Solidariteit wil duisende onderwysposte help red

  • 0

Die vakbond Solidariteit gaan probeer om onderwysers wie se poste in die gedrang is as gevolg van die COVID-19-pandemie te help om hulle werk te behou. Duisende poste word deur die COVID-19-krisis bedreig.

Die vakbond sê in ’n verklaring hulle gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor.

Foto: Canva.com

Die verklaring stipuleer:

[T]ot 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse [kan] geraak word. Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaamaanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse deur ouers betaal word.

“Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die reaksie van Solidariteit volg na verskeie berigte dat skole landswyd sukkel om skoolgelde in te vorder sedert die inperking in Maart ingestel is. “Sedert die uitbreek van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld, en in sommige gevalle nog meer,” luidens die verklaring.

Solidariteit sê in hulle verklaring hulle het in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig. “Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed.”

Solidariteit en die SOS sê hulle “wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou.”

Solidariteit beplan ook ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.

“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan.

Ingevolge die Skolewet word beheerliggame en die ouergemeenskap as ’n sentrale deel van onderwysvoorsiening beskou. Hermann sê dit is van uiterste belang dat die rol van die ouergemeenskap beskerm moet word.

Hy sê Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. 

Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak, wat swaar getref word. “Skole probeer hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk,” luidens Solidariteit se verklaring.

“Beheerliggaamonderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. “Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.”

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaamonderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm.

Dit behels onder andere:

  • ’n Landwye veldtog wat ouers aanmoedig om sover moontlik skoolfonds te betaal.
  • Die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.
  • Werkwinkels waar planne uitgeruil kan word om oplossings vir brandpunte te vind.
  • Die oorweging van strategiese hofsake.
  • Ondersteuning in die vorm van regsadvies.
  • Opleidingsprogramme om onderwysers op hoogte van relevante tegnologie te hou.
  • Mobilisering van gemeenskappe en plaaslike ondernemings om skole en onderwysers te ondersteun.

Lees ook 

Suid-Afrikaners moet raap en skraap om COVID-19 te oorleef

Geskarrel agter skerms oor heropening van skole

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top