Wat is ’n misdaad teen die mensdom?

  • 0

Waarom is dit nodig om apartheid as ’n misdaad teen die mensdom te sien?         

Tegnies (by gebrek aan ’n meer gepaste woord) is daar baie gate in die frase. Wat bedoel ’n mens met apartheid? Of misdaad? En is dit die mensdom of die mensheid? Watter taal is die regte taal om die kern van die saak vas te vat?

Apartheid in daardie eerste dae van kwasiregering aan die Kaap toe Jan van Riebeeck die aggressiewe inboorlinge met sy heinings wou probeer weghou, maar steeds een van hulle, Krotoa, in sy huishouding opgeneem het, is nie die apartheid van die Swart Maria-vangwa of aandklokreëls, en ook nie van tuislande met hul eie regerings nie.

Ewe tegnies gesproke is debat oor die misdadigheid daarvan irrelevant: die Internasionale Strafhof het dit tot misdaad verklaar en as onderskrywer daarvan maak Suid-Afrika enige van sy burgers ’n misdadiger as hy of sy apartheid aanhang. Dit is in dieselfde klas as die verbod op bespiegelings oor die aantal mense wat dood is in die Joodse volksmoord.      

Vanuit hierdie hoek gesien, is daar byna maksimum verdraagsaamheid hiervoor in Suid-Afrika, want apologieë vir apartheid word dikwels uitgespreek.         

Dit is natuurlik ironies dat die huidige gees onder seksies van die ANC, dat die Internasionale Strafhof ’n onding en anti-Afrika is, en dat Suid-Afrika daarom daaruit moet tree, kan lei tot ’n kwytskelding van hierdie apartheidaanklag teenoor sy burgers.

Die regte taal? Wat die mensdom of mensheid is, is ’n ope vraag. Is dit die totaliteit van mense, of spreek dit ’n universele kern aan? Is daar iets soos selfapartheid? Kan ’n mens ’n behoorlik vervolgbare misdaad teen sulke kategorieë pleeg? Of is die bedoeling om nie verder as ’n simboliese stelling te gaan nie?

Daar is net te veel rafels in die doek wat mense se aandag gaan aflei as hulle daaraan begin torring wanneer hulle om die tafel gaan sit vir ’n debat oor die kwessie.

Afgesien hiervan is daar nog ’n hele sekondêre diskoers deur mense wat apartheid gebruik vir “virtue signalling”, soos veral Engelssprekende liberales wat teen die Natte gestem het maar agterna God bedank het dat hulle regeer, of Afrikaanssprekendes wat voel verengelsing is ’n manier om jou afgryse oor apartheid uit te leef. Diskoers oor apartheid dien baie goed as ’n manier om diskoers oor kolonialisme en neokolonialisme te ontduik. Dit dien ook as plaasvervanger vir daadwerklike aksie om die gevolge van apartheid en/of kolonialisme aan te spreek.

Dis veral ’n gesprek oor tuislande wat dinge erg kompliseer. Etlike sentrale figure van die huidige regerende elite het hul posisies te danke aan die geleenthede wat afsonderlike ontwikkeling vir hulle geskep het. In ’n onlangse Afribarometer het 20% van swart respondente (Indiërs en bruin mense uitgesluit) gesê dat afsonderlike ontwikkeling ’n goeie ding was. Terwyl diskriminasie aan die orde van die dag was, was die uiteindelike ideaal gelykheid en was die ontwikkeling van plaaslike tale iets waarop hedendaagse aktiviste soos Antjie Krog kon voortbou. Die huidige eentalige opset, met net lippediens aan plaaslike tale, is ’n ernstige regressie. As ’n sleutelaspek van swart ekonomiese bemagtiging verskaf dit ironies genoeg ’n onsigbare apartheidsmuur wat altyd die Engelsmagtige elite afstandelik en geografies van die res gaan skei.

In die lig van hierdie kompleksiteit, is dit dan nie ideologiese polisiëring en dus vervolging om debattering oor apartheid as misdaad teen die mensdom ’n soort oortreding te maak nie?         

Die filosofie van die Italianer Giorgio Agamben wat hom in die 21ste eeu as een van die voorste politieke denkers van ons tyd gevestig het, bied ’n ander benadering. Sentraal in sy denke staan die figuur van die homo sacer en die “nomos, of basiese pleknaam, van die kamp”, wat hy meen die grondslag van 20ste-eeuse staatspraktyk was.

Die homo sacer was ’n kategorie wat die Romeine geskep het vir mense wat sonder enige nagevolge doodgemaak kon word, maar nie geoffer mog word nie. Dit was ’n kategorie nog meer basies as dié van slawerny, want slawe was ’n kommoditeit en dikwels meer beskaaf as hul eienaars.

Vir Agamben was die homo sacer ’n manier om soewereiniteit te skep en dit in die hande van die gewone man te plaas; wanneer hy byvoorbeeld een soort homo sacer, die voëlvryverklaarde, teëkom, was hy by magte om hom of haar dood te maak. Maar die skepping van die homo sacer was vir Agamben ook die basis van Romeinse regering.

Dit kon geskied deur te verklaar wat “bare lewe” is, wanneer mense bloot ingestel is op oorlewing en nie alleen geen regte het nie, maar nie eens aanspraak mag maak op ’n behoorlike lewe nie, ’n lewe met ’n bepaalde styl gedrewe deur ’n siening van wat menslikheid behels.

Die Nazi’s, sê Agamben, se rasideologie het berus op die omskepping van Jode in homo sacer, mense wat doodgemaak kon word sonder die nodigheid van rituele soos skynverhore of selfs die uitlees van aanklagte, want dit sou hulle offerandes maak. Dié wat nie summier vergas is nie, is onderwerp aan “baar lewe”, wat verewig is op die foto’s van uitgeteerde inwoners van konsentrasiekampe wat nie meer in staat is om te sien of die mense wat hul afneem redders of vyande is nie.

Dat baar lewe een van die doelwitte van alle regering is, sien Agamben in die wette oor genadedood, waarin die Amerikaanse regering byvoorbeeld mense soos Karen Quinlan vir jare lank aan die lewe gehou het. Hy sien dit ook in die alomteenwoordigheid van kampe. In die vlugtelingkampe van Europa is dit byvoorbeeld die betrokke regering wat besluit watter graad van baar lewe toegelaat sal word – kampe is plekke om die grense van soewereiniteit te beproef.

Dit is nie moeilik om te sien dat die homo sacer in Suid-Afrika die “k...r” is nie. Daar was ’n tyd toe wit mense nie vervolg is as hulle swart mense om die lewe gebring het nie. Apartheid in al sy vorme het dit gemeen gehad, ’n mens wat gereduseer is tot baar lewe wat uit die gemeenskap gestoot moes word. By wit dorpe is hulle toegewys aan “lokasies”, blote plekke om te pas by hul status as “baar lewe”, wat in kampe verander het in die vroeë 20ste eeu met aandklokreëls en omheinings, met daaromheen die berugte “masjiengeweerbelt”, oop stukke grond waar dit makliker sou wees om oproere te beheer.

Hoe basies die baar lewe van die k-figuur is, en hoe irrelevant tot vandag toe, blyk daaruit dat selfs in die felle kritiek op byvoorbeeld FW de Klerk se verklarings laasweek, niemand na hom of haar verwys het om die trauma van apartheid te probeer verduidelik nie – die naaste wat aan die absolute vernedering van die k-woord kom, is vae terme soos sielkundige volksmoord. Dit is te vernederend om dit selfs in debat te gebruik, maar dit is ook omdat die “k…” vandag nog bestaan, en steeds gebruik word om die regering se soewereiniteit te praktiseer. Die sacer bestaan voort in die slagoffers van Marikana, die Life Esidemeni-vergrype, en hipoteties gesproke selfs plaasmoorde wat die regering reduseer tot minder as gewone misdaad en nie byvoorbeeld tot ekonomiese sabotasie verklaar nie.

Inderdaad, die Internasionale Strafhof sê dat hy apartheid sien as ’n misdaad wat te eniger tyd en oral bedryf kan word; dis nie net teen Suid-Afrikaners gemik nie. Dit is deel van pogings om die mensdom vir die eerste keer vry te maak van praktyke rondom soewereiniteit wat wrede empires van die Romeine tot die Britte toegepas het en nog steeds toepas, soos die Amerikaners in Guantanamobaai.       

Lees ook

FW de Klerk swaai om oor misdaad teen die mensdom

State of the nation’s arts (SONA)

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top