Dis een aand op die bank met die hoeveelste Hollywood-fliek waarin ’n oor-die-muur polisieman die dae tel voor hy met sy boot en al in die Florida Keys gaan aftree, dat ons besluit ons gaan kyk wat dié aantrekkingskrag is.
Dis eers as Miami se wolkekrabbers klein word in jou truspieëltjie en jy oor al die brûe oor die oseaan tot by dié verste punt van die Noord-Amerikaanse kontinent ry dat jy hul smagting verstaan: Behalwe die natuurskoon, visvanggeleenthede, geen heinings nie en almal wat mekaar groet, is daar min huise op die klein strokies land in die potblou see. Salige stilte sonder misdaad, reken ons.
My nig uit Londen het by ons aangesluit en ons motor – die kleinste een wat jy kan huur en steeds amper groter as ons sitkamer tuis – se brul het ons amper lomerig gesus toe ons die buitewyke van Miami, Kendall en Florida City in ons ruite sien verbyflits op die snelweg wat soos spaghetti voor ons uitgesprei lê.
.....
Dis Key Largo, Tavernier, Plantation Key, Islamorada, Layton, Vaca Key, Duck Key, Layton en Big Pine Key wat soos Hollywood-filmstelle weerskante van die pad op ons wag.
.....
Dis Key Largo, Tavernier, Plantation Key, Islamorada, Layton, Vaca Key, Duck Key, Layton en Big Pine Key wat soos Hollywood-filmstelle weerskante van die pad op ons wag.
Die Hoofweg 1-blouroeteteken is ons baken; dié roete is die langste noord-suid-roete in die VSA en strek oor 3 813 km van Fort Kent, Maine by die Kanada-VSA-grens tot Key West, Florida. Die snelweg het met sy voltooiing in 1938 oor ’n totaal van 181 km gestrek en 42 brûe ingesluit. In 1982 is 37 brûe met wyer oorgange vervang, waarvan die Seven Mile Bridge by Marathon seker die bekendste is.
Dis waarlik so dat dit nie heeltemal oor die eindbestemming gaan nie, maar eerder die reis onderweg. Ons sien klein restaurantjies waar daar ’n groot vet varkie, of ’n koei, of ’n wat-ook-al-se dier met ’n pootjie wat beweeg vir jou wuif om af te draai en in te kom vir een of ander “pie” en koffie.
Voor ons vroegoggend uit Miami weg is, het ons gou opgelees oor wat op ons wag. Die Overseas Highway is iets soos ons nog nooit tevore ervaar het nie. Jy kan natuurlik nie ver vorentoe sien nie, maar lugfoto’s wys hoe jy vir lang dele soos ’n Moses van ouds op die water gly.
Die arme werkers wat in 1912 ’n spoorlyn oor die waters moes bou, moes senuwees van staal gehad het en boonop gedink het Henry Flager se projek sal nooit kan slaag nie. Hul harde werk is skaars 20 jaar later onklaar gemaak toe die verwoeste spoorlyn in ’n breë snelweg moes verander. Want kyk, geen orkaan laat hom of haar voorskryf oor wat hulle met klein stukkies spoorlyn in hul pad kan en mag doen nie. Dit word opgeruk en sommer in die see gedeponeer, dankie!
As jy voet in die hoek sou sit (binne die spoedbeperking natuurlik), kan jy van Miami na Key West in ’n rapsie meer as vier ure ry. Die aanvanklike vrees vir die nou paadjie wat soos ’n reuse-luislang oor die blou seewater loop, maak gou plek vir opwinding – maar natuurlik net as dit mooiweer is.
In Key Largo is ’n lekker stopplek die Florida Keys Overseas Heritage Trail, waar jy kan gaan stap of met jou fiets ry, sou jy ’n fiets saamgery het. Dit is nie vreeslik ver nie en is geplavei en weef van die oseaankant tot die baaikant van die eiland en het oulike bankies, ’n kaart en ’n fietsrak.
In Islamorada is die History of Diving-museum ’n gunsteling by vriende wat in Texas woon en graag al hul oorsese vriende wat van duik en die seelewe hou, bring.
Dis heerlike vermaak vir die kinders met al die duik-artefakte en -toerusting wat jare gelede gebruik is om die seebodem te ontdek. Mens moet jou hoed afhaal vir wat ons voorvaders nie alles gewaag het om die oseane te ontgin nie.
Ek sien die bordjie vir Rainbow Bend Fishing Resort toe ons deur Islamorada ry en onthou hoe die einste vriende vertel het dat hulle ’n paar jaar tevore daar oorgebly het en die visvang, swem en duik ongelooflik baie geniet het.
Wanneer jy by Marathon kom, is jy halfpad Key West toe en hier moet jy beslis uitklim en jou vergaap aan die brug wat voor jou lê. Maar voor jy die brug oorsteek, draai af na die Dolphin Research Center, waar jy nie net meer oor dolfyne leer nie, maar ook saam met hulle kan swem. Dis regtig ’n ware gesinskuier en iets vir elkeen om te doen, en die water is nie so koud soos by die huis nie!
Ons het egter een doel voor oë: “Key lime pie” in Key West en ’n foto by die baken dat jy die suidelikste punt van die Noord-Amerikaanse kontinent én ook die einde van die US Route 1 US 1 bereik het. Dit sal langs ons foto by die suidelikste punt van Afrika, daar by Kaap Agulhas, gehang word.
Die bekende Seven Mile Bridge begin ook daar in Marathon. Dis die langste gesegmenteerde brug in die wêreld en skei die middelste en laer eilande van mekaar. Ons vra natuurlik die eerste beste persoon wat ons in Marathon raakloop hoekom hulle van die “keys” praat. Hy verduidelik die woord is afgelei van die Spaanse woord cayo, wat “klein eiland” beteken.
Ons ry tot ons nie meer kan nie, want daar is nie meer grond onder ons voete nie, en parkeer in ’n systraatparkeerterrein op ’n oop erf – 260 km van Miami. Toe ons motor se sluitstelsel die ligte laat flikker, is die parkeerwag natuurlik daar. Ons betaal $10 (natuurlik ’n fortuin vir Suid-Afrikaners) en stap brom-brom die dorpie in – sonder ’n amptelike kwitansie.
Key West is maar rofweg 6,4 km lank en 1,6 km breed. Die hoofstraat, Duvalstraat, is 1,8 km lank en strek oor 14 blokke.
Die dorpie is poskaartmooi, of soos my nig grappenderwys vra: “Is julle seker ons het nie by Disneyland afgedraai nie?”
......
Die dorpie is poskaartmooi, of soos my nig grappenderwys vra: “Is julle seker ons het nie by Disneyland afgedraai nie?”
.....
Die toerismekantoor is altyd ons eerste stopplek in ’n vreemde dorp, en veelkleurige stoeltjies, ’n goudgeel “Welcome to Key West”-teken en baie vriendelike (en geduldige) personeel vertel oor en oor dieselfde storie aan geesdriftige toeriste.
Key West se dorpslogo beeld een familie uit en mens kan dit verstaan: Hier het jy jou buurman nodig, want as die natuur teen jou draai en jy is op hierdie klein lappie aarde, kyk julle na mekaar.
Dis vrek warm en mens wil op die strand gaan lê, maar ons het ’n kaart met ’n kruisie op oor waar om die beste “Key lime pie” te gaan eet. My nig lag as ek elke keer die woord in Engels sê, want ons het gedurig debatte oor die regte Afrikaanse woorde, omdat sy al vir meer as 20 jaar ’n Britse paspoort dra en dus haar lewe in Engels voer.
“Dit klink net nie dieselfde as jy dink aan ‘Key-lemmetjietert’ nie,” verklaar ek, “al is dit taalkundig korrek” – want dis lemmetjietert wat met Key-lemmetjiesap (Citrus aurantifolia Swingle), inheems aan die Florida Keys, gemaak word. Dis oral te kry in Florida, maar het glo hier sy oorsprong gehad.
Met armsvol pamflette oor alles wat jy hier kan doen, is ons spyt ons moet weer vanaand terugry Miami toe. Mens moet eerder hier oorbly vir ’n dag of twee. Dis dié eiland-ervaring waarvan jy – en daai sawwe Hollywood-polisiemanne – droom, maar met soveel meer om rondom die eiland te geniet. By ’n stalletjie bespreek ’n groep vriende ’n boot, kaptein en gids, om te gaan diepseevisvang en duik. Ja, ek was jaloers.
Omdat ons so soet langs die pad was, is ons erg honger en val eers by Old Town Mexico Cafe in wat op die sypaadjie uitsprei, en almal is hier vriende. Die geurige geroosterde mielies en nachos met maalvleis en kaas gly maklik met yskoue biere af.
Ons stap draai-draai deur die klein straatjies tot by Amigo’s Tortilla Bar in Greenestraat waar jy ’n snytjie van elk van die dorp se twee bekendste tertmakers, Kermit’s Key Lime Pie en Key West Key Lime Pie Company, op een bord kry.
Ons wil natuurlik elkeen ons eie bordjie hê, maar die kelnerin se “auto pilot” stem waarsku dat dit baie soet is. “Bestel net eers een tussen julle en besluit dan later of julle kans sien vir nog.”
Een bordjie arriveer en natuurlik word dit eers van elke hoek afgeneem vir Instagram. Daarby is drie lepels en drie sterk koffies. Na die tweede happie trek my kiewe tussen die oorsoet en die suur van die lemmetjie. Ons kelnerin is in haar noppies toe ons haar hartlik bedank vir haar advies. “Ek neem baie halwe porsies terug vir braksakkies, want niemand wil glo twee snytjies is te veel vir een persoon nie!”
Die dorpie het ’n pragtige ou fliekteater, en baie geboutjies wat al vir 100 jaar oorleef het en nou moderne handelsmerkwinkels huisves.
Ons is laatmiddag lekker flou gestap.
Ons laaste stop is per motor: die beginpunt van die snelweg waar ons toe ons foto’s kan neem en aanskuif na die baken dat jy nou amptelik op die suidelikste punt van kontinentale Amerika is. Kuba is net 90 myl (145 km) daarvandaan.
Die tou is lank, die sonnetjie bak lekker warm, maar die atmosfeer onder toeriste is só aansteeklik dat jou beurt vir die foto vinniger aanbreek as wat jy verwag het. Die meisies voor ons praat Spaans en ek hoor iets van Havana en ek wonder of hulle daarvandaan kom en of hulle dit dalk oorweeg om in die potblou, louwarm water soontoe te swem – natuurlik in die teenoorgestelde rigting as wat Kubane al vir dekades na die vryheid van Amerika swem!
Maak nie saak hoe lekker jy in Key West kuier nie, jy moet weer die pad oor die oseaan aanpak, en boonop in die stikdonker.
Ons het egter nog een emmerlys-ding wat wag, voor ons sagte bed in ons woonstel in Miami ons beskore is.
Ons wil drankies drink in Key Largo, want watter kind uit die tagtigs ken nie die fliek Cocktail met Tom Cruise waarin die Beach Boys-liedjie “Kokomo” amper die temalied van jou sorgelose tienerjare geword het nie.
Die meeste plekkies is óf toe óf baie vol, maar by Alabama Jack’s kry ons ’n tafel.
Soos die geluksgodin dit wil hê, is daar ’n musikant vir die aand wat kaalvoet in die seesand staan en vir ons “Kokomo” op sy staalpantromme speel. Dis amper te goed om waar te wees: drankies in die hand, plakkies eenkant, en ons sing heerlik saam: “Aruba, Jamaica, oooh I want to take ya; Bermuda, Bahama, come on pretty mama; Key Largo, Montego, baby why don't we go, Jamaica ... Off the Florida Keys there’s a place called Kokomo ...”
Die res van die restaurant se mense is gelukkig al lank genoeg daar – en het genoeg gekuier – en verdra ons. ’n Paar sing selfs hier en daar saam.
Die laaste deel van die rit huis toe in die donker is vreesaanjaend as jy aan die groot see om jou dink, maar gou is die radio aan en sing ons die donker weg.
Ons is net voor middernag terug in Miami. Daar is seesand in ons rugsak en die woorde van “Kokomo” draai in my kop toe ek onder die stort staan en die dag herbeleef.
Die Key Lime Pie was toe nie die hoogtepunt van die reis soos ek gedink het dit sou wees nie. is. Dis die wete dat ek iets uit my tienerjare weer kon beleef, saam met geliefdes.
En ja, die “pie” was lekker, maar nie ’n aks so lekker soos melktert of malvapoeding nie!
Goed om te weet
- Ons sou ons reis anders beplan het en eerder in een van die eilanddorpies oorgebly het as om vier ure soontoe en vier ure terug Miami toe te ry. Dit beteken egter nie dat Miami afgeskeep moet word nie.
- Vriende het al verskeie orkane in Amerika oorleef en ons volg hul raad as hulle sê dat die lekkerste – en veiligste – tyd om die Florida Keys te besoek ná 1 November is. En glo dit of nie, terwyl die res van Amerika verkluim, is dit heerlik tropies daar en plakkies en kortbroek jou voorland.
- As jy ’n Ernest Hemingway-aanhanger is, ruim tyd in vir ’n besoek aan sy huis en museum. Dis een van daardie historiese ou plantasiestylhuise in Whiteheadstraat 907. Meer inligting by www.hemingwayhome.com.
- Foto's deur Clifford Roberts met toestemming gebruik
Lees ook:
Calitzdorp nie net portstylwyn-hoofstad nie, maar ook kulinêre lekkerte
M(W)ak(h)anda forever! Redes om die Nasionale Kunstefees te besoek