Venter en Nystrøm verklank ’n wêreld van liriese vernuwing op Kassandra

  • 0

Die eerste album van Juliana Venter en Rolf-Erik Nystrøm as duo dui op ’n diepgaande estetiese verbintenis. Die werk Under the Same Rainbow (2024) op die omslag van Kassandra is geskilder deur Wayne Barker, ’n internasionaal gerekende Suid-Afrikaanse visuele kunstenaar wat, soos Venter, sedert die laat apartheidsjare sy stempel bly afdruk op maatskappykritiese vrae en kunsvorme. 

Die skildery bied ’n visuele ouverture én kykpartituur vir die album. Soos Sonic Youth destyds met Gerhard Richter se skildery Kerze (1982) gedoen het, is Barker se kunswerk allermins verpakking. Dit bevat iets van ’n tydsgees wat op die album sy beslag kry. Herskepping, herkoms, improvisasie en die gespreksaard van werke op Kassandra bied wye en genuanseerde kreatiewe spanningsvelde wat die kunstenaars op verrassende en kundige maniere ontgin.

Die onafhanklike, gevestigde Noorse musiekmaatskappy Grappa reik hierdie album uit. Dit bied ’n gepaste tuiste vir Venter, ’n bekroonde Afrikaanse sopraan wat in Noorweë leef en werk, en Nystrøm, een van die  wêreld se voorste saxofoonspelers wat by verskeie ensembles in uiteenlopende genres oor die wêreld heen betrokke is. Saam skep en vertolk hulle met diepgaande kennis van die uiteenlopende tradisies en eras waaruit hulle put.

Tussen hulle is ’n uitgebreide reeks samewerkings en ensembles wat met die grootste gemak in kreatiewe gebiede tussen musiekstyle beweeg. Gaste op die album is Paal Nilssen-Love (gongs en tromme), Nils Økland (die hardingfele, ’n tradisioneel Noorse strykinstrument soortgelyk aan die viool) en Mats Eilertsen (kontrabas). Hul teenwoordigheid is subtiel maar beduidend. Die opname getuig van hoogstaande klankgehalte en artistieke integriteit.

Venter en Nystrøm wys op Kassandra dat kuns- en musiekbewegings nie verdwyn nie, maar telkens akkulturasie ondergaan, dit wil sê opnuut toepassing en verdieping in daaropvolgende eras vind. Die laatromantiek beweeg steeds deur kultuurgoed in 2025; dadaïstiese uitvoerings beskik steeds – in die regte hande en met die juiste tekste – oor ’n sekere elektriese vertolkingsvermoë.

Foto: Thor Brødreskift

In Venter en Nystrøm se hibridiserende estetika is genres onder meer onderdele vir ’n improvisatoriese benadering wat werke op sublieme, uitdagende maniere aan luisteraars (her)bekendstel.

Die duo het mekaar in 2012 in Kaapstad ontmoet. Sedertdien het hulle op verskeie kontinente en oor genres heen opgetree. Waar hulle met die werk van gevestigde mense en groepe werk, of dit nou die werk van Miriam Makeba of Billie Holiday is, kry jy vernuwende aksente en vars kontekste vir werke te hoor. Op "Without Your Love" is die bekende werk van Holiday en Lester Young vir 2025 herskep. Die ornamentasie van die oorspronklike bevat die gees van ’n vroeër tyd. In Venter en Nystrøm se gesprek met die oorspronklike keer hulle terug na die melodiese kern van die stuk. Teen die agtergrond van ’n wêreld wat steier tussen slagtings en diktature kry hierdie nuwe gestrooptheid ’n onverwagse aksent: dis of die weglating van ornamentasie self ’n vorm van rou bied.

​Kassandra dien onder meer as tydsdokument van Venter en Nystrøm se samewerking wat jare gelede reeds in Kaapstad ontroer het en sedertdien net gegroei het. Lees ’n resensie van die indertydse uitvoering.

Ná hul verwerking van Moulinié (1599-1676) se "Concert de Différents Oyseaux" op Kassandra kan jy maar gerus dink hierdie werk ís vir sopraan en saxofoon geskep, al dateer die saxofoon van die 1840's. Die veral barokkonvensie om voëlgesang met melismatiese lopies na te boots word hier herbedink deur Venter en Nystrøm. Die uitvoering tref ’n fyn balans tussen kwetterende natuur-anargie en die aanwending van vormtug in die skep van verrassende, verdiepende klankbeelde.

Venter werk reeds dekades met tekste van die verdwene kunstenaar en digter Wopko Jensma. Venter en Nystrøm se weergawe van Jensma se konkrete poësie uit die "gomringer variasies"  uit i must show you my clippings (1977), wat verwys na die groot Switserse eksponent van konkrete poësie Eugen Gomringer, bevestig hoe vitaal ’n kundige dadaïstiese voordrag van konkrete poësie in 2025 kan wees. Jensma se werk word ontgin vir die onverwagse en klankverkennende ritmiek van die bepaald visuele digwerk. Nystrøm speel saxofoon selfs onder water, ’n tegniek waar lugborrels die klank onderbreek en verwring. Die effek is tegelyk humoristies en onrusbarend. In ’n wêreld wat tussen vervlakking en geweld rondsteier, skep Venter en Nystrøm ’n werk waarin ontbinding en betekenis saamsing.

Om na Venter as sopraan te verwys is ’n vlag wat nie heeltemal die lading dek nie, daarvoor is haar tegniek te uitgebreid: sy sing alles van vroeë barok tot die kwetterklanke van voëls op dieselfde snit of die dramatiese klankspektrum van Xenakis se besonderse komposisies wat soms buitensporige intervalle en feitlik akrobatiese klankspronge vereis. In Xenakis se idioom produseer sy skielike, bykans gewelddadige klankuitbarstings; in barok beweeg sy met die sierlike, ingetoë soepelheid wat daardie styl vereis. Haar stem beweeg tussen repertoria wat eeue uitmekaar lê en sy laat haar nooit inbind tot die konvensies van die werke of eras nie, hoewel sy ’n deeglike kennis daarvan het.

Nystrøm, een van die voorste saxofoniste van ons tyd, is ’n volstrekte meester van die instrument. Hy het  al meer as 50 saxofoonwerke met verskeie ensembles die eerste keer uitgevoer en is op tientalle opnames te hoor. Hy werk ook oor dissiplines heen soos wat sy werk met onder andere William Kentridge wys. Op Kassandra ontgin hy so ongeveer die voorstelbare klankpalet van die saxofoon: van perkussiewe klepklanke en die reeds genoemde onderwaterspel, tot die dwarreling van stof wat die wind oor ’n stuk droë veld waai. Sy saxofoonspel klink eintlik selde twee snitte ná mekaar soos dieselfde instrument. En stem en saxofoon is ook hierin fyn op mekaar ingestem.

Dit is ’n opname met aandag aan besonderhede soos die ruimte rondom klank, die detail van asemklanke en klepgeluide sonder dat dit te veel op die voorgrond geplaas word. Subtiele klankruimtes op "Qongqothwane / The Click Song" ontstaan mede deur die strykers Økland en Eilertsen se bydraes. In hierdie weergawe van "Qongqothwane / The Click Song", die Xhosa-bruilofslied wat Makeba bekend gemaak het, vind deurleefde vreugde die pad ligvoets oor verdriet.

Die balans tussen Venter se stem en Nystrøm se saxofoon verskuif subtiel van een snit na ’n volgende, maar ook binne snitte: soms staan die stem effens op die voorgrond en soms smelt hulle tot ’n enkele klankbron en dan improviseer die saxofoon ’n lopie daaruit. Soms in die kortste bestek denkbaar, ander kere veel langsamer.

Op meer as een snit aksentueer die asemhaling en klepklanke menslike warmte en is dit deel van die organiese karakter van verskeie werke op die album. Iets aan die eenvoud en ruimte óm die note staan veral in verband met Nordiese jazz wat met tradisionele volksmusiek werk. (Op Økland se Glimmer saam met Sigbjørn Apeland, uitgereik op ECM Records – ’n begrip in moderne jazz uit eie reg – vervleg hulle byvoorbeeld volksmusiek, kerkmusiek en improvisasie.)

Vir "An Johanna", geskep deur Venter, Nystrøm en die Suid-Afrikaanse musiekkunstenaar Brydon Bolton is die werk geskoei op teks van ’n Ekspressionis, die digter Georg Trakl. Hier asook op die Tsjaikowski-verwerking deur Rolf Wallin bring Venter net genoeg broosheid en vibrato, terwyl Nystrøm eweneens met nuansering en vervreemding verbeeldend te werk gaan.

Die albumtitel verwys na die verhaal oor die Trojaanse prinses wat die toekoms kon voorspel, maar vervloek is om nooit geglo te word nie. Op die gelyknamige lied word die tegnies uitdagende Xenakis-opera Oresteia betrek en lewer Venter en Nystrøm ’n eweneens uitdagende verwerking wat die luisteraar bybly. Vir Venter bevat die mite van Kassandra ’n figuur van ons tyd: ’n vrou wie se kennis gemarginaliseer word, diegene wie se waarskuwings as vals nuus afgemaak word. Polifonie én dissonansie werk saam in hierdie musiek om konflik te laat sing. Vir Venter gaan dit telkens om beleërdheid wat die mens mee te kampe het: waaronder die onderdrukking van kritiek, die vertrapping van stemme, en die beheersug en verdraaiing van inligting in die digitale era waarin waarheid as vals nuus of sameswering bestempel kan word.

Nystrøm se ryklik geskakeerde spel is nooit los te dink van Venter se uitvoering nie. Tsjaikowski het vir sy Liturgie Van Die Heilige Johannes Chrysostomos, Op. 41 inspirasie geput uit Bisantynse Ortodokse kerkmusiek, vertel Nystrøm. Hierdie werk dien as vertrekpunt vir die voortverbeelding wat op "Hymn of the Cherubim" deur Wallin verwerk is. Hier ontvou die meditatiewe gevoel in die musiek tot wordingskuns. Dit is ’n besonderse noot om hierdie enorm geskakeerde album mee af te sluit.

Die volgende snit waarna jy kan luister, is natuurlik weer die eerste. Dit open met ’n bekoorlike liefdeslied van die Miao, ’n groepering kultuurminderhede in China. Van hierdie lied gaan die duo oor in die verwerking van Jensma se visuele poësie. En reeds is die musiek anders as toe jy die eerste keer daarna geluister het.

Op Kassandra wys kunstenaars op volle toere en op hoogs individuele en liriese wyse hoe bekende instrumente losgemaak word van "versadigde" kontekste en hoe hul intuïsie en vindingrykheid verbeelding en vitaliteit in die hand werk.

Venter en Nystrøm se evokatiewe en verkennende album maak in 2025 die buitelyne van nuwe idiome oor liefde, verlies en menslikheid sigbaar en hoorbaar, of dalk dié van antieke tye wat ons deur kulturele eenduidigheid en oorvereenvoudiging van vervreem geraak het.

Anders as algoritmiese luisterlyste bied Kassandra iets baie welkom en verruimend: ’n deurgekomponeerde werk wat jou beloon elke keer wat jy daarna luister met steeds nuwe klankkleure, ander dinkteksture en verrassende klankverhoudings. Dit bied geensins ’n selftevrede teenpool nie, maar ’n nuanserende kunswerk met ’n kompleksiteit wat óópmaak.

Besoek https://grappa.no/en/albums/grappa/kassandra/ en https://julianaventerrolf-eriknystrm.bandcamp.com/album/kassandra vir verdere inligting. Die album is ook op stromingsdienste beskikbaar.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top