Réunion: ’n Klein stukkie Frankryk in die Indiese Oseaan

  • 0

Mathieu Pitou is ons gids. Hy verduidelik op ’n kaart van die eiland waar ons is en waarheen ons op pad is. Die lekker snelweg met vier tot ses bane is in 2009 voltooi en ons ry vir ’n uur of wat al langs die kus.

“Klim in die bus en laat ek julle na die maan neem,” verklaar ons gids. Om die piepklein vulkaniese eiland Réunion te verken en boonop die kans te kry om by die uitkykpunt oor die vlaktes na die aktiewe vulkaan te staar, is ’n raar voorreg.

Ons rek gou bene by ’n petrolstasie en kyk uit oor die oseaan.

Dié uitstappie is een van vyf op Réunion wat deur die reisspan van Norwegian Cruise Line saamgestel is en waarop gaste aan boord die Norwegian Dawn kan gaan. Die reis van 12 dae het in Mauritius begin en eindig in Kaapstad. By elke hawe waar die skip anker gooi, kan gaste verskeie dag-uitstappies saam met gekwalifiseerde gidse onderneem.

Piton de la Fournaise (piek van die oond) staan onder locals bekend as Le Volcan (die vulkaan). Dis elke ses, sewe maande aktief.

Daar is ’n gids met ’n moeilikheidsgraad (hoeveel en hoe ver daar gestap word), of dit ’n maaltyd insluit of nie, hoeveel uur dit sal duur en ’n omskrywing met fyner detail oor wat die uitstappie behels. Gewoonlik is daar iets wat kultuurvrate sal behaag, ook meer historiese toere, altyd een waar jy die plaaslike mense en hul kos kan ervaar en dan ook ’n natuurwonder soos die Piton de la Fournaise- (piek van die oond-) vulkaan in hierdie geval. Die vulkaan staan onder locals bekend as Le Volcan (die vulkaan).

Ons het die 8,5 uur vulkaanuitstappie in ’n lugverkoelde bus gekies, want jy reis byna driekwart om die eiland: van die hawe in die noorde tot die vulkaan in die suidooste van die eiland. Dit gee ons ook die geleentheid om meer van die eiland te wete te kom en te sien.

Ons meer skuins voor 6:00 vas in die hawe. Die reuseskip lê omtrent ’n groot ruimte vol en op die hawe wag taxi’s en busse met nommers vir die verskillende uitstappies.

Ons bus met sy nommer 7 in die voorruit is vol. Hier en daar is iemand wat al vulkane op ander eilande ervaar het, maar vir ons is dit ’n eerste. Mathieu Pitou is ons gids. Hy verduidelik op ’n kaart van die eiland waar ons is en waarheen ons op pad is. Die lekker snelweg met vier tot ses bane is in 2009 voltooi en ons ry vir ’n uur of wat al langs die kus.

Die eiland vier op 19 Maart vanjaar sy 78ste jaar as oorsese département van Frankryk, nadat dit in 1946 – net ná die Tweede Wêreldoorlog – ingelyf is.

Iemand vra of daar iets is om oor bekommerd te wees aangaande onverwagse uitbarstings. Mathieu stel ons gerus: Die vulkaan is net elke sewe maande aktief. “O, so wanneer laas was daar ’n uitbarsting?” Hy lag en sê in Julie/Augustus verlede jaar en ons het niks om oor te kommer nie. Ons frons. Sewe maande? Hy tel op sy vingers... Ons is in maand sewe...

Maar gelukkig is daar allerhande kameras, sensors en metingsinstrumente om inwoners gou genoeg te waarsku. Die vulkaan is ook een van daardie wat sonder dramatiese ontploffings en vuurspuwende skouspelle tot uitbarsting kom, so die lawa stoot bloot bo die grond uit en loop in bloedrooi strome teen die berg af.

Maar wag, ek loop die uitstappie vooruit. Mathieu vertel: “Jy is Frankryk, hier in die middel van die Indiese Oseaan.”

Die eiland se huidige naam was aanvanklik ’n verwysing na die ontmoetingsplek van die revolusionêres, maar nou is dit die herontmoetingsplek van mense van verskillende kulture, gelowe, tradisies en tale. Soos ons ry, wys hy tempels, kerke en moskees van verskillende gelowe om sy stelling te staaf.

Hy verduidelik ook dat hy die tiende geslag Pitous op Réunion is. Amerikaners in die bus het gevra of hy hier gebore is. Ek moes lag, want as reisende Suid-Afrikaner kry ons dié vraag gereeld. Mense vind dit moeilik om te verstaan dat as jou mense al 350 jaar iewers woon, jy jouself beslis nie meer as ’n Franse, Nederlandse, Engelse of Indiese burger sien nie. Jy is in murg en been die land óf eiland waar jy woon se kind.

Hy brei uit en sê dat Réunion ’n département van Frankryk is, hulle praat oorwegend Frans en selfs die motors se registrasienommers is deel van Frankryk, met sy eie départementskode: 974.

Ons gids sê: “Port Réunion is ’n kommersiële visvang- en skeepvaarthawe. Dis ook ’n militêre basis en Frankryk se derde grootste vlootbasis. Dit beslaan twee plekke sowat 3 kilometer uit mekaar: die westelike hawe wat in 1886 gebou is en die oostelike hawe wat in 1986 gebou is en al twee maal vergroot moes word, eers in 2007, toe in 2015.”

Réunion beslaan 2512 vierkante kilometer. Die eiland is 71 kilometer as jy van noord tot suid meet en reg rondom 230 kilometer, waarvan 210 kilometer kuslyn is en wat jou ’n paar uur kan neem om af te lê, weens die kronkelpaadjies hier en daar.

Suikerfabrieke is daar talle van op die eiland.

Hy verduidelik die Weskus is beter vir toerisme met beter strande en gematigde weer, terwyl die ooste van die eiland meer vir landbou aangewend word. Suiker is 50% van die eiland se verbouing, met lietsjie, mango en piesang wat ook geoes word.

Jy kan gou sien dat rum wat van suiker of molasse gestook word, ’n ereplek het in die geskiedenis as jy ou koperketels in die middel van die snelweg op ’n middelmannetjie gewaar.

Die eiland het net 870 000 inwoners, maar moenie glo hulle sukkel nie ook met spitstyd en volgepakte strate nie. Mathieu sê daar word voorspel die eiland sal teen 2030 dalk eenmiljoen inwoners hê, maar hy twyfel.

Dis nie lank nie of die eiland se hoogste piek – Piton des Neiges (piek van sneeu) op 3070 meter, ’n onaktiewe vulkaan – word sigbaar bo die wolke.

Dis nie lank nie of die eiland se hoogste piek – Piton des Neiges (piek van sneeu) op 3070 meter, ’n onaktiewe vulkaan – word sigbaar bo die wolke. Albei vulkane is deel van die Réunion Nasionale Park.

Die eiland het twee seisoene, somer en winter, en selfs gedurende dié twee verskil die temperature drasties van die kus tot by die vulkaan, soms tot meer as 12 grade.

Die weer is heelwat anders as in Mauritius wat maar 130 kilometer weg is en mens kan skaars glo ons was 12 uur tevore nog in Port Louis in Mauritius, waar al die passasiers van regoor die wêreld op die Norwegian Dawn aan boord gegaan het.

Daar is baie vrae uit die bus: Is hier haai-aanvalle; is hier strande soos ander eilande in die Indiese Oseaan; wat eet die plaaslike mense; is hulle soms opstandig omdat hulle nie onafhanklik van Frankryk is nie? En vele meer.

Die koraalrif wat die kus teen groot visse soos haaie beskerm, is in die verte sigbaar. Voor is landbou-aktiwiteite aan die gang.

Mathieu is geduldig en antwoord dat die koraalrif wat duidelik onder in die see sigbaar is uit ons bus, hulle beskerm teen groot visse soos haaie en dat jy soggens baie vroeg dalk gelukkig kan wees om saam met seeskilpaaie te snorkel, voor hulle vir die res van die dag diepsee toe skuif. Dié koraalrif vorm ’n meer van 24 kilometer al langs die westelike kant van die eiland en is baie gewild onder toeriste.

Toe hy oor die kos vertel, blink sy oë sommer. Rys en boontjies is hul stapelvoedsel en boere het nou begin om hul eie rys te plant. Die pandemie het rysinvoere bemoeilik en mense het besluit om te begin eksperimenteer met hul eie rys.

By Le Relais Commerson eet ons cari met worsies, bone en rys voor ons aan tuisgemaakte klapperroomys smul.

“Ons eet graag cari, nie kerrie nie. Dis van Indië en hulle maak dit uitstekend. Ons cari is gewoonlik uie, knoffel en borrie met of seekos of vleis of groente, afhangend van jou voorkeur. Daarmee saam bedien ons ’n klein bakkie met brandrissie, gekapte uie, mango of wat ook al beskikbaar is en vars is. Dis baie skerp, so as julle die kans kry, proe eers ’n bietjie op die punt van die mes voor jy alles daarmee bedek.”

Tuisgemaakte klapperroomys is ’n koele lafenis in die hitte.

Soos ons die snelweg verlaat en begin om al hoër na die vulkaan te klim, wys hy weer op die kaart dat die vulkaan aangedui word as ’n groot bruin deel op die andersins grasgroen kaart. “Niemand woon hier nie, so ons leef in harmonie met die vulkaan.”

Toeriste kom stap graag oornag na die vulkaan as dit nie aktief is nie, al is dit een van die aktiefste vulkane op die planeet, vertel hy.

Hy verduidelik ook dat die Arabiese mense die Indiese Oseaan-eilande in die Middeleeue ontdek het en Réunion vernoem het as “eiland van sononder” en Mauritius as “eiland van sonop”. Mense smag nie na onafhanklikheid nie, want hoewel die belasting en lewenskoste hoog is omdat hulle deel van Frankryk is, is daar baie voordele om ’n sterk Franse ouboet te hê.

Van die voëls wat op die eiland te sien is, maar meer spesifiek in die area naby die vulkaan.

Ons hoor ook die eiland het geen giftige slange nie, maar ’n baie ryk voëllewe. “Al lyk die omgewing soos die savanna buite die nasionale Kruger-wildtuin in Suid-Afrika, is hier geen wilde diere nie.”

Bo ons koppe swaai en draai 46 valskermsweeftuie (paragliders). Mathieu vertel dat die dorpie onder teen die kus hemel is vir valskermsweeftuigliefhebbers wat daar van 800 meter bo seespieël tot op die wit strande sweef. Daar is glo meer as 30 klubs daar.

Iets vang sy oog en hy verduidelik so links van die pad net toe ons nader kom aan Saint-Leu. Bo ons koppe swaai en draai 46 valskermsweeftuie (paragliders). Mathieu vertel dat die dorpie onder teen die kus hemel is vir valskermsweeftuigliefhebbers wat daar van 800 meter bo seespieël tot op die wit strande sweef. Daar is glo meer as 30 klubs in die dorp.

“Saint-Gilles is ook hier naby en is eintlik die suide van Frankryk, want baie Franse het hier kom woon. Die argitektuur is heeltemal anders as Réunion s’n en vir locals voel dit nie regtig soos Réunion nie.”

Ons ry by ’n reuseskaal wat net agter Coral-helikopters se kantore sigbaar is, verby en hoor dis waar suiker in oestyd geweeg word. Die oestyd is kort. En gepraat van suiker en oestyd, nie ver daarvandaan nie is ’n suikermuseum, Musée Stella Matutina. Die rede hoekom suikerriet as landbouproduk so gewild is in die warmer Indiese Oseaan is velerlei: Dit groei maklik, dit kan vir sewe jaar gebruik word voor nuwe plante geplant moet word en niks van die plant word vermors nie. Selfs die suikerrietblom word as musiekinstrument gebruik.

“Dit word geskud en die los saadjies daarbinne maak so ’n shu-shu-shu-geluid. Die oorblyfsels van die plant, nadat die stroop uitgedruk is, word as veevoer of grondbedekkers gebruik. Suikerverbruik is hoog op die eiland en dis omdat mense in die ou dae dikwels in suiker betaal is. Natuurlik is diabetes baie algemeen!

“Maar dat Réunion sedert 1815 kan spog met die beste suiker in die wêreld, is gewis.” Hy vertel ook van ercane – ’n landbouproses waar die beste suikerriet in ’n 25 jaar proses ontwikkel word, sodat boere voortdurend meer geharde plante met beter kwaliteit suiker kan aanplant.

“Ons eiland spog ook met ’n soutmuseum, want sout word sedert 1942 hier geproduseer. Die Indiese Oseaan se seewater is souter as ander seewater en dis hoekom die eiland se sout so goed is.”

La vallée de la Rivière des Remparts se uitkykpunt is 2050 meter bo seespieël.

Met ’n eiland wat spog met meer as 200 mikroklimate is daar sekerlik baie plek vir landbou-eksperimentasie!

Langs ons bus gly geel busse verby en ons hoor dis vir vervoer tussen die eiland se stede. Die snelweg het almal se lewens kom verander en ook moderne busse wat moeiteloos om die eiland ry, moontlik gemaak.

Soos ons die heuwel na die vulkaan bestyg, vra Mathieu ons moet ons oë toemaak. “Almal behalwe ons bestuurder, natuurlik!” grap hy. Hy vra dat ons van 10 af moet terugtel. Op nul mag ons ons oë oopmaak, toe hy verklaar: “Welkom op die maan.”

Jy knip jou oë ’n paar keer vir die vaaltes, maar hy wys gou die verskillende kleure rots op die vlaktes uit en sê dis die resultaat van verskillende temperature van die uitbarsting, maar ook verskillende komponente soos yster en sulfer wat uitgestoot is. Ons klim uit, neem foto’s vir ’n vale, waar die klein kronkelpaadjie soos ’n vaal aartjie in die rooibruin, poeieragtige sand loop. In die verte hou die vulkaan in skakerings van swart en bruin wag.

Terug in die bus, ry ons die paar kilometer na die uitkykpunt neffens die voet van die vulkaan. Onder stap mense na die kruin; hulle lyk soos wit miertjies teen die donker rotse.

As jy by die eerste uitkykpunt kom en die vulkaan in die verte gewaar, voel dit regtig of jy op ’n ander planeet is.

Die gesig is nie heeltemal onbekend nie: Die landskap herinner my so effe aan die Karoo, behalwe dat die wolke agter die vulkaan verklap hoe hoog die piek bo die see is (2632 meter) en as jy die grond van nader bekyk, lyk dit soos waterpoele wat oor duisende jare drooggebak het.

Tog is daar dele wat aan die Karoo herinner.

Op pad terug na die bus toe, kyk ek ’n paar maal om. “Soos Lot se vrou,” sê een van die vroue wat saam met my op die bus reis, terwyl sy by my verbystap. “Maar ek doen dieselfde. Mens kan eintlik nie jou oë glo nie. Jy ry op hierdie tropiese eiland; alles is grasgroen tot jy hierbo kom en dan voel jy werklik jy is op ’n ander planeet. Hoe wonderlik is die natuur nie.”

Die pragtige Vulkaanhuis, ’n museum wat na die Louvre se argitektuur gebou is. Hier leer jy meer van vulkane.

Hoe wonderlik, inderdaad, is die gedagte waarmee ek terugklim in die bus en die hele rit omgekeerd weer soos ’n nuweling ervaar, maar hierdie keer met Mathieu se woorde in my ore wat dinge mooi illustreer.

Terug in die hawe wag die reusagtige Norwegian Dawn op ons en kan ons vir ’n uur of wat nog die eiland van ons balkon af beskou.

Terug op die skip met ’n glas Franse rooiwyn in my hand, hang ek oor ons kamer se balkon en kyk na die eiland wat teen sononder al kleiner word agter die skip. ’n Strook wit skuim op die potblou water lei jou oog na die grasgroen eiland wat amper verlate uit die reuse-oseaan styg.

Ek kom terug. Daar is nog te veel om hier te sien, doen, proe en ervaar.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Kitsfeite

Om die reis na ’n  nuwe bestemming vas te vang kan onvoorspelbaar wees, wat die Canon EOS R10 perfek gemaak het vir hierdie reis. Dit is baie lig, skaars opvallend in ’n  rugsak. Die lenstegnologie verskaf ’n hoër-as-gemiddelde skerpte onder uiteenlopende toestande. Ons het gekiek in die gevlekte somberheid van ’n subtropiese woud en buite in die helder lig van die see. Twee lense – die Canon RF 24-50 en 55-210 mm – het feitlik elke situasie gedek. Boonop verseker die hoëdefinsievideo deeglike datavaslegging. Die kamera is kragtig, wat beteken dat dit krag en geheue kan suig – veral wanneer na video oorgeskakel word. So, vir nuwelinge: kry ’n gevoel vir die instellings, formate en batterylewe voordat hulle die pad vat.

Lees ook:

Van duiwels en dinge op die Franse platteland

Nostalgiese Londen

Clos Malverne: Oos, wes, tuis nie bes in hierdie geval

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top