Anesca Smith is ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur wat van 2013 af in Nederland bly. In Maart het sy die publieksprys gewen by die 99PowerVrouwen-verkiesing. En met reg! Hoe is dit vir haar as Kapenaar om ’n bestaan in Nederland op te bou?
Anesca, baie geluk met jou prys! Kan jy iets meer vertel oor wat die prys behels?
99PowerVrouwen is ’n idee van Lucinda Douglas wat ook ’n Suid-Afrikaner is en in Nederland woon. Sy is ’n business coach wat vroulike ondernemers bemagtig en ondersteun. Sy is geweldig begaaf in dié opsig, maar bowenal is sy iemand wat jou selfvertroue gee om voluit jou drome na te streef. Sy het die wêreld se entoesiasme en dit is een van haar eienskappe wat ek die meeste waardeer. Daarby is sy ook ’n bekende spreker wat oral in Nederland hoog in aanvraag is. Ons het mekaar in 2015 by Hogeschool Wittenborg in Apeldoorn ontmoet waar ek deeltyds as kommunikasiebeampte werk en sy as gasdosent. Sy het my dadelik as ’n Suid-Afrikaner, en sterker nog, as ’n Kapenaar herken vanweë my aksent.
Lucinda het 99PowerVrouwen in 2016 begin. Sy voer onderhoude met vroue-entrepreneurs wat dan by wyse van ’n vlog aan die buitewêreld getoon word. Die idee is om elkeen van hierdie vroue ’n platform te gee om hulself en hul bedryf voor te stel. Ek het self nog nooit voor die kamera gestaan nie, so dit was ’n uitdaging en ’n heerlike belewenis.
Wat is jou verbintenis met 99PowerVrouwen en wat het jy gedoen om die publieksprys te wen?
Ek is een van die vroue met wie Lucinda in 2017 ’n onderhoud gevoer het en was dus benoem vir die twee pryse saam met ander Nederlandse ondernemers. Die een pryswenner word deur die jurie gekies en die ander deur die publiek. Daar was ’n uitreikingsaand op 7 Maart. Die jurieprys was eerste uitgereik, daarna die publieksprys. Al die vroue wat benoem was en van hul vriende en familie was ook daar. Iedereen teenwoordig kry die kans om te stem. Elke benoemde het dan ongeveer ’n minuut of drie om te vertel wie hulle is en wat hulle doen, waarna die stemmery plaasvind. Tot my verbasing het ek die meeste stemme gekry. Dit was ’n ontroerende oomblik wat ek heeltemal nie verwag het nie. In Nederland, en trouens Europa, is vraagstukke rondom immigrante voortslepend en dit was ook ’n sleutelkwessie in die verkiesing vorige jaar. Ek weet dus nie altyd hoe mense oor buitelanders voel nie, hoewel ek self nog weinig diskriminasie aan my bas gevoel het hier. Vandaar my ontroering dat mense vir my, ’n buitestaander, gestem het.
Wat behels die prys en wat het ná jy die prys gewen het, met jou gebeur? Hélp dit, om ’n prys te wen?
Die waarde van die prys lê daarin dat dit jou, en natuurlik jou onderneming, baie sigbaarheid bied. Hoe jy die geleenthede wat dit bied benut en bestuur, is egter heeltemal jou eie keuse. Sedert ek die prys gewen het, het ek ’n paar onderhoude gedoen wat my onderneming gebaat het, maar dit het ook vir vele nuwe verbintenisse gesorg – veral met ander vroue. Nederlanders het ’n groot, oop hart! Hier heers ook ’n egte ondernemerskultuur met ’n sterk ondersteuningsnetwerk. Vele internasionale studente by die universiteit het my intussen benader met vrae oor hoe jy te werk gaan om ’n onderneming hier te begin. Die kort antwoord hierop is: “Baie maklik!” Die regering het die prosedures eintlik heel eenvoudig gemaak vir sogenaamde start-ups.
Vertel asseblief iets oor jou agtergrond. Waar het jy groot geword, watter werk het jy in Suid-Afrika gedoen en hoe het jy in Nederland beland?
Ek is gebore gedurende apartheid in Saron, ’n dorp sowat 130 km noord van Kaapstad op die rand van die Boland en die Swartland. In my matriekjaar het Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing beleef en ek het na skool met my joernalistiekopleiding begin aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Daarna het ek vir die Afrikaanse media, hoofsaaklik Die Burger en vir ’n jaar Rapport, gewerk as algemene joernalis en daarna as politieke verslaggewer in die parlement. Ek was ook twee jaar buitelandse korrespondent vir Media24 in Londen.
Na my terugkeer uit Londen kon ek nie mooi my voete vind nie. Boonop was die koerantwese wêreldwyd in ’n krisis en ek het besluit om iets anders te probeer. Dit het gevoel of Suid-Afrika te klein vir my geword het en ek moes daar weg. Nou verlang ek my dood, haha. Op 4 Februarie 2013 het ek op Nederlandse bodem geland met slegs 400 euro in my sak om bedryfskunde (International Business Administration) te studeer. Gelukkig het ek kort na my aankoms ’n deeltydse werk by die universiteit gekry en dit het my gered. Ek het ook sowat ’n maand nadat ek hier aangekom het my man ontmoet en ons is drie jaar later getroud. Sy ondersteuning het my baie gehelp om te integreer in die Nederlandse leefwyse en met die taal.
Hou jy van Nederland of was die aanpassing maar moeilik?
Die aanpassing was eintlik heel maklik. Daar is dinge hier wat vir my onbegryplik is – hoe mense vasklou aan die Zwarte Piet-tradisie byvoorbeeld! Oor die algemeen vind ek Nederland egter ’n pragtige land met cool, oop mense. Die land daag my uit om die beste uit myself te haal sonder om myself, wie ek is, te verloor.
Jy het in Nederland jou eie klerereeks begin, We Be Sisters. Wat is jou bedoeling met dié maatskappy?
Ek het baie bewondering vir hoe vroue in Afrika, en spesifiek in Suid-Afrika, uiting aan hul persoonlikheid gee deur middel van kleding – toonaangewend en modern, maar altyd met ’n knipoog na hulle African roots. Hulle is ’n lopende visitekaartjie van die skoonheid en potensiaal van Afrika. Franse vroue word altyd opgehemel oor hulle goeie smaak. Volgens my hoef Afrika-vroue geen tree terug te staan vir die res van die wêreld nie. Met We Be Sisters (die naam kom uit ’n gedig van Lucille Clifton) wou ek iets van daardie styl na Nederland bring.
My benadering tot produksie word hoofsaaklik gedryf deur aanvraag, sodoende vermy ek baie tekstielafval – ek is ’n groot aanhanger van die sogenaamde slow fashion movement. Alles word met die hand gemaak, dus moet klante ook bietjie langer wag – 5 tot 10 dae – vir ’n item.
Na al die jare in die joernalistiek is dit fantasies om iets met my hande te maak! Aan die ander kant het ek skryf ook altyd terapeuties gevind. Daar is wel raakpunte tussen skryf en mode, hoe bizar dit ook al klink. Hoe jy aantrek vertel ’n storie oor wie jy is, waar jy in die lewe staan, jou politieke sieninge. En ek is mal oor stories.
Vir die komende jaar wil ek verder bou aan hierdie ambisie rondom maatskaplik verantwoordbare entrepreneurskap. Op die oomblik skenk ek ook 10% van my inkomste aan ’n organisasie, Young Africa International, wat jong mense en gestremdes oplei in verskillende vakgebiede om hul kans op werk te vergroot.
- Kliek hier om na die webwerf van We Be Sisters te gaan.
Foto's verskaf.
Buro: IG