Ek dink vir baie mense is ’n kuier in Parys soos ’n sprokie. Dis romanties en ouwêrelds. As jy boonop in ’n horingoue, spoggerige chateau neffens die Arc de Triomphe kan bly, nog meer fabelagtig.
“Saint James Paris is looking forward to your stay,” kom die e-pos ’n paar dae voor ons vertrek na Parys. Ek kan giggel van opgewondenheid. “Nie so baie soos ons uitsien nie,” kom dit ewe opgewonde van my geliefde wat oor my skouer na die boodskap loer.
Die majestueuse woning op die Place du Chancelier Adenauer, wat vandag die Saint James Paris-hotel huisves, het sy lewe begin as die tuiste van die Thiers-stigting wat in 1892 geskep is deur die weduwee van die voormalige Franse president, Adolphe Thiers. Danksy dié stigting het studente van die stad se voorste universiteite hier gewoon. ’n Eeu later is die neoklassieke gebou vir die eerste maal in ’n hotel – die enigste chateau-hotel in die stad – omskep en in die eksklusiewe 16de distrik (“Arrondissement” as jy fênsie in Frans wil wees) geleë. Ek lees op en sien destyds het lugballonne van die park om die hotel opgestyg...
Die dag breek uiteindelik aan. Ons staan in daardie indrukwekkende koepel in die omheiningsmuur; die waterval spuit hoog, die luukse motors wat gaste regoor die stad karwy, netjies in ’n ry.
Op die linkerkant staan ’n standbeeld van Adolphe Thiers (1797–1877) met sy linkerhand amper aanwysend na die voordeur van die hotel.
........
Iemand knip-knip weerbarstige grashalmpies, elders snoei ’n jong man ’n struik. Ek verbeel my ek hoor klassieke musiek van iewers oor die grasperk en die reuk van varsgebakte brood kotiljons daarmee tot by my neus
........
Iemand knip-knip weerbarstige grashalmpies, elders snoei ’n jong man ’n struik. Ek verbeel my ek hoor klassieke musiek van iewers oor die grasperk en die reuk van varsgebakte brood kotiljons daarmee tot by my neus. Ek besef hoe honger ek is op hierdie yskoue oggend.
........
Iemand knip-knip weerbarstige grashalmpies, elders snoei ’n jong man ’n struik. Ek verbeel my ek hoor klassieke musiek van iewers oor die grasperk en die reuk van varsgebakte brood kotiljons daarmee tot by my neus.
........
Nie ver van hier nie, wink die pragtige koffiewinkels, bakkerye en dekorwinkeltjies van die bekende Victor Hugolaan. Dis egter die argitektuur van die stad wat my die meeste bekoor. Dit sal ons nog gaan verken, maar vir nou, eers ons voete in die pragtige hotel vind. Dis in die 1990’s in ’n hotel omskep en het in 2011 by Relais & Châteaux aangesluit.
Die hotel het onlangs ’n nuwe baadjie en twee nuwe villas bygekry. Die twee villas is na die weduwee Thiers en haar suster, Elise en Felicie, vernoem, om hulde te bring aan hul onbaatsugtige werk destyds.
Laura Gonzalez, ’n wêreldbekende argitektoniese ontwerper, is die brein agter die nuwe voorkoms. Haar werk pryk in bykans elke vasteland se luuksste bestemmings en met ’n aanvoeling vir elke eiendom se unieke eienskappe, kan sy nie voorbly nie.
Sy het onder meer die pragtige teëls op die grondvloer onaangeraak gelaat en met sagte pastelle en ouwêreldse aardse kleure ’n rustigheid na die hoteldekor laat terugkeer. Sy vertel dat die kamers en suites eerder soos privaathuise aangepak is en heeltemal weggebly is van die hotelingesteldheid. “Deur nie moderne tendense en modes na te jaag nie, sal die dekor nie oudmodies word nie, want dis in totale harmonie met die gebou,” vertel sy.
Na die Tweede Wêreldoorlog het die huur begin krimp en hulle het eers die tuine aan die agterkant verkoop en toe die gebou in 1985. Die gebou is volledig opgeknap – die biblioteekkroeg was hul studeerkamer en is skaars aangeraak.
Laura, soos Andrée Putman wat die 1995-versiering gedoen het, het Art Deco-kenmerke gebruik (meubels gemaak deur Franse ambagsmanne, lampe deur Jean Roger) en materiaal deur Pierre Frey (óf wit wol óf Asiatiese patrone – Oriëntalisme en Art Deco is die twee style wat die meeste in privaat-herehuise in Parys gevind word).
Laura het die Art Deco-sonne op die plafon van die voorportaal ontwerp, asook die patrone van die mat in die gange wat ooreenstem met die oorspronklike mosaïek aan weerskante van die groot trap.
Die oorspronklike spieëldeure van die badkamers wat deur Putman voorgestel is, is behou, sowel as die oorspronklike biblioteek van die stigting, die groot trap, die lyswerk van die biblioteek en restaurant en natuurlik die buitekant.
Vrouens word hier hoog geag en hoe lekker om te hoor die hotel se bestuurder is ook ’n vrou, Laure Pertusier.
Soggens begin jou dag in die Bellefeuille, die pragtige restaurant met plakpapier, palms en selfs sy eie kat, Pilou, wat in een van die potplante in die sonnetjie lê en bak. Dit was destyds die susters se eetkamer.
Neffens die restaurant is die pragtige ou biblioteekkroeg, waar jy die hele dag in die skemerte met jou boek en koffie of konjak kan opkrul. Ons is gelukkig met vakansie, maar ek sien dis baie gewild vir kort sakevergaderings (met ’n botterryke croissant en sterk koffie natuurlik!). Die jong fyngebaksjef wat dié onweerstaanbare croissants en ander fyngebak maak, is Coline Doussin, wat haar slag ken.
Jy kan binne ’n paar minute by van die stad se grootste besienswaardighede wees. Alles is natuurlik ook maklik per moltrein of bus bereikbaar, maar ons geniet die stappery, want jy ervaar die ware gees van Parys. Dis ook enkele minute van die Bois de Boulogne (Boulogne-woud), ’n groot openbare park aan die westelike helfte van die 16de Arrondissement. Die grond is deur keiser Napoleon III aan die stad Parys afgestaan om in 1852 in ’n openbare park omskep te word.
Dit is die tweede grootste park in Parys, effens kleiner as die Bois de Vincennes aan die oostekant van die stad. Dit beslaan ’n oppervlakte van 845 hektaar – twee en ’n half keer die oppervlakte van Central Park in New York, en effens kleiner as Richmond Park in Londen.
Dis die tipe woud wat jy in kinderboeke kry, waar prinse en prinsesse op wit perde na kastele galop, waar mense destyds wildevarke en bokke gejag het en waar jy dalk van jou sakkie vol goue munte beroof kon word deur mans met afwesige voortande.
Binne die grense van die woudpark is onder meer ook ’n Engelse landskaptuin met verskeie mere en ’n waterval; twee kleiner botaniese- en landskaptuine, die Château de Bagatelle en die Pré Catelan; ’n dieretuin en pretpark in die Jardin d'Acclimatation; GoodPlanet Foundation se Domaine de Longchamp, toegewy aan ekologie en humanisme; die Jardin des Serres d'Auteuil, ’n kompleks van kweekhuise met 100 000 plante; twee bane vir perdewedrenne; die Hippodrome de Longchamp en die Auteuil Hippodrome; die Stade Roland Garros, waar die Franse Ope-tennistoernooi gehou word; en die Louis Vuitton-stigting-kunsmuseum en -kulturele sentrum. Tydens ons besoek is daar ’n pragtige uitstalling aan, maar die kaartjies is uitverkoop toe ons daarvan te hore kom. Dis blykbaar ’n belewenis om daar in die mooi gebou rond te stap en kuns te kyk.
.......
Daar is baie onthou daar in die klein paadjies. By die oulike houtrestaurantjie, Châlet les Bosquettes, gaan sit ons by die plastiektafeltjie met warm sjokolade. My geliefde se oë kyk vêr. Soveel water het al in die see geloop sedert daardie sorgelose vier jaar in Frankryk.
.......
Dis alles te wonderlik, maar vir my geliefde is dit die park van sy grootwordjare. Sy pa was ’n attaché vir die Suid-Afrikaanse regering in die laat sewentigs en die familie het vir vier jaar in Parys gewoon. Tydens skoolvakansies en naweke het skoonma en die twee jong broers op hul fietse geklim en die park gaan verken. Daar is baie onthou daar in die klein paadjies. By die oulike houtrestaurantjie, Châlet les Bosquettes, gaan sit ons by die plastiektafeltjie met warm sjokolade. My geliefde se oë kyk vêr. Soveel water het al in die see geloop sedert daardie sorgelose vier jaar in Frankryk. My skoonpa is intussen oorlede en die boetie saam met wie hy fiets gery het, woon in die Ivoorkus. Van saam fietsry en geroosterde kastaiings by klein straathandelaars eet, is daar nou geen sprake nie. Dis net herinneringe en terugdink.
Kort-kort kom iemand op ’n perd verby en ek is elke keer verstom oor hierdie digbevolkte stad met sy uiteenlopende wegkruipplekkies vir elkeen se smaak. Op die Lac Inférieur – die grootste meer in die park – kan jy roeibootjies huur in die somer.
Ons altwee wil ook graag by die Vlam van Vryheid (Flamme de la Liberté) aandoen en stap in ’n sirkel daarheen voor ons terugkeer hotel toe vir middagete. Die vlam is by Pont de l'Alma – ’n goudbedekte replika van die vlam van die fakkel van die Vryheidsbeeld in New York – wat waghou bo die tonnel waar Prinses Diana in 1997 gesterf het. Die vlam is nie vir haar opgerig nie, maar in 1989 as huldeblyk vir die Frans-Amerikaanse vriendskap. Die terrein is in 2019 amptelik na Place Diana hernoem.
Dit bied ’n pragtige uitsig oor die Eiffeltoring in die verte en mens kan nie help om te onthou waar jy was toe die nuus van haar dood op 31 Augustus 1997 soos ’n veldbrand versprei het nie. Dis interessant dat twee vlamme vir vryheid so naby aan ons hotel is. Die ander een brand regtig sedert 1923 onder die koepel van die Arc de Triomphe, vir die onbekende soldaat. Smiddae sit ons op ons luukse bank in ons kamer en kyk uit oor die fontein voor die hotel na hoe mense kom en gaan. Die Franse musiek strelend oor die hotel se bluetooth-luidsprekers en die windjie terg die dun kantgordyne voor ons vensters. Die tee is in fyn porselein, die koekies is bros en vars op jou tong en die namiddagsonnetjie maak jou lui.
........
Mens wil jou daar verbeel jy is deel van die 18de-eeuse aristokrasie ...
........
Om al die lekker kos af te werk, maak ons darem ’n draai in die binnenshuise swembad wat lekker verhit is en ’n marmerfees in die hotel se maag is. Mens wil jou daar verbeel jy is deel van die 18de-eeuse aristokrasie ...
Ons gaan soek al die ou restaurantjies wat in nou deurgange tussen straatblokke ingedruk is. Hele klein ekonomieë gedy hier in meters van marmer en ou koper en eeue-oue glas. Dit voel asof die aandag aan dekordetail by ons hotel net weer ons liefde vir Art Deco en Art Nouveau verdiep het.
Selfs van die ou moltreinstasies is pragtige monumente vir dié ontwerpstyle.
Saans as ons terugkom van aandete, of in die hotel as ons lui is, of om die draai in een van die vele lekker restaurantjies, wag daar sjokolade op ons kussings; die verhitting is net reg en sjampanje wag in ’n ysbak met twee glase gereed. Ons klim ná lang skuimbaddens in ons marmerbad in die bed met sjampanje en sjokolade en kyk Franse flieks met onderskrifte. Luuks en bedorwe se Moses!
Hierdie kuier in die mooie Saint James Paris was daardie eenmaal-in-’n-leeftyd-ervaring op ’n Suid-Afrikaanse beursie, maar mens leef net een maal, of hoe? En as dit boonop ’n groot verjaardag- en huwelikherdenkingsjaar is, waarom dan nou nie?
Dit het my weer in sprokies laat glo.
Ander twee hotelle
Die ander twee hotelle in dieselfde groep waar ons met hierdie onlangse reis gebly het, lê albei sowat twee blokke weg van die Avenue des Champs-Élysées: Château des Fleurs, ’n pragtige gebou van 1910 wat enkele maande gelede geopen het, en wat die Belle Époque (“die beeldskone era”) – Europa se goue era van 1871–1914 – verteenwoordig. Die nuwe Art Nouveau-dekor, in skakerings van room en salm en roesrooi, sluit luukse teksture en beligting in.
So van beligting gepraat, dis ook hier waar ons hoor hoekom Parys die “Stad van Ligte” genoem word: Parys is aan die begin van die 19de eeu as die Stad van Lig (“Ville Lumière”) aangewys, nadat dit die eerste stad in Europa geword het wat gasbeligting gebruik het om sy strate te verlig.
Die tweede een was Norman Hôtel, twee blokke weg van die Avenue des Champs-Élysées. Dit is nog nuwer as Château des Fleurs en weerspieël weer die sestigs in Parys. Norman Ives, die bekende Amerikaanse kunstenaar, se grafiese kuns was die dekorinspirasie. Hy was bekend vir sy letterforms as primêre onderwerpe vir sy ontwerpe.
Meer inligting oor Saint James Paris in Place du Chancelier Adenauer by www.saint-james-paris.com.
Lees ook: