
'n Stad van blou teëls en melktertjies
’n Vriendin kom een aand by my kuier en sê sy wil leer om pastel de natas (daai klein Portugese melktertjies) te maak. Haar swaer is Portugees en dié het belowe om haar touwys te maak. Ek gaan soek veel eerder die beste plek in Lissabon, Portugal om dit te gaan eet. Met beurtkrag en elektrisiteit só duur, belê ek eerder in ’n vliegkaartjie.
En as dit boonop ’n geel trem soos in die outydse poskaarte verg om by dié lekkerny te kom, des te beter.
My vriendin het toe geleer om dit self te maak, maar wou ook in my voetspore volg. Sy is egter bitter vinnig aan kanker oorlede en kon toe nooit Portugal, dié tertjies se land van herkoms, gaan verken nie.
Ek het vir jare die tremrit in die horingoue botterskorsiegeel trem 28 in my geheue gehad, nadat ek dit as student in ’n kunsfilm gesien het. Die gedagte aan ’n rit, met ’n paar keer se afklim by ’n hoë uitkykpunt by een van die stad se sewe heuwels met ’n sterk koffie van ’n koffietrokkie, en dan uiteindelik die warm, varsgebakte pastel de natas by die historiese Pastéis de Belém, iets op my emmerlys.
Die geskiedenis van die mooi teëls van Portugal word pragtig uitgebeeld in die Nasionale Museum van die Azulejo (die teëlmuseum) in Rua Madre de Deus.
Die nommer 28-trem ry tussen Martim Moniz en Campo de Ourique en kronkel deur die gewildste toeristebuurte soos Graça, Alfama, Baixa en Estrela. Met jou aankoms in die stad is die eerste ding – ja, nog voor jou eerste melktertjie en koffie – die Lisboa Card vir afslag by museums en gratis publieke vervoer, ook vir dié trem.
Die nommer 28-trem ry tussen Martim Moniz en Campo de Ourique en kronkel deur die gewildste toeristebuurte soos Graça, Alfama, Baixa en Estrela. Maar enige rit op ’n trem bied ongelooflike uitsigte oor die stad en heuwels.
Oral waar die trem stop en ons afklim en besienswaardighede besigtig wat ons in ons gidsboek tuis met allerhande plakkers by dinge om te sien, gemerk het, staan groepies toeriste met ’n gids. Soms is die kommentaar in Engels en dryf sulke brokkies na jou toe aan.
“Lissabon, Europa se westelikste hoofstad en die enigste een op die Atlantiese kus, lê teen die Tagusrivier en het al vir eeue beskawing. Opgrawings naby São Jorge (St George) Kasteel en Lissabon Katedraal wys dat daar al 1200 voor Christus ’n handelspos bestaan het en tekens van bewoners tydens die Ystertydperk is ook gevind,” leer ons onder meer.
Ons kuier ’n hele middag by Tábuas Porto Wine Tavern oor glasies port, want ’n mens kan mos nie na Portugal reis en nie port-proe nie!
Ons het ’n Airbnb in die stad bespreek en vind dit ’n bekostigbare opsie. Ons het die yskas volgepak en eet elke oggend ’n stewige ontbyt voor ons die stad gaan verken. Met peuselgoed in ons rugsakke val ’n mens nie so maklik vir allerhande (baie duur en ongesonde) versoekings op straat nie, maar koffie en tradisionele happies spring gereeld voor ons in!
Een van die bekendste bakens in Lissabon is die Lissabon Katedraal. ’n Pragtige gebou hoog teen die heuwels.
Die eerste dag of twee bly ons op die publieke vervoer en ry by al die bekende bakens verby: Die pragtige Lissabon Katedraal, die Torre de Belém (kasteel-agtige toring in die rivier), São Jorge (St George) Kasteel, die oseanarium en ook die ou mark, Mercado da Ribeira, om ’n oorsig oor die stad te kry.
Om ons klim huisvroue met kopdoekies en mandjies op en af, op pad terug van die markie, skoolkinders kom teen middagete by en later is dit ooms wat saam ’n middagkoffie gehad het, wat gesels-gesels kom sit. Kort-kort maak ek my oë toe en laat die Portugese woorde oor my vloei, terwyl die straatlawaai deur die oop vensters dwarrel.
Straatkuns
By een van die uitkykpunte het ons ook gehoor van “voor die aardbewing” en “na die aardbewing” – van 1755 – een van die wêreld se sterkste aardbewings met ’n tsunami van nege meter hoë golwe wat die stad verswelg het, en brande wat vir meer as vyf dae in die stad gewoed het.
Ons gaan stop heelbo by Portas do Sol vir ’n pragtige uitsig oor die Alfama-distrik.
Ons gaan stop heelbo by Portas do Sol vir ’n pragtige uitsig oor die Alfama-distrik, voor ons aanstoot na die Senhora do Monte-uitkykpunt in die Graça-buurt vir ’n ander uitsig van die stad se sewe heuwels.
Die ware Jakob
Dis ook hier waar ons eerste kennis maak met ware pastel de natas.
’n Klein tak van Café A Brasileira – in ’n Tuk Tuk ingerig.
Ons kry dit by ’n klein tak van Café A Brasileira – in ’n Tuk Tuk ingerig – en hoor dié hoofkafee is al vir meer as 200 jaar in Rua Garrett in Chiado en het ’n standbeeld van die bekende digter Fernando Pessoa wat by ’n tafel sit, voor.
Die stad se oudste huisie in Rua dos Cegos wat die aardbewing oorleef het.
Op pad terug teen die heuwel af, verminder die bus spoed en ’n vrou wys in die ry na die stad se oudste huisie in Rua dos Cegos wat die aardbewing oorleef het. Dit lyk soos ’n pophuis wat deur buurgeboue verdwerg word. Haar Engels is gebroke, maar haar ywer maak heeltemal daarvoor op!
Saam kuier is aan die orde van die dag. Regoor die stad, enige tyd van die dag kry jy sulke groepies mans wat saam rook of koffie drink en tannies wat ingehaak stap of inkopies doen.
Smiddae ná werk is die kroegies en muurtjies langs die rivier propvol. Mense stap ingehaak of sit in groepies en gesels. Straatmusikante speel kitaar, tamboeryn en dromme en paartjies sit met ’n bottel wyn, tuisgemaakte ham en skaapmelkkaas en breek hompe Portugese brood af en eet so om die beurt.
Die standbeeld van Christus (Almada) wat uitkyk oor die stad, herinner amper aan die een in Rio de Janeiro.
Dis vir my opvallend hoe die kultuur onder die verskillende geslagte Portugese verskil. Diegene onder 40 lyk meer avontuurlustig en sal daar langs die water kom sit, met die water wat teen hul voete in klein golfies breek. Die ouer geslag doen eerder laatoggend of smiddae ’n koffie en pastel de nata of sulke snaakse geel brood wat effe aan mosbolletjies wil herinner, maar ons nie kan plaas nie.
Smiddae ná werk is die kroegies en muurtjies langs die rivier propvol. Mense stap ingehaak of sit in groepies en gesels. Straatmusikante speel kitaar, tamboeryn en dromme en paartjies sit met ’n bottel wyn, tuisgemaakte ham en skaapmelkkaas en breek hompe Portugese brood af en eet so om die beurt.
Die pasteleiras waar hulle kuier, is gewoonlik oorvol met dekor van drie dekades gelede en skakerings van maroen, donkergroen of potblou wat van die tafeldoeke tot die kelners se uitrustings oorgeneem het. Maar dis die goedkoopste koffie en ook dikwels die plek waar jy vir €4,50 ’n cappuccino en pastel kan geniet, terwyl die moderne, hip koffiewinkels tot €6 net vir koffie vra. Berei jou egter voor, die tafels wissel vinnig: Jy bestel, eet en drink en binne minute is die volgende gaste daar. Jy stamp amper elmboë met jou buurman. Dis nie die plek vir lang middae sit en boeklees in ’n hoek nie.
Restaurante se spyskaarte is buite opgeplak sodat jy kan sien wat hulle bied en natuurlik wat dit kos.
Op sommige plekke loop die 28-tremspoor so na aan die koffiewinkels verby dat dit kort-kort vir ’n paar sekondes donker is binne.
Straatkuns
Op ’n symuur van een van die koffiewinkels is daar straatkuns van ’n man wat ’n mortier afvuur, maar dis rooi angeliere wat voor by die bek uitskiet. Die stad is vol straatkuns.
Regdeur die stad is klein stasies met skopfietse met batterye wat jy oral kan huur. Jy skandeer ’n QR-kode, betaal en ry. Dié wie se batterye gevrek het, staan of lê oral in die stad soos aantygings teen tegnologie en gerief rond.
Pastéis de Belém in Rua de Belém
Ons gaan ’n paar keer terug na Pastéis de Belém in Rua de Belém, wat sedert 1837 die verloklike melktertjies bak. Dis langs die bekende Mosteiro dos Jerónimos (die historiese klooster) en op pad na die Torre de Belém (die Belém-toring).
Mosteiro dos Jerónimos (die historiese klooster)
Aan die begin van die negentiende eeu was daar in Belém langs die klooster ’n suikerrietraffinadery wat aan ’n klein algemene winkel gekoppel was. As gevolg van die rewolusie van 1820 is alle kloosters in Portugal in 1834 gesluit en werknemers en monnike verjaag.
Die indrukwekkende Torre de Belém (die Belém-toring) is tussen 1514 en 1520 in die rivier gebou as deel van die stad se beveiligingstelsel om aanvallers van ver te kan sien.
In ’n poging tot oorlewing het iemand van die klooster soetgebak in die winkel te koop begin aanbied. Dit het gou bekend geword as Pastéis de Belém. Belém was bykans 200 jaar gelede ver buite die stad en hoofsaaklik per stoomboot bereikbaar, maar die grootsheid van die klooster en die Torre de Belém het honderde besoekers gelok, wat gou daaraan gewoond geraak het om ’n soet melktertjie en koffie te geniet voor hulle vertrek.
Een van die pragtige winkeltjies wat lyk of dit al vir honderde jare hier op jou wag.
In 1837 het die bak van die Pastéis de Belém amptelik volgens die antieke “geheime resep” van die klooster begin bekendheid verwerf. Die resep is van een meesterbakker tot die volgende oorgedra en destyds in ’n geheime kamer gemaak. Die resep is tot vandag onveranderd.
Portugal is sinoniem met pragtige teëls en nie alleen is baie huise daarmee versier nie, ganse mure van katedrale, museums en winkels pryk daarmee. Sommige uitbeeldings is baie komieklik, veral as die natuur ná 350 jaar sy tol begin eis het en sy eie patrone op die werke begin aanbring.
As jy daar sit met die ou wit en blou teëls teen die muur kan jy jou verbeel hoe dit 200 jaar gelede hier moes lyk. Vandag sien die onderneming hul melktertjies as een van die sewe wonders van die Portugese kookkuns.
Die indrukwekkende Praça do Comércio is een van die mooiste bakens in die stad.
Gelukkig stap jy soveel kilometers per dag dat die melktertjies glad nie kans kry om op jou heupe te gaan sit nie.
’n Mens voel werklik nietig as jy dink vir hoeveel eeue standbeelde al hier staan en hoe lank dit in die toekoms – lank nadat jy weg is – nog gaan staan.
En voor ons huiswaarts keer, is ons vir oulaas terug vir ’n rit in die ou trem; sy klokkie wat gereeld lui; die gekraak van die reuse-stuurwiel en hefboom as ons om draaie gaan; die stop in die middel van die pad om ’n klip of blikkie op die tremspoor te verwyder. Die reuk van politoer wat al vir bykans 100 jaar die donkerhout skitterblink hou.
Ek het pens en pootjies my hart op Lissabon verloor.
Kitsfeite
- Die Lisboa Card gee jou vlerke om die stad behoorlik van hoek tot kant te verken. Die kaart kan aanlyn gekoop word by https://www.visitlisboa.com/plan/tickets-offers/lisbon-card en by enige van die toerismekantore of klein toerismekiosks in die stad opgetel word.
- Daar is nie oral gratis Wi-Fi nie. Beplan jou roete vir die dag vooruit en as jy ’n slimfoon het, neem skermskote (screenshots) wat jy vir die res van die dag sonder Wi-Fi kan gebruik.
- Die geskiedenis van die mooi teëls van Portugal word pragtig uitgebeeld in die Nasionale Museum van die Azulejo (die teëlmuseum) in Rua Madre de Deus. Dis deel van die Lisboa Card. In die museumwinkel kan jy van die teëls koop. Die teëls word as die identiteitskuns van Portugal beskou. Azulejo, van die Arabiese woord “azzelij” of “al zuleycha”, beteken klein, gepoleerde klip en verwys na die klei vierkant waarvan een kant geglasuur is.
Die Elevador de Santa Justa-hysbak
- En gaan op in die Elevador de Santa Justa-hysbak vir die mooiste uitsigte oor die Baixarivier. Die Santa Justa is 45 m hoog en die struktuur is in dieselfde styl as die Eiffeltoring gebou. Die ooreenkoms is nie toevallig nie, want dit is gebou deur Raoul Mesnier de Ponsard, wat ’n bewonderaar van Gustave Eiffel was en dieselfde tegnieke toegepas het wat in sommige van die kabels in Frankryk van destyds gebruik is.
Foto’s: Clifford Roberts en Lissabon Toerisme
Lees ook:
Fynbos soos nog nooit tevore nie! Grootbos Privaat Natuurreservaat