Tydskrif vir Letterkunde plaas Afrikaans binne die groter konteks van Afrika deur transnasionale literatuurstudie

  • 0

Jacomien van Niekerk

Literatuurstudie is vir baie jare binne nasionale verband geplaas, maar daar is toenemend die besef dat literatuur transnasionaal bestudeer kan word. 

Tydskrif vir Letterkunde staan aan die voorpunt van hierdie soort transnasionale literatuurstudie deur Afrikaans binne die groter konteks van die Afrika-kontinent te plaas, sê die redakteur van die tydskrif, Jacomien van Niekerk, ’n dosent in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Sy het Willem de Vries se vrae oor die tydskrif beantwoord.

Tydskrif vir Letterkunde is in 1951 die eerste keer uitgereik; maar die wortels van die publikasie strek verder terug, tot 1936. Wat beskou jy as die grootste omwentelinge in die tydskrif se geskiedenis tot op hede? Waarop bou die tydskrif vandag voort én watter nuwe koerse slaan die tydskrif in? 

Lesers kan op Wikipedia meer gaan lees oor die geskiedenis van die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, later Tydskrif vir Letterkunde (TL). CM van den Heever was die oprigter van die tydskrif, en Abel Coetzee was vir meer as dertig jaar die groot dryfveer agter die publikasie.

Een noemenswaardige omwenteling is die betekenisvolle aanstelling van die vierde redakteur (1973-1991), Elize Botha, in die lig daarvan dat vroue voorheen nie toegelaat is om by die Afrikaanse Skrywerskring aan te sluit nie. Elisabeth Eybers het dit “Die Johannesburgse Vereniging vir Manlike Belangstellendes in die Letterkunde” genoem.

Aanvanklik het die tydskrif befondsing van die regering ontvang en die belange van Afrikanernasionalisme gedien. Die befondsing het dit moeilik gemaak vir die tydskrif om protes teen sensuur aan te teken.

.........

“Die Afrikaanse letterkunde bevat tekste wat as ‘koloniaal’ én ‘postkoloniaal’ getipeer kan word, en dit word met vrug bestudeer binne die kader van postkoloniale studies. Nederlandstalige letterkundige tekste sluit eweneens sulke koloniale en postkoloniale voorbeelde in, en boonop is ’n deel van die Afrikadiaspora in voormalige Nederlandse kolonies gesetel, soos Suriname en die Antille. Die moontlikhede vir (vergelykende) studies is dus werklik volop.”

.........

Onder Botha het skrywers gedebuteer wat juis die apartheidstelsel teengestaan het. Die tydskrif het ten dele sy noue affiliasie met die regering toe afgeskud en op sensuur gereageer. Henning Pieterse was die redakteur van 1992 tot 2002, en het in ’n nuwe bedeling aan die stuur van die tydskrif gestaan.

Die grootste omwentelinge is egter dié wat die tydskrif sedert 2003 onder die redakteurskap van Hein Willemse (redakteur tot en met 2019) ondergaan het. Dit het ’n tydskrif vir Afrika-letterkunde geword in plaas van een wat slegs oor die Afrikaanse letterkunde publiseer; bydraes word geplaas in Afrikaans, Engels, Frans en Nederlands, en nie meer slegs in Afrikaans nie. En die tydskrif het ontwikkel tot ’n ware akademiese vaktydskrif wat aan die vereistes van wetenskaplike navorsing op die gebied van literatuur- en kultuurstudie voldoen.

Tussen uitgawes is daar ook publikasiegeleenthede. Vertel asseblief van die elektroniese uitgawes en die deurlopende moontlikhede vir publikasie wat die tydskrif bied. 

Sedert 2017 word die tydskrif nie meer gedruk nie aangesien dit finansieel onvolhoubaar geword het. (Die enigste uitsondering is ons Kwê-reeks – kyk my antwoord by die voorlaaste vraag hieronder.)

Alle nommers van die tydskrif is gratis in die argief op ons webtuiste beskikbaar. Die artikels, oorsigte, resensies, ensovoorts in die nommers van 2003 tot op hede kan as individuele pdf’s afgelaai word. Skakels na die uitgawes wat voor 2003 verskyn het, neem ’n mens na Internet Archive – die gedigitiseerde weergawes van die ou nommers kan daar besigtig word. 

TL is deel van die Academy of Sciences of Southern Africa (ASSAf) se Khulisa-tydskrifplatform. Hierdie platform word met die oop sagteware Open Journal Systems (OJS) bedryf. Outeurs moet ’n profiel skep en hul artikel elektronies voorlê vir publikasie; die keurproses geskied elektronies via die stelsel, en die artikel word uiteindelik as deel van dieselfde stelsel gepubliseer.

Hoewel daar gewoonlik elke jaar ’n temanommer is wat as ’n eenheid vir publikasie voorberei word, is deurlopende publikasie in die “gewone nommer” van ’n betrokke jaar moontlik omdat die proses van voorlegging tot publikasie so glad kan verloop.

Hoe word tematiese samehang in ’n uitgawe teweeggebring? Hoe werk die redaksie met bydraes vir die tydskrif? Die tydskrif werk met ’n stelsel van streeksredakteurs en telkens gasredakteurs. Wat dra hierdie benaderings by tot die tydskrif?

Die temanommers wat ons al gepubliseer het, sluit in nommers oor lande in Afrika (Burkina Faso, Niger, Nigerië, Kameroen, ensovoorts), oor bepaalde skrywers (André P Brink, Thomas Mofolo, ensovoorts) en spesifieke temas (soos die onlangse uitgawe oor grense, migrasie, Afrika en Europa).

Hierdie temanommers vervul ’n belangrike rol: die uitgawes oor Burkina Faso en Kameroen het byvoorbeeld die eerste gefokuste omgang met die letterkundes van dié lande verteenwoordig. By hierdie temanommers is gasredakteurs onmisbaar – hul ekspertise is noodsaaklik om die geskikte outeurs te nader om artikels vir die uitgawe voor te lê, om die regte keurders vir dié artikels te vind en om die nodige inleidings en oorsigte te skryf wat die nommer tot ’n eenheid saamvoeg.

Ons streeksredakteurs behartig bydraes wat handel oor die letterkundes van Wes-Afrika (Frans- en Engelstalig), Oos-Afrika, Suider-Afrika, asook letterkunde in Arabies. Weer eens is hul kundigheid uiters belangrik om die integriteit van die keurproses en die kwaliteit van die uiteindelike publikasie te verseker.

Elke artikel word na ten minste twee bekwame keurders gestuur om te beoordeel en die evalueringsproses is volkome anoniem. Die streeksredakteur voeg die terugvoer van die keurders in ’n samevattende verslag saam wat aan die outeur beskikbaar gestel word; daarna moet die streeksredakteur oordeel of korreksies bevredigend aangebring is, en moet laastens die artikel redigeer met die oog op publikasie. Geen van hierdie streeksredakteurs word betaal nie; almal doen hierdie groot werk vrywillig vir die tydskrif en ons kan hulle nooit genoeg daarvoor bedank nie.

TL aanvaar bydraes in verskeie tale en fokus op veral letterkunde in en oor Afrika. Uit die aard van die tydskrif se tematiese terrein word aandag aan verskeie aspekte van postkolonialiteit en verskeie inheemse letterkundes hiermee in verband gebring. Vertel asseblief meer van die tydskrif se tematiese fokusse. Waar pas Afrikaanse en Nederlandse letterkunde binne hierdie konteks in?

Ek het die vraag reeds gedeeltelik hierbo beantwoord. Verder: Die Afrikaanse letterkunde bevat tekste wat as “koloniaal” én “postkoloniaal” getipeer kan word, en dit word met vrug bestudeer binne die kader van postkoloniale studies.

.........

“Die temanommers wat ons al gepubliseer het, sluit in nommers oor lande in Afrika (Burkina Faso, Niger, Nigerië, Kameroen, ensovoorts), oor bepaalde skrywers (André P Brink, Thomas Mofolo, ensovoorts) en spesifieke temas (soos die onlangse uitgawe oor grense, migrasie, Afrika en Europa).”

.........

Nederlandstalige letterkundige tekste sluit eweneens sulke koloniale en postkoloniale voorbeelde in, en boonop is ’n deel van die Afrikadiaspora in voormalige Nederlandse kolonies gesetel, soos Suriname en die Antille. Die moontlikhede vir (vergelykende) studies is dus werklik volop.

Vergelykende studies bied ’n ryk veld in die letterkunde én tussen letterkundes. Hoe ervaar julle spesifiek die gesprek tussen Afrikaans en Nederlands, en byvoorbeeld Frans in Afrika? Hoe vind dit neerslag in die tydskrif tot dusver?

’n Baie spesifieke voorbeeld is die temanommer oor die Kongo in die literatuur: outeurs uit Afrika en Europa het in al die tale waarin TL publiseer bydraes gelewer oor Nederlandstalige én Franstalige literatuur in en oor die Kongo.

Meer algemeen hang dit af van dit waarop akademici hul navorsing toespits, maar die tydskrif maak absoluut voorsiening vir vergelykende studies in die onderskeie tale en oor die groot verskeidenheid geografiese en taalruimtes waarin die letterkundes in dié tale hul bevind.

By watter liggame en instellings is die tydskrif geakkrediteer? Op watter aanlynplatforms is TL beskikbaar? Watter rol speel Open Access in die lewe van die tydskrif?

“Open Access” is ’n integrale deel van TL. Die meeste tydskrifte wat navorsing oor Afrikaletterkunde publiseer, word in Amerika en Engeland uitgegee; navorsers in Afrika het dikwels nie toegang tot hierdie tydskrifte nie omdat die intekengeld veels te duur is.

Daarom is Open Access vir ons belangrik: toegang tot inligting behoort nie teen betaling te geskied nie. Die feit dat ons ’n tydskrif met oop toegang is, het dit vir ons moontlik gemaak om deel te wees van ASSAf se Khulisa-platform. ASSAf bestuur Scielo (Scientific Electronic Library Online) se Suid-Afrikaanse databasisse, en ons moet deurentyd voldoen aan die vereistes wat Scielo aan hul tydskrifte stel. Op grond hiervan word ons deur die Suid-Afrikaanse departement van hoër onderwys en opleiding geakkrediteer.

TL was die eerste Afrikaanse tydskrif om akkreditasie van die Web of Science te hê. Ons is ook op die lyste van SCOPUS en die MLA. Benewens Khulisa en Scielo word ons onder meer ook geïndekseer en versprei deur die internasionale Directory of Open Access Journals (DOAJ) en African Journals Online (AJOL).

Voorsien julle dat TL in die toekoms akademiese werk sal publiseer waarin meer soorte media deel van sal wees? Maak die huidige akkreditasie voorsiening daarvoor? Kan ’n vaktydskrif nuwe en dergelike media by sy aanbod insluit? Speel bestaande akkreditasie ’n rol in hoe en watter formaat die tydskrif aanneem? Sal dit baat by ’n aanlyn ruimte waar skeppende werk gepubliseer kan word?

OJS is voortdurend besig om verbeter te word en ASSAf hou tred met die nuutste ontwikkelings in die publikasie van vakwetenskaplike navorsing. Soos wat die wêreld van akademiese navorsing aanhou aanpas danksy tegnologiese vooruitgang, sal TL mettertyd deel wees van daardie veranderinge.

Die tydskrif het natuurlik voorheen skeppende werk gepubliseer. Dit was vir skrywers ’n prestasie om met ’n kortverhaal of gedig in die tydskrif te debuteer, en gevestigde skrywers het dikwels nuwe werk voorgelê.

In die huidige navorsingsomgewing met sy streng voorskrifte vir vakwetenskaplike artikels is TL nie meer die aangewese plek om skeppende werk te publiseer nie. Boonop is daar nie meer ’n behoefte daaraan nie: in die verlede was daar min geleenthede vir ongepubliseerde skrywers, maar dit het in die afgelope twintig jaar heeltemal verander. Die internet maak dit baie maklik vir skrywers om in enige taal kreatiewe werk te publiseer (én terugvoering daarop te kry).

Vakjoernale voorsien in ’n behoefte na akademies-begronde besprekings van letterkundes. Ingewikkelde skryfwerk word dikwels as akademiese skryfwerk beskou. Helder formulering oorstyg egter telkens hierdie soort vooropgestelde idees. Hoe beskou TL die kwessie van akademiese skryfwerk en toeganklikheid vir die leserspubliek?

TL is ’n vakwetenskaplike tydskrif wat opgeneem word in internasionale databasisse op grond van die wetenskaplike, akademiese aard daarvan en die hoë standaarde wat gehandhaaf en gereeld geëvalueer word.

Die tydskrif is dus nie in die eerste plek op die populêre tydskrifmark gerig nie. Maar ons strewe na leesbaarheid en ons wil dus ook vir belangstellende lesers van letterkunde toeganklik wees. Helder formulering en die vermyding van onnodige taalfieterjasies word deur al ons redakteurs op prys gestel.

Hoeveel keer verskyn TL tans jaarliks? Sou dit by meer of minder uitgawes baat? Is daar geleenthede waar die tydskrif steeds in papierformaat uitgegee word? Hoeveel boekbesprekings verskyn gemiddeld in ’n uitgawe, asook tussen uitgawes? Werke in watter tale word telkens geresenseer? Publiseer TL steeds resensies? Ek vra dit in die lig van die beperking wat in dié opsig teenswoordig in Afrikaans ervaar word.

Die tydskrif verskyn jaarliks in die herfs en die lente. Soms publiseer ons ’n derde, spesiale uitgawe wat as deel van die Kwê-reeks deur Van Schaik uitgegee word. Die mees onlangse publikasie in hierdie reeks is Dogs in Southern African literatures (2018) met Dan Wylie en Joan-Mari Barendse as gasredakteurs. Dit is ’n hibriede publikasie aangesien dit tegelykertyd ’n gedrukte boek én ’n uitgawe van die tydskrif is.

Resensies word nie in spesiale uitgawes geplaas nie, maar wel in die gebruiklike twee jaarlikse nommers van die tydskrif. Dit wissel, maar daar verskyn ten minste agt resensies per uitgawe, in al die tale waarin die tydskrif publiseer, dit wil sê Afrikaans, Engels, Nederlands en Frans – en oor boeke in al hierdie tale.

Hoe beskou jy TL se rol in die huidige vakwetenskaplike landskap, asook binne die kader van publikasies vir ’n groter publiek wat belangstel in meertalige besprekings van boeke? Wat stel jy in die vooruitsig vir die tydskrif in die volgende klompie jare? 

Literatuurstudie is vir baie jare binne nasionale verband geplaas, maar daar is toenemend die besef dat literatuur transnasionaal bestudeer kan word. TL staan aan die voorpunt van hierdie soort transnasionale literatuurstudie deur Afrikaans binne die groter konteks van die Afrika-kontinent te plaas.

Selfs al is sommige artikels steeds binne die kader van ouer nasionale raamwerke, is die feit dat hulle saam in een tydskrif geplaas word ’n soort bewusmaking en ’n wyer kontekstualisering van die nasionale raamwerk. Boonop word dit nie deur ’n Europees-Amerikaanse struktuur en model bepaal nie, maar is dit juis ’n “Suidelike” inisiatief wat noodsaaklik is vir ’n breër beskouing van literatuur in die wêreld.

Ons nooi Afrikaans- en Nederlandssprekende literatore uit om hul navorsingsartikels voor te lê: Ons wil graag hê julle moet deel wees van bogenoemde ontwikkelings in letterkunde en literatuurstudie.

Baie dankie vir die geleentheid om met Voertaal te gesels!

Lees ook op LitNet 

’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top