Vind jouself weer in die Klein Karoo

  • 0
Mens vind jouself weer in die valleie van die Klein Karoo, het Maryke Roberts weer besef ná agterpaaie en heilige dae buite Vanwyksdorp.

As jy die agterpaaie kies, wag daar mooi én interessante verrassings op jou. (Foto: Clifford Roberts)

’n Vriendin van ons maak Karoo-engele. Die lyfies is uit die stam van die garingboom wat oral langs Karoo-paaie groei. Sy werk met ’n hoekslyper en met daardie ruwe toerusting skep sy delikate gesigsuitdrukkings, arms wat klein voëltjies of katjies of hondjies of varklelies vashou. Dan kleur sy hulle sorgvuldig in met malse bont kleure, gee hulle vlerke en laat hulle wegvlieg regoor die wêreld.

Sy vertel my een aand in die skemerte van ’n kerslig dat elke engel wat sy maak, ’n teken is dat iemand jou beskerm, en dat jy werd is om beskerm te word. “Dit gaan oor selfliefde ook,” verklaar sy met haar hoed laag oor haar oë getrek. Ons sit in stilte; ons gedagtes ver. Ek het een van haar engele in my sitkamer. So ook het my kosbare vriende engele wat oor hulle wag hou.

Dis weke later in ’n plek soos hierdie vlaktes waar haar engele ronddraai op soek na mense wat beskerm moet word, dink ek toe ons op nog ’n grondpad in die heuwels van die Klein Karoo indraai. Ons uiteindelike bestemming is Vanwyksdorp, maar die reis waarop ons nou is, is waaroor dit eintlik gaan: die bestemming nie nou tersaaklik nie.

Ná ’n paar uur op die pad is mens baie bly as hierdie teken jou by ’n kruising inwag. (Foto: Clifford Roberts)

Ek verwonder my aan elke wolk, elke grensdraad waaraan skaapwolletjies vassit en sien ’n klein donker wolkie in ons rigting kom. Hoe nader dit kom, hoe meer onverstaanbaar is dit wat ons sien. Tot hulle voor die voorruit verbyvlieg en ons besef dis ’n wolkie voëltjies – só naby aan mekaar dat ek verbaas is hul vlerkies klap nie teen mekaar nie.

So vinnig soos hulle verskyn het, so vinnig verdwyn hulle. As jy jou oë geknip het, het jy dié geskenkie van ’n paar vlietende sekondes misgeloop.

Dit voel regtig of mens vryer kan asemhaal as jy so oor die vlaktes staar. (Foto: Clifford Roberts)

Naby Groot Phesantefontein trek ons – vir die hoeveelste keer – van die pad af vir ’n foto. Kyk oudergewoonte links en regs voor ons weer in die verkeer indraai. “Die kans dat hier ’n voertuig gaan kom, is mos nou net mooi nul,” kom dit wysneusig van die agterste sitplek waar my 94-jarige pa sit. Iemand se boude is klaarblyklik deurgesit, fluister my geliefde hier langs my. Ons giggel stilletjies, weet die musiek oor die motor se luidsprekers en sy gehoor is aan ons kant dat hy nie hoor nie.

Maar ek kyk tog in my sonskermspieëltjie en sien ook die vredigheid op sy gesig terwyl hy die landskap betrag.

Ons is uiteindelik op die R327 na Herbertsdale en Vanwyksdorp. Langs die motor flits Rietkraal Natuurreservaat van CapeNature verby. Ons stop weer. Dié keer vir twee muisvoëls wat ’n stofbad in die middel van die grondpad in ’n klein slaggat geniet. Die motorruite is af, die hitte van die middag besig om te wyk en ’n koel luggie stoot my kuif deurmekaar.

Die Rooiberg Lodge is ’n onverwagse oase in die Karoo-landskap. (Foto: Clifford Roberts)

Dis ná die winkels se toemaaktyd toe ons voor Dusty Dog, die nuwe restaurant en kuierplekkie van Wendi Showronek, vir iets om te drink stop, voor die laaste 12 km dorp uit na Rooiberg Lodge. Die stowwerige hond, Dusty, na wie die plek vernoem is, se skildery deur Kim Bolland hang teen die muur langs die kroeg. Dit was voorheen die Spekboom Restaurant, vertel Henry Jones en Kirsty Berry wat ons na ons tafel neem.

Oor iets kouds vertel hulle hoe lekker dit is om hier te woon. Almal is gaaf, almal het daardie leef-en-laat-leef-houding. Niemand bedien dieselfde kos nie; almal het iets unieks; openingstye verskil; en elke restauranteienaar moedig gaste aan om by hul bure ook te gaan inloer.

Op pad dorp uit vang my oog die Twaksak Supermark en ’n wasgoeddraad langs ’n werkershuisie wat lyk soos ’n groot wasgoedpennetjie van hout. Toe ons nader kom, is dit klein vaalbruin voëltjies wat soos musieknote op die draad sit.

Ons stop nog een maal: Twee bokkies draf teen die skemer oor die pad. (Foto: Clifford Roberts)

Ons boude is toe ook deurgesit toe ons vaalmoeg deur die hek van die lodge ry en die grondpaadjie deur die koppies kronkel. In die gelykte onder ons brand die lodge se liggies, mense sit op die restaurant se stoep met drankies en voor van die selfsorghuisies brand braaivleisvuurtjies. Ons stop nog een maal: Twee bokkies draf teen die skemer oor die pad.

Ons pak baie vinnig af, spring deur die warm stort en stap op die paadjie langs na die groot stoep wat uitkyk oor die dam. Al die voëls kom huis toe vir die nag; sebras, njalas en hase wei ongehinderd onder die bome en tussen die huisies.

Ek voel die Karoo-engel wat uitkyk vir my, want hierdie vrede en saligheid is iets wat my lanklaas gegun is. Dis ook ’n vorm van selfliefde hierdie: om jouself kans te gee om tot rus te kom.

Bokkies en sebras kom vreet die gras langs ons huisie. (Foto: Clifford Roberts)

Ons geniet die meeste van ons etes in die restaurant en sien gou dis nie net gaste wat lekker daar kuier en eet nie, dis ook die dorpsmense se lekkerbek-uithangplek. Dis daar oor ’n glas Boplaas Touriga Nacional – ’n Portugese wyndruif wat goed in die Karoo aard – dat ons uitvra wat ons alles in die omgewing kan doen.

........
Almal hier het hierheen weggehardloop van te veel goed om te doen. Hier laat hulle die minute in ure oorspoel en oggend word middag en dan sommer ook aand.
........

Ek sien die verbasing op die locals se gesigte. “Hoe bedoel mevrou dan nou?” Almal hier het hierheen weggehardloop van te veel goed om te doen. Hier laat hulle die minute in ure oorspoel en oggend word middag en dan sommer ook aand.

Die stilte van die Karoo maak die holtes van die moeë siel skoon; vee elke spinnerak in ’n muwwe brein weg. Hier práát mense met mekaar, sonder selfone op die tafel en goed op die internet opsoek om feite te staaf.

Humor op die mees onverwagse plekke ... (Foto: Clifford Roberts)

So tussen die laat slaap, koffie en beskuit op die stoep, kaartspeel, braai, ente stap in die veld en lang geselsies voor die kaggel in ons huisie, raak die geraas in my kop stil. Gee die drukking op my bors oor spertye en mense wat laat betaal, en toenemende verkeer en stygende lewenskoste so stuk-stuk skiet.

Ons gaan stap in die veld, verkyk ons aan die diverse plantegroei. ’n Karoo-gids het jare gelede gesê net omdat die plantegroei in die Karoo nie hoog of bont is nie, beteken dit nie dat daar nie diversiteit is nie. Dit beteken net dat jy fyner moet kyk. Jy moet stop, buk, vertoef.

Die rooiborsjakkalsvoël op ’n telefoondraad wat net vir jou gesit en wag het. (Foto: Clifford Roberts)

My geliefde ry bergfiets in die rante; ek dryf in die swembad; my pa lees boek, maar verkyk hom so aan die voëls dat hy dieselfde bladsy oor en oor moet lees. En tussendeur bak hy so lekker in die sonnetjie dat sy oë aanmekaar toeval!

Die personeel is gaaf, maak kort geselsies en ons voel sommer deel van die familie.

Seeff Oosthuizen, bestuurder van die lodge, vertel ons van die lekker natuurrit op die wildkykvoertuig wat ons kan bespreek. Die oggendluggie is koud, maar dis die moeite werd as jy hoog bo die heuwels aftrek vir koffie, verseker hy ons.

Hoe lekker om deel te word van die lodge se ritme van nuwe besoekers, ander wat vertrek op natuurritte of vir sonsaksopies na die mooi houtstoep kom. (Foto: Clifford Roberts)

Ons herkou nog aan daardie een; laatlê in die stilte met koffie by die bedliggie is ’n groot bederf, maar wie weet?

En vroegaand pak ons ’n vuurtjie op die oulike braai voor ons huisie. Die son skilder pastelpatrone teen die lug, omlyn alles met goue lyntjies.

Teen die laatmiddagson sien jy die muggies en ander klein insekte. Karoospekvreters sit op ons klein braaitjie en vlieg blitsvinnig op om ’n bekvol te vang. Die voëltjies is elke dag hier. Dis ons wat nie tyd maak om meer só te sit en hulle manewales raak te sien nie. En as ons hulle later nie meer gewaar nie, hoor jy hul “tjak-tjak” en “trrat-trrat” iewers uit die bosse.

Ons vind hope berglelies in die veld en staan verstom oor die delikate blaartjies wat so helderpienk teen die veld uitstaan. (Foto: Clifford Roberts)

Onder ons na die linkerkant van ons huisie is die oulike woonwapark en dis so lekker om die gesellige kuiers van mense om braaivleisvuurtjies te hoor. By die lapa agter die restaurant vier ’n groot familie ’n verjaardag en by die oulike grasdakgeboutjie op die dam sit ’n paar fietsryers met koue biere en kyk hoe die son patrone op die water onder die wilgerbome maak.

Ons besluit om een oggend op ’n natuurrit te gaan. Die wildgidspos is tans vakant en ons ry saam met Heino Pietersen wat al 16 jaar by Rooiberg werk en meestal verantwoordelik is vir opknappings- en herstelwerk.

Hy ry vir meer as drie uur met ons op die plaas en buurplaas, Mont Rouge, wat met 200 ha olyfboorde en ’n verwerkingaanleg spog. Ons sien geen diere nie, maar die vars lug, heuwels wat lyk of dit met fluweel oorgetrek is, en pragtige bergfynbos wat afgewissel word deur aalwyne, beestonge, skilpadkos, ysplante en kannaplante, is lafenis vir die siel.

Die uitsigte oor die koppies en vlaktes is ware balsem vir die siel. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is dou op spinnerakke en die aanvanklike ysige oggendlug word weggebrand en ook gou vergete toe ons op ’n hoogtetjie stop vir koffie en beskuit. Ons stop op pad terug by ’n gwarriebos en hy pluk van die rooipienk bessies en ons eet soos nuuskierige kinders.

Drie uur later is ons boude deurgesit om ander redes, maar ons harte is vol en ons koppe skoon en al die spinnerakke weggebrand.

Die indrukwekkende kerk met sy klok daarnaas is bewys dat hier eens ’n baie bedrywige gemeenskap was. (Foto: Clifford Roberts)

Mens kyk anders na die veld as jy terugry huis toe; onthou weer die fyn, klein blommetjies waarvoor jy letterlik op jou knieë moes gaan om raak te sien, die mooi lelies wat net vir ’n paar weke hul verskyning maak, en die rooiborsjakkalsvoël op ’n telefoondraad wat net vir jou gesit en wag het, die rooi spatsels kleur van aalwyne en vuurpyle teen die hange van groen koppies.

En ek wil-wil my verbeel iewers tussen al die mooi gewaar ek die geklap van ’n Karoo-engel se vlerke.

Kitsfeite:

  • Waar presies is Vanwyksdorp? Die dorpie is 45 km teerpad, waarvan 33 km gruispad, van Ladismith; 55 km teerpad, waarvan 52 ​​km gruisbergpas, van Calitzdorp; en 67 km, waarvan 45 km gruis, van Riversdal.
  • Die dorp het lekker plekkies om by in te loer, waaronder die kunsgalery en koffiewinkel waar Sue Lenferna de la Motte se tuisgebakte sjokoladekoek jou sal laat ween; die Mall, ’n tong-in-die-kies eenstopwinkel en -restaurantjie; die Dusty Dog, ’n restaurant vir lang sit; ’n paar kampplekke en Stuff waar jy enigiets van ’n heerlike koffie of Anna (wat is haar van) se bekende bobotie kan geniet.
  • Bespreek verblyf by Rooiberg Lodge by 087 802 3578, info@rooiberglodge.co.za of aanlyn by rooiberglodge.co.za. Daar is selfsorghuisies, luukse suites, ’n woonwapark en die restaurant is baie gewild onder toeriste en dorpenaars, so bespreek maar vroegtydig as jy lus is vir Karoo-tjoppies en lekker wyne.
  • As jy ook ’n Karoo-engel nodig het om oor jou te waak, loer by https://www.facebook.com/p/Karoo-Engele-100064748531051/

Lees ook:

Weelderige Oudtshoorn-volstruisvere weer op die wêreld se lippe

Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief

Jong sjef oortref in die vlaktes

Die Chobe: Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep voor dit jou nie meer diep raak nie?

Trek jou longe vol Karoolug op Prins Albert

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top