Hare, hare, jare vol hare. Die deuntjie/rympie/frase spring in my kop toe ek vanoggend wakker word. Wat beteken dit? Dis snaaks op ’n lawwe manier, maar as digter is dit nie iets waarmee ek te koop wil loop nie. Waar kom dit vandaan?
Miskien, dag ek toe ek ’n bietjie wakkerder is, is dit tyd vir my jaarlikse haarsny. Dis nie heeltemal jaarliks nie, meer negemaandeliks, maar dit maak my en Fred die haarkapper in Melville se vertroulike grappie moontlik: “Sien jou volgende jaar,” sê hy altyd wanneer hy my lokke op die vloer opvee.
Ek hou van lang hare, sedert ek op die laaste dag van my diensplig in my vriend Francois de Wit se ma se kar geklim en hand voor mond gesweer het ek gaan nie weer skeer nie en my hare op my stuitjie laat groei. Nou ja, die lewe is ’n prosessie van kompromieë, en ek moes my hare aan die begin van die volgende lente sny, hoewel ek my baard nog net getrim het in die 45 jaar daarna.
Die rympie het waarskynlik ook ontstaan omdat ek en my vrou die vorige aand in die bed die Clicks-skandaal op ons fone sit en bekyk het. Dit lyk nie goed vir Clicks nie, het ons saamgestem, ’n mens kon sien hoekom Clicks se baas, Vikesh Ramsunder, binne ’n paar sekondes besluit het dis rassisme. Waarna hy summier die skuld op ’n span ondergeskiktes gepak het.
Maar toe ons weer na die advertensie kyk, en maak of ons nie meer afgetrede joernaliste is nie, ontstaan ’n paar vrae. Het daar toe ’n onbewuste besef by my gegroei dat kwessies rondom hare al my lewe lank met my is, en dat die EFF sal seker maak dat dit tot die dag van my dood so sal wees?
Ek het onthou van musiekspele soos Hair, waar spelers kaal op die verhoog verskyn het. Of Jesus Christ Superstar, wat Afrikaners dwars in die krop gesteek het want Jesus sing rock, maar eintlik omdat sy hare so lank was. Daar was vurige debatte, en vele skrywers het nou al nostalgies daaroor geskryf. Jan van Riebeeck het lang hare gehad, is mense op gewys, en hy verskyn nogtans op koffie-advertensies.
Trouens, dis nou die een geval waar iets wel Van Riebeeck se skuld is. Dis sy en sy opvolgers se pruike wat die grondslag vir die Eurosentriese harebedryf in Suid-Afrika gelê het.
Spring oor ’n paar dekades van hareherries en ek onthou van ’n tog op die Tanganjikameer in die Kongo, op ’n boot met ’n groep soldate wie se vuurpyllanseerders nie net op die rebelle in die bosse op die oewers gerig was nie. Ons het een van hul makkers by ’n vissersdorpie gaan oplaai wat sy stewels eers gou gewaks het voor hy die skoenwaks deur sy hare gestoot het vir ’n bietjie meer “shine”. Daarna het hy ’n kort potlood agter sy oor ingesteek, bloot ter versiering.
Potlood in die hare … Natuurlik is enige gesprek oor harekwessies op die verkeerde grond gestel as jy nie ook verwys na die skreiendhede van apartheid en sy potloodtoetse nie. En dis inderdaad ’n maatstaf van die onvoltooide werk met rasseversoening dat relle oor hare en die vernederings van swart en bruin mense wat daarmee gepaard gaan, nog gereeld in skole uitslaan.
Ek gaan dus vir niemand sê hulle moenie ontsteld voel oor Clicks se advertensie nie. My vel is wit, en al is daar iewers in die verlede swart bloed in my are, is ek nie in staat om te meet hoe vlak die pyn en trauma van die verlede nog onder die slagoffers van apartheid se velle lê nie.
Maar die land sal moet aandag gee aan die patroon wat besig is om ons politiek op sy kop te keer, waarin Twitterhordes die pas aangee en ’n minderheidsparty met Oedipale komplekse teenoor die moederbeweging geweld en diktatoriale bestuurwyses die norm begin maak.
Want kyk ’n mens onemosioneel en met ’n bietjie verbeelding na die gewraakte advertensie is die verwringings wat sosiale media straffeloos pleeg alte duidelik. Om mee te begin is al die vroue, wit en swart, klaarblyklik modelle, met mooi skouers. Dis ook ewe duidelik dat daar nie sprake is van “natuurlike hare”, soos wat kommentators en verslaggewers blindelings beweer het nie – daar was ’n hele studio agter almal s’n.
Dan is daar die woorde wat teen mekaar staan, en dit is wel so dat hierdie jukstaposisie subliminaal ’n sneller kan trek: Die wit vroue se hare is beter, want dis mooier aangebied; die swart vroue s’n is half weggesteek. Maar wag ’n mens ’n paar sekondes langer met ’n oordeel, besef jy dis kategorieë van hare – hier word nie die kwaliteit daarvan beskryf nie, maar die soort.
Vir elkeen van hierdie soorte is daar natuurlik ’n verskillende produk. Of hare wel so haarklowend onderskei kan word, is ’n vraag van jare vol hare, maar dit is met hierdie gefabriseerde angstigheid en oëverblindery dat Clicks en diesulkes die geld uit vrouens se beursies toor.
“Fine” of “flat” beteken dus glad nie dat dit beter hare is nie, en Google bewys dit. Tik in “fine hair” en jy kry dikwels-gevraagde vrae soos: Is fine hair good or bad? Will too fine hair make you go bald? Does masturbation cause fine hair? Die antwoord is meestal gerusstellend, maar virtuele snuffelaars of kuierkopers word natuurlik aangemoedig om produkte aan te koop wat “voluminosity” verhoog.
Dieselfde geld “flat” hare. Die meeste niewittes is nie intiem bekend met wit mense se hare nie, kan ’n mens redelik veilig aanneem, en hul projekteer dus die probleme, soos gewaan deur Clicks en diesulkes, op woorde soos “fine” en “flat” as die oplossing, want dit verg ure om reguit, “Westerse” hare te bewerkstellig. Dis die grondslag vir ’n hele nywerheid uniek aan Afrika.
Dat “fine” en “flat” hare nie altyd gewens is nie, is wonderlik gesatiriseer deur Trevor Noah, wat in ’n skets van voor sy Daily Show se dae vrouens van verskillende herkomste se aanvallighede en onaantreklikhede met mekaar vergelyk het. Skandinawiese vroue, het hy gekla, se hare is te lank en te dun (te “fine”, dus) en beland gedurig in jou onderklere en jou kos.
Dalk is die affêre bloot net nog ’n demonstrasie van hoe ons almal se swak Engels konflik in die land veroorsaak.
’n Mens kan jou indink dat die kreatiewe span (volgens die Clicks-baas twee swart mense, twee bruin mense en twee wit mense – dus glad nie ’n klomp heerssugtiges nie) die soorte probleemhare wou illustreer, maar toe besluit het, of aangesê is, om die modelle met die kwansuise probleemhare nie te lelik te laat lyk nie, om nie voornemende klante af te skrik nie. Ongelukkig lyk die wit modelle toe beter as die swart modelle.
Hierdie artikel is ’n opiniestuk, en ek staan dus bereid dat bruin en swart kommentators my verkeerd sal bevind. Maar gestel, ter wille van die argument, ek is reg, dan begin dit tyd raak dat die owerhede diep besin waarheen hulle met hul sagte handjies teenoor die EFF op pad is. Sogenaamde rassekwessies is nou al oor en oor bewys as oneindig kompleks, waarvoor ons hoogs gebrekkige media nie meer die manne- en vrouekrag het om ’n teenwig van feitelikheid en nugterheid te verskaf nie.
Leiers van maatskappye soos Clicks en liggame soos die Menseregtekommissie moet daarom met groter omsigtigheid te werk gaan. Die EFF se fascistiese agenda is deursigtig en flagrant, maar dit beteken nie hulle hoef dit elke keer bloot te aanvaar nie.
Die party is wel reg dat die apologieë oppervlakkig is en te gou kom. Dit is ook so dat maatskappye soos Clicks steeds sy winste maak uit ’n internasionale bedryf waarin “wit hare” en haarprobleme die norm is, omdat wit mense die markte oorsee verreweg oorheers.
Om die resepte en tradisies uit Europa en Amerika heelhuids hierheen te bring bewerkstellig ’n maklike inkomstestroom; die hele kwessie is vir my veel eerder ’n demonstrasie van die kreatiewe en sosiale luiheid in die hoogste geledere van korporatiewe Suid-Afrika, van mense wat astronomiese salarisse verdien en niks vernuwend daarvoor kan wys nie.
Dit terwyl die hare van swart en bruin mense dikwels meerderwaardig teenoor ander “rasse” s’n is. Kyk maar na die wonderlike haredosse in Ghana of die fotografie van JD Okhai Ojeikere van Nigerië.
Dis net ’n kwessie van tyd voor die name van sogenaamde rassiste agter die advertensie uitlek. Met sy apologie het Ramsunder eintlik hul lewens in gevaar gestel, want hoe kan jy ontken jy is ’n rassis as jou baas self so sê? Dit sal ’n skreiende onreg wees as die Clicks-werknemers iets moet oorkom, of alleen die trauma moet ondergaan, terwyl hul baas voortgaan met business as usual.
Dis dan dat ek Clicks sal boikot.
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Clicks, Julius en die nuutste skermutseling in die hare-debakel
Buro: MvH