Suid-Afrikaners is woedend omdat die kragvoorsiener Eskom die land sonder waarskuwing in die duister gelaat het te midde van duisende matrikulante wat dié week met hulle eindeksamens begin het.
“Wil jy vir my sê Eskom was nie bewus daarvan dat matrikulante met hul eindeksamens begin nie? Kragonderbreking. Swak,” sê Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust.
Van Wyk sê Eskom moet herdoop word na Eksdom. “Hulle besef nie die omvang van die kragkrisis en die gevolge van hul wanbestuur nie.”
Foto: Pixabay.com
Die bestuurshoof van Eskom, Jabu Mabuza, het Suid-Afrikaners, en veral matrikulante, om verskoning gevra vir die ontwrigtings wat hulle weens beurtkrag moet verduur. Matrikulante het die afgelope week landwyd met hul eindeksamen begin. Mabuza sê hy het begrip vir mense se frustrasie weens die situasie. Hy sê Eskom doen egter alles in sy vermoë om beurtkrag te vermy, hoewel die huidige situasie deur onverwagte probleme veroorsaak is wat die kragverskaffer se opwekkingskapasiteit ernstig beperk.
Beurtkrag het Donderdag voortgeduur om te voorkom dat die kragnetwerk in duie stort. Herstelwerk duur volgens Mabuza ook voort. Hy sê ’n aantal opwekkingseenhede is reeds weer in gebruik en maatreëls is ingestel om steenkool na Medupi te vervoer. Die steenkoolvervoerband wat die naweek gebreek het, was een van die bydraende faktore tot die beurtkrag wat Woensdag onverwags weer ingestel is.
Mabuza sê Eskom kry ook bykomende dieselvoorraad van verskaffers en hoop om die diesel- en waterreserwes spoedig tot aanvaarbare vlakke te herstel.
#PowerAlert 1
Date: 17 October 2019Stage 2 rotational loadshedding is currently being implemented from 09:00 until 23:00 today@News24@IOL @SAfmnews @ewnupdates @SABCNewsOnline @ukhoz @CapeTalk @POWER987News @pretorianews pic.twitter.com/aK1L7sSHYg
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) October 17, 2019
Die matriekeksamen-vraestel in Rekenaartoepassingstegnologie wat Woensdag in baie dele van die land weens beurtkrag ontwrig is, sal herskeduleer moet word. By talle eksamensentra landwyd kon daar weens die kragonderbrekings glad nie eksamen geskryf word nie, of kon die eksamen nie voltooi word nie.
Die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys het ook sy kommer uitgespreek oor die gevolge wat die afgelope week se onvoorsiene beurtkrag op die matrieks het wat vir die eksamen moet voorberei of besig is om eksamen te skryf.
Die komitee se voorsitter, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, sê in ’n verklaring matriekleerders is reeds gespanne oor die eindeksamens en beurtkrag kan net meer spanning veroorsaak.
Basic Education Committee Concerned by Load Shedding During Matric Practical Examinations https://t.co/7Xl3errJpL #Matric2019 pic.twitter.com/UpKjFjH5Ud
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) October 16, 2019
Byna 800 000 matrieks is ingeskryf vir die nasionale seniorsertifikaat en duisende van hulle word deur beurtkrag geraak.
Provinsies wat geraak is, sluit in Gauteng, Limpopo, KwaZulu-Natal, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap. ’n Woordvoerder van die departement, Elijah Mhlanga, het volgens RSG gesê hulle is baie bekommerd oor die impak van die voortslepende beurtkrag. Hy sê ’n aankondiging oor die herskedulering van Woensdag se eksamen sal gedoen word sodra planne gefinaliseer is.
Johannesburg se burgemeester, Herman Mashaba, het op Twitter uitgevaar omdat Eskom weer fase 2 beurtkrag ingestel het. Hy sê hulle moes Woensdag in die media van die beurtkrag uitvind sonder dat die stad vooraf daarvan in kennis gestel is.
“Die hele land het vir die #Eskomplan gewag. Noudat ons dit het: ‘Skakel af die ligte!’ Briljant. In die nuwe CR [Cyril Ramaphosa] sonsopkoms het ons nie elektrisiteit nodig nie want die son het opgekom,” het hy sarkasties getwiet.
The whole country has been waiting for the #ESKOM plan. Now we have it: "Switch off the lights! " Brilliant. In the CR New Dawn one does not need electricity because the sun has risen. This after CR has been fixing ESKOM, with Pravin Gordhan, since appointed by JZ in 2014.
— Douglas Gibson (@dhmgibson) October 16, 2019
Op sosiale media het die humeure ook behoorlik opgevlam soos wat Suid-Afrikaners hulle misnoeë teenoor Eskom uitgestort het.
“Wie sal vir kragopwekkers moet opdok? Soos sake staan is dit maar net weer die uitgemergelde/drooggemelkte BELASTINGBETALER wat sal moet pa staan vir die eindelose gemors waarin die verdomde ANC hierdie land die afgelope 25 jaar gedompel het – en steeds doen,” het Julie Jansen van Rensburg op Netwerk24 se kommentaarblad stoom afgeblaas.
Lees ook
Buro: MvH