Groen Chicago

  • 0

Orals is groen

Daar gaan nie ’n week in die wêreld verby dat ’n internasionale dag om die bewaring van woude, riviere, voëls, bye, die osoonlaag, oseane of bedreigde plant- en dierspesies nie gedenk word nie. Maryke Roberts het in Chicago gesien hoe dié stad die natuur elke dag innooi.

Ook langs paaie

Verlede jaar is 18 000 bome in die stad Chicago geplant, 3 000 meer as die voorgenome 15 000 elke jaar vir die volgende vyf jaar, onder die Our Roots Chicago-projek. Die stad het selfs ’n boom-ambassadeurprogram waar inwoners ’n boom gratis kan ontvang, wat ook vir hulle geplant word, solank hulle die gemeenskap inlig oor die voordele van groenstede.

Groen langs die snelweë

Maar Chicago is nie uniek nie. Al meer wêreldstede beweeg weg van net staal en beton en maak parke, wandelpaaie en natuurlike sones deel van die stadsbeplanning. Dit is ’n poging om hul koolstofvoetspoor te verklein, maar gee ook aan inwoners die kans om die buitelewe in die stadsgrense te geniet.

Van af die uitkykpunt by die Willis-toring se 103de verdieping

Restaurante regoor die wêreld kweek groente en kruie in daktuine of vensterbanke; busse het hibriede-enjins; fietsryroetes moedig mense aan om eerder hul motors tuis te laat en daar is staproetes om die stad te verken.

Van daar sien jy bykans net soveel groen as beton.

New York se Central Park is wêreldbekend vir die lafenis wat dit bring van die stadsgeraas en die verskeidenheid bome en plante wat daar gevind word; San Francisco het ’n paar jaar gelede die stad se koolstofgasse met 12% verminder (teenoor wat dit in 1990 was) met hul groenprogram.

Smiddae ná werk is almal buite.

In Turin in Italië het argitek Luciano Pia ’n paar jaar gelede ’n vyfverdieping-woonstelgebou as ’n soort boomhuis ontwerp. Behalwe dat die ontwerp baie interessant is, is die 150 bome wat in potte geplant is, deel van die 63 eenhede se uitleg en dit absorbeer meer as 200 000 liter koolstofdioksied per uur, wat nie net koele lafenis in die warm somer bied nie, maar inwoners teen geraas en besoedeling beskerm.

Families met honde en kinders in stootwaentjies koop draairoomys voor hulle op parkbankies gaan sit en gesels.

Almal is welkom.

Ander argitekte van Frankryk, China, Libanon en Australië ontwerp wolkekrabbers wat met bome en rankplante oortrek is: Nie net vir die lugsuiweringsvoordele nie, maar ook vir die gesondheidsvoordele vir die inwoners.

Chicago spog dat dit die fiets-vriendelikste stad in die wêreld is met 178 kilometer se fietsroetes. Volgens die Global Bicycle Index wat jaarliks 90 stede gradeer vir hul fiets-vriendelikheid, is Chicago nie in die top-10 nie, maar darem.

Nader aan die huis is die Kompanjiestuin en ook Kirstenbosch al vir meer as 100 jaar ’n groene ontvlugting en meer onlangs Kaapstad se Groenpunt Urban Park wat deel van die opknapping van die Seepunt Promenade was. Vandag is daar wisselende kunswerke te sien, bankies en ’n buitelug-gimnasium is die bymekaarkomplek vir stedelinge.

Die groen word benut.

Gaan stap jy in die Urban Park in die 12,5-hektaar-ruimte wat vir families en vriende ingerig is, is vele interessante elemente in die ontwerp in ag geneem. Johan van Papendorp, landskap argitek by OvP Asscociates and Landscape Architects, het met die opening gesê die park spog met ’n ryk biodiverse tuin, piekniekareas, wandel- en fietsrypaaie en selfs ’n avontuurpark vir kinders tussen die ouderdomme van sewe tot 16 jaar. Die biodiversiteittuin word ook as opvoedkundige hulpmiddel gebruik, omdat dit inligtingsborde regdeur die park het wat feite oor die natuur gee.

Die Lincoln Park Conservatory

En wie sal nie kan getuig van die wonderlike tuine van Babylonstoren in Simondium en Bosjes daar naby Wolseley nie?

Toegang tot die Lincoln Park Conservatory is gratis

Maar terug by Chicago. Dis op ’n stap langs die meer dat ek ’n gids aan ander toeriste hoor vertel: “Die bekende argitek, Daniel Burnham, se stadsbeplanning in die laat 1800’s het parke en groenstroke ingesluit en daarom is van hierdie parke al só goed gevestig. Die stad spog vandag met ongeveer 20235 hektaar oop ontspanningsruimtes of -parke en ongeveer 1011200 hektaar oop ruimtes van bewaringsgrond.

Die park voor die glashuis, wat aan die dieretuin grens, word pragtig in stand gehou.

Hy babbel voort dat die oulike borde regoor die stad heelwat inligting bevat oor hoe goed tyd in die natuur vir jou is. Dis ook nie lank nie of een van dié borde neffens ’n bankie wat deur die Chicago Parks District opgerig is, verklaar: “Het jy geweet dat om selfs net een uur per dag buite in die natuur deur te bring kinders (en volwassenes) kan help om stres te verminder, immuniteit op te bou, gewig te verloor en verbeeldingryke spel te verhoog? Natuurlike gebiede bied inwoners en gaste van Chicago ’n verskeidenheid geleenthede om die rykdom en skoonheid van die natuur in sy vele vorme te ontdek en te waardeer. Daar is meer as 90+ aangewese natuurlike gebiede in Chicago se parke. Van ryk damlewe wat wemel van paddas, reiers en naaldekokers, tot struikagtige gebiede waar trekvoëls verpoos om te rus, tot welige grasvelde gevul met inheemse grasse en veldblomme. Die parkdistrik bied baie maniere om die natuur te verken.”

Nuwe tuine word met elke seisoen uitgelê.

Chicago onderskryf hierdie groenfilosofie al vir meer as 185 jaar en dra die Latynse frase Urbs in Horto (rofweg vertaal na “Stad in ’n Tuin”) op hul stadswapen, sedert dit amptelik as stad verklaar is op 4 Maart 1837.

Met sulke groen uitsigte en so baie water kan ’n mens nie anders as om verlief te word op Chicago nie. Met die uitleg van nuwe geboue word daar altyd voorsiening gemaak vir reuseruite, sodat die omgewing buite deel van die landskap binne word, soos hier in die kunsgalery te sien is.

Topparke wat jy kan besoek:

  • In die hartjie van die stad in die gebied wat as The Loop bekend staan, is Grant Park, wat meer as 121 hektaar langs die Michiganmeer beslaan. Mense beskou dit as die voortuin van die stad. Daar is formele beddings in die Spirit of Music Garden en Cancer Survivor’s Garden en die vertoonstuk van die park is Clarence Buckingham Memorial Fountain, wat aan die een kant aan die meer grens en ’n pragtige uitsig oor die wolkekrabbers bied.
  • Lincoln Park, effe noord van die middestad, is meer as 11 kilometer lank en groter as 486 hektaar langs die meer. Dis groter as New York se Central Park en San Francisco se Golden Gate Park en die stad se grootste. Die Alfred Caldwell Lily Pool is ’n klein oase van watervalletjies, eende en voëls en skoenlappers in die riete.
  • As jy lus is vir stap, geniet die Nature Boardwalk by Lincoln Park Dieretuin, ’n omgewingsklaskamer waar jy gou kan vergeet jy is in die stad.
  • Die Judy Istock Butterfly Haven is die tuiste van 75 eksotiese skoenlapperspesies wat vry rondvlieg.
  • Ander parke verder uit die middestad sluit in onder meer Humboldt Park, 89 hektaar groen, ’n meer en rivier; Jackson Park en Washington Park waar daar ry op ry sportvelde is en die omliggende buurte oor naweke saamdrom vir bofbal, sokker, krieket en pieknieks; ’n stappershemel is Osaka-tuin waar jy op die houteiland kan gaan wandel; Promontory Point in Burnham Park wat in 1909 deel van Daniel Burnham se bekende Chicago-plan was en jare later deur die argitek Alfred Caldwell ontwerp is. In Chicago se Chinatown is die pragtige Chinees-geïnspireerde Ping Tom Memorial Park.

Selfs in Cloud Gate (in die volksmond The Bean) deur Anish Kapoor in Millennium Park reflekteer die stad se welige groen.

Kitsfeite oor die stad:

  • Daar is meer as 90 natuurlike areas wat tussen die wolkekrabbers en magdom straatjies groene ontsnapping bied.
  • Bykans 42 kilometer groenstroke langs die Michiganmeer met parke, wandelpaaie en fietsroetes wat vrye toegang aan inwoners en besoekers gee.
  • Daar is twee wêreldklas-glaskweekhuise, Lincoln Park Conservatory en Garfield Park Conservatory, met plante van regoor die wêreld. Toegang is gratis en hier kom families in die somer lafenis soek en op elke bankie sit iemand en lees, blokraaisels invul of gesels met vriende. Bespreek aanlyn om te verseker daar is plek op die dag en tyd wat jy wil gaan en oorweeg ’n klein donasie vir die instandhouding.
  • Parke word ingespan om as agtergrond vir verskeie kunsinstallasies en beeldhouwerk te dien.
  • As jy van die Skydeck op die 103de verdieping van die Willis-toring oor die reusestad uitkyk, is daar amper net soveel groenkolle waar parke en bome aangelê is as grys kolle waar wolkekrabbers in sement en staal gebou is.
  • Chicago spog dat dit die fiets-vriendelikste stad in die wêreld is met 178 kilometer se fietsroetes. Tydens die Memorial Day-naweek in Mei word 48 kilometer van Lake Shorerylaan vir verkeer gesluit en duisende fietsryers kom ry Bike the Drive. Volgens die Global Bicycle Index wat jaarliks 90 stede gradeer vir hul fiets-vriendelikheid, is Chicago nie in die top-10 nie, maar darem daar.
  • Die stad se parke het hul eie toep waar jy kan sien wat saans en oor naweke in die parke gebeur. Die meeste van die konserte, filmvertonings en dies meer is gratis. Loer gerus by: www.chicagoparkdistrict.com/events/my-chi-parks-app/.

Die wandelpaaie, buitelugrestaurante en -kroeë is almal onder groen blaredakke verskuil.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Los jou stres by die Bosjes-hek

Fynbos soos nog nooit tevore nie! Grootbos Privaat Natuurreservaat

Memories and reflections of Egypt

Die ontwykende vos het ons, wel, bly ontwyk (Hornstrandir-natuurreservaat, die Westfjords, Ysland)

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top