Wacky Wine het sy 16de verjaardag in wynstyl gevier

  • 0

Wanneer die wingerdblare roesrooi, bruin en geel word en ’n herfslappieskombers in die valleie en teen die heuwels gooi, skud die Robertson Wynvallei in die Boland, sowat 160 km van Kaapstad, haar vere reg vir feestyd: die jaarlikse Wacky Wine Weekend is sinoniem met Junie en winter in die Kaap.

Vanjaar is die fees vir die 16de jaar aangebied en plase van Ashton tot Bonnievale, McGregor tot Robertson het hul harte en hul hekke oopgegooi vir besoekers.

Daar was voorwaar iets vir elkeen, van steakbraaie by knus kaggelvure tot jazzklanke en gin, vars olyfolie met dik hompe tuisgebakte brood, die geleentheid om jou eie wyn te versny en te bottel, en natuurlik die kans om die vallei se nimlike wynmakers te ontmoet en die bekroonde wyne te proe.

Vriende en familie reis van regoor die land om vir die drie dae saam te kuier, al die gesels in te haal en saans aan die voete van die Langeberge in gastehuise hul batterye te herlaai voor die volgende dag se plaasgasvryheid en -lug weer jou hele lyf laat gloei.

By Excelsior Landgoed kon jy jou eie wyn versny. Rooiwyne is in eikehoutvate neergesit en elke gas kon sy of haar lyf wetenskaplike hou en self persentasies uitwerk oor presies hoe hul unieke versnyding saamgestel gaan word. Shiraz, merlot en cabernet sauvignon was die drie komponente.

’n Nuweling by vanjaar se Wacky Wine Weekend was Exdiem-wynplaas wat hul wyne en olyfolies te proe aangebied het. Mense kon oor die vallei staar en aan boereworsrolle smul.

Marbrin Olives is nie net een van Suid-Afrika se bes-bekroonde olyfplase nie; met Wacky Wine is daar altyd ’n warm pizza-oond en lewende musiek op die grasperk.

Nog ’n nuweling was Klue Wines, wat ’n stalletjie by Marbrin Olives gehad het. Meagan Klue het wyn geskink.

Rietvallei was dié plek vir lang kuiers en heerlike kerrie en rys. Vriende het onder die sambrele ontspan, wyn gedrink en die plaasvryheid en ruimte geniet. In die verte wink die Langeberge en die wingerde.

Bonnievale Wyne was omtrént breëbors, omdat hulle etlike dae voor die Wacky Wine Weekend in die jaarlikse Old Mutual Trophy Wine Show nie minder nie as twee medaljes en ’n trofee ingepalm het – ’n merkwaardige prestasie vir hierdie nuweling op die Trophy Wine Show-podium. Hul trofee en sertifikaat is in die proelokaal uitgestal en gaste kon dié wenners proe.

’n Robertson-kunstenaar het sommer sy esel gebring en by De Wetshof gestaan en verf, terwyl daar wyngedrink en gekuier is.

De Wetshof word nie verniet die Huis van Chardonnay genoem nie. Dis een van die gewilde stopplekke tydens Wacky Wine en met soveel bekroonde wyne ’n plek waar mense vir lang kuiers vasval.

Hoe spesiaal om uit die vat te mag wyn proe saam met Johan de Wet van De Wetshof.

Zandvliet Wynlandgoed het ’n deftige ete en dans aangebied met die bekende saksofoonspeler Ian Smith. Gaste kon buite langs die vure kuier of binne in die pragtige proelokaal, waar die vuurtjie ook gesellig geknetter het.

Steakbraai by McGregor Wynkelder het Vrydagaand en die fees lekker ingelui. Die kelder se hele reeks wyne was te koop om saam met die steak en aartappels en slaai te geniet, terwyl musiek vir ’n feestelike atmosfeer gesorg het.

Kitaar en trompet en saksofoon maak die Vrydagaand-kuier sommer makliker by McGregor Wynkelder.

  • Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook

Safari in ’n wonderlike sebratrokkie

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top