Sexy korrek. Romantiese rapper. CY ‘till I die.
Deesdae is dié terme algemeen in die Afrikaanse leksikon – woorde en frases wat skertsend in gesprek opgehaal word, sonder dat die man wat dit in die hoofstroom ingebring het – Jack Parow – noodwendig die onderwerp is. Voor hy die Suid-Afrikaanse (en wêreldwye) musiektoneel soos ’n brandewynbom getref het, was dié skeppings egter ver van algemene gesprekstaal, wat nog te sê van Parow se kenmerkend absurde hoed met die láááng keps.
Dit was Desember 2009, en op talle vlakke was die musiekbedryf dors vir ’n fenomeen soos Parow. Sy styl sou altyd omstrede wees in Suid-Afrika: Benewens sy vuil bek, was sy lirieke dikwels aggressief en het hy nie geskroom om sogenaamde ikone te takel nie. Een van sy eerste raps wat wyd opslae gemaak het – sy bydrae op Die Antwoord se “Wat pomp julle” – sluit hoeka af met die woorde “Fok Steve Hofmeyr”.*
Parow se benadering was ewe eenvoudig en ongemaklik vir sommiges wat hulself as Afrikaanse kultuurbewaarders beskou: hy was nie net onbeskaamd kru en platvloers nie, maar uiters trots daarop. Trouens: internasionale aanhangers dink dalk sy naam is bloot ’n verbuiging van die Johnny Depp-karakter Jack Sparrow, uit die Pirates of the Carribean-films. Almiskie. Parow is ’n woonbuurt in Kaapstad se noordelike voorstede waarna sommige Suid-Afrikaners neerhalend verwys as ’n teelaarde vir skurfheid en platvloerse gedrag. Ook in die musieklandskap is dié sade al geplant – dink byvoorbeeld aan Koos Kombuis se ’80’s-lied “Paranoia in Parow-Noord”: “Jannie moer vir Sannie blou/ Ma se kind, ek foeter jou/ bly stil, ons kyk die Cosby Show/ Voort, voort in Parow-Noord.” Dat Zander Tyler die naam Jack Parow gekies het, het dit dus dadelik vir die luisteraar duidelik gemaak: hier’s g’n pretensie nie. Eintlik die teenoorgestelde: ’n soort arrogante in-jou-gesig teenaanslag waarin die persepsie van zef-kultuur gevier eerder as ontken word.
Toe Parow grootskaalse beroemdheid bereik het met die uitreiking van “Cooler as ekke” en die gepaardgaande musiekvideo, was daar dus ’n voorspelbare teenreaksie in die Afrikaanse media. Skrywers van kla-briewe het skielik ’n nuwe gunstelingteiken gehad, vanweë Parow se wydverspreide gewildheid. Tog het die fenomeen net gegroei, veral onder die jonger bevolking, en tot ’n groot mate danksy die vlymskerp, dikwels selfspottende humor in sy lirieke. Dié humoristiese benadering sou ’n kenmerk van Parow se loopbaan word – egter ook met emosioneel treffende snitte soos “Veilig” (met Janie Bay) en “Tema van jou lied” (met Valiant Swart) tussendeur.
Kort voor lank het internasionale musiekliefhebbers begin kennis neem. In 2010 het Parow sy eerste Nederlandse toer onderneem, saam met sy vriende van Die Heuwels Fantasties (een van Parow se vroeë treffers, “Die vraagstuk”, is saam met hulle opgeneem, asook die latere treffer “Tussen stasies”. Aanhangers met ’n skerp oog sal ook weet dat Hunter Kennedy en Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties die rolle van die “cool” ouens vertolk in Parow se “Cooler as ekke”-video). Die toer was ’n sukses, en skielik was die wêreld aan Jack Parow se voete.
In die agt jaar sedertdien het Parow met reëlmaat nuwe albums uitgereik: Eksie ou (2011), Nag van die lang pette** (2014) en, mees onlangs, Afrika 4 Beginners (2017). In 2016 het die versamelingalbum Dis hoe ons rol ook verskyn, om saam te val met die gelyknamige motorfietsreeks wat hy vir die Afrikaanse televisiekanaal kykNET aangebied het. Tussendeur het daar ook ’n biografie verskyn: Die ou met die snor by die bar (2015), geskryf deur Theunis Engelbrecht.
In 2012 het Parow se bekendheid ’n ander wending geneem: hy en die supermodel Jenna Pietersen het swanger geraak, en foto’s van dié twee het die rondtes op sosiale media begin doen. Daar was dalk nie veel vyandigheid in Twitter-gebruikers se gelag vir dié onwaarskynlike paartjie (die supermodel en die onversorgde kêrel met die hangsnor) nie, maar daar was ook ’n donker kant aan die reaksie, en veral die haatpos wat hy ontvang het. In ’n onderhoud met Channel24 het hy later gesê: “Dis eintlik vir my aaklig, van die goed wat mense gesê het – die sogenaamde Christene daarbuite. Goed soos dat ons die baba moet aborteer ... omdat ek nie ’n baba in die wêreld behoort te bring nie ... sulke aaklige goed waarvan ek mense nie eens wil vertel nie.”
Hul dogter, Ruby Tyler, is in Junie 2012 gebore, en die rowwe Jack Parow was skielik pa. Aanhangers sou met reg wonder of Jack nou “sag” gaan word, maar die musiek wat Parow sedertdien vrygestel het, bewys die teendeel: trouens, die eerste enkelsnit van Afrika 4 Beginners heet “Boepens Vark” ... Die lirieke is allesbehalwe kuis, en die musiekvideo vertoon Jack se gesig op ’n reeks outydse pornografiese beeldmateriaal. Ruby het egter ook ’n invloed op sy musiekloopbaan gehad: sy was die inspirasie vir die gewilde snit “Dis befok”.
Parow het dus die doemprofete wat hom destyds as ’n eendagsvlieg afgemaak het, verkeerd bewys – in so ’n mate dat hy in 2017 sy eie fees, Parow Fest, by TivoliVredenburg in Nederland geloods het. Die fees was ’n enorme sukses – nie sleg vir “die rapper uit die bosse langs die N1 Highway” nie.
Parow is in Maart 2018 in Europa vir optredes – onder meer op 4 Maart by Melkweg in Amsterdam. https://www.jackparow.co.za/schedule.
* Hofmeyr was en is ’n liefling van die Afrikaanse hoofstroom wat dikwels regse sentimente voorstaan. In die snit “Bloubek” (2014) se musiekvideo is Parow in ’n vuisgeveg met ’n Hofmeyr-“lookalike” betrokke.
** ’n Humoristiese verbuiging van die sogenaamde “nag van die lang messe” – ’n argaïese voorspelling van ’n nag waarin die swart bevolking van Suid-Afrika die wittes sou uitmoor.
Buro: MvH