Uitvoergehalte: “Wil jy sien hoe lyk die hemel” deur Christof Berg

  • 0

In 2023 het ’n aantal musiekvideo’s verskyn wat ’n mens graag met die wêreld sou wou deel, en daarmee saam ’n boodskap wat sê: “Afrikaans kan ook.”

Christof Berg het sy enkelsnit en video “Wil jy sien hoe lyk die hemel” baie onlangs vrygestel.

Witkraal, die plaas waar jy die video opgeneem het, is julle familieplaas, is ek reg?

Ja, dit is. Ons het daar grootgeword en ons drie broers boer nog steeds saam op die plaas. 

Ek wil vra oor die maak van hierdie video. Ek weet jy was al die hele wêreld vol en tog het jy gekies om met die plaas en die plaaswerkers saam te werk. Hulle het ’n beduidende rol gespeel in die produksie van hierdie video. Hoe het hulle die proses ervaar?

Die liedjie gaan oor tuiskoms. Witkraal word ’n metafoor vir vele vorme van tuiskoms, terug na die geboortegrond, terug na Afrikaans, terug na jouself, die hart, die binnekamer waarna die soeke uiteindelik lei en waar die vrae beantwoord word.

Wil jy sien hoe lyk die hemel?
Hier’s dit nou: die hemel is binne-in jou.

Dit was vir my belangrik om so eg moontlik te bly en omdat “Wil jy sien hoe lyk die hemel” homself geskryf het op Witkraal, het ek besluit dat dit net van pas sal wees om ’n video daarvan op Witkraal te maak en die plaaswerkers deel te maak daarvan.

Die plaaswerkers van Witkraal was die tegniese span, opgedeel in spanne van kameramanne en klavierdraers. Die plaas se trekker en wa is gebruik om die vleuelklavier en toerusting na al die ikoniese plekke op die plaas toe te ry. Net voor sonsopkoms is die wa gelaai en met ’n gelag en ’n gejuig is die groot dag ingery.

Petrus, die voorman, het elke take aangekondig en so het die dag begin met Petrus se “scene one, take one!” Dan die geluid van twee kolossale moersleutels wat hy teen mekaar slaan. ’n Paar verwarde Sotho-woorde wat vertaal kan word met: “Wat op aarde doen hy nou?” het vir vele spontane uitbarstings van die lag gesorg.

Die vleuelklavier het die skape in die hawerland ook besoek en ferm bly staan teen die stofwolke, wind en son. Die dag het geëindig op Witkraal se sokkerveld met ’n dawerende kreet van “Witkraal!” terwyl lekker groot, koue biere feestelik en met trots teen mekaar geklink is.

Ons almal se liefde vir Witkraal en sy soutpanne was tasbaar in die lug.

Ek dink hulle ervaring daarvan was baie emosioneel. Die lirieke en beelde is so bekend aan hulle. Soos Ponnie, een van die plaaswerkers, vir my gesê het: “Die woorde slaat my diep in die hart, Ntate.”

Dis ’n flippen oulike video. Wat sê jou produksiespan oor die eindproduk?

Ons het ’n amptelike premier van die video gehad voordat dit die wêreld in is, die manne kon hulle oë nie glo oor die eindproduk nie. Hulle is slaggereed vir die volgende projek!

En die klavier? Het dit oorleef?

Die klavier het ek self gebou ’n paar jaar gelede. Ek het geweet hy sal nog op baie ekstreme plekke opeindig, so ek het seker gemaak met die bou daarvan dat hy my avonture sal oorleef. 

Ek gaan binnekort by jou kers opsteek oor die woorde en musiek, maar eers wil ek in jou komvandaan inklim. Jy het nie altyd as Christof Berg opgetree nie. Hoe het Christof van der Berg uiteindelik Christof Berg geword?

Omdat Christof van der Berg met Shades of Africa geassosieer word, was dit vir my belangrik om ’n ander identiteit te hê vir my Afrikaanse werk waarop ek vir nou wil fokus.

As deel van die Nomad Tour is daar beslis invloede van David Bowie. Hy was ’n verkleurmannetjie, sy beeld is gereeld verander na gelang van sy musiek. Pas jy ook aan by jou omgewing?

Ek het heelwat later in my lewe eers met Bowie kennis gemaak, hy was werklik een van die groot meesters van die laaste eeu. Sy vreesloosheid en geloof in dit wat hy gedoen het, was nog altyd vir my ’n groot inspirasie. Ek dink ’n mens word tog in ’n mate ’n produk van jou omgewing. ’n Mens leer die taal praat van die wat jou omring en mens pas noodgedwonge aan. Op die ou end wil ons almal hê mense moet ons verstaan en daarom moet ons die spreekwoordelike taal kan aanleer.

’n Mens ervaar ook verskillende dinge deur die lewe en dit verander jou. Ons missie as kunstenaars is om te kommunikeer, dus sal dit ongetwyfeld parallel loop met ’n mens se persoonlike lewenspaaie. Om eg te bly, beteken verandering, want soos ons weet is verandering die enigste konstante – in my geval in elk geval!

“Wil jy sien hoe lyk die hemel” is gestroop en baie rou. Maar jy is ’n man wat al op verskeie kontinente opgetree het en steeds toer met veel meer korporatiewe vertonings. Shades of Africa en die Nomad Tour is baie meer internasionaal. In hoeveel lande het jy al gespeel?

Ek sal moet gaan tel, maar ek was al deur ’n hele paar plekke. Veral Afrika, die Verre Ooste, Suidoos-Asië, Europa, Noord-Amerika... Shades of Africa is geskep om Afrika-musiek toeganklik te maak vir die buiteland.

Jy is ’n baie goeie jazz-musikant. Waar is jy opgelei?

Ek het net ’n voorgraad-een-klaviersertifikaat. Dit is wat kleuters moet deurkom voordat hulle grootskoolmusieklesse toe mag gaan. Op laerskool het ’n boheemse reisiger deur ons dorpie gekom en binne ’n paar weke die formule van musiek vir my oopgebreek en in sy min woorde en baie wysheid vir my net genoeg gegee om die wêreld van musiek self te kan ontdek. Ná duisende ure se oefen het die landskap al hoe meer bekend begin word, maar in my tienerjare het die legendariese jazz-pianis Johan Cromhout ná twee jaar se jazz-klasse my ’n reuse-hupstoot gegee. Ek wou ook nooit musiek leer lees nie, dus het ’n bekende Kaapse operasangeres eenmaal van my gesê: “If only we could tame him.”

Opleiding hou nooit op nie, dit kom deur te leef. Almal op jou pad dra iets by. ’n Mens bly leer en partykeer kan ’n glimlag van ’n kind jou meer van musiek leer as ’n professor by Juilliard.

Op watter ouderdom het jy begin musiek maak?

Ek was omtrent nege jaar oud toe ek my eerste liedjie geskryf het.

Jy het ook ’n lieflike vertolking van Stef Bos se “Papa” opgeneem. Het jy en Stef al saam opgetree?

Ek sal baie graag wil. Ek dink hy is buitengewoon begaafd en ’n meester met woorde.

Stef Bos se pa was ’n dominee. Jou pa was ’n dominee. My pa was nie ’n dominee nie, maar toe ek daardie lied kort voor sy dood vir hom speel, het hy presies geweet hoekom. Hoe het jou pa oor Stef Bos se “Papa” gevoel?

My pa was ’n baie groot aanhanger van Stef Bos. Soos Stef Bos in sy liedjie beskryf, het hy en sy pa partykeer verskillende idees gehad. Ek en my pa dieselfde. Alhoewel ons ontsaglike goeie vriende was, was daar baie filosofiese en dogmatologiese idees waaroor ons verskil het, maar beide van ons het nog altyd meer in die liefde geglo as in enige ander geskrewe of ongeskrewe reël. Dit, dink ek, is min of meer waar elke groot vraag in elk geval sy antwoord eindelik kry.

Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat “Wil jy sien hoe lyk die hemel” geïnspireer is deur die dood van jou pa, of praat ek nou nonsens?

Dit is presies die waarheid. Dit was die grootste en mees lewensveranderende ervaring wat ek ooit beleef het. Die psigiese reis was presies soos die lirieke sê:

Ek gaan soek toe na die hemel,
want ek’t jou verskriklik gemis
en ek loop en ek loop maar ek kry nie my rus.
Ek roep en ek soek en my voete raak moeg,
maar die pad lei my toe reguit na Witkraal toe. 

Waar het jy geleer lirieke skryf? Daardie oomblik waar die honde die gestorwene gaan soek, die swaels wat omdraai... Dis diep goed daardie.

Ek glo lirieke skryf hulleself. Ons is bloot kanale vir die groter kreatiewe bron en wat jou volgende kreatiewe opdrag is, is nie altyd duidelik nie, maar wat belangrik is, is dat ons moet leer om gereed te staan. Wat ons wel kan leer, is om te luister en om ontvanklik te wees. Soos Leonard Cohen gesê het: “All we can do is to keep the channel open and the machine well oiled.”

Die verlorenheid van die honde sal ek nooit vergeet nie, hoe hulle by die leë stoel gaan lê het in die stoor waar ons saans ons verskillende idees bespreek het. Hy het ook ’n kinderlike opgewondenheid gehad as die swaeltjies terugkeer van Spanje af vir die somer, maar daardie spesifieke somer was hy nie daar om hulle te verwelkom nie.

Talle van jou korporatiewe vertonings het ’n storie-element. Ons tel dit ook op in hierdie lied. Dink jy aan jouself as ’n musikale storieverteller?

Ek is besonders lief vir ’n storie. Ek dink musiek is dalk net die medium wat ek verkies om stories en waarnemings te kan oordra. Ek skryf graag oor mense en mense is gemaak uit stories.

Kry jy tyd vir boer tussen die musiek deur?

Ek is baie op die pad, maar besoek die plaas heel gereeld. My musiekateljee is ook op die plaas. So ja, hier en daar is daar tyd om aan die boerdery aandag te gee.

Mense wat jou gesin al lank ken, vertel dat Karel Schoeman by tye jou ma sou bel om te vra dat jy hom Bloemfontein toe sal neem. Wil jy iets daaroor sê?

Karel Schoeman het ’n onvergeetlike rol in my lewe gespeel. Sy geselskap het my altyd vol vrae gelaat. Ons was baie goeie vriende gewees en het dieselfde belangstelling in kuns gedeel. Met sy mandjie, kierie en kakiepak het hy soos ’n nederige reus met groot tree vol kennis versigtig getrap tussen die mense rondom hom. Woensdagmiddae het hy by my in my houtwerkfabriek kom kuier. Dan het hy beskuit saamgebring wat ons in ons koffie gedruk het. Sy gesprekke was meer as net woorde of goed-saamgestelde sinne, dit was ’n raaisel. Baie van sy meubels en kunswerke het hy vir my gegee wat ek geweldig koester. En ja, ons het baie saam Bloemfontein toe gery en as sy take afgehandel is, was sy gunstelingplek die Traumerei in die Bloemfonteinse Loch Logan.

Ek weet jou 2023 is propvol geboek met optredes. Wat kan ons van jou verwag in 2024?

Ek beplan om deur die loop van 2024 ’n hele paar Afrikaanse enkelsnitte vry te stel en ’n album saam te stel. Ek gaan ook steeds voort met die toer deur die hele land.

Lees ook:

Uitvoergehalte: "Sal jy?" deur André Schwartz

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top