Suid-Afrikaners in duister oor Eskom se planne

  • 0

Suid-Afrikaners moet hulle gereed maak vir nog beurtkrag die komende winter, maar hopelik niks meer as fase 1-beurtkrag nie, en glo ook net as dit móét.

Die belofte deur die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordan, dat die land nie ’n pikdonker winter tegemoet gaan nie, is egter met skeptisisme deur talle Suid-Afrikaners begroet. Almal deel nie sy vertroue in die vooruitsig dat daar minimum beurtkrag toegepas sal word in die komende maande nie.

Ekonome het intussen gewaarsku dat die vlaag beurtkrag wat die land die afgelope maande in die donker gedompel het, beleidsonsekerheid laat toeneem het. Prof Raymond Parsons, ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het volgens Netwerk24 gesê daar is nie veel hoop dat die beleidsonsekerheid, wat as gevolg van beurtkrag ontstaan het, gaan verbeter tot ná die algemene verkiesing op 8 Mei nie. Hy het die toename aan beleidsonsekerheid hoofsaaklik toegedig aan die vlaag beurtkrag wat die land in Maart getref het. Hy sê sakelui is ook baie bekommerd oor die invloed wat die hoër kragtariewe van 1 April op die land se ekonomie gaan hê.

Pravin Gordan het vroeër die week tydens die bekendmaking van Eskom se planne vir die winter gesê danksy die werk van Eskom en die presidensiële taakspan sal daar vir die volgende nege maande minimum beurtkrag wees en slegs as dit noodsaaklik is.

Hy het Suid-Afrikaners egter in dieselfde asem aangemoedig om hulle energieverbruik te verminder.

Gordhan het die versekering gegee dat die implementering van planne vir kragvoorsiening noukeurig gemonitor word om aanspreeklikheid te verseker. Die minister het  tydens ’n nuuskonferensie by die Lethabo-kragstasie in die Vrystaat gesê daar is tans beter begrip vir Eskom se probleme met kragverskaffing. Die voorsitter van die Raad van Eskom, Jabu Mabuza, en Eskom se bestuurshoof, Phakamani Hadebe, het saam met Gordhan die media toegespreek.

Almal deel egter nie sy optimisme dat daar ’n weldeurdagte plan is om Eskom se probleme aan te spreek nie. Die DA sê die ANC is besig om die kiesers te flous en het nie regtig ’n plan nie.

Natassa Mazzone van die DA sê Eskom is onvoorbereid om moeilike besluite te neem om die kragvoorsiening reg te ruk. Sy sê daar word slegs tydelike maatreëls aangewend om die krisis te hanteer en die onvermydelike te vertraag. Volgens haar word die waarheid en omvang van die krisis in die verkiesingstyd vir die publiek weggesteek.

Volgens die DA is Eskom se aankondiging dat hulle ook nie sal ontbondel om dit ekonomies meer lewensvatbaar te maak nie, ’n bewys dat die ANC weer eens die belange van die vakbonde bo die van Suid-Afrikaners stel wat betroubare energieverskaffing broodnodig het.

Volgens Gordan is daar twee scenarios vir die komende winter: géén beurtkrag of slegs fase-1 beurtkrag.

Kriel en Malta se twee steenkooleenhede, wat al ’n geruime tyd buite werking is, sal onderskeidelik op 18 April en 13 Mei aangeskakel word. Medupi en Kusile se twee semi-aktiewe eenhede word ook voorberei om in ’n noodgeval tot 1 200 MW te kan verskaf, het SA Breaking News berig.

Lees ook

Eskom hou die land in die duister(nis)

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top