Die name VOC, Jan van Riebeeck en Krotoa is die afgelope dae in die nuus.
Deesdae verwys VOC nie na die Vereenigde Oostindische Compagnie nie, maar na ’n COVID-19 "Variant of Concern". Gelukkig is die nuwe C.1.2-variant, ook in Suid-Afrika teenwoordig, darem nog nie ’n kommerwekkende of belangwekkende variant nie.
Voordat ons vlugtig terug in die tyd verdwyn: Vanjaar het die boek Alle problemen begonnen met Van Riebeeck: Wat Nederlanders niet weten over hun rol in Zuid-Afrika deur Niels Posthumus (Amsterdam, Podium) verskyn.
Ingrid Glorie skryf in haar Voertaal-resensie van die boek:
Posthumus stelt in zijn boek de vraag welke gevolgen de komst van de VOC naar Zuid-Afrika voor het land heeft gehad, en wat daar nu nog van is terug te zien ... De titel van zijn boek [...] is ontleend aan een toespraak van de toenmalige Zuid-Afrikaanse president Jacob Zuma tijdens de viering van het 103-jarig bestaan van het ANC in Kaapstad in januari 2015.
Posthumus stem saam: "De VOC-kolonisatie van de Kaap vormde immers het begin van de verhoudingen tussen wit en zwart in Zuid-Afrika."
’n Vroeë voorbeeld van verhoudinge tussen die VOC en die Khoi-gemeenskappe is histories versinnebeeld deur Krotoa. Hierdie Khoi-vrou het as jong kind in Van Riebeeck se 17de-eeuse huishouding in die Fort van de Goede Hoop gewerk.
’n Week gelede is ’n gebou van die Universiteit Stellenbosch herdoop tot die Krotoa-gebou, ’n simboliese erkenning van haar rol as eerstenasie-, veeltalige tolk, tussenganger en brugbouer. Kom ons onthou ook dat daar taalkundiges is wat die begin van die heel vroegste Afrikaans dateer na die eerste ontmoetings tussen Khoi-gemeenskappe en Nederlandse seevaarders, reeds in 1595.
Terug na oom Jan. Waarom vra ek die vraag of Jan diep in die bottel gekyk het?
Jan het in April 1652 in sy Dagverhaal, met die gewaar van Tafelberg (Khoi-naam: Hoerikwaggo, dws "Berg in die see") noteer:
Den 5 April 1652.
Omtrent vijf glazen in den nademiddagwacht, zagen wij, Gode lof, het land van de Cabo de boa Esperança, namelijk den Tafelberg ...
Voordat ek navorsing gedoen het oor "omtrent vijf glazen in den nademiddagwacht", het ek hierdie frase interpreteer as "vyf wynglase in die namiddag in".
Nou, ek bly in die gesteelde wynlande, daarom my interpretasie. Ek het net aangeneem dit beteken Jan en kie het reeds vyf glase wyn ingehad toe hulle Tafelberg in die namiddag gewaar het.
Gelukkig het ek betyds reg gelees voordat ek wilde historiese aannames maak. Verskeie bronne koppel "glas" [uurglas] aan tydsaanduiding mbt skeepvaart (sien eindnota).
Onthou om altyd baie fyn te lees voordat dinge verlore gaan in vertaling.
Maar moet die Nederlanders nie vlak kyk nie. Hulle het tog baie wingerdstokke geplant!
Eindnota:
Volgens Die VOC aan die Kaap was uurglas (ook glas/sandloper) ’n skeepsterm van toepassing op Oos-Indië-vaarders. ’n Uurglas is gebruik om tyd aan boord te hou: "Elke wag (diensbeurt) van vier uur, wat met ’n halfuurglas gemeet is, het dus agt glase geduur ..." Die Etymologisch woordenboek en die Zeemans-woordenboek koppel ook glas / sandloper / glazen slaan met tydsberekening op skeepsvaarte.
Bronne:
- https://www.litnet.co.za/krotoa-uit-n-historiese-oogpunt
- https://voertaal.nu/een-boek-dat-alles-heeft-niels-posthumus-neemt-afscheid-van-zuid-afrika
- https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/sonja-loots-van-riebeeck-die-man-wat-nie-hier-wou-wees-20210829
- https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/us-gebou-vernoem-na-krotoa-20210825
- https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/grafika-sa-identifiseer-nog-n-nuwe-variant-20210830
- https://www.dbnl.org/tekst/lenn006zeem02_01/lenn006zeem02_01.pdf
- https://etymologiebank.nl/trefwoord/glas
- https://www.dbnl.org/tekst/rieb001dagv02_01/rieb001dagv02_01_0002.php
- Con de Wet, Leon Hattingh en Jan Visagie (reds). Die VOC aan die Kaap: 1652–1795. Protea Boekhuis, 2016.
- PAF van Veen en N van der Sijs. Etymologisch woordenboek: de herkomst van onze woorden. 2e druk, Van Dale Lexicografie, Utrecht/Antwerpen, 1997.
- Jacob van Lennep. Zeemans-woordenboek. Gebroeders Binger, Amsterdam, 1856.
- https://www.netwerk24.com/weg/Reis/Tafelberg-Hoerikwaggo-staproete-20150528
- https://www.litnet.co.za/afrikaans-language-dissent/
Lees ook op LitNet Akademies:
Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see
Lees en kyk ook op Voertaal en LitNet:
Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications
Internasionale Moedertaaldag: Khoekhoegowab-tale en Khoi-Afrikaans
"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"
Nederlandse seemanstaal en Afrikaanse uitdrukkings – ’n onderhoud met Annél Otto en Else Boekkooi
Buro: MvH