Oud en nuut neem sommer lekkerbekkig hande op Vergelegen

  • 0

Foto’s: Clifford Roberts en Vergelegen

Daar gebeur baie dinge op die historiese plaas, Vergelegen op Somerset-Wes, wat uit 1700 dateer en nog het einde niet. Die besturende direkteur, Wayne Coetzer, het ’n paar baie gelukkige gaste onthaal op die plaas en meer vertel oor wat die afgelope paar maande by die Vergelegen-aanbieding toegevoeg is én wat nog op besoekers wag, veral in aanloop tot die landgoed se 325ste verjaardag aanstaande jaar.

Ons ry deur die hekke van die spogplaas. Weerskante van die pad hou digte akker-, outeniekwageelhout- en ander bome wag. Ons trek af en sit vir ’n wyle en kyk hoe die son deur die takke val; hoe eekhorings baljaar en met akkers wat hulle in die somer gestoor het, tussen hul voorpootjies speel.

Aan die ander kant van die pad wei beeste in die groen kampe met die Hottentots-Hollandberge wat vaalblou waghou.

Die historiese kamferbome is nasionale gedenkwaardighede.

Die winterluggie is koud, maar vars ná ’n nag se reën. Op blare en graspolle blink druppels soos klein pêrels.

By die proelokaal is dit ’n miernes van bedrywighede. Tale van regoor die wêreld vermeng met die reuk van rose en laventel uit die keurige tuine en mense kuier voor die kaggels. Die landgoed se wyne is gewild en wêreldbekend en personeel hou proeglasies vol.

Ek gaan sit op die stoep en neem die mooi voor my in. Tuine in perfekte sirkels en vierkante; fyn blommetjies wat in die oggendwindjie wieg; restaurantpersoneel wat voorberei vir die noenmaal by Stables, ’n moderner toevoeging wat lyk of dit al honderde jare hier staan.

Die ou wynkelder wat in 1816 as kelder ingewy is en in 1920 in ’n biblioteek omskep is, wat vandag ’n indrukwekkende versameling huisves.

My pad met hierdie praglandgoed strek oor bykans 30 jaar. Dit was een van my oorlede mamma se gunsteling-teedrinkplekkies. Ons het graag Woensdagmiddae as ek effe vroeër klaar gewerk het, by die Rose Terrace kom sit vir “tee en skôns”, soos ek en sy altyd geterg het. Pinkies in die lug met aarbeikonfyt en room wat wit en rooi snorretjies maak.

Daarna het ons deur die roostuin gestap, aan delikate blaartjies geraak, elke roos geruik en bespreek, voor ons vir ’n wyle by die herehuis vertoef het en bespiegel het hoe dit moes wees om 300 jaar gelede hier te woon. Hoe het dit toe gelyk?

Die ou skaapwagtershuisie wat die opskietrestaurant huisves.

As joernalis was ek baie gereeld daar wanneer deftige funksies op die grasperk gehou is, groot verjaardae gedenk is, staatslui kom kuier het, of nuwe wyne bekend gestel is. Nuwe aanplantings in die tuine sedert Anglo American dit in 1987 gekoop het, het vele onderhoude met tuinbestuurders en -kundiges tot gevolg gehad.

’n Hele paar jaar gelede was ek ook daar met vonkelwyn in my hand, toe jong kamferbome langs die reuse-kamfers – nasionale gedenkwaardighede – geplant is.

Die kaggel is lekker gesellig in die winter.

Verlede jaar is die groot dinee van die gesogte Concours Mondial du Sauvignon-kompetisie deur die Sauvignon Blanc-vereniging daar aangebied.

Ek was trots om daar onder die feestelike liggies by ’n langtafel voor die herehuis te sit met beoordelaars van regoor die wêreld wat “oe” en “aa” oor hoe mooi ons land en die landgoed is. Voor ons huis toe is, om weer deur die herehuis te stap waar tyd vasgevang is in die leefstyl van vervloë dae.

Die groep vir vandag se besoek is gereed, ons volg Vergelegen-sommelier, Christo Deyzel, verby daardie einste herehuis.

Ons staan weer voor die Rose Terrace, nou in sy nuutste gedaante, wat in Desember heropen is. Wayne wag vir ons daar en sê die algehele doel van al die opknappings en vernuwings is om die plaas tot nog meer mense se beskikking te stel en dit ’n toevlugsoord vir vele te maak.

Ou geboue word opgeknap en weer dieselfde kleur geverf as toe dit gebou is, om hulde te bring aan hul ontstaan-era.

Ons kyk almal oor die roostuin uit met ‘n glasie Florence Rosé 2021, die plaas se Cap Classique-vonkelwyn en ’n pragtige kolwyntjie wat amper te mooi is om te eet.

Ons kyk almal oor die roostuin uit met ’n glasie Florence Rosé 2021, die plaas se Cap Classique-vonkelwyn, en ’n pragtige kolwyntjie wat amper te mooi is om te eet, wat die fyngebaksjef, Tarquin Wagemaker, gebak het. Die teekamer het weer herleef, nadat dit vir etlike jare ’n raadsaal was, maar Wayne sê dit was ’n sonde om dié pragtige historiese gebou in ’n roostuin en onder die landgoed se historiese kamferbome so te onderbenut. Lady Florence Phillips het hier gewoon terwyl die historiese herehuis opgeknap is.

Dis ideaal vir ontbyt, ligte middagetes of tee saam met vriende. Fyngebak is ook op bestelling beskikbaar vir wegneem. Wayne het na die roostuin gewys en vertel dat die rose meer geskiedkundig korrek aangeplant sal word en dat daar selfs ’n unieke Vergelegen-roos van ’n ou rankroos op die plaas gekweek word. Lees sommer alles oor die ongelooflike tuine hier: https://vergelegen.co.za/gardens/.

’n Ou buitetoilet word die geskenkwinkel met eksklusiewe Vergelegen-geure, -rose, -roosbome en ander geskenke te koop.

........
“Ons is baie bewus dat ons niks wil bou of opknap wat die landskap sal skade berokken nie. Ons wil net die plaas terugneem na hoe dit oorspronklik gelyk het en sodoende die geskiedenis bewaar, terwyl ons innoverend die toekoms ingaan.”
........

“Ons is baie bewus dat ons niks wil bou of opknap wat die landskap sal skade berokken nie. Ons wil net die plaas terugneem na hoe dit oorspronklik gelyk het en sodoende die geskiedenis bewaar, terwyl ons innoverend die toekoms ingaan. Geboue sal net weer histories korrek ingerig en afgerond word.”

Wayne beduie na regs, daar anderkant die herehuis se grasperk waar ons al vele Starlight Classics en Kersliedere by kerslig meegemaak het. “Ons rig ook binnekort ’n pragtige glastent op wat 300 gaste kan akkommodeer op. Dit sal ons in staat stel om vir groot funksies en veral troues reg te staan, ongeag die weer. Die tent kom op die grasperk neffens die voormalige Café Fleur-restaurant, wat gesluit is. Die geboutjie gaan gebruik word vir voorbereidings vir die glastentfunksies.”

Die span wat ons heerlike kos by die restaurant berei het, is van links Matthew Meintjies, uitvoerende sjef, Michelle Barry en Heinrich Strydom.

Terwyl ons weer ons glase hervul, vertel Wayne die pieknieks in die woud is weer hierdie somer op die program en ’n oulike klein roomyswinkeltjie word intussen ingerig.

Ek loop na die roosbome toe, druk my neus in ’n jong roos en verlang na my ma.

Op pad terug na die proelokaal verpoos ek voor die herehuis en adem die reuk van vloerpolitoer en rankrosies in.

Ek stap saam met die ander gaste na die ou wynkelder wat in 1816 as kelder ingewy is en in 1920 in ’n biblioteek omskep is, wat vandag ’n indrukwekkende versameling huisves.

Die oulike trekker en busagtige waentjie waarmee gaste vervoer word.

By die wynproesentrum wag die trekker en busagtige waentjie ons in wat gaste na die nuwe opskiet-eetervaring, Cabernet & Carne, anderkant die veld met sonneblomme aan die einde van die 54 hektaar arboretum aanry.

Die opskietrestaurant is net vir die winter aan gaste beskikbaar en ingerig in ’n ou skaapwagtershuisie. Dit het die pragtige Hottentots-Hollandberge as agtergrond. Dis Woensdag tot Sondag vir middagete oop en bied Suid-Afrikaanse gunstelinge soos murg-en-bonesop, biefstuk en dun skyfies en tradisionele kaneelsouskluitjies met koffie.

Daar teug ons aan ’n klein bietjie sjerrie in klein emaljebekertjies voor onder die boom en hoor dat die landgoed ook in Oktober vanjaar sy nuwe wynetikette bekend stel – in die nuwe glastent, natuurlik. Die huidige wynreeks word ook verfyn om ’n kleiner, meer gespesialiseerde aanbod aan wynliefhebbers te bied. Daar sal dan 12 wyne wat die essensie van Vergelegen verteenwoordig, wees en die nuwe etikette sal glad nie korporatief wees nie, maar eerder klem lê op gister, vandag en môre.

Die spyskaart is as wynetiket vertoon.

Ons kies The Last Word Cabernet Sauvignon 2019, waarvan net 10 vate gemaak is en net hier geniet kan word.

Wayne vertel die wild floreer in die 1900 hektaar natuurreservaat, wat dieselfde bewaringstatus as die Krugerwildtuin geniet.

Jy kan die plaas op een van twee wildkykvoertuie besigtig, wat daagliks om 10:00 van die proelokaal vertrek en onder meer ’n elandkalfie wat in April gebore is en die elandtotaal op sewe te staan bring, sien; drie Rau-kwaggavulletjies wat die kwaggatotaal nou 10 maak; en die bonteboktrop wat in 2008 uit 13 diere bestaan het en nou op meer as 90 bokke staan. Die nuutste toevoeging tot die bokversameling is 12 swartwildebeeste en ses hartebeeste.

........
Ons maaltyd is ouma se plaaskos, wat my natuurlik weer na my ma laat verlang. Ons smul aan groentesop met tuisgebakte broodjies met Cabernet-botter; biefstuk, dun skyfies, waarvan jy weer en weer kan vra vir nog; souskluitjies; en moerkoffie met ’n skeutjie kondensmelk by.
........

Ander “groen” verwikkelinge is dat die plaas na sonpanele oorgeskakel het, wat die kelder onafhanklik van die elektrisiteitsnetwerk maak; die aanplanting van 1000 bome per jaar, nadat hulle verskeie bome weens die erge storms in April verloor het en ook vele bome met die gevreesde polifagiese stompkopboorderkewer besmet is en verwyder moes word.

Varsgebakte broodjies met Cabernet-botter.

Bome word ook in parke en ander plekke in en om Somerset-Wes geplant. Die plaas het in 2019 by die volhoubaarheidsprogram, Fairtrade, aangesluit waarvoor sekere wynverkope se opbrengs aan welsynsorganisasies geskenk word. Die plaas is ook besig met ’n projek om rolblaarsiekte-opvoeding te doen. Dit bedreig wingerde wêreldwyd omdat dit wingerdgroei belemmer en laer opbrengste tot gevolg het.

Heerlike groentesop met murgbene as voorgereg.

Die dag se spyskaart is as ’n wynetiket op ’n rooiwynbottel op elke tafel. Met al die nuus oor die nuwe verwikkelinge agter die rug, is dit tyd vir ontspan en ervaar.

Kelners begin gooi jou keuse van Sauvignon Blanc, Chardonnay of Cabernet Sauvignon en ons kies The Last Word Cabernet Sauvignon 2019, waarvan net 10 vate gemaak is en wat net hier geniet kan word.

Biefstuk en skyfies waarvan jy nog en nog en nog kan vra.

Ons maaltyd is ouma se plaaskos, wat my natuurlik weer na my ma laat verlang. Ons smul aan groentesop met tuisgebakte broodjies met Cabernet-botter; biefstuk, dun skyfies, waarvan jy weer en weer kan vra vir nog; souskluitjies; en moerkoffie met ’n skeutjie kondensmelk by.

Pure plaas!

Veerligte souskluitjies soos my ouma gebak het.

Die trekker neem ons twee uur later terug na ons motor. Ek gaan stap weer deur die tuin; kyk hoe die son deur die kamferbome dans, die voëls in die vlak dammetjies baljaar en hoe toeriste kraai van plesier soos hulle om hoekies en draaitjies stap en net nog mooier tonele sien.

Ek sien uit na die volgende 30 jaar se ontdekking, vernuwing en avonture hier, maar ook om te sien hoe die plaas steeds sal terugkeer na die ryk erfenis wat só deel van ons almal se murg geword het.

Cabernet & Carne is oop vir middagete van Woensdag–Sondag, 12:00–17:00 (die kombuis sluit 15:30). Besprekings is noodsaaklik by 021 847 2111, info@vergelegen.co.za, of op Dineplan.

Lees ook:

Earthbox: Eetervaring onder die grond bring nuwe perspektief

Jong sjef oortref in die vlaktes

Porto, waar port nog port mag wees

Knysna Oesterfees

Van laventellande en pastis tot nostalgie en goeie SA wyne

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top