Wat was die eerste Afrikaanse film?

  • 0

Die bekroonde film Barakat word beskryf as die eerste Moslem-film in Afrikaans.

Hierdie AfriKaapse film, met Amy Jephta as regisseur, het in November 2021 die internasionale verhoog met ’n opwindende Oscars®-aankondiging betree.

Dit laat my wonder: Hoe het die eerste film in Afrikaans gelyk? 

  • Lees meer oor die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016) op LitNet Akademies hier.
Die eerste volwaardige Afrikaanse rolprent

Die dokumentêre historiese rolprent De Voortrekkers, met Harold Shaw as regisseur, is in 1916 deur African Film Productions vervaardig.

Historiese gebeurtenisse soos die Slag van Bloedrivier - hedendaags herdenk as Dingaansdag of Versoeningsdag - is met flitskaarte in Afrikaans/Nederlands en Engels vergesel1.

Historiese figure soos Piet Retief en Dingaan is deur akteurs in hierdie stilfilm oor Kaapse Voortrekkers uitgebeeld. Die draaiboek is deur die Afrikaanse taalstryder en joernalis Gustav Preller geskryf.

Hierdie Afrikaner-Christelik-nasionalistiese film het terme en beelde wat pejoratief van aard is; ou historiese diskoerse word uitbeeld. Dit kan op YouTube gekyk word: https://youtu.be/N1yDtedt2iw. 

Afrikaans word die eerste keer in films gehoor

Die eerste volwaardige Afrikaanse rolprente met klank het in 1931 verskyn: die romantiese musiekrolprent Sarie Marais en die drama Moedertjie.2 Sarie Marais was die eerste Afrikaanse film met ’n klankbaan3, en Moedertjie die eerste Afrikaanse film met dialoog.

Moedertjie (1931), ’n drama oor ’n ma se liefde vir haar seun wat die plaas vir die stad verlaat het, is gebaseer op die eenmanvertoning In die wagkamer deur JFW Grosskopf.

Sarie Marais (1931) gaan oor ’n Boerekrygsgevangene in Ceylon wat na sy geliefde in die ou Transvaal verlang.

Fast-forward na 2021, die jaar van die eerste Moslem-film in Afrikaans.

Seëninge, in AfriKaaps

Barakat vertel die verhale van die Davids-gesin.

Vir dié wat nie die Kaapse Moslem-variëteit van AfriKaaps praat nie: wat beteken die titel van die film?

Barakat (of Barakah), ’n Arabiese woord, beteken “seëning”. Tydens Ramadaan word die breek van die dag se vas gevier met ’n bord lekkernye soos koesisters en samoesas wat gegee en gedeel word. Familie en vriende in jou gemeenskap word sodoende geseën.

Amy Jephta sal die vierde vroulike regisseur wees wie se film deur ’n Suid-Afrikaner in aanmerking kom vir die Oscars, en die eerste sogenaamde vrou van kleur.4

Kyk ’n onderhoud oor Barakat op Al Jazeera:

Eindnotas:

1 Die heel eerste Suid-Afrikaanse filmbeelde dateer uit 1895. Paul Kruger, die president van die ou Transvaal vanaf 1883 tot 1900, was in sy koets voor sy huis in Pretoria op pad Raadsaal toe. Aangesien hierdie beelde nie flitskaarte in Afrikaans/Nederlands gebruik het nie, kan dit nie as die eerste sogenaamde Afrikaanse film beskou word nie.

2 Die regisseur vir al twee films was Joseph Albrecht (bygestaan deur Stephanie Faure vir Moedertjie) en vervaardig deur African Film Productions.

3 Die sg volkslied “Sarie Marais” is daarop gebruik.

4 AfriKaaps was ook in Julie vanjaar in die plaaslike nuus met die wydberigte aankondiging dat die eerste woordeboek in AfriKaaps ontwikkel gaan word. Op 24 September, Erfenisdag, het president Cyril Ramaphosa in sy toespraak die eerste AfriKaaps-woordeboek as ’n “groot mylpaal” bestempel. Lees meer oor die Drietalige woordeboek van Kaaps- (DWK-) projek hier.

Bronne:

https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/woordeboek-vir-afrikaaps-n-mylpaal-in-sa-se-cyril-20210924

https://www.gov.za/speeches/president-cyril-ramaphosa-heritage-day-2021-24-sep-2021-0000

Ons gaan ’n taal maak (JC Steyn, Kraal Uitgewers, 2014) 

https://www.iol.co.za/saturday-star/news/barakat-first-sa-film-in-cape-towns-afrikaans-dialect-in-race-for-an-oscar-84a5a4d0-ec33-41f0-aab2-454a23bac0b0 

https://kyknet.dstv.com/nuus/bekroonde-barakat-is-suid-afrika-se-amptelike-inskrywing-vir-2022-oscars

https://www.bbc.com/news/world-africa-58189393

https://www.newframe.com/the-filmmakers-advancing-a-radical-black-afrikaans

https://scholar.ufs.ac.za/bitstream/handle/11660/2347/SteynChrista.pdf?sequence=3&isAllowed=y

https://voertaal.nu/die-afrikaanse-filmbedryf-sedert-2010-beteken-meer-ook-beter

https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/100026

http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512010000300005

https://kyknet.dstv.com/nuus/die-geskiedenis-van-barakat

https://www.news24.com/news24/nuus24/Vermaak/Nuus/116-jaar-van-Afrikaanse-flieks-20110701-2

https://www.britannica.com/biography/Paul-Kruger

Lees en luister ook op LitNet en Voertaal:

Barakat – ’n film review van ’n Cape-Malay perspective

Barakat, die film: ’n onderhoud met Amy Jephta

’n Behind-the-scenes dialoog met die produksiespan van Barakat – family is a mouthful

Barakat-program: Eis jou moedertaal terug

Holland word Kaaps!

Hoeveel het Jan van Riebeeck gedrink op die Drommedaris?

Wie was op De Huisgenoot se eerste voorblad in 1916?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top