Zindzi Mandela aangekla van haatspraak

  • 0

Zindzi Mandela (Foto: YouTube)

Die klag van haatspraak is deur AfriForum by die SAMRK ingedien omdat Zindzi Mandela se onlangse twiets volgens AfriForum bewys gelewer het van ’n haatdraende houding jeens wit inwoners van die land.

Mandela, wat in Junie 2015 ambassadeur in Denemarke geword het, is twee weke gelede deur Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, oor die kole gehaal oor onvanpaste uitlatings op Twitter.

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê die klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie volg in reaksie op ’n reeks uiters verdelende en rassistiese Twitter-boodskappe wat Zindzi Mandela op 14 Junie 2019 gestuur het.

Volgens Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir internasionale skakeling, is Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, pas nadat die boodskappe rugbaar geword het, versoek om die ambassadeur terug te roep en af te dank.

Hoewel die departement die saak ondersoek het en bevind het dat Mandela wel vir die boodskappe verantwoordelik was, is sy bloot oor die vingers getik. Dit blyk nou dat haar dienstermyn voorlopig tot Desember 2019 verleng is en geen verdere stappe van haar werkgewer se kant af teen haar sal volg nie. In die lig hiervan het AfriForum besluit om met ’n klag by die SAMRK voort te gaan, lui ʼn verklaring op AfriForum se webwerf.

“Met haar boodskappe het Mandela bewys gelewer van ’n haatdraende houding jeens wit inwoners van die land en het sy in die openbaar bygedra tot die verdeeldheid van plaaslike gemeenskappe. Met kru taal, asook vals en vernederende beskrywings soos ‘rapists’, ‘cowards’ en ‘land thieves’ help sy bou aan ’n gevaarlike diskoers van sondebokskepping,” sê Bailey.

“Haar verweer – dat sy geregtig is op haar persoonlike opinie – toon ’n algehele gebrek aan insig in haar verantwoordelikheid in haar pos om die beeld van Suid-Afrika te bevorder en alle Suid-Afrikaners sonder vooroordeel te dien. Dit strook ook glad nie met die Suid-Afrikaanse Grondwet wat onomwonde verklaar dat die land aan almal behoort nie. Sy moet vir haar optrede verantwoordbaar gehou word en AfriForum versoek die SAMRK om in hierdie verband ondersoek in te stel en op te tree,” voeg Bailey by.

Dit lyk ook nie of Mandela veel ag slaan op die feit dat sy deur die land se minister van internasionale betrekkinge oor die vingers getik is oor haar gedrag op Twitter nie. Sy het einde verlede week opnuut van haar op Twitter laat hoor met skerp aanvalle op diegene wat haar optrede kritiseer.

AfriForum sê Zindzi Mandela se verweer – dat sy geregtig is op haar persoonlike opinie – toon ’n algehele gebrek aan insig in haar verantwoordelikheid in haar pos om die beeld van Suid-Afrika te bevorder en alle Suid-Afrikaners sonder vooroordeel te dien.

Sy het onder andere verskeie omstrede twiets van die EFF op haar eie twitterrekening gedeel en uitlatings gemaak wat ongekend is van ʼn ambassadeur wat haar land in die buiteland moet verteenwoordig en regeringsbeleid moet uitdra.

Sy het onder meer uitgevaar teen diegene wat haar gewys het op die versoeningsrol wat haar pa, Nelson Mandela, gespeel het. “Jy met jou Jesus-kompleks, kom asseblief van die kruis af en kom reguit na my toe, moenie jou apostels stuur nie,” het sy een van haar kritici op sy plek probeer sit.

Die ambassadeur het ook haar mes in gehad vir die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, nadat hy aan haar gesê het sy moet die eerbare ding doen en terugkom Suid-Afrika toe en liewer een van die EFF se rooi oorpakke aantrek.

Du Preez het die uitlating gemaak na aanleiding van die talle EFF-twiets wat sy op haar eie twitter-profiel deel. Sommige daarvan lui dat Malema Suid-Afrika se volgende president sal wees en dat die EFF die enigste oplossing is vir die land se probleme. “Het ek aan jou ateljee geraak, baas?” wou sy sarkasties van Du Preez weet.

Een van die talle omstrede twiets wat deur Mandela hertwiet is, lui dat 87% van Suid-Afrika se grond deur die 13% minderheid wit mense beset word. “Hoe maak dit vir jou sin!! Ons mense het huise nodig en om huise te bou benodig ons grond!!” lui een van die twiets wat deur haar gedeel is.

https://twitter.com/megulator2018/status/1147195558681022464

Lees ook

Malema en Mandela noem wittes rassiste en gronddiewe

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top