Die debat oor verpligte inentings teen COVID-19 het opnuut opgevlam in Suid-Afrika. Dit volg nadat die ministeriële advieskomitee oor COVID-19 die moontlikheid van verpligte inentings vir werkers in spesifieke sektore die afgelope week bespreek het.
Wetenskaplikes en aktiviste glo dat dit binnekort nodig sal wees om gesondheidswerkers en ander mense wat ’n aantal ure per dag binnenshuis werk, in te ent. Shabir Madhi, ’n inentingskenner verbonde aan Wits, meen as werkers die inenting weier, moet hulle elke drie tot vier dae op eie onkoste vir COVID-19 getoets word.
Sommige politieke partye en belangegroepe is egter hewig gekant teen enige vorm van verpligte inentings. Die vakbond Solidariteit en die VF Plus is onder die groepe wat daarteen gekant is.
In ’n onderhoud met Rapport het die bio-etikus Keymanthri Moodley van die Universiteit Stellenbosch die afgelope Sondag gesê verpligte inentings is al uitweg en eties regverdigbaar. Hy het aan Hanlie Retief gesê persoonlike voorregte eindig waar die openbare gevaar begin en dit is ’n opoffering wat individue moet maak om die belang van die breër gemeenskap te beskerm.
Volgens Solidariteit het werknemers hulle reeds oor verpligte inenting gekontak ten spyte van president Ramaphosa se onderneming dat niemand gedwing sal word om inenting te neem nie.
Die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, Fanie du Toit, het in ’n verklaring gesê ministers moet daarteen waak om met teenstrydige uitsprake verwarring te skep.
Hy sê Ramaphosa het in die onlangse verlede herhaaldelik beklemtoon dat inentings vrywillig is en dat die regering Suid-Afrikaners se grondwetlike regte hieroor sal respekteer. Volgens hom het die minister van gesondheid, Joe Phaahla, die afgelope week tydens ’n vergadering van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) egter afgewyk van Ramaphosa se ondernemings in dié verband.
Volgens Phaahla kan mense wat openbare plekke besoek, nie aandring op hulle reg om nie geënt te word en terselfdertyd ander mense se lewens in gevaar stel nie. Hy sê die regering bespreek egter nog die kwessie van verpligte inenting en tot watter mate dit mense se vryhede sal inperk.
Health Minister Joe Phaahla said government was still debating whether to restrict the freedoms of those who are unvaccinated. | @BabaloNdenze https://t.co/Ey1tbWF5fI pic.twitter.com/sxCutBbB6H
— Eyewitness News (@ewnupdates) August 31, 2021
In antwoord op vrae van die VF Plus oor onder meer die inenting van kinders het Phaahla gesê die regering oorweeg dit wel om die inentingsprogram later na kinders van 12 jaar en ouer uit te brei. Hy het dit ook duidelik gemaak dat die regering dit later wel kan oorweeg om oningeënte persone se toegang tot openbare persele en dienste te beperk.
Volgens Phaahla sou die regering soortgelyke beperkende maatreëls deur sakeondernemings en openbare ontspanningsgeriewe soos rolprentteaters en restaurante steun.
Hierdie uitsprake neem volgens die VF Plus nie die grondwetlike regte van burgers in ag nie en weerspieël ’n skynbare wanbegrip van die omvang van die publiek se onsekerheid rakende COVID-19 en inentings. Du Toit sê sulke uitsprake kan weerstand teen die regering se COVID-19-programme wek.
Die VF Plus het die regering gemaan om oordeelkundig op tree in hierdie sensitiewe kwessie en dring daarop aan dat alle Suid-Afrikaners, insluitend kinders, se grondwetlike regte tydens besluitneming gerespekteer word.
Dokters en verpleegpersoneel wat elke dag met Covid-pasiënte werk, het hulle in die algemeen op sosiale media sterk ten gunste van verpligte inentings uitgelaat. Mariana Benson het op Facebook geskryf as verpleegkundige wat uit ’n mediese huis kom, is sy absoluut ten gunste daarvan. “Ek vertrou en glo dit is al manier hoe ons weer kan terugkeer na normaliteit. Ons was almal as kinders verplig om gevaksineer te word en ons leef nog almal. As verpleegkundiges het ons in die vroeë ’80's die TB-inenting gehad. Dit het duidelik gehelp, want ons was blootgestel,” sê sy.