
Masiya’s Camp
By Hoedspruit-lughawe – so groot soos ’n hoekkafee in die stad – is die eerste teken dat jy in die bos gearriveer het, die vlakvark teen die verste rand van die aanloopbaan, pas nadat jy geland het. Daarna die klein plakker wat vra dat jy nie die wilde diere moet voer nie.
Ons gids vir die volgende paar dae, Ally Ross, wag met ’n groot glimlag en die lugverkoelde viertrekvoertuig is ’n welkome lafenis teen die Laeveldse somerhitte.
Die rit na Royal Malewane se Masiya’s Camp in Thornybush Privaat Wildreservaat duur net minder as ’n uur. Ons vra uit oor dié nuutste kamp in die Royal Portfolio-groep. Masiya’s Camp sluit aan by die groep se ander eiendomme in die Groter Kruger Nasionale Park: Malewane Lodge; Farmstead en Farmhouse; Waterside en Waterside House; en Africa House. Almal luukse wegbreke vanwaar jy die bos kan geniet – maar soos jy dit wil geniet: in privaatheid saam met vriende en familie in ’n luukse villa; in enkelsuites vir romanse.

Wilson Masiya
Ally vertel dat die kamp vernoem is ter ere van Wilson Masiya – ’n legendariese meesterspoorsnyer en een van slegs 14 wêreldwyd. Die kamp vang Wilson se vreeslose gees en intieme verbintenis met die Afrika-wildernis vas, verduidelik sy. Dis nie net nog ’n luukse safari-ervaring nie; dit is ’n plek waar wêreldklasgerief en diepe respek vir die natuur hande neem.
Wilson se verhaal vou stadig oop soos die pad onder ons wiele verbygly. Hy is in Mosambiek gebore en het in 1977, toe die burgeroorlog uitbreek, sy familie deur die Krugerwildtuin na Suid-Afrika gelei – 130 kilometer te voet. Later het hy vir SANParke gewerk en homself gevestig as een van die beste spoorsnyers in die Groter Kruger. Hy het by Thornybush Game Lodge begin werk.
Toe die Biden-familie Royal Malewane in 1999 open, was hy ’n natuurlike keuse om by die span van The Royal Portfolio aan te sluit. Ná sy dood in 2015 wou die span sy nalatenskap tasbaar eer. Masiya’s Camp is daardie huldeblyk – ’n plek waar sy gees steeds tussen doringbome en droë rivierlope fluister.
Ons suite – een van net ses – herskryf my definisie van “tent”. Onder seil, ja, maar met Persiese matte onder my voete, ’n vrystaande pootjiesbad, binne- en buite-storte, ’n privaat verhitte plonspoel en glasdeure wat oopskuif na die bosveld. Dis ultra-modern, maar met ’n hart wat klop in ritme met die veld. In die antieke houtkas is ’n volledige kroeg met ys, suurlemoen vir jou G&T en yskoue vonkelwyn uit die Kaap.
Elke tent het sy eie karakter: pienk en blomryk, of diep blou en rooi met ’n Oosterse aanslag; Marrakesj-potte, aardse groen, gewaagde kunswerke. Die dekor balanseer luuksheid en landskap só dat jy nooit vergeet waar jy is nie – en ook nie wil nie.
Die tent is ’n allemintige 100 vierkante meter en saam met die stoep en kuiergedeeltes langs die swembad, altesaam 230 vierkante meter. Die stigter, Liz Biden, se kreatiewe oog is in elke klein detail te bespeur.
Op die koel sementvloer is ons name uitgepak in samarasaadjies – die gevlerkte sade van die Ross-boswilger, wat soos klein helikoptertjies dwarrel as hulle val. Hulle sê as jou naam in ligte uitgespel is, het jy gearriveer. En tog voel dit vir my asof ek eers nou werklik aangekom het waar dit saak maak.
Agter my vra ’n personeellid of die kamertemperatuur reg is en of ons saans die gordyne en muskietnet oop of toe verkies. “Ek hou van oop,” sê hy, “want julle gaan voor sonop wakker wees en die uitsig is te mooi.”
Weldeurdag, dink ek.
Ons tasse is reeds in die reuseaantrekkamer.
Dis tyd vir middagete, maar mens is hier heeltyd verskeur: Dryf jy in die verhitte swembad met borrels, lees jy op die swaaibed, of dut jy op die dagbed? Eet jy onder die boom op jou stoep, of in die restaurant met sy groen teëlkroeg wat oor die veld uitkyk? Bly jy by jou verkoelde suite, of klim jy op die wildvoertuig vir ’n laatmiddagrit, of gaan stap jy saam met die gidse in die veld? Eet jy aandete by kerslig langs jou eie swembadjie, of gaan kuier jy by die pizzaoond en buitekaggels waar bekwame sommeliers die land se beste wyne aanbeveel?
Die aanvanklike stilte van ons aankoms vervaag gou. Dis kompleet of die veld vir ’n ruk asem opgehou het toe ons gearriveer het.
Ons eerste ete is toe op ons eie stoepie in ons swembroeke. Die spyskaart het ons name en suitenommer op. Jy word op die naam genoem; jou dieetvoorkeure is reeds neergepen.

Ally as gids en Lodrick Mikanzi as verkenner
Die dae se ure is vervleg met wildritte en loomheid by ons suite. Saam met Ally as gids en Lodrick Mikanzi as verkenner, word die wonders van die bos aan ons ontbloot.
“Ek bly steeds verstom hoe olifante hulself kan onderhou in hierdie droë seisoen,” sê Ally half ingedagte op die voertuig. Dis wonderlik om te sien dat sy steeds onder die invloed van die bosbetowering is. Soveel gidse word later afgestomp vir die magiese wêreld waarin hulle werk en woon.
Ally weet ons is nie bosgroentjies nie. Sy fokus op die kleiner wonderwerke tussen die leeus en luiperds: perdebye wat klein sakkies op takke maak vir hul eiers, ’n stof inspuit wat die tak laat verdik; hoe ’n olifant se voet se spiere en sagte kussings hom amper geruisloos laat beweeg, en hoe hy klank deur sy sole kan optel.
Sy vertel van byekorwe wat in bome gehang word om olifante weg te hou – ’n slim, natuurlike versperring wat terselfdertyd werk skep en mense leer oor die belangrikheid van bye. As bye uitsterf, sê sy, het ons ongeveer vier jaar oor. Hier bottel die lodges hul eie heuning – soet, plaaslik, betekenisvol.
Sy sluit die enjin af dat jy kan hoor hoe ’n sebra gras kou of sy lyf teen ’n droë tak skuur. ’n Rooineklewerik sit met ’n deurmekaar kuifie asof hy nog nie reg is vir die dag nie. Ons verpoos. Neem in, ruik die lug. Die reuke verander soos ons ry – van stowwerig na droog en groen en klam. Dis nie iets met ’n naam nie, maar ’n ervaring wat in jou neus en op jou tong bly lê. En in jou siel gaan nesskop.
’n Paar ervarings in die bos staan vir my uit: Die sonbelofte hang oranjerooi en goud teen die oggendhemel. Sterk koffie en tuisgebakte beskuit met sonneblomsade en neute is vertroostend bekend op ons stoep. Op die rand van die plonspoel wat geruisloos oor die kant vloei, kom ’n tiptol water drink; sy fyn pootjies in die louwarm stroom, sy silhoeët weerspieël in die water.
Ons is die kuiergaste hier; dis sy tuiste.
By ’n damwal sit ons die enjin af. Twee hiënas lê in die dam se vlakwater om af te koel. Een drink gulsig water; die goue druppels rol teen sy nek af in die laatmiddagson. Skielik is die vreesaanjaende dier ’n kunswerk.
’n Nyala beweeg verby – ’n lopende waterverfskildery, asof iemand ure lank met ’n fyn kwassie elke strepie getrek het.
’n Luiperd lê in ’n maroelaboom met ’n halfgevrete impala; een toontjie haak aan ’n takkie. ’n Stukkie gras hang nog uit die impala se bek. ’n Hiëna wag geduldig onder. Die oggend is oortrokke; elke geluid is harder in die bos, maar dis doodstil hier waar ons in verwondering sit – uitverkore tot ’n magiese oomblik.
Saans eet ons op die restaurantdek; ’n ligte bries roer die palms in hul potte. Vure brand in kaggels; buite knetter die braaivleisvuur. Die kos is voortreflik danksy sjef Rudolf Potgieter en sy span. Die beste wyne uit die Kaap word aanbeveel deur kundige sommeliers wat al self daardie wyne geproe het en wéét.
Die sterre is ons lanterns as ons saans saam met ’n wag na ons suite stap. Hier bekommer jy jou nie oor sakkerollers nie, maar om nie deel van die siklus van die roofdiere se dieet te word nie!
Op pad lughawe toe ’n paar dae later, staan ’n paar olifante onder ’n boom. Die son bak. Hul lywe is halfdonker van ’n onlangse modderbad. Tussen die groot koeie se bene sien ek net ’n beweging – ’n kleintjie se flappende oor om koelte te bewerk.
Die foto’s van die mooie natuurskoon en die verblyf is met die Canon EOS R6 geneem.
Ek vou dié oomblik – saam met die drinkende tiptol, die goue hiëna-druppels en die sagte oggendlig – in my hart toe vir later. Want ek weet: Wanneer die stadsgeraas weer baklei vir ruimte in my kop, sal ek net my oë hoef toe te maak. Dan sal ek weer hier wees, waar die veld asemhaal en ek saam met hom.
Kitsfeite
- Bespreek jou verblyf by Masiya’s Camp by +27 21 671 5502, reservations@trp.travel en bekom meer inligting oor al die eiendomme in die The Royal Portfolio-groep by theroyalportfolio.com.
- Sou jy dalk meer dinge wou ervaar tydens jou verblyf, kan jy natuurlik die spa en gym by Malewane Lodge gebruik; wynproeë doen; fotografiesafari’s onderneem; ’n renosteronthoring-sessie meemaak, of die lede en honde van die anti-stroopspan ontmoet.
- As jy langer bly en meer dinge buite die reservaat wil ervaar, kan jy onder meer helikopterritte oor die Blyderivier Canyon onderneem; gaan gholfspeel by Afrika se eksklusiefste bosveld gholfbaan; besoek Leopard Creek, of die Timbavati Museum, of Moholoholo Wildlewe Rehabilitasiesentrum, of Langutelani-sentrum, of Sigagule Crèche, of Sihlekisi Primêre Skool, wat almal deur The Royal Portfolio Stigting ondersteun word.
- Die foto’s van die mooie natuurskoon en die verblyf is met die Canon EOS R6 geneem. Meer inligting by canon.co.za
Foto’s: The Royal Portfolio en Clifford Roberts







