Van duiwels en dinge op die Franse platteland

  • 0

’n Dorpie waarvan die kerk al in die negende eeu in Latynse tekste genoem is, wat vandag in die middel van die groot gewoel oorleef.

Ek het jare gelede by iemand die storie gehoor van die “duiwel se skuur” wat glo in ’n klein dorpie in Frankryk staan. Soos met vele “ware verhale” het ek so half ongelowig geluister en nooit kon dink dat ek heel toevallig op dié skuur sou afkom nie. Die skuur bestaan toe nie net waarlik in Villeron, sowat 30 km noordoos van Parys nie, dis ook heel geskiedkundig.

Die legende wat aan my vertel is, loop iets in dier voege:

Een jaar het die boer van Vaulerent of Vollerand – ’n plaas in Villeron – só 'n oorvloedige oes gehad dat hy nie genoeg stoorplek gehad het om dit teen die elemente te beskerm nie, omdat sy skuur se dak nie voltooi was nie. Hy het ’n ooreenkoms met die duiwel aangegaan: Hy het sy dogter vir die duiwel belowe in ruil vir die voltooiing van die dak voor die einde van die nag. As die dak voltooi is voor die haan die volgende oggend kraai, is die ooreenkoms beklink. Sy vrou het natuurlik sy waansinnigheid ingesien, en toe die werk deur die nag baie vinnig gevorder het, na die hoenderhok gegaan om die haan wakker te maak, sodat hy heeltemal te vroeg gekraai het. Omdat die dak nie heeltemal klaar was nie, is die ooreenkoms met die duiwel verbreek. Die gat in die skuur se dak is tot vandag nog daar.

Ek is mal oor die Franse manier om elke dorpie se in- en uitgang met ’n swart-en-wit bord aan te dui.

Aanvanklik sou ons een nag in Villeron oorbly om gerieflik naby die snelweg te wees sodat my skoonsus en haar man ons onderweg na die suide kon oppik. Villeron is ’n kommune in Val-d'Oise in Plaine de France, naby die Roissy-Charles de Gaulle-lughawe. Die familie ry uit Engeland, en om in te ry in Parys-verkeer om ons op te laai, is vir niemand prettig nie; daarom die plan dat ons hulle in Villeron sou ontmoet.

As jy die dorp verlaat, is daar ’n rooi streep deur die naam.

Maar dinge verloop toe anders en die besoek word langer én interessanter as wat ons kon gereken het. Ons is toe twee volle dae in die dorpie en kry kans om ons longe vol vars plaaslug te trek en langs vars omgeploegde lande te stap en ’n klein bakkerytjie en supermarkie te ontdek, waar ons heerlike vars gebak en plaaslike produkte kon koop vir tuisgekookte maaltye met Franse wyn.

Die oulike munisipale geboutjie met sy kloktoring

Ons neem die moltrein aan die voete van die Arc de Triomphe en verwissel na die streekstrein noord; 90 minute en 'n busrit later staan ons voor die oulike munisipale kantoortjie met sy houtkloktoring wat 4.30 wys. Dit voel asof ons halfpad om die land gereis het, maar dis net meer as 30 km sedert ons 2-uur uit Parys weg is. Met openbare vervoer, swaar tasse en geen wifi nie, reis jy baie kort afstande, maar dit voel soos twee dae te perd.

Dit moet pragtig in die somer wees, met mense, kinders en honde wat die straatjies volpak, maar in die winter is dit ’n baie stil dorpie.

Die mis dryf oor die lande om die klein dorpie en ons is dankbaar vir tasse met wieletjies. Dis koud en die Airbnb wat ons vir twee nagte bespreek het, warm en verwelkomend. Nadat ons nesgeskop het, is dit tyd vir aandete.

Die geboue is horingoud en almal is steeds in gebruik. Hierdie rankplant voeg net karakter by.

Toe die deure van die bakkery oopgly, kom die gul “Bonjour!” op die warm rug van die varsgebakte brood aangerol. Ons koop ’n “traditional”, wat herinner aan ’n baguette, maar korter en vetter is, en ook meer “luggate” en 'n taaier korsie het. In gebroke Engels en Frans verduidelik die verkoopsmeisie dis ‘n baguette, maar met beter meel gebak.

Vir nagereg is daar ’n groot sny klappervlakoek – bloot omdat ek na my ma verlang. My oë skiet vol trane toe die sny – toegedraai in mooie papier – op my oop palm gelê word. Ek moes as tiener altyd vlakoek bak as my ma gaste vir tee genooi het. Uit die Huisgenoot se Wenresepte wat destyds op die afgeleë platteland naasbeste was wanneer familietradisies en -resepte nie kon help nie.

’n Opknapper se droomhuis? Ek kan net dink hoe mooi kan ’n sjiek koffiewinkel of boetiek hierin lyk.

By die supermark koop ons saucisson (Franse varkworsie soortgelyk aan salami) en camembert waarvan jy die rypheid deur die plastiekomhulsel en houtboksie kan ruik; bloedrooi tamaties van iewers waar die son skyn, en ’n bottel rooiwyn uit die Franse wynlande ver suid van hier.

Dié feesmaal, verhitting en Netflix maak alles beter en die mistroostigheid buite vergete.

Van hierdie geboue staan al eeue lank en vandag is daar moderne implemente, huise en besighede binne.

Dis vroegoggend wanneer ons die rolblindings buite oprol en ons oorskietbrood met sterk koffie geniet en daarna die dorpie gaan verken.

Dis steeds bewolk en grafstil. Hier en daar stap iemand met ’n hond. Dis amper ongelooflik dat die raserige stad net oor die bult is en die besige lughawe van die een kant van die dorp sig- én hoorbaar is.

’n Gieter wat hartjies spuit

Die dorp se stilte maak dat jy die kindergelag van die skooltjie van ver kan hoor. Ons stap verby en die glasgang wys 'n lang rytjie piepklein kinderjassies aan oulike hake. Teen die een ruit is plakkers van ’n gieter wat hartjies spuit en ’n mooi blomtuin wat daaruit groei. Hoe waar is dit nie oor kinders grootmaak én die lewe nie.

Die ou duiwetoring in die dorp met sy klein geboutjie langsaan is pas opgeknap, maar ons kon nie bepaal wat daarmee beplan word nie. Duiwetorings was algemeen teen die draai van die 19de en 20ste eeue en ’n teken van welvaart.

Op die volgende hoek is die pigeonnier of colombier (duiwehok of -toring). Dit was ’n algemene verskynsel op die Franse platteland en kom gewoonlik in ’n veld of naby ’n huis of kasteel voor. Elke duiwetoring lyk anders en is ’n argitektoniese verskynsel wat vinnig aan die verdwyn is, het ek iewers gelees.

Die binnekant van ’n duiwetoring wys hoe basies dit gebou is, maar ook hoeveel duiwe dit kon huisves.

Duiwe was ’n groot teken van rykdom tot vroeg in die 20ste eeu. Hul mis is verkoop as kompos; dit was ’n groot bron van kos vir baie Franse gesinne en die mis is ook gebruik om leer te looi en in buskruit gebruik. Baie van die oorblywende duiwetorings kan tot 300 jaar oud wees.

Die kerk van Saint-Germain-d'Auxerre

En anderkant ’n laning bome steek ’n klein kerkie uit.

’n Foto van die dorpie wys hoe dinge ’n paar jaar gelede gelyk het. Die gebou langs die duiwetoring links onder is reeds gemoderniseer en is ’n skool.

Die kerk van Saint-Germain-d'Auxerre is oud en effe mankoliek van buite. Dit lyk of die toring onlangs nuwe sementpleisterwerk gekry het en dat iemand inderhaas opgehou het vir middagete en net nie weer teruggekom het nie – dit kort afwerking.

’n Standbeeld van ’n soldaat wat op sy geweer stut

Voor die kerk pryk ’n standbeeld van ’n soldaat wat op sy geweer stut. Die Engelse teken is deur die son verbrand en verbrokkel en ons was op die beter bewaarde Franse weergawe op die agterkant van die bord aangewese.

Die kerk is al in die negende eeu in Latynse tekste opgeteken, maar is ’n paar honderd jaar gelede steen vir steen afgebreek en na sy huidige ligging verskuif.  Die helfte van die oorspronklike grafstene is saamgeskuif ...

Die soldaatstandbeeld is toe ’n huldeblyk aan die Franse nasie-in-opstand wat sy beslag het in die revolusie van 1789. ’n Eerste soldaatstandbeeld is in die 1920's van gietyster gemaak, maar het die stryd teen die gure weer verloor en ’n nuwe een is deur Philippe Hubert en Jacques Rieu, beeldhouers in Nogent sur Oise, gemaak en op 11 November 1998 ingewy.

Daaragter kom jy by die voorkant van die skool waar ’n kennisgewing teen die draad maan: Ouers word herinner aan die ure van hierdie “besigheid” ... Ons lag uitgelate. Mens kan jou indink hoeveel keer klein Nicolas of Amelie al saam met juffrou moes wag omdat Mamma of Pappa se namiddagslapie dalk te lank en lekker was!

Pasop vir bokke?! Ja, ’n katspoegie van die lughawe en stad, maar volop wild!

So kruis en dwars deur die dorpie stap ons teen ’n blokkie woud verby. ’n Padteken waarsku dat jy moet uitkyk vir bokke. Al waarop ons afkom, is ’n paar ooms wat boules speel. My man se oë kyk ver. Ek weet die heimwee na sy pa is groot. Boules was ons ding as ons en my skoonmense saamgekuier het. Dis ’n tradisie wat hulle aangeleer het toe hulle in die sewentigerjare in Parys gewoon het.

Ons kom ’n paar ooms teë wat boules tussen die bome speel. Die res van die dorpie het voor hul kaggels en verwarmers weggekruip.

Ons het die tradisie laat herleef en in 2001 selfs ons eie stel van dié staalballe in Parys gekoop en in ons handbagasie huis toe gesleep.

Een van die staalballe

My skoonpa is nege jaar gelede oorlede. Maar die boules-tradisie bly.

’n Boer ploeg die modderige lande met 'n blou trekker. Om die trekker draai die voëls om enige saadjies in die omgedolwe grond op te pik.

Ons wil-wil net omdraai toe daar 'n paar druppels op ons wange val, maar in die verte hou ’n horingou gebou wag en ons is nuuskierig – min wetend dat ons dié skuur van die legende gevind het.

Mens kan net wonder wat dié straatnaam inspireer het. Aangesien die dorpie al vir meer as 12 eeue staan, kon dit ’n deurgangsroete Egipte toe gewees het.

Voor die horingou geboue wat met ’n klipmuur omring is, lees ons die plaas is in 1889 in die Register van Historiese Monumente opgeneem:

The Grange de Vaulerent – ’n afleiding van Vau-lerent (Vallei van Lauren) – is geleë aan die beginpunt van die noord-suid-vallei wat in die Croult uitmond.

Nadat koning Louis VI die Chaalis Abdy toegeken het, is ’n plaas gebou.

Ek lees later ’n “grange” is ’n afgeleë plaas met ’n tiendeskuur wat aan ’n klooster of feodale heerser behoort. Boere het hul tiendes van hul oeste vir die kerk hier geberg.

Maar volgens die bordjie is die geboue deur lekemonnike bestuur en die plaas deur hulle bewerk en het hulle hul oeste in die “katedraal van koring” gestoor wat verkeerdelik as tiendeskuur aangesien is. Die dak was aanvanklik nie voltooi nie en die legende van die duiwel pas hier in.

Die verskille tussen die weergawe wat ek ken en dié een op die bordjie is dat die boer ’n groot oes verwag het, sy dogter se siel belowe het en die duiwel se handlangers blitsvinnig verskyn het om die werk te voltooi. Die boer het self tot sy sinne gekom en die haan gaan wakker maak om die ooreenkoms ongeldig te verklaar.

Die hele legende van die duiwel en die skuur word hier ’n nekslag toegedien.

Die bordjie laat egter die hele legende soos mis voor die son verdwyn: “Die waarheid is dat bouers hierdie deel van die dak oopgelos het om die sterk wind wat hier oor die vlaktes waai, te balanseer.”

Hierdie gat in die dak het intussen glo verdwyn.

Die indrukwekkende stoor en duiwetoring wat al eeue hier staan op die plaas The Grange de Vaulerent.

Die geboue op die plaas is glo sowat 1 000 jaar oud en dateer uit die 12de eeu. Dit het 13 dakkappe en is 72 x 23 meter groot. Die hoogste piek van die gewel is 20,5 meter hoog. Dit is geheel en al van gewone Saint-Ouen-kalksteen, die plaaslike klip, gebou. Dis by verre die indrukwekkendste van al die geboue op die plaas.

Ons hoor later by ’n ander boer dat die legende glo oral in Frankryk vertel word en blykbaar ontstaan het vanweë skure van hierdie aard se indrukwekkende grootte – vir meer as 1 000 jaar gelede se bouersvernuf moes daar klaarblyklik ’n mitiese of bomenslike verklaring gegee word, want die bouvernuf was verbysterend in daardie primitiewe tye. Dit is die herhalende tema van die “bedriegde duiwel” wat gevra word om ’n gebou (brug of kasteel) te bou in ruil vir iemand se siel.

Hierdie teken is oral in Frankryk en beteken dat jy moet voorrang gee aan verkeer van ’n sekere rigting, maar hier in Villeron is dit meer toepaslik op “gee toegang tot geskiedkundige geboue”.

Die plaas is vandag ’n landboubesigheid wat aan die abdy behoort en is vir die publiek gesluit, maar ons kan genoeg oor die klipmuur sien om te verstaan hoe histories dit werklik is. Die toring het ’n houttrap binne wat na ’n klein uitkykpunt lei. Ook hier is ’n duiwetoring en mens kan jou indink hoe voortvarend daardie lekemonnike destyds was!

En om te dink dis vandag steeds skure en store vir landbouprodukte, alhoewel die buitegeboue oor die jare baie verander is en die skuur ook ’n verdieping bygekry het.

By die ingang van die plaas is die ou baksteenstokery met ’n industriële skoorsteen en omring deur stoorskure.

Wie het nou kon raai dat ons “oorstaan”-dorpie, soveel historiese waarde het – net langs die lughawe nogal!

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Porto, waar port nog port mag wees

Nostalgiese Londen

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top