“Ek hoop dis nou die einde van die saak, en dat ons as universiteitsgemeenskap kan aanbeweeg.”
So het Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), gesê nadat hy van enige blaam onthef is dat hy vermoedelik probeer inmeng het in die konstitusionele hof se uitspraak oor die US se Taalbeleid 2016.
Wim de Villiers (Foto: Naomi Bruwer)
Die ondersoek onder leiding van oudregter Burton Fourie het bevind dat daar geen bewyse was dat De Villiers onbehoorlik opgetree het met die nominasie van oudregter Edwin Cameron vir die amp van kanselier van die US nie.
Wim de Villiers van blaam onthef ná ondersoek na beweringe dat hy probeer inmeng in die Konstitusionele Hof se gedingvoering rakende US se Taalbeleid 2016, deur oudregter Cameron te probeer oorreed om nominasie vir Kanseliersverkiesing te aanvaar. https://t.co/4SeahrkMUh
— Stellenbosch Univ (@StellenboschUni) December 2, 2019
Regter Fourie is aangestel om bewerings te ondersoek dat De Villiers by die hofsaak probeer inmeng het deur regter Edwin Cameron te probeer oorreed om die nominasie vir die kanseliersverkiesing te aanvaar.
De Villiers sê op US se webwerf hy verwelkom die bevinding soos wat hy ook die ondersoek verwelkom het. “Ek het uit die staanspoor gesê ek het nié met die regsproses ingemeng nie, en het in goeder trou opgetree. ’n Onafhanklike ondersoek het dít nou bevestig.”
“Ek is geheel en al van alle blaam onthef,” het De Villiers in ’n video gesê wat op die universiteitswebwerf geplaas is.
Die rektor sê die US bly verbind tot die gebruik van Afrikaans en Engels as onderrigtale ter bevordering van inklusiwiteit en meertaligheid.
“Beide die hooggeregshof én die konstitusionele hof het nou bevestig ons taalbeleid is grondwetlik geregverdig. En ’n onafhanklike ondersoek het bevind ons het niks verkeerd gedoen nie. Dis tyd dat almal dít aanvaar sodat ons met onverdeelde aandag kan doen waarvoor ons hier is – om die beste moontlike universiteit vir almal in ons land te wees.”
Regter Fourie skryf in sy verslag die bewyse toon hoogstens dat die rektor, “soos hy verplig was om te doen”, gehelp het – en selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die nominasie van ’n nuwe kanselier te identifiseer.
“Regter Cameron, aan die ander kant, het homself eers vir nominasie beskikbaar gestel nadat toestemming van advokaat Heunis namens Gelyke Kanse ontvang is. ’n Oorsig van bewyse as ’n geheel dui, myns insiens, nie op onbehoorlike gedrag deur enige een van die twee rakende die nominasie van regter Cameron nie. Dit dui ook nie daarop dat hulle in enige stadium op enige manier opgetree het wat redelikerwys beskou kon word dat regter Cameron partydig in die Gelyke Kanse-gedingvoering was nie.”
Regter Burton se volledige verslag kan hier gelees word.
Die president van die US se konvokasie, advokaat Jan Heunis, het vroeër vanjaar tydens die konvokasie se algemene jaarvergadering gesê De Villiers het nie die waarheid gepraat toe hy gesê het dat Gelyke Kanse dit goedgekeur het dat die kanselierskap aan Cameron aangebied is nie.
Heunis het gesê hy sal as president bedank indien die voorsitter van die universiteitsraad en die rektor nie uit hulle poste bedank nie, en as oudregter Cameron ingesweer gaan word as die US se nuwe kanselier.
Die universiteitsraad het oudregter Fourie se verslag aanvaar. Geen verdere stappe sal gedoen word rakende die rektor se versoek dat Cameron homself as ’n kandidaat vir die US-kanselierskap beskikbaar stel nie, en die raad beskou die saak as afgehandel.
De Villiers sê al waaroor hy spyt is, is dat daadwerklike pogings om hom en die universiteit verdag te maak, ook aanvalle op oudregter Cameron, die ander regters en die prosesse van die konstitusionele hof ontketen het. “Nie ek of enigiemand anders het enige geheime of onderduimse bedoelings gehad toe ons oudregter Cameron probeer oortuig het om homself as kanselierskandidaat beskikbaar te stel nie.”
“Daar was geen poging tot geheimhouding nie. Dit was algemene kennis dat ’n aantal vooraanstaande US-alumni, insluitende lede van die US se rektoraat, oudregter Cameron as ’n uitstekende kandidaat vir die kanselierskap beskou het. Dit is ook heeltemal onrealisties om aan te voer dat een mens soveel invloed kon uitoefen om ’n hele regbank van tien vooraanstaande regters van die konstitusionele hof daarvan te oortuig om ten gunste van die US te beslis, en alle lede van dié kieskollege – buiten twee – om vir regter Cameron te stem,” het De Villiers gesê.
Lees ook
Lees ook op LitNet
Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron
Stellenbosse taalbeleid: woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
US-taalbeleid en die Konstitusionele Hof se beslissing: Afrikaans? Afrikatale? Stellenbosch?
Buro: MvH