M(W)ak(h)anda forever! Redes om die Nasionale Kunstefees te besoek

  • 0

Thumamna Sibhozo in Pumla – rest

Waarom sou enige iemand in die middel van die winter opruk na Makhanda, ’n universiteitsdorpie in die Oos-Kaap?

Thulani Mtsweni en Hamilton Dhlamini in Woza Albert!

Vir dié wat die antwoord ken, is dit maklik: Makhanda is waar die jaarlikse Nasionale Kunstefees plaasvind.

Bryan Hiles in Jakob

Vir dié wat nie sou kon raai nie, is hier ’n paar redes waarom jy en jou gesin dalk vir die volgende wintervakansie julle motor moet pak en ’n Oos-Kaapse draai moet gooi. Dit mag dalk meer bekostigbaar wees as wat jy dink.

In die eerste plek is kaartjies bekostigbaar, veel meer as dié van die ander feeste. Daar is selfs ’n aantal gratis vertonings, soos hierdie gesprek wat in die monument plaasgevind het.

Ten tweede is daar uitstekende akkommodasie teen billike pryse. Die feeskantoor het ’n aantal opsies geplaas vir die 2023-fees, waarna moontlike besoekers aan die 2024-fees gerus kan begin kyk. (Let ook op na die aantal wildreservate wat hier gelys word. Nie almal is goedkoop nie, maar vir ’n daguitstappie is van hulle heeltemal bekostigbaar. Die Addo Nasionale Olifantpark is ook net ’n uur se ry van Makhanda af en dit is glad nie duur om daar in te gaan nie.)

Ten derde is daar talle restaurante in Makhanda wat wissel van taamlik standaard tot indrukwekkend. Ek hou daarvan om die kraampies en venters te ondersteun wat spesiaal vir die fees opdaag. Elke jaar gaan koop ek opsetlik by soveel as moontlik van hulle ’n cappuccino, en maak dan ’n persoonlike lysie van my gunstelinge.

Ek het ’n sagte plekkie vir die eetplek in die ou tronk. As dit nie te besig is nie, gaan kies jy wat jy wil eet en drink by die toonbank. Die vriendelike personeel nooi jou dan om ’n sel te kies. Jy word in daardie sel bedien.

Ten vierde is die dorp self baie mooi. ’n Mens kan ure lank rondloop om na die argitektuur te kyk en daar is verskeie museums om te besoek.

Die katedraal op die dorp is pragtig.

Van die skole op die dorp is lieflik; ’n mens mag daar rondloop op pad na vertonings toe.

Die universiteit self is ’n rondstap werd.

Ten vyfde is daar tydens die fees heelwat gratis dinge om te doen: van kraampies besoek op die feesterrein tot kuns kyk.

In die 1820-Setlaarsmonument is daar ’n uitstekende permanente kunsuitstalling te sien.

Tydens die fees is daar verskeie tydelike kunsuitstallings te sien wat gratis besoek kan word. Van hulle is in die monument; talle is elders.

Msaki se Del’ukufa (Waag dit om te sterf) was in die monument te sien as een van ’n groter aantal vertonings tydens die fees.

Luke Kaplan se Lore of the land is ook daar uitgestal.

Lady Skollie se uitstalling Groot gat (jip, in Afrikaans) het plaasgevind in die ronde put onder die hoofverhoog van die teater, ook in die monument.

Deur slim gebruik te maak van die ruimtes het sy ’n grot geskep waarin tekeninge op die “mure” van die gemaakte grot geprojekteer is, asof dit rotstekeninge is.

Op die hoofkampus, net langs die Rhodes-teater, is die galery van Rhodes-universiteit se kunsstudente. Daar sien ’n mens altyd interessante, uitdagende werke.

Die eerste paar kunstenaars wat ek hier noem, is nagraadse studente aan Rhodes.

N’lamwai Chithambo werk met ’n konsep van Audre Lorde wat sy biomitografie genoem het. Dit kombineer biografiese elemente, dit wat ’n mens ervaar, met stories en mites. Chitambo probeer die konsep op ’n moderne manier uitbeeld asof sy kuns deel van ’n grafiese roman vorm. Julle kan sy werk op Instagram volg: @lunthaart.

Wil-Merie Greyling het 1,8 ton sout uit Swakopmund na haar ateljee laat kom. Sy werk daarmee, maar het gekies om ’n aantal van die blokke ongeskonde neer te sit sodat kykers die natuur se detail kan sien.

Foto’s van die soutmyne is teen die muur geplak en sy het hulle behandel sodat soutkristalle daarop vorm. Haar Instragram is @wilmerieartist.

Juanito Romaria Feathersone kyk na klere as ’n tweede vel.

Julia Arbuckle herbeskou die konsep van ’n argief in hierdie uitstalling getiteld Looking after: an archive of familiar things. Volg haar op Instagram: @wildonion_art.

Viwe Madina verwys na die gesegde dat ’n kind deur ’n hele gemeenskap grootgemaak word. Wat gebeur as daardie gemeenskap trauma ervaar? Wat gebeur dan met die kind? Volg haar Instagram: @viwe_madindaart.

Tayla Mackintosh speel met die konsep van hekelwerk, wat tradisioneel as vroulik gesien word, gemeng met die rekenaarspeletjie Mine Craft, wat deur baie mans gespeel en skynbaar as manlik gesien word. Sy kan by @taytaymacks_visuals gevolg word.

Daar het ook voorgraadse studente uitgestal. Die volgende drie studente is almal in hul derde jaar.

Snelihle Maphumulo het hierdie kruise gemaak.

Die kyker sien hulself in die kunswerke van Tony Maake.

Dié vreemde bottels is geskep deur Karisna Basset.

Op verskillende ander plekke is in die dorp is kuns van ander kunstenaars uitgestal, van wie talle ook studente is. Die Nelson Mandela Universiteit het begeleide toere aangebied om hul studente se kuns te bespreek.

Ook studente van Fort Hare het uitgestal.

My vriende spot my, maar ek hou vreeslik baie van hierdie werk, ’n ingeduikte koeldrankblikkie. Dit is omtrent 80 cm hoog en is deur Tandabanto Matola van klei en glasuur gemaak.

Panoma Maqhashalala het dié seekat van papier, draad en akriel gemaak.

Thabiso Lutshethu noem hierdie kleibeeld Not so long.

Hlanganisani George is verantwoordelik vir die interessante beeld wat speel met die idee van iemand wat graad vang en dan tradisionele versierings wil dra.

Dié mooi osse is deur Amos Senzela geskep.

Loyiso Oldjohn en Thandile Swelibazi het hierdie foto-uitstalling gekureer.

Lookout Sibanda is verantwoordelik vir hierdie keramiekwerk.

Die naam van die dorp en die geskiedenis daaragter

Dit is maklik om “Makhanda” te verwar met “Wakanda”, die fiktiewe Afrikaland van die Marvel-films, soos die nimlike marionet Chester Missing uitgevind het.

En ja, soos Chester sê: Jy gaan donkies en slaggate sien as jy soek. Maar die Nasionale Kunstefees is ook ’n geleentheid vir die dorp om saam te staan. Die dorp word mooi gemaak en baie slaggate word reggemaak. Meer as 2 000 tydelike werksgeleenthede word geskep tydens die fees. Sekuriteit is oral te sien.

Makhanda is die naam van ’n Xhosa-leier wat in 1819 ’n aanval op Grahamstad teen die Britse setlaars gelei het. Dit was nie suksesvol nie.

Grahamstad, die ou naam, is ontleen aan John Graham, ’n kru en wrede soldaat wat die lewe onmoontlik gemaak het vir die Xhosa-inwoners van die Oos-Kaap.

Daar was wel kontroversie oor die naam Makhanda, juis omdat Makhanda nie ’n besonder slim strateeg was nie en daar talle ander Xhosa-leiers uit die streek is na wie die stad vernoem sou kon gewees het.

Om dinge egter moeiliker te maak, is die stad Makhanda herdoop terwyl die munisipaliteit bekend staan as Makana – die alternatiewe spelling van Makhanda se naam.

As jy of iemand in jou gesin meer wil weet oor die geskiedenis van die Oos-Kaap en Makhanda, sou ek Mphuthumi Ntabeni se twee boeke The broken river tent en The wanderers aanbeveel. Lees dit gerus voor julle in die motor klim. Beide is fantastiese stories en hulle sal die gesin baie vertel oor die wêreld waarheen julle reis.

Lees ook:

Stoepsit Fees 2023 draws visitors despite weather

Van laventellande en pastis tot nostalgie en goeie SA wyne

Dit kook in Barrydale

Fynbos soos nog nooit tevore nie! Grootbos Privaat Natuurreservaat

Saligheid op die savannavlaktes van Namibië

Suid-Afrika deur ’n Duitse oog

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top