Wat die DA nie in ag neem met sy vlagadvertensie nie

  • 0

...
Soos die volkslied en die land se ampswapen, is die vlag veronderstel om verhewe bo kritiek, onaantasbaar, te wees.
...

Dit lyk asof die DA nie werklik hul asem daaroor ophou nie, asof hulle ingesteldheid is dat die wind maar moet waai soos wat dit waai. So asof hulle glo dit waaroor hulle tans in die spervuur is, is net ’n klomp lawaai.

Maar Suid-Afrika se uitsaaireguleerder (ICASA) sal teen die einde van vandeesweek ’n aanduiding gee oor of hulle met die party of dié se kritici saamstem, nadat die DA as die land se amptelike opposisie ’n klag by ICASA ingedien het omdat die SABC as openbare uitsaaier weier om sy sogenaamde landsvlag-verkiesingsadvertensie op televisie te vertoon.

Die uitsaaier wil hê veranderings moet aangebring word. Die party sien nie waarom dit gedoen moet word nie, want die feit dat hulle die landsvlag brandend in hul advertensie wys, redeneer hulle, is gewoon ’n “metaforiese voorstelling” van die stand van die land.

Oor die stand van die land stem selfs nie-DA-ondersteuners saam: Die land is op vele vlakke aan die brand. Hulle wat só glo, dink in hierdie opsig aan swak dienslewering en aan ’n krank ekonomie. Hulle is dit eens daaroor dat misdaad handuit geruk het en dat werkloosheid drasties verminder sal moet word. Pas het hulle verneem dat die nuutste statistieke oor werkloosheid vir die eerste kwartaal van 2024 op 32,9% staan – en indien jy die uitgebreide definisie van werkloosheid gebruik wat mense insluit wat gewoon ophou werk soek het, is die syfer uiteraard hoër. Ook armoede en ongelykheid, wat saam met werkloosheid die drie-enigheid van massas Suid-Afrikaners se maatskaplike en ekonomiese ellende vorm, skreeu ten hemele.

Wat sou dan die gepaste wyse wees om hierdie slegte (kommerwekkende, angswekkende) situasie uit te beeld in ’n advertensie vir die naderende algemene verkiesing op 29 Mei? Die DA is vasberade daaroor dat jy dit op ’n uiterste wyse moet doen – só erg is dit, só sleg gaan dit. Ander frons hieroor, is omgeëllie hieroor, want waarom iets wat vir sommige heilig is – wat vir almal heilig behoort te wees – op dié opspraakwekkende wyse inspan vir ’n politieke boodskap, vra hulle.

...
Die vlag het vir swart Suid-Afrikaners een van die belangrikste simbole (kenmerke, aanduiders) geword van die uitbeelding (voorstelling, illustrasie) van vryheid.
...

Hiervoor het die DA ’n teenargument. Die advertensie wys hoedat – let wel – ’n papierweergawe van die vlag, soos ’n bladsy uit ’n boek, uitbrand, terwyl (slim skuif) ’n swart stemkunstenaar kiesers maan teen ’n veronderstelde gewelddadige ANC-EFF-MK-koalisie (synde die party wat drie maande gelede deur die voormalige president, Jacob Zuma, begin is).

Om dié “verbranding” van die land te keer (in die kiem te smoor, te blus) word kiesers dan aangemoedig om vir die DA te stem – en op daardie oomblik word die verbranding van die vlag (en by implikasie die land) teruggedraai en word die vlag (en die land) weer heel.

Seker dan nie ’n onakkurate argument wat die party voorhou nie – behalwe dat ons weet nie almal wat daarna kyk, sal dit noodwendig op ’n gesofistikeerde (intelligente, sinmakende) wyse interpreteer nie. Sommige mag dalk net in die video iets sien wat die DA nie bedoel het hulle moet sien nie, naamlik dat daar – letterlik – voorbrand gemaak word vir die verbranding van die land se vlag.

Die probleem met hierdie reaksie, indien dit is wat die video tot gevolg mag hê, is dat dit neerkom op die brandsteek van ’n nasionale simbool: Soos die volkslied en die land se ampswapen, is die vlag veronderstel om verhewe bo kritiek, onaantasbaar, te wees.

Ongeag hoe jy dus voel oor die ANC se prestasierekord van die afgelope drie dekades – en niemand kan regtig met die DA stry oor hoe hulle dit beskryf nie – is dit ’n ander emosie wat losgemaak word as jy aanskou hoe die landsvlag deur vlamme verswelg word. Dit kon net sowel die springbok as nasionale dier of die galjoen as nasionale vis of die protea as nasionale blom of die geelhout as nasionale boom wees wat leed aangedoen word.

Die belangrikste nasionale simbool (of simbool van die staat om dit meer akkuraat te stel) is die ampswapen, maar dit is die nasionale volkslied en die vlag wat die belangrikste onderskeidende faktore is tussen die verlede en die nuwe bedeling. Selfs 30 jaar later sluk sommige landsburgers egter nog swaar aan óf die Nguni- óf die Afrikaanse verse van die volkslied, maar teen die einde met die Engelse deel – hoe ironies – verenig hulle uit volle bors: “[A]nd united we shall stand!”

Hierdie gewenste eenheid word bedreig wanneer iets gebeur soos nou met die DA se verkiesingsadvertensie. ’n Historiese perspektief hierop word op die webwerf SA History Online geskets:

The old flag represented discrimination and injustice for many people and was a part of the apartheid government. On April 27th 1994, the new flag was use on the first day of the democratic elections. South Africans have embraced this new flag with its vibrant colours. It has helped to unite South Africans all across the country, especially during events such as the Rugby World Cup held in 1995.

Miskien is dit dan die aspek wat nie voldoende in ag geneem word deur die DA en sy ondersteuners wat geen fout vind met die vlagadvertensie nie. Die vlag het vir swart Suid-Afrikaners een van die belangrikste simbole (kenmerke, aanduiders) geword van die uitbeelding (voorstelling, illustrasie) van vryheid.

En die kosbaarheid van hierdie swaarverdiende vryheid – die resultaat van Nelson Mandela se lang tog van stryd, ballingskap, aanhouding en lewensverlies – is iets wat hulle op geen manier wil sien oneerbiedig word nie. “Respect,” lui die Engelse gesegde tog, “goes a long way.”

Lees ook:

DA daag Ramaphosa uit vir ’n openbare debat oor vlagherrie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top