ǂKhomani vertel self hul storie by dié vertolkingsentrum

  • 0

Die ǂKhomani se stories is deeglik verweef met die geskiedenis van die Kgalagadi-oorgrenspark aan die Suid-Afrikaanse kant – ver in die Noord-Kaap. ’n Uitstalling in die vertolkingsentrum by die Twee Rivierenkamp in die suide van die park gee die ǂKhomani die geleentheid om self hul storie in woorde, foto’s en illustrasies te vertel.

Die park het op 3 Julie vanjaar 95 jaar gevier sedert sy ontstaan as Kalahari Gemsbok Park en op 12 Mei 26 jaar as Kgalagadi – Afrika se eerste oorgrens-vredespark.

Die woestynlug is nie genadig op vel en oog nie; dit brand enige ontblote stukkie vlees en selfs met ’n sonbril, is jou oë sensitief teen die skerp lig. Die grasdakgebou agter die petrolpomp en neffens die kafeetjie is ’n koel oase teen die hitte.

Hoe gepas dat Kgalagadi “die land wat opgedroog het” in Setswana beteken. Ek drink sommer groot slukke water uit my yskoue parkkafee-aankopie.

By die deur kondig ’n plakkaat aan: “Die landskap vertel nie net die storie nie; dit ís die storie.”

Daar is ’n kode wat jy met jou slimfoon kan skandeer om die storie in Afrikaans of Engels te volg, as jy ’n onbegeleide toer neem. Die uitstalling is in 26 dele verdeel en sluit onder meer dele oor jagter-versamelaars in; wie die ǂKhomani is; die probleem van benoeming; die park se tydlyn; uitstalling en verlies; volhoubaarheid: ’n delikate balans; en boomstories.

Dae tevore het ons gehoor van dié sentrum wat in 2017 geopen het. Dis nie op ons parkkaart aangedui nie en ek is bly vir ander toeriste wat ons aangeraai het om te kom inloer.

Ons is toe deur ’n gids ingelig oor wat presies die ǂKhomani- Kulturele Landskap is. Dis ’n uitgestrekte gebied wat saamval met die Kalahari Gemsbok Nasionale Park. Mense bewoon dié landskap van die Steentydperk tot nou. Die kultuur, geskiedenis, herinneringe, migrasie, lewensbestaan en hulpbronne van die ǂKhomani en ander gemeenskappe getuig van hul aanpasbaarheid om in ’n woestynomgewing te oorleef.

Die ǂKhomani- Kulturele Landskap is op 8 Julie 2017 op die UNESCO-Wêrelderfenislys ingesluit en dis hierdie eienskappe en die jagter-versamelaar-lewenswyse en etos van die ǂKhomani wat tot dié erkenning aanleiding gegee het. “Hul voortgesette stryd om toegang tot natuurlike hulpbronne, die reg om hul tale te praat, om in die land van hul voorouers te woon en om vir hulself te definieer wie hulle is, is terselfdertyd ’n ontstellende en inspirerende verhaal,” lui die inligtingstuk.

Twee boodskappe wat deel van die brosjure vorm, laat my ook sommer meer deel van hierdie gedeelde voorvaders van ons almal voel: “SANParke verwelkom besoekers aan die Kgalagadi-oorgrenspark, wat nie alleen die aantrekkingskrag vir besoekers aan die Kalahari aansienlik vergroot nie, maar ook groter beskerming aan die totale ekosisteem bied.”

“Ons is veral trots op die ǂKhomani- Kulturele Landskap aan die Suid-Afrikaanse kant, die vierde nasionale park wat as ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is,” sê Lucius Moolman, streekbestuurder: Ariede Parke.

Petrus Vaalbooi, tradisionele leier, verklaar: “As tradisionele leier van die ǂKhomani verwelkom ek u hartlik in ons Wêrelderfenisgebied. As bewaarders van ons erfenis wat volgens UNESCO Uitstaande Universele Waarde bevat, nooi ons u uit om te kom en die ǂKhomani- Kulturele Landskap te ervaar en te geniet. Kom met ’n oop gemoed en u sal terugkeer met wonderlike herinneringe en nuwe insigte. Dit is ’n besoek wat u siel sal onthou.”

Die woorde van spesifieke diere, die wind, sand, landskap is in !arub (Nama), Engels en Afrikaans aangedui.

Ek hou van die aanhalings deur ǂKhomani soos Oupa Jan Pietersen onder die woorde napab, lightning, blits: “So om in die weerlig te staan, is soos om jou uit te lewer aan ’n leeu. ’n Leeu en die weerlig se stemme is dieselfde.”

Ook Petrus wat onder xammi, lion, leeu skryf: “Volgens my is mense gevaarliker as diere. Diere en die natuur en bome maak ons nie seer nie, maar mense wel. As mens die gevoel het en die kennis van die natuur, is hy veilig.”

Ons lees: Die Kalahari-kom is die grootste ononderbroke stuk sand ter wêreld. Die Kalahariwoestyn is ’n groot halfdroë sanderige savanne in Suider-Afrika wat 900 000 vierkante kilometer beslaan en ’n groot deel van Botswana en dele van Namibië en Suid-Afrika insluit.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is geleë in ’n landskap van lang kettings golwende sandduine, met duinestrate tussen hulle, sanderige vlaktes, droë rivierlope en panne.

Ingeweef in die fisiese landskap is ’n lewende ekosisteem van plante en diere wat aangepas is vir ’n uitdagende omgewing van uiterste hitte, droogheid en gebrek aan oppervlakwater.

Ek lees ander interessanthede soos dat dit moeilik is om te sê presies wanneer die eerste mense hulle verskyning gemaak het in hierdie deel van die wêreld. “Artefakte raak maklik in die diep sand van die Kalahari verlore.”

’n Uur of wat tevore het ons juis by die historiese Auchterlonie Museum gestop. As dit nie was vir die beskerming van die klipmure nie, was daar ook niks van die artefakte van die mense wat meer as 100 jaar gelede hier langs die boorgat geleef het, oor nie.

“Wat ons wel weet, is dat die San-voorouers reeds minstens ’n honderdduisend jaar in Suider-Afrika was en dat hulle in die Kalahari gewoon het wanneer gunstige toestande geheers het – moontlik vir tienduisende jare.”

Dae tevore het ’n ǂKhomani-veldgids in die park, Koos Visser, vertel dat die ǂKhomani ’n diep respek vir die natuur het. Hulle glo daaraan om net te neem wat nodig is en om hulpbronne op volhoubare wyse te gebruik. Hy werk by !Xaus Lodge in die park.

Op een van die borde word sy woorde geëggo: “Daar is ’n groeiende gaping tussen die natuur en die moderne samelewing. Die natuur word beskou as iets wat oorwin, getem of verander moet word – dikwels sonder inagneming van die onderlinge skakels waarop die globale ekologiese infrastruktuur staat maak. Blote hebsug wat buite beheer woed, beïnvloed die leefbaarheid van die planeet. Tog leef ons in ’n wêreld waar alles aan mekaar gekoppel is en waar enige aksie – hoe klein ook al – ’n wydreikende effek het.”

Ons het die gids op ’n staproete deur die duine vergesel toe hy die verbintenis met plant en dier uitwys in elke klein groen blaartjie wat op die oog af na niks lyk nie.

“Ons leef asof natuurlike hulpbronne oneindig is, hoewel ons van beter behoort te weet. Nie-lewende hulpbronne is beperk. Lewende hulpbronne kan wel volhoubaar geoes word, solank ons aandag gee aan grense wat die hulpbronne sal toelaat om te herstel.

“Tradisioneel het die ǂKhomani net geneem wat hulle nodig gehad het, en vandag geld hierdie benadering tot ’n groot mate steeds. Wanneer hulle plante oes, laat hulle genoeg agter vir die plant om weer te groei. Hulle het nooit al die eiers uit ’n volstruisnes gehaal nie en ook nie meer wildsbokke gejag as wat hulle kon eet nie.”

Die moderne samelewing se ekologiese voetspoor is groot. “Die jagter-versamelaars het tradisioneel beskeie behoeftes gehad met weinige negatiewe uitsettings. Hul ekologiese voetspoor was skaars meer as ’n voetspoor in die sand wat die wind aanstons sou toewaai.”

Op min ander plekke in die wêreld kan hierdie woorde meer waar wees.

Ek verpoos vir oulaas weer by ’n plakkaat in die ingang wat vertel dat die uitstallings rondom die houtbalke in die vertrek die stories van die bome in die park en omliggende gebiede vertel. “Dis stories van geboorte, lewe en behoort. Hulle vertel ook stories van geweld, ontneming en verlies. Hierdie bome staan as lewendige monumente van onthou, maar help ook oorlewing aan in hierdie landskap, omdat hulle skaduwee en natuurlike hulpbronne is.”

Dis die Boesman-liedjie, waarvan hierdie paar vertaalde woorde in die inligtingblad aangehaal is, wat my bybly toe ons die park verlaat en ’n nuwe ontdekkingstog begin:

The day we die a soft breeze will wipe out our footprints in the sand. When the wind dies down, who will tell the timelessness that once we walked this way in the dawn of time?

Wie sal inderdaad agterbly as ons mensdom se vernielsug voortduur?

Kitsfeite:
  • Baie mense vlieg na Upington en huur dan ’n voertuig om die park te verken. Ons het vir ses dae die park sonder ’n 4x4 met die Omoda C7 (SHS) hibried, wat met petrol en elektrisiteit werk, gery. Die voertuig maak bykans geen geluid nie, so ons kon naby aan diere en voëls kom, sonder dat ’n luide enjin hulle verjaag. Met sitplekke wat verkoel en die passasierskant wat lekker rugmasserings gee, was dit die aangewese kar vir lang ente ry. Lees meer by https://www.omoda.co.za/models/omoda-c7.
  • Besoek https://www.sanparks.org/parks/kgalagadi vir meer inligting oor die park, akkommodasie en wat daar te sien en doen is.
  • Die park is ’n rapsie minder as 1 100 kilometer van Kaapstad en bykans net so ver van Johannesburg; 260 kilometer van Upington en deel ’n grens met Namibië. Die Mata Mata-grenspos bied direkte toegang tot beide Namibië en Suid-Afrika.
  • Die ‡Khomani San-grondeis wat op 21 Maart 1999 voltooi is, is die eerste en prominentste suksesvolle geval van grondrestitusie aan inheemse mense in postapartheid-Suid-Afrika. Lees meer by https://www.culturalsurvival.org.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Die Namakwaland is meer as net twee maande se blomme

Masiya’s Camp huldig meesterspoorsnyer se gedagtenis

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top