Het julle Lady Gaga se pienk vere in Frankryk gesien?
Oudtshoorn is een van ons gunsteling-kuierplekke met soveel historiese plekke wat behoue gebly het – veral uit die florerende volstruisgolf van ’n eeu gelede.
Vandeesmaand is die dorp weer op die voorgrond: Die gewilde Klein Karoo Klassique word hier gehou én die wêreld neem weer notisie van die volstruisdorp, danksy die Netflix-reeks, Bridgerton. Penelope Featherington se nooiensvan is klaar ’n goeie aanduiding ...
Die weelderige pluime wat op hooftooisels, in blompotte en op die kostuums in hierdie skandalige drama bewe, kom van Karoo-volstruise. Die vere is simmetries, het die perfekte tekstuur en is donserig – net wat die kostuumontwerpers en stiliste nodig gehad het om dié Regency-periodedrama op die stroomdiens die nodige luuksheid te gee.
En, ja, daardie pienk vere wat so gewapper het by Lady Gaga se vertoning tydens die opening van die Olimpiese Spele kom ook van hier.
Oudtshoorn is die grootste dorp in die Klein Karoo en het in 1869 internasionaal begin aandag trek met die uitvoere van volstruisvere, wat toe gesog was in Europa as modebykomstigheid.
Dié sukses het nie baie lank gehou nie en die bedryf het in 1885 sy eerste knou gekry nadat verkope weens oorproduksie begin afneem het.
’n Tweede opbloei het ná die Anglo-Boereoorlog gekom en volstruisboere het weelderige volstruispaleise gebou.
Twee jaar gelede besoek ons die Titanic-museum in Ierland as deel van die daguitstappies saam met Norwegian Cruise Lines se skeepvaart tussen Ysland en Nederland. Hier leer ek dat die waardevolste vrag aan boord dié verdoemde skip volstruisvere was wat vir miljoene dollars verseker is. Cobh was die laaste hawe waar die skip geanker het om 123 passasiers op te laai, voor dit die groot oseaan onderweg na New York-stad aangepak het en vier dae later gesink het.
........
In 1914 het die volstruisbedryf finaal – onder meer met die koms van afslaankap-motors wat vroue se hoede afgewaai het en toe die Eerste Wêreldoorlog – in duie gestort en die meeste boere het teruggekeer na meer tradisionele saaiboerderye. Nou, 110 jaar ná daardie tragiese dag, is volstruisvere weer so waardevol soos goud danksy Bridgerton se gewildheid.
........
In 1914 het die volstruisbedryf finaal – onder meer met die koms van afslaankap-motors wat vroue se hoede afgewaai het en toe die Eerste Wêreldoorlog – in duie gestort en die meeste boere het teruggekeer na meer tradisionele saaiboerderye. Nou, 110 jaar ná daardie tragiese dag, is volstruisvere weer so waardevol soos goud danksy Bridgerton se gewildheid.
Vandag is die sandsteen-volstruispaleise soos Foster’s Manor in Voortrekkerweg, wat in 1902 deur Charles Bullock ontwerp is, nasionale besienswaardighede. Ook Le Roux Dorpshuis wat uit 1909 dateer, is ’n tipiese huis uit die verebloeitydperk met oordadige gietysterkantwerk, sy torinkie en besondere Art Nouveau-glaspanele. Dit val onder die CP Nel Museum en is oop vir die publiek.
Die eienaar, Johannes Hendrik Josephus le Roux, en sy vrou, Adie (Adriana Catharina), het gereeld koninklikes onthaal en hieronder was onder meer prinses Alice en die hertog van Connaught, prinses Beatrice in 1923, Cecil John Rhodes en ook die skrywer, H Rider Haggard.
Dis egter nie net danksy Bridgerton en volstruisvere wat ons gaan terugkeer na die dorp nie. Ons was skaars twee maande gelede daar.
Die 15de Klein Karoo Klassique, wat van 9 tot 11 Augustus aangebied word, is ’n fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn en bring verskeie van Suid-Afrika se voorste pianiste byeen vir uitvoerings met werke van beide plaaslike en internasionale komponiste.
Die kern van Klein Karoo Klassique is die Oudtshoorn Burgersentrum en Banketsaal, waar feesgangers en kunstenaars gesellig kan kuier. Heerlike eetgoed word deur Nostalgie Restaurant hier bedien, terwyl wyn, koffie en ander lekkernye ook beskikbaar is. Boeke, klassieke musiek-CD’s en -DVD’s is hier te koop.
Feesgangers kan ook tussen uitvoerings by die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis – vanjaar se gasheer by Klein Karoo Klassique – aansluit, wat na afloop van uitgesoekte uitvoerings met kunstenaars in gesprek tree.
Daar is ook vanjaar ’n spesiale geleentheid vir gesinne, wat beteken jy het geen verskoning om nie na die volstruisdorp te reis nie: Little maestros: Classical concerts for families.
“Klassieke musiek is ’n briljante hulpmiddel in die ontwikkeling van kinders onder die ouderdom van sewe, wat breinontwikkeling en konsentrasie bevorder. Ons bied met hierdie konserte ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies leer deur Mozart, Bach en ander bekende klassieke musiek,” sê Magdalene Minnaar, bekende sopraan en artistieke direkteur van Kaapstad Opera.
“Ons sluit hope interaksie en verduidelikings in, met deelname en beweging saam met die musiek. Little maestro’s is ’n unieke ervaring wat aan kinders die geleentheid bied om ook deel van ’n klassieke uitvoering te wees, sonder dat ouers bekommerd is dat die kinders heeltyd moet stilsit.”
Sy vertel Little maestro’s vir Klein Karoo Klassique word vanjaar vir die eerste keer op Oudtshoorn aangebied, maar dié projek bestaan alreeds ’n dekade lank.
Bekende werke soos Vivaldi se “Vier Seisoene” en Mozart se “Eine Kleine Nachmusik” word gehoor. Saam met die viool, tjello en klavier word ’n altviool en verskeie perkussie-instrumente ook ingespan.
Nóg ’n uitvoering, perfek vir die hele gesin, is Lig op die horison (Sondag 11 Augustus 13:00), waar Joshua na die Reën kragte saamspan met die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart. Hulle neem die gehoor op ’n onvergeetlike musikale reis in hulle program wat saamgestel is onder die tema “Die soeke na lig”.
Verder bied daaglikse historiese wandeltoere en De Rustica-olyflandgoed se Olyf tot olyfolie ook geleenthede om die skoonheid en vars lug van die Klein Karoo te ervaar. Die KKNK se veelbekroonde Karoo Kaarte-span bied daagliks ’n rondleiding oor dié grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry.
Kunswerke uit hul nuutste uitstalling, Argief, wat in 2024 by die KKNK geopen het, word ingesluit, asook meer oor die Karoo Kaarte-app. Hierdie opwindende slimfoon-app is ’n interaktiewe argief van herinneringe uit mense se kinderdae en staaltjies oor verlore en openbare ruimtes van Oudtshoorn.
Vanjaar se Klein Karoo Klassique Galakonsert is ’n pragtige en unieke program onder leiding van die bekende musikant en dirigent Richard Cock. Saam met hom op die verhoog is die uitstaande violis Samson Diamond en die Kaapstad Feeskamerorkes, wat spesiaal vir Klein Karoo Klassique byeengebring is.
Maar natuurlik kan jy nie net kuns-en-kultuur heeldag nie. Drink ook bietjie geskiedenis in. Begin sommer en bespreek by die Queen’s Hotel by BON Hotels in Baron van Reedestraat. Die statige dame dateer uit 1880 – so net ná die Regency-era. Die oorspronklike gebou – met ene Ford as eienaar – het ’n grasdak gehad. Dis glo die derde oudste hotel in die land en die eerste een wat vier sterre behaal het. Teen die mure pryk foto’s uit die hotel se ryk geskiedenis, waaronder selfs die oorlede koningin Elizabeth se koninklike besoek in 1947.
Ek kan net dink hoeveel deftige dames met volstruisvere in hul hoede al hier kom tee drink het.
Die dorp se grootste bate is sy rustigheid, oorgenoeg parkering, oulike winkeltjies en restaurante op volstruispaleisstoepe of weggesteek in klein straatjies. Jy kan jou boek deurlees, jou gedagtes oor cappuccino neerpen of al die gesels wat jy in die stadsgewoel verloor, hier inhaal. Of een van daardie historiese staptoere doen.
Dis nou nadat jy verskeie male ingeloer het by Beans about Coffee se twee oulike koffieroosterye en ook rondgery het en jou vergaap het aan die pragtige sandsteenpaleise – met ’n stukkie volstruisbiltong in die kies, natuurlik!
Beans about Coffee se hoofkantoor is in ’n pragtige sandsteengebou in Hoogstraat, so skuins oorkant Le Roux Dorpshuis, en dis hoe ons die eerste maal by dié koffieplek beland het. Ons hoor daar van hul vierde tak by die Cape Karoo Ostrich Emporium aan die rantjie van die dorp. Dis in die ou Bokomo-gebou ingerig en industrieel-sjiek met pragtige ou plaasimplemente wat tussen die tafels staan.
Ek moet my weerhou van ’n volstruisleer-handsak, maar koop darem ’n string volstruisvere vir ’n selfdoenprojek by die huis.
Ons sit by die koffiewinkel en luister na ander se ondervindinge van die dag van die benoudheid in die Kangogrotte. Geen besoek aan die dorp sal volledig wees sonder ’n besoek aan dié wêreldbekende grotte nie.
Ander wys op hul slimfone die mooi foto’s van volstruise wat hulle geneem het by Safari Ostrich Farm, een van die moet-sien-plekke so 6 km buite die dorp. Dis reeds sedert 1956 ’n toeristeattraksie, maar steeds ’n werkende volstruisplaas. Jy ry op ’n trekker en sleepwa en sien volstruise van drie lande: Suid-Afrika, Zimbabwe en Kenia, en kan eerstehands ervaar hoe hulle in voorkoms en grootte verskil.
Ons wag terug dorp toe later by die stopstraat vir ’n bakkie met kratte babavolstruise agterop.
Skakel iewers tydens jou kuier jou motor op ’n grondpad buite die dorp af en staan langs die draad en bekyk die volstruise wat aanvanklik weghardloop, maar stadigaan terugkom draad toe. Toe ek mieliepitte in my hand gooi en na hulle uithou, is ons beste vriende. Dis mos van hier in die veld waar alles volstruisveer vandaan kom.
Trek jou longe vol Karoolug en luister na die klanke van die veld.
’n Entjie verder, terug op pad na die dorp, stop ons gou om die kamele by Wilgewandel Vakansieplaas te kyk. Daar is ook ’n donkiekarretjie, ’n dammetjie langs ’n teekamer en kinders wat op die grasperk baljaar. Oorkant die pad stuur knortjorretjies stofwolke die lug in soos tieners om ’n stowwerige renbaan jaag. Dis asof jy die ontspanne samesyn van families op ’n myl kan herken – want dit sit self in jou ledemate.
Dis ook langs hierdie pad wat Cango-wildplaas met sy reuse-kamma-krokodilkake as ingang lê. Dit was voorheen ’n krokodilplaas en is in 1986 omskep in ’n tuiste vir meer as 90 spesies, insluitend cheetahs, seekoeie en kleurryke voëls. As jy heldhaftig is, kan jy in die somer krokodilduik – natuurlik veilig agter die tralies van ’n spesiale hok.
Van die ander dinge wat jy in die buitelug kan geniet, is ongewone ervarings met diere. Daar is onder meer olifante, buffels en sebras by Buffelsdrift Game Lodge, waar jy van die 22 spesies diere op die landgoed kan sien. Dis ’n heerlike afronding van ’n lang dag as jy daar op die verhoogde stoep kan sit en uitkyk oor die watergat, terwyl die ondergaande son die hemel in baldadige babapienk, oranje en rooi inkleur.
Smiddae verken ons klein winkeltjies en galerye en dis by Karoo Antiques verder af in Baron van Reedestraat waar ek op ’n ou emmer afkom, propvol jukskeie. My hart trek sommer op ’n knop toe ek onthou hoe ek as kind in die rooi Kalahariduine saam met my ouers en maats jukskei gespeel het. Voel soos ’n ander leeftyd en in vele opsigte is dit seker.
Ligdag is ons by die Oudtshoorn en De Rust-toerismekantoor so skuins agter die CP Nel Museum, waar ons gesels met die gawe Corleen Barnard, toerismebestuurder. Sy vertel van al die geskiedkundige geboue, die swaaibrug oor die Grobbelaarsrivier wat uit 1914 dateer en met twee 9 m hoë torings weerskante spog en een enkelspan van 91 m het. Dit skakel probleme uit as vloedwaters sou afkom. Sy noem ook Arbeidsgenot, Langenhoven se huis. Die natuurskoon en landskap is een van die groot redes dat baie besoekers hul bergfietse of stapskoene inpak as hulle Oudtshoorn besoek. Kry ’n lys van die plaaslike organiseerders en roetes by die kantoor. Jy kan hier ook 4x4-ry en selfs die dorp en sy omgewing uit die lug aanskou, terwyl jy onder ’n valskerm hang.
Die CP Nel Museum is uitsonderlik, selfs vir diegene wat nie van museums hou nie. Dit huisves 12 uitstallings wat die verhaal van die volstruisverebedryf vertel.
Neffens die eerste uitstalling vertel ’n banier dat die logo die menslike figuur en volstruisveer as een simbool voorstel, omdat die museum die storie vertel van die mense van Oudtshoorn, hul unieke identiteit, kultuur en sentrale plek in die volstruisbedryf.
Vir die afgelope 30 jaar is die museum die baken en spilpunt van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en tussen boekbesprekings, glase wyn en lewendige musiek, word elkeen wat daar kom kuier, onwetend ook deel van die geskiedenis van die praggebou met sy indrukwekkende kloktoring van 30 m hoog. Dis ook deur Charles Bullock ontwerp en in 1906 gebou en het in 1907 as Boys’ High School geopen. Dis in 1981 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar het later in onbruik verval.
So tussen al die verken deur, beland ons telkemale terug by die hotel by Café Brûlé – reg vir bietjie skinder en tee (en die kaaskoek is die beste in die weste!) Hier kan jy mense in die straat kyk en sommer verbeel jy is deel van Bridgerton se high society. Pure plaas, maar met klas!
Daar ontmoet ons gaste wat ’n blyplek gekies het wat net so interessant as hul wegbreek is, Mount Noah, ’n seilboothawe op droë grond met elke boot ’n slaapplek. Onder die bote hier “geanker” is selfs die 22 voet Bekka wat van Australië tot in Richardsbaai geseil het.
Die koppie waar Mount Noah sit gee uitsigte oor die dorp en die uitgestrekte vlaktes tot by die Swart- en Outeniquaberge. Ná ’n lekker dag in die vars lug is daar min dinge so aangenaam soos ’n skemerkelkie en die vooruitsig van ’n nag se rus in die boeg soos ’n wafferse kaptein.
........
Dis met die melankolie oor tye wat was, van dames met vere in hul hare en aan hul aandrokke, dat ons die dorp groet. Daardie saligheid vul jou hart vir ’n hele ruk nadat jy op die R62 deur die klowe en kliprante ry.
........
Op ons laaste oggend het ons die historiese wandeltoer saam met die Vriende van die CP Nel Museum bespreek. Met ons waterbottels en lekker gemaklike stapskoene meld ons aan by St Jude’s Anglikaanse Kerk, stap ons die kort afstand van een na die ander belangrike argitektoniese geboue in Oudtshoorn, wat die basis vorm vir ’n bespreking oor die geskiedenis van Oudtshoorn. Jy kan ook die Oudtshoorn Historiese Wandeltoer met of sonder ’n gids doen. Kyk uit vir die mooi geverfde dromme met aalwyne beplant, wat elk voor historiese geboue staan en die geskiedenis op ’n bordjie vervat.
Dis met die melankolie oor tye wat was, van dames met vere in hul hare en aan hul aandrokke, dat ons die dorp groet. Daardie saligheid vul jou hart vir ’n hele ruk nadat jy op die R62 deur die klowe en kliprante ry.
En ek sal beslis heel anders na die volgende episodes van Bridgerton kyk...
Kitsfeite
- Bespreek verblyf by https://bonhotels.com/hotel/queens-hotel/ en geniet hul spesiale winteraanbod van R950 per nag.
- Vir die volledige program van die Klein Karoo Klassique besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
- Die toerismeburo vir Oudtshoorn en De Rust is in Voortrekkerweg 80, skuins agter die CP Nel Museum. Bel hulle by 044 279 2532. Daar is ook een by die Kangogrotte op die Kangovalleipad. Bel 044 272 7410 of loer by www.oudtshoorn.com. Ons het die dorp platgestap met hul nuttige dorpskaart waarop alle besienswaardighede, restaurante en uitstappies aangedui word.
- As jy lus is vir wyn- en brandewynproe, verken die Klein Karoo Wynroete wat van Montagu in die weste tot die Outeniqua in die ooste strek en waaronder onder meer Karusa, Domein Doornkraal en Grundheim in en om Oudtshoorn val. Loer by www.kleinkaroowines.co.za.