Weggevoer na ’n goddelike katedraal – iewers elders in jou kop

  • 0

Die St Olaf-koor

Die BBC-radioprogram wat ons soggens met ons koffie geniet, doen “die dag in vyf woorde”. Dis basies waaroor die oggend se program gaan en gee mense vinnig ’n idee of die onderwerpe hulle genoeg interesseer om ingeskakel te bly. Hulle moedig ook luisteraars aan om in te bel of WA-boodskappe te stuur oor hul dag se vyf woorde.

Dis wat ek dink toe ons gaan sit in die Endlersaal op Stellenbosch vir die St Olaf-koor van Minnesota, VSA se vertoning. My vyf woorde: “Vleuelklavier. Djembe-trom. Tamboeryn. 65 stemme. Wêreldbekend.”

Maar gou besef ek dit gee nie regtig heeltemal weer wat die volgende twee uur met ons in die gehoor gebeur nie. Dít kan nie in vyf woorde opgesom word nie.

Vir meer as ’n eeu stel die St Olaf-koor, wat die afgelope 34 jaar onder leiding van Anton Armstrong as dirigent staan, die voorbeeld van uitmuntende onbegeleide koorsang en tree voor miljoene mense regoor die wêreld op. Die koor, saamgestel uit 65 gemengde stemme, word beskou as een van die VSA se voorste a cappella-ensembles.

Die koor het pas ’n twee week lange toer in Suid-Afrika met agt optredes en werkswinkels voltooi en het in van die Drakensberge en Soweto tot Pretoria en Kaapstad opgetree. By elke uitvoering het Suid-Afrika se voorste kore saam met hulle aan die program deelgeneem. Hieronder was die TUKS Camerata; Sabelo Mthembu en die Quava Vocal Ensemble; die Drakensberg Seunskoor, Amici de Lumine; die Universiteit van Kaapstad-koor; en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor.

Die uitnodiging vooraf het beloof: “Die program is gewaarborg om die vokale talente van hierdie buitengewone groep ten toon te stel, wat beskryf is as ‘vertoning van die toonkwaliteit en akkuraatheid van toonhoogte wat nog altyd die kenmerke van hul klank was [...] met baie oomblikke van ongekende skoonheid’.” En wie wil dit misloop?

Die St Olaf-koor is in 1912 gestig deur F Melius Christiansen, wie se werk die ensemble se standaard van uitnemendheid en sy tradisie gevestig het om musiek na gehore buite die kampus te bring. Christiansen het geestelik diepgaande musiek gekies en studentemusikante gedruk om ’n toon te vervolmaak wat gedissiplineerd, beheers en vry van oormatige vibrato was. Daardie klank – veilig in stemming, beheer in toonhoogte, glad in aflewering – het die koor se kenmerk geword. Hy is in Noorweë gebore en het op die ouderdom van 17 na die VSA geëmigreer.

Toe Armstrong in 1990 die leisels as dirigent oorgeneem het, het sy groot kennis van musiek en sy vermoë om ’n visie aan sangers en gehore te verwoord die St Olaf-koor na die volgende vlak geneem. Hy het ook die koor se repertorium verder uitgebrei om musiek van die Stille Oseaan, Afrika en Latyns-Amerika in te sluit. Die ensemble het al 15 keer internasionaal getoer, waaronder in Junie 2019, toe die St Olaf-koor vir twee weke saam met die St Olaf-orkes deur Noorweë getoer het. As’t ware ’n tuiskoms, want dis van hier waar sy stigter meer as ’n eeu gelede gekom het.

Die vertoning begin met “N’Kosi Sikelel’i Afrika” – die oorspronklike weergawe deur Enoch Mankayi Sontonga (1873–1905). Die koor staan in hul lang pers togas met wit om die moue en hou almal hande vas. Twee rye mans, twee rye vroue. Heel voor in die ouditorium staan ’n man op; die res van die propvol saal staan soos een man op. Die hoendervleis hardloop oor my lyf. Dít is die land waarin ek wil woon, waar ons respek toon vir dit wat ons saamsnoer. Waar ons erkenning gee aan die lyding wat voor ons gekom het.

Hoewel daardie koorlede nie dalk die volle omvang van die lied wat hulle sing, verstaan nie, verstaan elkeen in daardie gehoor dit. Twee dae voor die land se sewende parlement saamgestel word. Hoe vêr het ons gekom ...

Dis wat ek dink toe die laaste mense gaan sit. Armstrong draai na ons en sê om die koor na die Afrika-kontinent te bring, en meer spesifiek na Suid-Afrika, is ’n lewenslange droom. Hy sê ons staan midde-in “interessante tye” in die wêreld. “Jul land het pas verkiesings gehad; ons word die volgende paar maande gebombardeer met verkiesingsveldtogte van Amerika en die Verenigde Koninkryk, maar almal wil eintlik net in ’n wêreld vol vrede leef.”

“Come, ye that love the Lord”; “Praise the Lord”; “Exaudi Vocem Meam”; “Coelos Ascendit Hodie”; “Modimo”; “Prayer of St Francis”; “When memory fades”; “It is well with my soul”; en “Celestial Spring” bring die eerste helfte van die program ten einde. Sommige liedere word met ’n tokkel op die klavier of ’n paar diep klanke uit die Djembe vergesel, andersins is dit net die stemme wat jou meevoer.

Voor Eric Nelson en Jayne Southwick Cool se “When memory fades” se klanke opklink, vra Armstrong aan die gehoor wie se lewens al deur Alzheimers of Dementia geraak is. Meer as 80% van die gehoor steek hul hande op; mense trek hoorbaar hul asems in met die omvang daarvan. Hy kyk oor die opgesteekte hande en sê dat dié wie se hande nie opgesteek is nie, die woorde van hierdie liedjie moet byderhand hou, want hulle gaan dit binnekort nodig kry as hul paaie ook met hierdie siekte kruis. Ek laat sak my hand. My gedagtes loop vêr. Die pad met my ma skielik so helder soos gister.

Hiermee ’n uittreksel uit “When memory fades” deur Eric Nelson en Jayne Southwick Cool:

When memory fades, and recognition falters;
When eyes we love grow dim, and minds confused;
Speak to our souls of love that never alters;
Speak to our hearts by pain and fear abused;
O God of life and healing peace;
Empower us with patient courage,
By your grace infused.
As frailness grows and youthful powers diminish;
And weary arms decline in strength and skill;
Your ageing servants faithfully shall finish;
Their earthly tasks, obedient to your will.
We grieve their fading, yet rejoice;
Believing, your arms, unwearied;
Shall uphold us still.

Maar ek dink ook aan die herinneringe wat so vinnig vervaag van die seerkry van ons land, van die lang pad na vryheid wat gestap moes word.

Amici de Lumine

Ná die kort pouse kom die sangers van die Amici de Lumine na vore. Die groep staan onder leiding van Michaelangelo Cloete en is in Pinelands gebaseer. Hulle het in 2010 begin saamsing. Vier liedere, “Salve Regina”; “⁠Flow water”; “⁠David’s lamentation”; en “⁠O Salutaris Hostia”, dryf my klaar brose siel tot trane, veral die “⁠O Salutaris Hostia” waar die twee soprane, Arminda Lima Gonşalves en Simone Siljeur, in die middel van die vertrek kom staan en hul stemme soos “surround sound” deur die gehoor dartel.

Ek verlang weer na my ma, haar liefde vir koormusiek; hoe ek gehuil het toe ek die eerste maal in St Paulus se katedraal in Londen na koormusiek geluister het wat deur die kerkmure se akoestiek geliefkoos is; hoe graag ek haar daar by my wou hê dat sy wat nooit na die katedrale van die wêreld kon reis nie, dit ook kon ervaar.

My trane loop vrylik. Ek vee nie eers my wange af nie; sluit net my oë, laat die klanke oor my spoel. Maar so saam met die klanke, ook ’n trots. Dis my mense van my land wat so goddelik sing. En ek weet daardie engelstemme sing tot waar my ma ook al is.

Die tweede helfte van die program sluit onder meer “Isondo Liyajika”; “Listen”; “The time has come”; “Holding the light”; “If I can help somebody”; “Jamaican market place”; “Haleluya! Pelo Tsa Rona”; “Amazing Grace”; “Walk together children”; en “Beautiful Saviour” in. By “Isondo Liyajika” (“Die wiele draai” in Zoeloe) is hul uitvoering meesterlik. Maar ek weet vir ons Suid-Afrikaners het daardie roerende klanke dalk meer betekenis in hierdie nou as vir die jong koorlede wat hul tonge om klieks en draaie moet kry.

Die boodskap word verder versterk in “The time has come”, ’n lied wat geskoei is op Madiba se woorde in die Parlement in 1995 toe hy die SONA-toespraak moes lewer.

Die twee kore saam op die verhoog

Die twee kore staan saam op die verhoog vir die finale lied, “I sing because I’m happy”. Die entoesiasme is aansteeklik en binne sekondes sing die gehoor saam, klap hande en juig.

En net daar besef ek my vyf woorde vir hierdie twee heilige ure sal kan wees: “Koorsang. Nostalgie. Verlange. Vreugde. Hoop.”

Dit sal dalk nie luisteraars noop om ingeskakel te bly nie, maar dit het my diep geraak.

“All is well with my soul...”

  • Hierdie toer is moontlik gemaak deur Classical Movements, die voorste konserttoergeselskap vir die wêreld se groot orkeste en kore en die krag agter die Ihlombe! Choral Festival, die grootste internasionale koorbyeenkoms in Suid-Afrika, asook Tours for the Minnesota Orchestra, die Boston Filharmoniese Jeugorkes en vele ander. Classical Movements skep betekenisvolle kulturele ervarings deur musiek in 147 lande.

Foto’s: Clifford Roberts

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top