Die Swartland Wyn- en Olyfroete vier vanjaar vier dekades en het van die aanvanklike ses lede tot 32 gegroei en ’n gerekende speler in Suid-Afrika se wyntoerisme-sektor geword. Dis ’n aflewering van die roete met suurdeegbrood, olywe en wyn wat my nuuskierigheid prikkel oor waar die wingerdstok en die wynvat nou eintlik bymekaar uitgekom het.
Die Swartland WO-distrik se grense loop wyd, van die Paardeberg in die suide tot die Piekenierskloof in die noorde. Dit grens aan die Weskus in die weste en die Winterhoekberge in die ooste. Die kern van die roete is egter gesetel rondom die dorpies Malmesbury, Riebeek-Wes, Riebeek-Kasteel, Piketberg en Eendekuil.
Alhoewel dit oppervlakgewys ’n groot streek is, is daar slegs ongeveer 12 000 hektaar onder wingerd. Rhône-kultivars aard baie goed in die streek, veral Shiraz en Chenin Blanc, met al hoe meer produsente wat eksperimenteer met meer geharde kultivars om klimaatsverandering die hoof te bied, soos die Grenache Peluda van Kloovenburg en die Agiorgitiko van Eben Sadie.
Die destydse eerste voorsitter van die roete – toe nog bekend as die Swartland Wyntrust – was Hennie Smit van La Rhine in die Paardeberg, bestuurder van Swartland Wynkelder.
Henk Bruwer, voorsitter van die Riebeek-Kelder se direksie en een van die stigterslede, sê die stigting in die laat 20ste eeu is ’n glorieryke geleentheid, maar kan nie in isolasie gesien word nie. Die wynroete is 15 jaar ná die land se eerste wynroete – Stellenbosch – gestig, maar staan op die skouers van veel ouer reuse.
Hy het in 2019 geskryf: “Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het sy oorsprong op 22 Julie 1655 gehad, toe die skip Leeuwin met wingerdlote by Tafelbaai aangekom het. Hierdie lote, waarskynlik uit Europa, was die begin van wynbou aan die Kaap. Jan van Riebeeck, eerste kommandeur van die Kaap en in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), het die eerste wingerde geplant en wyn begin produseer. Sy doel was onder meer om skeepsvoorrade vir matrose aan te vul.
“Die eerste wyn is op 2 Februarie 1659 gepars. Ten spyte van beperkte kennis en uitdagings soos plae, weerstoestande en wild, het die wynbedryf stadig ontwikkel. Groot vooruitgang is gemaak onder Simon van der Stel, wat wynplase gevestig het en kundige wynmakers ingevoer het. Die koms van die Hugenote in 1688 het verdere kundigheid en groei gebring, terwyl boere (Vryburgers) die binneland begin ontgin het vir geskikte landbougrond.
“Die Swartland is reeds in 1655 deur ontdekkingsreisigers betree. Die naam ‘Swartland’ kom van die renosterbos wat in die somer swart verkleur. Teen die vroeë 1700’s is talle plase in gebiede soos Malmesbury, Darling, Riebeek-Kasteel en Porterville gevestig. Aanvanklik is die plase vir vee en graan gebruik, maar wynbou het vinnig gevolg om aan die groeiende vraag te voldoen.
“Swartland se wingerde was hoofsaaklik droëland- en bosstokke, wat lae opbrengste – maar intense geure – gelewer het. Hierdie metode het later groot waardering gekry. In die 1940’s het produsente begin saamwerk deur wynkoöperasies te stig, soos Swartland Wynkelder en Riebeek Wynboere, om hulpbronne te deel en mededingend te bly. Tradisionele kultivars is vervang deur edeler variëteite, soos Chenin blanc, Shiraz en Cabernet Sauvignon. Die streek se verskeidenheid grondtipes en mikroklimate het spesialisproduksie bevorder.”
Swartland-wyne het mettertyd nasionale en internasionale erkenning ontvang. Produsente soos Allesverloren en Riebeek Kelder het belangrike toekennings gewen, en die streek het ’n sterk reputasie opgebou.
In die 1980’s het die KWV begin om wynstreke te bevorder. Dit het gelei tot die stigting van die Swartland se eie trust of roete.
By die stigtingsvergadering vir ’n wyntrust op 6 Maart 1986 “in die KWV-distrik vir Swartland, gehou te Doornkuil, Malmesbury” is lede van Swartland, Porterville, Mamreweg Wynkelders, La Rhine Swartland, Riebeek Wynboere en Hanekom Broers teenwoordig.
Die notule lees: “Mnr JH Smit, KWV-direkteur en sameroeper van die byeenkoms, heet die here teenwoordig welkom en verduidelik die doel en noodsaaklikheid vir die stigting van ’n wyntrust aan die vergadering. Dit blyk dat na aanleiding van die besluit van KWV om 30% van die reklame en navorsingsheffing wat in ’n betrokke KWV-distrik gehef is, terug te kanaliseer om reklame te steun of te onderneem in verband met die bemarking van wyn, ander gegiste of gedistilleerde druiweprodukte en druiwesap in terme van Artikel 51 Wet 47 van 1950, sodanige fondse slegs deur ’n trust opgeëis kan word. In die lig van bogenoemde besluit die here teenwoordig om voort te gaan met die stigting van ’n wyntrust.”
Dit berig voorts dat JH (Hennie) Smit, KWV-direkteur wat druiwe gelewer het by Swartland Wynkelder, eenparig as voorsitter en Marius Erasmus, bestuurder by Swartland Wynkelder, as sekretaris vir die stigtingsvergadering verkies is. Daar is besluit dat die trust sal bekend staan as Swartland Wyntrust.
Henk vertel voorts: “Die Trust het fondse gebruik om bemarking, toerusting en geleenthede te ondersteun, hoewel daar aanvanklik onsekerheid en wantroue tussen lede was. Dit het later plek gemaak vir samewerking en eenheid.”
Uit ’n notule van 12 April 1986 wat onderteken is deur die voorsitter, JH Smit, is die stigterslede van die roete die direkteure van die vier wynkelders in die area, die bestuurder/wynmakers van die vier wynkelders in die area, eienaar/wynmaker van Allesverloren en eienaar/wynmaker van Hanekom Broers.

’n Mediagroep kom kuier in die Swartland.
By die eerste bestuursvergadering op 21 April 1986 is 11 verteenwoordigers van Eendekuil, Porterville, Malmesbury, Darling en Piketberg teenwoordig. Die roete is gestig om toerisme en wynverkope te bevorder. Bemarkingsaksies het ingesluit feeste, sportgeleenthede en mediapromosies. In die 1990’s is verdere professionalisering bereik met die aanstelling van skakelbeamptes en groter fokus op bemarking.
Henk vertel voorts in sy skrywe: “’n Belangrike keerpunt was in 1994 toe die naam amptelik verander is na Swartland Wynroete. Die organisasie het vinnig gegroei en sy nasionale profiel uitgebrei. Teen die vroeë 2000’s het groot veranderinge plaasgevind: ’n kantoor is gevestig, nuwe lede het aangesluit en ’n webwerf is bekend gestel.”

Sandra Lotz, die roete se eerste bestuurder (heel voor), saam met die bekende wynskrywer, wyle Dave Hughes, Angela Lloyd en Diane Brown
Sandra Lotz word in 1992 die eerste bestuurder van die roete.

Die Swartland Rewolusie kry in die vroeë 2000’s momentum onder leiding van Eben Sadie (The Sadie Family Wines), Adi Badenhorst (AA Badenhorst Family Wines), Chris en Andrea Mullineux (Mullineux Family Wines) en Callie Louw en Marc Kent (Porseleinberg).
Hierdie rewolusie het gefokus op natuurlike wynmaak, minimale ingryping en die gebruik van ou wingerde wat voorheen as minder waardevol beskou is. Wynmakers in die streek het begin wegbeweeg van swaar, houtgedrewe style en eerder gefokus op terroir – die unieke eienskappe van die grond, klimaat en wingerd.
Eben produseer in 2000 die eerste oesjaar van sy Syrah-gedrewe versnit, Columella.
’n Belangrike aspek van die rewolusie was die stigting van die Swartland Revolution-wynfees, waar wynmakers hul produkte kon vertoon en idees uitruil. Hierdie samewerking het ’n gevoel van gemeenskap geskep en gehelp om die streek se identiteit te versterk.
Soos die wynskrywer, Christian Eedes, in Julie 2025 op wine.mag.co.za skryf: “Die Swartland Rewolusie het die spel verander. Dis nie te betwis nie. Die oorspronklike groep – Sadie, Mullineux, Badenhorst, Porseleinberg – het nie net ’n streek herdefinieer nie; hulle het ’n houding herdefinieer. ’n Manier om wyn te maak wat minder oor nalatenskap gegaan het, meer oor duidelikheid van voorneme.
“Twee dekades gelede was die Swartland meestal grootmaatwyn. Warm klimaat, groot opbrengste, niks meer as betroubare intreevlakwyn nie. Nou is dit ’n maatstaf vir suiwerheid, terughouding en plekspesifieke uitdrukking. Dis geen klein aangeleentheid nie.
“Boonop het dit ander ’n bloudruk gegee. ’n Teken dat jy nie ’n Kaaps-Hollandse gewel of vlagskip-Bordeaux-versnit nodig het om saak te maak nie. Oral in die wynlande sal jy produsente vind wat daardie teken opgetel het, konvensies gebreek het en hul eie pad gegaan het.
“Dis revolusionêr – miskien nie in ’n politieke wetenskap-handboek sin nie, maar naby genoeg om te tel.”
Henk se skrywe skets voort: “In 2002 het die KWV finansiering vir die roete gestaak, wat die Wynroete gedwing het om self fondse te genereer. Tog is groei voortgesit, en in 2003 is die eerste Swartland Jongwynskou gehou – ’n belangrike stap om ’n eie identiteit te vestig.

Santam Landbou is sedert 2005 die hoofborg van die roete. Van links is Wessel van der Merwe (hoof: Santam Landbou), George Neveling (destydse bestuurder van Swartland Wynkelder), Jolene Janse van Rensburg (bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete sedert 2003), Steffen Gilbert (destyds besturende direkteur: Santam) en Des Green (die destydse bestuurder: Porterville Wynkelder).
“In 2005 het Santam Landbou as borg aangesluit en in 2009 is olyfprodusente ingesluit. Die naam is toe verander na die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete. Hierdie uitbreiding het die streek se aanbod verbreed en meer aantreklik vir toerisme gemaak.”

Jolene Janse van Rensburg
Jolene Janse van Rensburg, bestuurder van die Swartland Wyn- en Olyfroete sedert 2003, sê haar grootste uitdaging is dat die Swartland-wynstreek ’n groot uitgestrekte, uiteenlopende streek is met kelders regoor die streek versprei. “Besoekers moet oortuig word om die streek stukkie vir stukkie te verken.”

Sy sê die olyf-en-wyn-aanbod werk goed vir hul streek. Die huidige logo met die volledige naam is in 2019 in gebruik geneem.
“Olywe aard baie goed in die Mediterreense klimaat van die Swartland en die olyfoes volg kort ná die wyndruifoes. Dit maak nie net die bemarkingpakkie en die moet-doen-lysies van besoekers vol nie, maar skep ook waardevolle werksgeleenthede vir permanente landbouwerkers.”
Jolene vertel dat heelwat veranderinge die afgelope 20 jaar gebeur het. “Die ledetal het gegroei van 13 tot 32, ten spyte van die Darling-produsente wat kort nadat ek begin het, weggebreek en ook as WO verklaar is. Waar die wynlandskap in die verlede deur korporasies oordonder is, is daar nou heelwat meer kleiner produsente wat premium wyne vir die uitvoermark produseer.
“Daar is wegbeweeg van die ou korporatiewe sisteem en maatskappye is gevorm. Die groter kelders in die streek is nou in privaat besit. Produsente in die Swartland besit byvoorbeeld nie noodwendig meer grond nie, maar huur spesifieke blokke wingerde wat hul versorg en huur dan ook kelderspasie waar hul, hul wyne maak. Sommige koop natuurlik ook druiwe aan en maak dan gebruik van onder meer die dienste by Riebeek Valley Wine Co se boetiekkelder om die wyne daar te produseer.
“Die streek was destyds bekend vir soetwyne, maar deesdae is dit meer bekend vir wyne wat so ’n bietjie die norm uitdaag, met sogenaamde ‘unicorn’-wyne wat veral naam maak. Uitstekende versnitwyne, hoofsaaklik Chenin Blanc en Shiraz gebaseerd, is nou ook ons troefkaart.
“Slegs ongeveer ’n derde van die kelders is voltyds betrokke by wyntoerisme, terwyl die meerderheid van die kleiner produsente fokus op wynproduksie en uitvoere.”
Met die amptelike stigting van die wêreldbekende Old Vine Project (OVP) in 2016, wat wingerde ouer as 35 jaar onder ’n spesiale erfenisstempel klassifiseer, is verskeie van die land se oudste wingerde uit die Swartland. Vandag is 11 van die OVP-lede se totale 136 lede uit dié streek en verskeie lede uit ander streke koop hul druiwe hier aan. Die 11 lede is Klein Amoskuil, AA Badenhorst, Babylon’s Peak, David & Nadia, Lammershoek, Leeuwenkuil, The Sadie Family Wines, Mullineux, Rall Wines, Riebeek Valley Wine Co en FRAM.
Daar is 934 hektaar ou wingerd in die Swartland WO-distrik uit ’n totaal van 5159 hektaar.
Die oudste wingerd is die ‘T Voetpad-wingerd van Dirk Brand teen die hange van Piketberg naby Aurora en Elandsbaai, wat The Sadie Family Wines gebruik. Daar word gereken die meeste aanplantings van dié oorblywende 1,4 hektaar het tussen 1887–1928 gebeur, maar omdat die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en Stelsels (SAWIS) se opname in 1900 begin het, is die plantdatum só gelys op die stelsel. Dit is een van die oudste blokke in die land, en die oudste in Swartland.
Hein se skrywe sluit af: “Top of Form
Sedert 1986 het die Swartland Wyn- en Olyfroete ontwikkel van ’n klein, onseker inisiatief tot ’n goed bestuurde en gerespekteerde organisasie. Vandag geniet dit hoë aansien en speel dit ’n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, met ’n sterk fokus op kwaliteit, samewerking en innovasie.”

Pieter Carstens
Die huidige voorsitter, Pieter Carstens, wynmaker by Leeuwenkuil Familiewingerde, sê die roete se grootste prestasie is hoe die streek homself aanhoudend van binne vernuwe. “Die lede is ‘well-travelled and well connected’, wat bydra dat nuwe idees aan die orde van die dag is. Elkeen gee sy/haar tyd en energie soos wat sy lewensseisoen toelaat.”
Hy sê op 40 jaar is SWOR ouer as die meeste van sy lede en die jonger span het baie energie. Ook is die meeste lede onafhanklike produsente wat self boer, wynmaak en verkoop.
“Swartland beslaan ’n massiewe grondgebied waarvan by verre die grootste deel saaigrond is (broodmandjie van Suid-Afrika). Die grootte van die streek is verantwoordelik vir ’n verskeidenheid wynstyle en -profiele. Hierdie variasie, tesame met die beskikbaarheid van topwingerde, maak dit ’n baie aanloklike streek vir wynmakers.
“Mens kan asemhaal in die Swartland en kaalvoet rondloop. Benewens briljante wyne, die natuurskoon met gepaardgaande aktiwiteite wat die streek bied, is dit die mense wat die Swartland uniek maak.”
Met 40 jaar se geskiedenis agter die rug, is sy visie dat die unieke rol wat SWOR verrig in die kollektiewe bemarking van ’n streek – wat nie noodwendig moontlik/volhoubaar vir enkelprodusente is nie – nog groter sal word. “Die krag van die kollektief en die energie wat die lede bring, sal maak dat die streek net meer in statuur groei,” sê Pieter.
Hy sê die wynbedryf en Swartland as streek is belangrik vir Suid-Afrika se toerismekoffers. “Suid-Afrika is ongelooflik geseënd met natuurskoon. Kwaliteitkos en -wyn dra by tot ons gaste se ervaring, en ons is gelukkig dat die gehalte van plaaslike wyn en kos aanhoudend verbeter. Swartland het baie gedoen vir die beeld van SA wyne, en ons wil glo dat ons tesame met die res van die wynbedryf, sal help om die vliegtuie na Suid-Afrika vol te hou.”
Toe die kurk klap uit ons bottel Stonedance Hutton Red van Piekenierskloof Wine Co, draai ek die kaartjie in die geskenkboks om: “Vir 40 jaar is die Swartland Wyn- en Olyfroete gevorm deur die land en die mense wat dit bewerk – produsente, makers en gesinne wat iets blywends gebou het uit droë grond, hardkoppige geloof en ’n sterk onafhanklike gees. Binne-in hierdie boks is ’n voorsmakie van daardie fondament. Wat ons groei. Wat ons pars. Wat ons bak.”
Dit vang die Swartland se gees vir my vas.
- Foto’s: verskaf
Lees:
Storie van Pinotage is vervleg met vriendskap en pioniersgees


