
Dit behoort niemand te verbaas nie, maar dit tref tog anders wanneer ’n algemeen aanvaarde feit oor die Suid-Afrikaanse samelewing – dat korrupsie hier erg is – ook deur ’n internasionale peiling onderstreep word.
Die naam daarvan is amper speels – die What worries the world-opname – maar die data daarin vervat is ernstige sake. Die peiling word deur die marknavorsingsmaatskappy Ipsos gedoen en volg die publiek in 30 lande se mening oor die belangrikste maatskaplike en politieke kwessies van die dag. 10 jaar se ervaring daarmee lê agter die rug.
Wat uit die nuutste peiling na vore kom, is dat 26% van alle deelnemers uit die deelnemende lande gesê het dat finansiële en politieke korrupsie een van die sleutelkwessies is wat hul lande in die gesig staar. Dit is hoe ons by die bevinding oor Suid-Afrika kom, naamlik ’n aansienlike styging in die aantal deelnemers wat hul bekommernis oor korrupsie in ons land te kenne gegee het.
“Since last month, worry has risen eight points to over a half (55%), which is 11 points higher than August 2024,” lui die verslag met die nuutste bevindings. (Dit kan hier volledig afgelaai word.) Hier is egter ’n noemenswaardige byvoeging: “It is also the most elevated it has been in two years, with July 2023’s score recording 55%, too.”
Opvallend is dat dit in Julie vanjaar was dat die KwaZulu-Natalse polisiehoof, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, sy opspraakwekkende bewerings oor inmenging tot op die hoogste vlak in die werk van die polisie gemaak het. Soos ek in my vorige bydrae geskryf het, het dit onder meer daartoe gelei dat die minister, Senzo Mchunu, “tydelik” uit sy pos gestel is.
Terwyl hy met verpligte verlof is, neem Firoz Cachalia in die pos waar – en verskeie ondersoeke is ook van stapel gestuur, wat alles aanvanklik na welkome verwikkelinge geklink het: een ondersoek deur ’n geregtelike kommissie, aangestel deur pres Cyril Ramaphosa; ’n tweede ondersoek is gelas deur die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en sy het dié taak aan die parlement se oorsigkomitees oor die wetstoepassingsportefeuljes toevertrou.
Die spil waarom alles draai, of wat skynbaar tot die Mkhwanazi-uitbarsting aanleiding gegee het, het te doen daarmee dat die werk van die ondersoekspan na politieke moorde in KwaZulu-Natal deur Mchunu gestaak is. Nagenoeg 120 dossiere van die taakspan is daarna na die polisie se nasionale hoofkwartiere gestuur. (Uiteraard sou dié twee stappe verdag voorkom, omdat Mchunu in die Mkhwanazi-dossier by beweerde onbehoorlikhede en vermoedelik onderwêreldse karakters betrek word.) Die aankondiging verlede week dat die nasionale kommissaris, genl Fannie Masemola, opdrag gegee het dat die dossiere nou teruggestuur moet word na die taakspan is daarom verwelkom.
Maar dit gee toe (onverwags, onbegryplik) aanleiding tot ’n onderonsie in regeringsgeledere – en Ramaphosa is midde-in dié geskil: Na wat berig word, was hy glo boos oor Masemola se besluit. Waarom presies, weet niemand nie. En so word een van die eerste take van die waarnemende minister dat hy Masemola moes roskam, maar die nasionale polisiebaas het tog binne sy regte opgetree en dit ook so aan die minister oorgedra. Die uiteinde was ’n (ongewone, vreemde, bisarre) verklaring dat die minister en die kommissaris ooreengekom het om mekaar se rolle te respekteer.
Dit spreek dan seker vanself dat plaaslike deelnemers aan ’n internasionale peiling oor bekommernisse in hul wêreld “finansiële en politieke korrupsie” as een van die belangrikste besorgdhede sou aandui. Bygesê, korrupsie word in die algemeen as onderliggend tot min of meer al Suid-Afrika se probleme beskou; sy dit die trae groei in die ekonomie is, toenemende misdaad en wetteloosheid, swak dienslewering op spesifiek plaaslike regeringsvlak en die grote: groeiende werkloosheid.
Werkloosheid is die kategorie waarin Suid-Afrikaners in die Ipsos-peiling met 65% heel voor in die ry (voor die ander 29 lande) staan; dan volg Argentinië (50%) en Suid-Korea (43%). Werkloosheid word in Suid-Afrika natuurlik ook dikwels as een van die kernoorsake van ’n ander groot kopseer – misdaad – voorgehou. In Argentinië is inkomsteongelykheid die ooreenstemmende oorsaak van misdaad; in Suid-Korea word dit aan toenemende maatskaplike onstabiliteit toegeskryf.
Wanneer jy in ag neem dat al drie hierdie faktore – werkloosheid, inkomsteongelykheid en toenemende maatskaplike onstabiliteit – op Suid-Afrika van toepassing is, behoort rooi ligte te begin flikker. ’n Mens sou ook wou weet hoe die uitslae sou lyk indien arm, plattelandse burgers aan die peiling deelgeneem het en nie die “meer opgevoede” en “meer gegoede” landsburgers wat dit in dié geval gedoen het nie.
Moontlik sou opvoeding dan hoër prioriteit geniet het en ’n groter bekommernis gewees het as die slegs 13%, wat Suid-Afrika presies in die middel van die 30 lande en hul respons op die opvoedingskwessie plaas. Dit is al dikwels gesê dat regerings verkies om die burgery laag geletterd te hou met die doel om hulle beter te kan “beheer” of manipuleer, maar ons het in Julie 2021 gesien wat gebeur wanneer die lont van onverwesenlike verwagtinge van die werkloses, ongelykes en onopgevoedes brand gesteek word.
Indien werkloosheid en ongelykheid dan deels die oorsake van misdaad is, is dit in die land se belang om meer mense geletterd te kry en dus te weerhou van misdaad. Hiervoor het jy egter onkreukbare handeling nodig van jou staatshoof, polisieminister en wetstoepassers – nie die bejammerenswaardige optrede wat ons die afgelope ruk mee te doen het in hoe die Nhlanhla Mkhwanazi-onthullings gehanteer word nie. Die Ramaphosa-ondersoekkommissie se werk is onbepaald uitgestel; die president skel omdat die nasionale polisiebaas sy ondersoeke wil voortsit.
Dit sal hom baat om te onthou dat dieselfde wêreld wat hom geprys het met sy bewindsoorname in 2018 oor sy teenkorrupsie-boodskap, neem ook – en altyd – kennis van ons skandes.
