Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans daarop gerig om meerstemmigheid te bestendig

  • 0

Vir Marni Bonthuys, redakteur van Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans (T.N&A), is akademiese meerstemmigheid ’n vereiste vir gesonde wetenskap en bied die tydskrif bydraes wat strek van grammatika tot literêre tendense, teoretiese benaderings, kultuurhistoriese verskynsels en literatuur-sosiologiese ontwikkelinge. Sy het Willem de Vries se vrae oor T.N&A se ontwikkelinge en komende uitgawes beantwoord.

Marni Bonthuys

Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans (T.N&A) verskyn aanlyn, asook in papierformaat. By watter liggame en instansies is die tydskrif geakkrediteer en geaffilieer?

Dankie vir die geleentheid om meer oor die tydskrif te vertel. Die tydskrif behoort aan die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) en is ongeveer 27 jaar gelede gestig.

Dit het die doelwit om die tradisie van Afrikaans-Nederlandse akademiese navorsing uit te bou. Dit is nie werklik geaffilieer by enige instansies nie. In die verlede was die Nederlandse Taalunie betrokke by die finansiering daarvan. Die Van Ewijck-stigting en Fonds Neerlandistiek het ook al skenkings gemaak om die tydskrif in moeilike tye finansieel te steun.

Oor die jare het T.N&A al verskeie redakteurs gehad wat as akademici geaffilieer is of was by bepaalde universiteite – onder meer die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), asook Noordwes-Universiteit. Vir daardie periode wat die tydskrif onder die betrokke akademikus se redakteurskap is, is daar dan ’n (losse) verbintenis met sy of haar universiteit.

Die redaksieraad van die tydskrif bestaan uit sowel Suid-Afrikaanse as internasionale vakkundiges en jy maak soms gebruik van gasredakteurs. Bydraes en uitgawes wat reeds verskyn het, kry verdere relevantheid deur middel van verdere navorsing en met verskuiwende aksente in die loop van die tyd. Hoeveel uitgawes word jaarliks uitgereik en in watter argiewe – aanlyn en/of in papierformaat – word die tydskrif opgeneem? Hoe beskou jy die rol van (digitale) argivering en beskikbaarstelling van die publikasie?

Die tydskrif word twee keer per jaar gepubliseer en gedrukte eksemplare word gestuur aan alle lede van die SAVN, asook ’n hele aantal plaaslike en internasionale biblioteke.

In die laaste paar jaar het dit egter nie gereeld verskyn nie as gevolg van, onder andere, ’n gebrek aan kopie.

Ons is egter besig om hierdie agterstand in te haal en het om hierdie rede in die laaste twee jaar meer as twee uitgawes per jaar gepubliseer.

Alle uitgawes van die tydskrif is op die SAVN se webtuiste hier beskikbaar.

Tans word dit ook ingetrek by Noordwes-Universiteit se Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Letterkunde (DBAL) en dit is juis een van ons oogmerke vanjaar om dit te laat opneem in meer aanlyn databasisse wat die tydskrif se blootstelling sal vergroot.

Akademiese vermeldings en bronverwysings raak vir akademici, asook akademiese joernale, al hoe belangriker as ’n strategie om die relevantheid en reikwydte van hul navorsing te vergroot en te bevestig.

Argivering en veral digitale beskikbaarstelling (wat toegang tot navorsing oor kontinente heen binne sekondes moontlik maak) raak dus belangriker as ooit tevore binne die akademiese wêreld.

Hoe word besluit oor die inslag wat in ’n uitgawe gevolg word? Leen die tydskrif sig tot verskeie soorte uitgawes, byvoorbeeld waar dit gaan om die bestendiging van ’n onlangse en belangwekkende kollokwium of ’n tematiese fokus? Hoe werk die keuringsproses?

Om aan die kwessie van kopie aandag te skenk het ons in die laaste paar jaar veral van huldigingsuitgawes (opgedra aan ’n akademikus by sy/haar aftrede) asook kollokwia en akademiese kongresse gebruik gemaak vir uitgawes.

Wat eersgenoemde betref, sal kollegas van die akademikus wat gehuldig word, artikels voorlê as ’n vorm van eerbetoon teenoor sy of haar kollega se akademiese bydrae. Dit is dan ’n mooi aandenking vir die betrokke persoon om by aftrede te ontvang.

Wat kongresse betref, word die referate gelewer en dan tot artikels verwerk. Dit is ook ’n manier om die inhoud van die betrokke kongres te bewaar en beskikbaar te stel aan diegene wat dit nie kon bywoon nie. By geleentheid verskyn uitgawes wat dan bestaan uitsluitlik uit artikels wat deur kollegas vir publikasie voorgelê word.

Ons gebruik ’n proses van anonieme ewekniekeuring wat internasionaal redelik standaard is vir akademiese joernale, en dit is ’n vereiste van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om akkreditasie te behou.

Dit behels dat artikels saam met die tydskrif se keurvorm deur die redakteur of gasredakteur aan twee kollegas gestuur word wat kenners is van die onderwerp waaroor die artikel geskryf is, of ten minste kenners van die groter vakterrein.

Gewoonlik moet artikels bygewerk word voor publikasie. Ek het nog nooit ’n voetstootse aanvaarding deur beide keurders beleef nie. Soms word artikels in totaliteit afgekeur, ander kere is daar nie eenstemmigheid by keurders nie, waarna ’n derde opinie betrek word. 

Keuring is ’n lang, veeleisende proses – vir redakteurs, maar veral vir artikelskrywers. Diegene wat meen dat akademici saam navorsing bekook en agter allerlei wetenskaplike komplotte sit om die sogenaamde waarheid aangaande bevindinge vir die algemene publiek weg te steek, was nog nooit by ’n akademiese joernaal se ewekniekeuringsproses (hetsy as keurder, redakteur of artikelskrywer) betrokke nie!

T.N&A publiseer bydraes in verskeie tale. Watter plek beklee die tydskrif in letterkundestudies waar dit Afrikaans sowel as die Neerlandistiek betref – binne Suid-Afrikaanse verband én in die Lae Lande? 

T.N&A is ’n kleiner akademiese joernaal binne die Suid-Afrikaanse en Lae Lande se taallandskap. Dit is ’n hoogs gespesialiseerde tydskrif, aangesien dit spesifiek na Afrikaanse en Nederlandse navorsing kyk en veral (maar nie uitsluitlik nie) na die verbande en kruisverkeer tussen hierdie twee taal- en letterkundes.

Ek sien dit egter nie as ’n beperking sodanig nie. Binne akademiese navorsing is daar ruimte vir verskeie stemme. T.N&A beklee ’n bepaalde nisposisie in Afrikaans en Nederlands wat ook belangrik en nodig is.

Watter temas en aspekte van Afrikaanse en Nederlandse literêre studies verdien meer aandag?

Studies in en oor Afrikaans en Nederlands is oor die algemeen onder druk – dit is waarskynlik nie nuus vir enige iemand nie. My gevoel is, enige goeie navorsing in en oor hierdie veld(e) is broodnodig en verdien meer aandag.

Die druk op akademici om vermeldings na te jaag en dus navorsing te publiseer wat groot golwe maak en, natuurlik, meer navorsingsgeld in die universiteit en betrokke outeur se sak bring, lei daartoe dat akademici soms op mode-onderwerpe (“sexy” navorsing!) fokus. Dit is problematies. Nie net die meesternarratiewe is van belang nie; ook die kleingeskiedenisse moet opgeteken word.

Watter rol speel die tydskrif in hierdie verband of kan dit vorentoe speel? 

As redakteur volg ek ’n inklusiewe benadering. Die tydskrif het (en ervaar steeds) vele uitdagings, en met my oorname as redakteur moes ek ’n strategie bedink om te verseker dat die tydskrif voortbestaan.

Ná gesprekke met die SAVN se bestuur en ander redakteurs van akademiese joernale het ek, in navolging van UWK-kollegas soos Wium van Zyl en Steward van Wyk, wat beide al in die verlede redakteurs van T.N&A was, besluit om spesifiek jong akademici, asook individue met nagraadse kwalifikasies in die veld wat buite of op die rand van die akademie staan, te nader om by die tydskrif betrokke te raak (hetsy in die hoedanigheid van keurder of artikelskrywer). Hul bydraes gaan natuurlik steeds deur dieselfde (keurings)prosesse.

In my paar jaar as redakteur het ek weer eens besef dat die navorsingsterrein van Afrikaans-Nederlands meer stemme kort. Behalwe dat ’n vorige generasie (wat hierdie navorsingsveld eintlik ná die kultuurboikot van voor af moes vestig) almal aan die aftree is, is akademiese meerstemmigheid eenvoudig ’n vereiste vir gesonde wetenskap. Hopelik kan die tydskrif voortgaan om ruimte te bied aan diverse (of alternatiewe) stemme in die toekoms.

Die naam van die tydskrif plaas reeds klem op taal- en ander verwantskappe. Watter aspekte van hierdie wisselwerking is belangrik vir die tydskrif?

Alle aspekte van hierdie verwantskappe word in artikels ondersoek – van grammatika tot literêre tendense, teoretiese benaderings, kultuurhistoriese verskynsels en literatuursosiologiese ontwikkelinge.

Transnasionale studies dra kulturele kapitaal by tot die wisselwerking tussen tale oor grense heen. Wat hiervan vind neerslag in die tydskrif?

Transnasionalisme is waarskynlik op die oomblik een van die “sexy” navorsingsterreine waarna ek vroeër verwys het! Dit baat die tydskrif tans, want die onderwerp van Afrikaans-Nederlandse kruisverkeer skakel mooi hierby in.

Soos hierdie navorsingsbelangstelling op die oomblik waarskynlik die tydskrif versterk het en meebring dat ons meer bydraes inkry, dra die artikels daarin hopelik ook by tot die uitbreiding van hierdie kruisverkeer.

Dit is uiteraard ’n sirkelproses – meer navorsing lei tot meer publikasies, meer publikasiemoontlikhede, wat weer meer navorsingsgeleenthede meebring, ens.

Jy is verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en is tans in België waar jy ook aan die Universiteit van Gent verbonde is. Jou navorsingsgebied sluit in komparatisme, kanonisering en literatuursosiologie. Die literêre sisteem in die Lae Lande en in Suid-Afrika bevat interessante wisselwerkinge. Watter temas oorheers tans (akademiese) gesprekke tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkundes?

Danksy die internet het die wêreld kleiner geraak. Kwessies wat Europa raak, raak Afrika (miskien was dit nog altyd die geval, maar ons sién dit tans duideliker).

Die letterkunde funksioneer as ’n belangrike spieël van die samelewing en letterkundiges is geneig om in hul navorsing die kwessies waarmee die samelewing sigself bemoei te karteer en te ontgin.

Tans is daar in Afrikaans-Nederlandse literêre navorsing baie gesprekke oor die wyse waarop dieselfde verskynsels (byvoorbeeld die klimaatskrisis en gendergeweld) in die verskillende geografiese en maatskaplike kontekste neerslag vind en hoe dit dan in die onderskeie letterkundes manifesteer.

Wat stel jy vir die tydskrif in die vooruitsig? Wanneer verskyn die volgende uitgawes en wat is die fokus?

Drie mooi uitgawes is tans in verskillende fases van die publikasieproses.

Een wat handel oor ’n historiese konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap wat by die nuwe Sol Plaatje-universiteit plaasgevind het, is onlangs gedruk en reeds op ons webtuiste gelaai.

Dan verskyn ook twee huldigingsuitgawes, met Ronel Foster en Marius Swart as gasredakteurs, albei van die US, vroeg in 2020. Ons hoop om die uitgawes daarna saam te stel oor artikels wat spruit uit die onlangse Colloquium vir Afrikaans in Gent en die US se Kongres vir Jong Navorsers.

Belangstellendes kan hierdie skakel volg na die SAVN se webtuiste om as lid van die vereniging te registreer en dan outomaties op die tydskrif ingeteken te word.

Naas die tydskrif hou lidmaatskap ook in dat mense nie kongresgeld hoef te betaal as hul SAVN-kongresse bywoon nie. In Julie vanjaar vind ’n kongres in Windhoek plaas wat baie interessant behoort te wees.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top