Die Olimpiese Spele is om die draai en Parys is die perfekte gasheerstad vir hierdie skouspel. As jy voorheen in Parys was, oorweeg dalk ’n ander uitkyk op die Stad van die Liefde en gaan verken die Seine op ’n bootrit.
Die riviervaart is deel van Big Bus Paris se Essential- en Explore-kaartjie wat die rooi roete per bus deur die stad volg. Dit was heerlik om vir 2 uur en 15 minute een maal deur die stad te ry en toe daarna te besluit waar ons wil afklim om verder te ontdek. Daar is elke 7 tot 15 minute ’n bus waarop jy weer kan klim.
Vir die riviervaart wag ons tot laatmiddag dat ons teen sononder ’n kleureskouspel agter die Eiffeltoring kan geniet. Ons verwyl die middag in die nuut-opgeknapte Marienemuseum in die pragtige Palais de Chaillot op Place du Trocadéro, voor ons koers kies rivier toe. Van daar bo kry jy die mooiste uitsig oor die stad en rivier.
Dis lekker besig toe ons van die Trocadéro afstap tot onder deur die maag van die Eiffeltoring om aan boord te gaan. Dié toring ontvang jaarliks sewe miljoen besoekers en is die hoogste struktuur in Parys op 324 meter hoog. Daar is 669 trappies tot by die tweede vloer – net vir ingeval jy gewonder het! Die struktuur is vir die 1889-Wêreldskou – die jaar wat die 100ste herdenking van die Franse Revolusie gevier het – opgerig. Die wenners van ’n kompetisie waarin 107 projekte ingeskryf is, was Gustave Eiffel, ’n entrepreneur, Maurice Koechlin en Émile Nouguier, beide ingenieurs, en Stephen Sauvestre, ’n argitek. Dis in ’n rekordtyd van twee jaar, twee maande en vyf dae opgerig en het ’n ware tegniese prestasie gevestig.
Die bustoerkommentaar het ook onthul dat die toring aanvanklik net vir 20 jaar sou gestaan het, maar as hoogste struktuur in die stad, is dit vandag onontbeerlik vir radiokommunikasie.
Ek sien veral uit om van die stad se bekendste brûe van die water af te sien. Daar is soveel mooi versierings en standbeelde wat uit die klip gekap is, wat jy baie mooi van ’n boot kan sien. Ons het op die bustoer gehoor daar is altesaam 37 brûe oor die rivier en dat – te danke aan die “Bouquinistes” (boekverkopers van gebruikte en antieke boeke en skaars, outydse poskaarte) – die Sein die enigste rivier én Parys die enigste stad in die wêreld is wat tussen twee boekrakke lê. Die boekhandelaars dryf langs groot dele van die oewer van die Seine handel: op die regteroewer van die Pont Marie tot by die Quai du Louvre, en aan die linkerkantse oewer van die Quai de la Tournelle tot Quai Voltaire.
Ons besluit om buite teen die kant van die boot te sit. Daar is ’n gids aan boord, maar elkeen druk vinnig hul klein oranje oorfoontjies in hul ore en luister na die kommentaar in een van die 14 tale.
Die eerste plek wat ons sien, is Hôtel des Invalides, ’n kompleks van geboue in die 7de Arrondissement, wat uit museums en monumente bestaan wat almal verband hou met die militêre geskiedenis van Frankryk, sowel as ’n hospitaal en ’n aftreeoord vir oudsoldate – die gebou se oorspronklike doel. Die geboue huisves ook die Musée de l'Armée, die militêre museum van die leër van Frankryk, die Musée des Plans-Reliefs en die Musée d'Histoire Contemporaine.
Die kompleks bevat ook die voormalige hospitaalkapel, nou die nasionale katedraal van die Franse weermag, en die aangrensende voormalige Koninklike Kapel bekend as die Dôme des Invalides, die hoogste kerkgebou in Parys wat 107 meter die hemele introon. Dis omskep in ’n heiligdom van sommige van Frankryk se voorste militêre figure, veral die graf van Napoleon.
Dan vaar ons stadig verby die Assemblée Nationale (die parlement) en die Musée d'Orsay, albei op die linkerkantse oewer verby. Die Musée d'Orsay word gehuisves in die voormalige Gare d'Orsay, ’n Beaux-Arts-treinstasie wat tussen 1898 en 1900 gebou is. Die museum bevat hoofsaaklik Franse kuns wat van 1848 tot 1914 dateer, insluitend skilderye, beeldhouwerke, meubels en fotografie.
Ek haal my oorfoontjies uit toe ons by die Île de la Cité, waar die Notre-Dame de Paris-katedraal se bouwerk fluks in die verte vorder, verby vaar. Dit het voor dit op 15 April 2019 afgebrand het, 12 miljoen besoekers per jaar ontvang. Met die verwoestende brand daardie vroegaand het 13 000 houtbalke gebrand en die hitte was só erg die looddak het gesmelt en ingetuimel. Dit open weer gedeeltelik in Desember vanjaar, maar werk sal nog tot 2028 voortduur.
Ek onthou die eerste maal dat ek in 1993 daar voor die katedraal gestaan het. Ek het nog nooit iets só mooi gesien nie. Frans-Gotiese argitektuur was natuurlik nie iets wat ek in my grootwordjare op Upington sou beleef nie en boonop nie enige geboue wat – soos die Middeleeuse katedraal – uit 1163 dateer nie. Dis wonderlik om te sien hoe dit herbou word.
Intussen is ons verby die Hôtel-Die-hospitaal en Conciergerie, Île Saint-Louis met sy indrukwekkende 17de eeuse geboue en huise. Ons sien ook die nasionale biblioteek, die Louvre Museum en die obelisk van die Place de la Concorde. Ek hoor die Louvre is die museum met die meeste besoekers in die wêreld, wat nou daagliks ingeperk word tot 30 000 per dag.
Daar is meer as ’n halfmiljoen kunswerke en ek onthou hoe lekker dit was om destyds die Mona Lisa te sien, voor die wagte en rye en jy net ’n paar sekondes mog vertoef het.
Die boot eindig sy reis na die weste en draai by Île aux Cygnes (Eiland van die Swane), ’n klein kunsmatige eiland waaroor drie brûe span, Grenelle, Rouelle en Bir Hakeim, om vir sy terugvaart. Die eiland is gewild vir sy buitelug-gimnasium en -klimraam, maar die eintlike ster is die kwartgrootte replika van Frédéric Auguste Bartholdi se Vryheidstandbeeld van 11,50 meter hoog, wat wes in die rigting van sy groter weergawe in New York City kyk.
Dit is op 4 Julie 1889 ingehuldig deur president Marie François Sadi Carnot, byna drie jaar ná sy Amerikaanse eweknie, en is aan die stad geskenk deur die Paryse uitgewekene gemeenskap in die VSA. ’n Restourasieprojek in 1986 het die eeufees van die oorspronklike gevier.
Die standbeeld het oorspronklik oos – na die Eiffeltoring – gekyk, maar is in 1937 wes gedraai vir die wêreldskou wat daardie jaar in Parys aangebied is. Aan die voete van die standbeeld is ’n gedenkplaat en die tablet in haar linkerhand dra die inskripsie IV Juillet 1776 = XIV Juillet 1789, ter erkenning van die Amerikaanse Onafhanklikheidsdag en die Franse Bastilledag.
Om die Jaar van Frankryk in Japan in 1998 te vier, is die standbeeld van 14 ton na Japan vervoer en op Odaiba, ’n kunsmatige eiland in Tokiobaai, vertoon voordat dit die volgende jaar na Parys teruggekeer het. Die mense langs ons lag toe hulle dié insetsel luister en sê die Amerikaners sou beslis nie hul standbeeld enige plek laat gaan nie!
Toe ons stadig om die eiland vaar om ons terugrit te begin en jy die Eiffeltoring in die verte kan sien, is dit ongelooflik om te dink dat die oorspronklike beeld ’n geskenk aan Amerika was en dat Gustave Eiffel die metaalraamwerk daarvoor gebou het. Sy handewerk hier ook so ’n groot baken.
Teen ’n sekere hoek op die terugvaart verdwyn die toring uit sig en vir ’n paar vlugtige sekondes verbeel ek my ons arriveer in New York, per skip, ná dae op die oop see. Dis nog emmerlys daardie en met Cunard se Queen Mary 2 wat hierdie reis tussen Southampton in Engeland en New York-stad in Amerika onderneem, gaan ek aanhou droom!
Die son maak toe inderdaad sy kleurespel teen die vaalblou winterlug. Ons trek ons baadjies stywer en gaan soek skuiling in ’n wynkroegie naby die rivier. Toe ons huiswaarts stap, kies ons kortpad deur die Louvre. Dis selfs nog mooier in die nag as in die dag.
Kitsfeite:
- Vir die busrit met Big Bus Paris is daar 10 op- en afklim-busstoppe en oral druk jy net weer jou oorfone in die gaatjie en die kommentaar in jou gekose taal gaan voort. So mis jy niks nie. Kaartjies is beskikbaar in verskillende prysklasse en sommige sluit die riviervaart in. Jy kan ook kaartjies in 24 uur- of 48 uur-opsies koop en ’n nagtoer insluit. Meer inligting by https://www.bigbustours.com/en/paris/discover-paris.
- By die Eiffeltoring-stop kan jy die Champ de Mars, Palais de Tokyo en die Musée du Quai Branly gaan verken; Opéra Garnier is die plek vir Galeries Lafayette en Place de la Madeleine; Louvre Pyramid is ook die Big Bus-inligtingskantoor, maar daar is jy baie naby aan die Place Vendôme en Palais-Royal. Klim jy by Louvre-Pont des Arts af, is jy by die Louvre, Institut de France, Hôtel des Monnaies en die Louvre-piramiede. Een van ons gunsteling-afklimplekke was die Notre-Dame, vanwaar jy die Jardin du Luxembourg en Musée du Luxembourg, Sainte-Chapelle, Conciergerie en Pantheon kan verken. Musée d’Orsay is die naaste stop aan Palais Bourbon, Tour Montparnasse, Musée Rodin en Musée de l'Orangerie.
- Vir die riviervaart het Big Bus Tours hande geneem met die bekende rivierboot-operateur Les Bateaux Parisiens vir ’n een uur bootvaart. Die vertrekpunt is Pontoon No 3, Port de la Bourdonnais (naby Stop #8: Eiffeltoring). Bote vertrek elke 45 minute tussen 10:30 en 21:00 en elke 30 minute oor naweke. Jy kan nie op- en afklim nie.
Lees ook: