............
“Voedselsekerheid is een van die grootste probleme: een uit vyf volwassenes moet honger gaan slaap.”
............
Talle Suid-Afrikaners moet geld leen of hulle spaargeld gebruik om COVID-19 te oorleef. Vier uit tien Suid-Afrikaners tref reëlings vir uitstel van hulle finansiële verpligtinge terwyl 25% van die bevolking nienoodsaaklike dienste soos motorversekering gekanselleer het.
’n Verdere 21% van die land se arbeidsmag het aansoek gedoen vir werkloosheidsversekering en het geen salaris ontvang sedert die landwye inperking in werking getree het nie, hoewel hulle gedurende die tyd steeds gewerk het.
Foto: Pixabay.com
Dit is enkele van COVID-19 se rampspoedige gevolge wat aan die lig gekom het tydens navorsing wat deur Ask Afrika gedoen is.
Die meeste mense verstaan die redes vir die grendelstaat, maar dink nie die geleidelike oopmaak van die ekonomie help om lewens te red nie.
Voedselsekerheid is een van die grootste probleme: een uit vyf volwassenes moet honger gaan slaap. Swart Suid-Afrikaners het ’n aansienlik groter moontlikheid om ’n dag sonder kos te gaan as ander bevolkingsgroepe in die land, veral diegene in townships en informele nedersettings.
Altesaam 89% van die respondente is op dié stadium ekonomies in die rooi en benodig dringend ekonomiese verligting. Slegs 37% van die respondente sê hulle het genoeg geld vir die volgende paar weke.
............
“Honger volwassenes is twee maal soveel geneig om tekens van depressie te toon as diegene wat nie tekens van voedseltekort toon nie. Altesaam 32% van die mense wat tekens van honger getoon het, was depressief en 24% het tekens van angs getoon.”
............
Die navorsingsresultate toon dat Suid-Afrikaners steeds groot vertroue in president Cyril Ramaphosa het. Hulle vra egter dat hy die land op ’n meer gereelde basis persoonlik inlig oor die stand van sake. Die meeste van die respondente vertrou hom om die land gedurende die grendeltyd te lei en glo hy neem die regte leiding.
Hierdie positiewe sentiment teenoor Ramaphosa het die afgelope vier weke afgeneem. Meer as 60% van die mense wil graag minstens een keer per week van hom persoonlik hoor hoe sake nou verloop. Daarbenewens wil 78% ook gereelde terugvoer kry van die minister van gesondheid, Zweli Mkhize.
Terwyl Ramaphosa die grootste vertroue onder die meeste Suid-Afrikaners geniet, het hulle die minste vertroue in Nkosazana Dlamini-Zuma. Hoewel slegs 25% van die respondente haar hoegenaamd glad nie vertrou nie, boesem sy minder vertroue in as ministers soos Bheki Cele en Ebrahim Patel. Naas Ramaphosa boesem Mkhize volgens Ask Afrika se navorsing die meeste vertroue onder die ministers by gewone mense in.
Honger volwassenes is twee maal soveel geneig om tekens van depressie te toon as diegene wat nie tekens van voedseltekort toon nie. Altesaam 32% van die mense wat tekens van honger getoon het, was depressief en 24% het tekens van angs getoon.
Aangesien die Wes-Kaap die hoogste aantal COVID-19 gevalle het, is dit te verwagte dat die inwoners van dié provinsie voel die regering kan meer doen om die verspreiding van die virus te probeer keer deur Suid-Afrikaners daaroor in te lig en op te voed en hulle meer te ondersteun.
Ten spyte daarvan is daar in die Wes-Kaap die minimum gevoel van ontwrigting vergeleke met die ander provinsies. Vergeleke met Mpumalanga het die inwoners van die Wes-Kaap ook baie groter werksekerheid.
Wes-Kaap se respondente ontvang tans ook merendeels (56%) nog ’n salaris, terwyl slegs 35% van Mpumalanga se respondente dieselfde kan sê. Inwoners van die Wes-Kaap is volgens die navorsing dus meer selfversorgend en finansieel veilig as diegene in byvoorbeeld Mpumalanga, waar die inwoners meer afhanklik is van staats- en maatskaplike toelaes om te oorleef.
Hoewel daar groot begrip by die meeste Suid-Afrikaner is vir die regulasies gedurende die grendeltyd, is die frustrasie besig om toe te neem, met 70% van die respondente was sê dit frustreer hulle.
Die volledige resultate van die navorsing kan HIER afgelaai word.
Lees ook
Buro: MvH