..............
“Toe Zuma verlede jaar vir die tweede keer voor die kommissie moes verskyn om vrae te beantwoord, het hy op nommer 99 kleinkoppie getrek en beweer hy is te siek.”
..............
Oudpresident Jacob Zuma wat geen ooghare het vir die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping nie, moet later die maand of vroeg volgende maand weer voor die Zondo-kommissie verskyn.
Verlede jaar moes die kommissie Zuma met stokke en swaarde so ver kry om te getuig. Tydens sy getuienis het Zuma verskeie bewerings voor regter Zondo gemaak wat wissel van ’n beweerde komplot om van hom ontslae te raak tot bewerings dat verskeie hooggeplaastes in die ANC eintlik apartheidspioene is wat steeds hulle mes vir hom in het.
Foto: Kremlin.ru [CC BY 4.0], via Wikimedia Commons
Hy beweer ook die Zondo-kommissie is bevooroordeeld teenoor hom en deel van ’n heksejag. Zuma hou vol hy is die slagoffer van ’n politieke komplot wat teen hom gesmee word.
Toe Zuma verlede jaar vir die tweede keer voor die kommissie moes verskyn om vrae te beantwoord, het hy op nommer 99 kleinkoppie getrek en beweer hy is te siek.
Zuma se naam duik gereeld by die kommissie op sedert daar met die ondersoek na staatskaping begin is.
Die koronavirus het Zuma se tweede verskyning voor regter Zondo tot dusver in die wiele gery. Zondo is egter gretig dat die kommissie sy werksaamhede so gou moontlik hervat. Hy het dié week tydens ’n mediakonferensie gesê president Cyril Ramaphosa sal waarskynlik ook in die tweede helfte van die jaar getuig.
Zondo sê die kommissie wil ook steeds hê Zuma moet weer getuig. “Ek meen dit sal taamlik gou gebeur,” het Zondo gesê.
Zondo sê sommige van die prosesse is meer vaartbelyn gemaak om die werksaamhede aan die einde van Maart aanstaande jaar af te sluit soos wat die Hooggeregshof beslis het.
..............
“Verlede maand het Zuma se regsverteenwoordiger skielik ’n ander deuntjie gesing en gesê hulle wil hê sy korrupsiesaak moet so gou as moontlik plaasvind. Hulle het glo beswaar gemaak teen die moontlikheid dat die Nasionale Vervolgingsgesag sy verhoor tot volgende jaar uitstel.”
..............
Die kommissie is twee jaar gelede in die lewe geroep om staatskaping te ondersoek. Zondo sê die kommissie het gedetailleerde kruisondervraging van sleutelgetuies aangehoor, van wie sommige se getuienis dae lank geduur het. Hy sê voortaan sal meer as een getuie per dag ondervra word.
Zuma se kat-en-muis-speletjie met die land se regstelsel is alombekend. Hy het voorheen daarmee gespog dat hy graag sy “dag in die hof” wil hê. Wanneer dit puntjie by paaltjie kom, gebruik hy en sy regspan egter elke toertjie in die boek om sy saak uit te stel.
Net soos toe hy voor die Zondo-kommissie moes verskyn, het sy regsverteenwoordigers ’n geheime siekte as rede aangevoer waarom hy afwesig was toe hy vir die soveelste keer verlede jaar in die hof moes verskyn op verskeie klagtes van onder andere geldwasserye en rampokkery.
Niemand weet wat Zuma se beweerde siekte behels wat hy telkens as verskoning aanbied wanneer hy voor ’n hof of die kommissie moet verskyn nie.
Die vorige keer toe hy in die hof moes wees, het sy regverteenwoordiger mediese dokumente voorgelê om sy geheime siekte te staaf, maar die staat se regsverteenwoordigers en die regter was nie beïndruk daarmee nie. Die mediese brief wat deur Zuma se regspan by die hof ingedien het, was vaag en onvolledig. Dit was nie eers duidelik of dit deur ’n mediese dokter onderteken is nie. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik indien hy weer sonder behoorlike rede sou versuim om in die hof te wees.
Verlede maand het Zuma se regsverteenwoordiger skielik ’n ander deuntjie gesing en gesê hulle wil hê sy korrupsiesaak moet so gou as moontlik plaasvind. Hulle het glo beswaar gemaak teen die moontlikheid dat die Nasionale Vervolgingsgesag sy verhoor tot volgende jaar uitstel.
Gewone Suid-Afrikaners wat die drama oor Zuma se verskynings voor die Zondo-kommissie en die howe al geruime tyd dophou, is egter skepties of Zuma binnekort voor die kommissie sal verskyn.
Lees ook
Buro: MvH