klippe daarin – van klein na groot. Miskien is dit ’n komeet se stert? ’n Hallusinasie? By die laaste sewe slae van die ghong hou Van der Merwe ’n wapperende rooi lap in die wind. Sy skaduwee flits daarop. Boonzaaier laat ’n sterk vrouestem so melankolies oor alles heen neurie dat jy verlam bly sit. Soos die laaste ghong wegsterf, vervaag die beeld. Die film is verby. Afgerond. Voldaan.
Première: Sculpting this earth (1:35:06)
Datum: 26, 27 en 28 Augustus 2022
Plek: Riebeeck Vallei, Die Kunshuis se Kelderteater
Kaartjies:
Première op Vrydag om 10:30 tot 12:30 = R200
Ander vertonings daagliks om 9:00 en 13:00 = R120
Hier is die skakel na die lokfilm.
Lees ook:
Toekomstaal, saadstories en ekokritiek in Alettie van den Heever se Stof
Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk