Die eerste skote om staatskapers agter tralies te probeer kry het Woensdag geklap. Vyf werknemers van Bosasa het op aanklagte van onder meer korrupsie, geldwassery en bedrog in die handelshof in Pretoria verskyn.
Een van hulle is Angelo Agrizzi wat die land die afgelope weke aan die gons gehad het met sy onthullings voor die Zondo-kommissie oor grootskaalse korrupsie tussen Bosasa en veral die departement van korrektiewe dienste.
Die ondersoekende joernalis Jaques Pauw wou op Twitter weet of die Valke nie hulself in die voet geskiet het met die arrestasie van Agrizzi nie. Pauw sê Agrizzi moet nog verder getuig oor ander korrupsie-aangeleenthede en mag dalk nou weier omdat hy homself kan inkrimineer. “Ek dink hy moes anders behandel word. Watter boodskap stuur ons aan ander mense met soortgelyke inligting?” wou Pauw op Twitter weet.
Hy wou ook weet waarom die Valke Agrizzi ’n dag nadat hy voor die Zondo-kommissie getuig het arresteer terwyl hulle 10 jaar kans gehad het om dit te doen na ’n verslag deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) maar niks daaraan gedoen het nie.
Vrae word ook gevra waarom grootkoppe soos Bosasa se uitvoerende hoof waaroor die bohaai eintlik gaan nie gearresteer is nie.
Hawks says arrest of Agrizzi and others stem from 2009 SIU report and not recent testimony at Zondo. The state had 10 years to arrest. Did nothing. A day after Bosasa testimony at Zondo, sudden arrests. Why now? They charged the company Bosasa as well. But not CEO Gavin Watson?
— Jacques Pauw (@Jaqqs) February 6, 2019
Voormalige werknemers van Bosasa, Angelo Agrizzi, Andries van Tonder, Frans Vorster en Carlos Bonifacio het Woensdag saam met die voormalige finansiële hoof van die departement van korrektiewe dienste, Patrick Gillingham in die gespesialiseerde handelshof in Pretoria verskyn.
Verskeie koerante het die beskuldigdes se hofverskyning op Twitter gedeel
The high-profile suspects have been linked to the alleged corrupt awarding of tenders worth R1.6bn by the department of correctional services to #Bosasa. https://t.co/NMiASPXrtT
— Times LIVE (@TimesLIVE) February 6, 2019
Hulle is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat en moes hul paspoorte indien. Die name van die mans het op twee verskillende klagstate verskyn.
’n Foto van die name op die klagstaat is ook wyd op Twitter versprei.
I'm worried about accused #5, #6 and #7: I need clarity????????????#Hawks #StateCapture #AngeloAgrizzi pic.twitter.com/OzPUx3gmZd
— Barbz???? (@A_BlackBarbie) February 6, 2019
Die departement van korrektiewe dienste se voormalige hoof, Linda Mti, is die eerste beskuldigde op die een lys, maar het nie Woensdag in die hof verskyn nie. African Global Operations (voormalig Bosasa), en sy filiale Sondolo IT en Phezulu Fencing, word ook van korrupsie en geldwassery aangekla. Die saak is tot 27 Maart uitgestel.
Daar word verwag dat nog arrestasies sal volg van mense wat by die Bosasa-skandaal betrokke is. Die arrestasies word bestempel as ’n sterk boodskap aan diegene wat by korrupsie betrek word dat daar sterk teen hulle opgetree gaan word.
Die hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), adv Andy Mothibi, beskou die arrestasies as positief. Hy sê in ’n verklaring hy verwelkom die Valke se optrede teen diegene wat reeds ’n dekade lank die SOE verbind met korrupsie, rampokkery, geldwassery en diefstal tussen Bosasa en die departement van korrektiewe dienste.
Adv Mothbi sê in sy verklaring die wiel van geregtigheid draai miskien stadig sedert die bekendmaking van hulle verslag in 2009 waarin daar oor Bosasa en die departement van korrektiewe dienste verslag gedoen is. Die eenheid sal egter voortgaan om te kyk wat kom na vore by die Zondo-kommissie en die nodige stappe neem om toe te sien dat die skuldiges aan die pen ry.
’n Woordvoerder van die Valke, brig Hangwani Mulaudzi, het Woensdag gesê die inhegtenisnemings volg op die Valke se onafhanklike ondersoek wat deur die SOE gesteun word. Die SOE wat in die vroeë 2 000’s reeds ’n ondersoek na Bosasa gedoen het, het intussen opnuut met sy eie ondersoek begin.
Die SOE se mandaat word uitgestippel in artikel 2(2) van die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale nr 74 van 1996.
Die Wet bepaal dat die SOE wanadministrasie in staatsinstellings, onwettige optrede deur staatsamptenare, onwettige aanwending en verkwisting van staatsfondse en eiendom, asook ander staatverwante oortredings wat die publiek benadeel, moet ondersoek.
Die SOE se mandaat en werksaamhede word op hulle webwerf uiteengesit: https://www.siu.org.za/
Lees ook
Buro: NB