
Die Rovos Rail kronkel al skommelend van Pretoria na Victoria Falls in Zimbabwe. Ons rit duur vier nagte en vyf dae.
Hwange Nasionale Park, geleë in die noordwestelike hoek van Zimbabwe, is een van die land se voorste wildbestemmings wat ’n ryk tapisserie van geskiedenis, ongelooflike biodiversiteit en pragtige landskappe bied. Dis een van die uitstappies aan boord die luukse trein, Rovos Rail, onderweg van Pretoria na Victoria Falls in Zimbabwe wat ons meemaak, skryf Maryke Roberts.
Daar is vele redes vir feesvier op dié rit. Die Vos gesin, pa Rohan, ma Anthea en hul vier kinders, Tiffany, Bianca, Brenda en Shaun, vier 35 jaar van hierdie historiese, wêreldklastrein met 11 Afrika-roetes. Geen klein oorwinning as jy die Afrika- politieke landskap, hebsug en bedrog in ag neem nie. Maar Rohan se liefde vir treine, Afrika en nostalgiese treinritte oorwin steeds.
Sir David Suchet
Maar voeg hierby dat ons die bekende “inspekteur Hercule Poirot” met sy bruin pak, hoed en ou filmkamera saam op dié nostalgiese rit het, en dit is soveel beter. Sir David Suchet, wat die rol van Poirot al verskeie male gespeel het, verfilm ’n dokumentêre reeks met ons reis.
Dit was 100 jaar gelede dat Agatha Christie se The man in the brown suit met inspekteur Hercule Poirot as hoofkarakter verskyn het. Dit speel tussen Londen, Muizenberg, ’n treinreis na die voormalige Rhodesië en ’n eiland in die Zambezi af.
Sir David loop in die spore van die misdaadskrywer Agatha Christie, wat in die 1920’s in voormalige Britse kolonies – Kanada, Hawaii, Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië – gereis het. Dit het ’n vyf episode dokumentêre reeks, Travels with Agatha with Sir David Suchet, tot gevolg gehad. Elke episode speel in een van die vyf lande af.
Dit is drie maande gelede in Brittanje vrygestel.
Ek en my geliefde saam met Lady Sheila en Sir David Suchet op ons laaste dag van die treinrit.
Maar terug by Hwange. Sir David moet aan boord aan tonele verfilm, terwyl die res van die gaste die park gaan verken. Sy vrou, Lady Sheila, kom saam met ons op een van die wildkykvoertuie wat vir ons by Kennedy-sylyn staan en wag.
Een van die voertuie wat ons by die sylyn ingewag het.
Ons het die oggend met ontbyt al die eerste diere van die park weerskante van die trein gesien en die vorige aand opgelees oor ons uitstappie in die gedrukte briefie op ons bedkassie: “Hwange Nasionale Park, vernoem na ’n plaaslike Nhanzwa-hoof, is die grootste park in Zimbabwe en beslaan ongeveer 14 650 vierkante kilometer. Dit is geleë in die noordwestelike hoek van die land, sowat een uur suid van die magtige Victoria-waterval.
Die park het baie diere en ons is gelukkig om heelwat van hulle op ons wildrit te sien.
“Dit was in die vroeë 19de eeu die koninklike jagvelde vir die Ndebele-vegterkoning Mzilikazi en is in 1929 as ’n nasionale park opsygesit. Hwange spog met ’n groot verskeidenheid wild met meer as 100 spesies soogdiere en byna 400 aangetekende voëlspesies. Die olifante van Hwange is wêreldbekend en die park se olifantbevolking is een van die grootstes ter wêreld. Die park het drie kenmerkende kampe en administratiewe kantore by Robins, Sinamatella en die grootste een by Main Camp.”
’n Geelbekneushoringvoël of “vlieënde piesang” is een van my gunstelingvoëls om te sien, want dit beteken ons is ver noord van die huis af.
Die ses wildkykvoertuie, wat elkeen 10 gaste kan akkommodeer, het net ses mense elk op, “want dan het almal ’n venstersitplek”. Ons val in gelid en elke gids stel homself voor. By die eerste vurk in die pad draai een of twee voertuie af en voor jy kan sê geelbekneushoringvoël, kies elke voertuig ’n koers.
Ons gids is Bongani Siziba en hy vertel ondeund: “Ek kan nie belowe dat julle enigiets spesifiek gaan sien nie, maar ek kan waarborg dat jy baie bome sal sien.” Die atmosfeer op die voertuig is sommer ligter. Ek vergeet altyd dat oorsese toeriste dikwels nog nooit in die veld was nie en maar senuweeagtig kan wees. Hy wys ons die vernielde bome wat oral versprei lê en sê dis hul 30 000 olifante se “besigheidskaartjies” ...
Die wildehonde wat hier woon, word gereken as een van die grootste troppe in Afrika, naas dié van die Kruger Nasionale Park en Selous Wildreservaat in Tanzanië. Dis ook die enigste beskermde gebied waar gemsbok en bruin hiënas voorkom.
Ons groet die manne van die wildehondeprojek.
Nie lank nie of hy verminder spoed. Ons trek effe uit die pad om ’n ander voertuig te laat verbygaan, juis een van die wildehonde-navorsingsvoertuie.
Ons groet, hoor hier is verskeie troppe wildehonde in die park en daar is ’n opgewondenheid onder die insittendes, maar ons gids slaan ons entoesiasme hok: Die park is baie groot en op ’n drie uur rit in die suide van die park gaan ons heel moontlik nie só gelukkig wees nie.
Ons verken voort.
Katspore
Bongani verminder weer spoed. Daar is katspore in die stofpad ... Hy noem dat luiperd, jagluiperd en die gevlekte hiënas ook hier te sien is. Hy het skaars klaargepraat of ons sien in die verte die jagluiperd wat lyk of hy vir ons kameralense poseer neffens ’n enkeldoringboom.
Die jagluiperd
Daar daal ’n stilte oor die voertuig neer.
Ek kyk kort-kort na Lady Sheila ... Haar opgewondenheid om weer die Victoriavalle te sien word heeltemal oorskadu deur hierdie lekkerte; die ooptes, die wind in haar kuif en die diere wat ongehinderd hul gang gaan. Asof sy my gedagtes lees, draai sy na my toe en sê dat David hierdie oomblik só sou geniet.
Die jagluiperd staan op en begin wegstap deur die vaal gras; soms só goed gekamoefleer dat hy wegsmelt.
Bome omgestoot deur olifante
Ons ry deur ’n klossie bome waarvan die helfte omgestoot en verniel is. Olifante se uitwerking op die veld is baie duidelik. Daar is ’n amper spookagtige heimwee tussen die boom-“lyke”. Die son maak goue patrone deur die droë takke.
Hy herhaal ’n bietjie van die statistieke waaroor ons gelees het en ek kan sy trots sien toe hy vertel dat die park bekend is vir sy ongelooflike dieregetalle, maar dis veral die olifante wat mense van heinde en verre trek.
Die park is bekend vir sy watergate, heelwat is mensgemaak, maar dis ’n lewenslyn vir soveel diere.
“Ons het een van die grootste olifantbevolkings in Afrika, met meer as 40 000 olifante wat hier voorkom. Hierdie getal groei dikwels as gevolg van die park se streng wette teen stropery en die olifant-migrasiekorridor wat Hwange met die naburige Botswana se Chobe Nasionale Park verbind. Die talle watergate in die park is die rede vir hul getalle. Gedurende die somer is water baie skaars en die watergate gee hulle kans op oorlewing. Baie van die watergate is natuurlik, maar verskeie is mensgemaak.
“Baie mense glo olifante gaan na spesiale plekke om dood te gaan, maar hier sien jy die geraamtes naby die water. Baie van hulle sterf van die dors hier.”
Hoewel die olifante vir vele mense die hoogtepunt is, is een van die ander toeriste op ons voertuig nuuskierig oor die ander katte, leeus veral.
Bongani weet die meeste toeriste wil leeus sien, maar hy laat hom nie van stryk bring nie. So in die ry vertel hy: “Hwange is een van die belangrikste wildbewaringsgebiede in Suider-Afrika. Met sy uitgestrekte grasvelde, digte bosvelde en watergate waar jy vir ure kan dagdroom, is die park die tuiste van ’n wye verskeidenheid spesies en bied ’n onvergeetlike ervaring vir reisigers wat avontuur in die natuur soek.
“Hwange se geskiedenis is so fassinerend soos sy wild. Die park is amptelik in 1928 gestig, oorspronklik bekend as Wankie Wildreservaat. Dit is vernoem na die Wankierivier (nou gespel Hwangerivier) wat deur die park loop en ’n noodsaaklike waterbron vir die diere is. Die naam Hwange is afgelei van die plaaslike Hwange-mense, wie se naam ‘die land van die olifant’ beteken.”
Ons hoor die park strek van 1 000 tot 1 200 meter bo seespieël en ervaar ’n semi-droë klimaat met warm, droë somers (November tot Maart) en gematigde, droë winters (April tot Oktober). Temperature oorskry dikwels 30°C in die somer, terwyl wintertemperature snags tot 5°C kan daal. Ek is dankbaar ons is hier in Augustus, want ek kan dink dat dit vrekwarm én vrekkoud hier in die vlaktes kan word.
Kiewiet
Net voor die son begin watertrek, stop hy by ’n kiewiet en skakel die voertuig af. “In my kultuur glo ons as jy ’n kiewiet se eiers sien, sal jy vir ewig leef.” Ons kyk na die voëltjie wat trots op ’n klein hopie sand staan, al rasend.
Die boskorhaan
Nie ver daarvandaan nie, sien ons die boskorhaan, ’n groterige voël wat so goed met sy omgewing saamsmelt dat ons verskeie male moet beduie voor almal op die voertuig hom raaksien.
So lekker om by watergate te kom en daar is net een of twee ander voertuie en dis almal mense wat saam met ons op Rovos Rail is.
Ons stop by ’n watergat – idillies met die ondergaande goudrooi son, goue strepe op die water en die bome as agtergrond. Die kameras en selfone kliek-kliek-kliek. Afrika is darem maar mooi!
Slurpe vol stof
Bongani wys na regs waar ’n olifant slurpe vol stof oor sy lyf gooi voor hy in die modderwater gaan bad.
Ons gids deel allerhande interessante feite so in die ry.
Bongani vertel daar sit ’n klein sandpatrysie aan die oorkantse wal, maar ons sukkel om die voëltjie te sien. “Sy borsveertjies is só ontwerp dat waterdruppels daaraan kleef, sodat hy die kleintjies in die nes kan gaan watergee.” Die natuur op sy spesiaalste.
Voor ons terugkeer na die trein vir ons laaste nag aan boord, drink ons drankies en geniet peuselgoed onder die sterre.
Dis doodstil toe ons terugkeer na die kampie waar ons drankies drink en iets te peusel geniet, voor ons terugklim op die trein vir ons laaste nag aan boord.
Al die voertuie is terug en gaste ruil stories uit van wat hulle gesien het. Twee voertuie het verder noord gery en leeus raakgeloop en ek onthou Bongani het genoem hulle het ’n beduidende leeubevolking en die troppe is groot.
Ons hoor ook om die kampvuur dat Hwange Nasionale Park nie ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied is nie, maar dis ’n kerndeel van die Kavango Zambezi Oorgrensbewaararea (KAZA TFCA), wat drie UNESCO Wêrelderfenisgebiede – Great Zimbabwe, Khami en Victoriawatervalle – insluit.
Een van die gidse vertel met die dansende vlamme wat in sy oë weerkaats: “Mense woon al tienduisende jare in die streek, soos bewys is deur talle argeologiese terreine wat wissel van vroeë Steentydperk tot die historiese era. Steentydperk-veevoerders het in die streek gejag en bymekaargekom en het talle terreine met klipgereedskap regdeur vandag se park gelaat. Hulle het gravures van dierehoefafdrukke op sandsteen-rotsskuilmure gemaak met ’n paar klein rotsskilderye in die park se noordweste. Mense uit die Ystertydperk het groot en klein klipmure in die park gebou, soos Mtoa en die Bumbusi Nasionale Monument.”
Ek dink aan die vorige dag se uitstappie na Matobo Nasionale Park en die insiggewende praatjie van Ian en Julia Harmer van African Wanderer Safari’s oor die eerste mense wat hier gewoon het en hul rotskuns wat vandag nog daar sigbaar is. Insig van mense vir wie erfenis en geskiedenis belangrik is en wat hulle graag met – onder meer – Rovos-gaste deel.
Die treinreis is soveel meer as treinry. Dis ’n historiese én bewaringervaring wat jy deur die oë van oorsese gaste kan ervaar, wat dit soveel dieper betekenis gee.
Kitsfeite
- Vir ’n onvergeetlike rit met Rovos Rail op een van hul 11 roetes oor Suider-Afrika, besoek www.rovos.com.
- Vir meer inligting oor die park of om verblyf daar te bespreek, besoek https://zimparks.org/parks/national-parks/hwange/.
- Die beste tyd om Hwange te besoek is gedurende die droë seisoen van Mei tot Oktober, wanneer die wild naby die watergate bly. Dis ook die beste tyd om groot troppe olifante te sien. In die reënseisoen van November tot April, wanneer die park groen en ruig word, is dit moeiliker om diere te sien, maar dis dié tyd vir voëlkyk en ’n fotografieparadys met al die klein lammetjies, welpies en ander pasgebore diere.
- Daar is renosters in die park en hulle word dikwels gesien, maar gidse vra vooraf dat jy die foto’s oordeelkundig moet deel en nie moet verklap waar jy die diere gefotografeer het nie.
- Twee bewaringsprojekte word vanuit Hwange bedryf: die Nasionale Luiperdprojek wat in oorleg met die Wildbewaring en Navorsingseenheid van Oxford-Universiteit en die Dete Animal Rescue Trust, ’n geregistreerde wildbewaringstrust, onderneem woord; en die Painted Dog Project wat ten doel het om die omvang en getalle van Afrika-wildehonde beide in Zimbabwe en elders in Afrika te beskerm en te vergroot, en werk deur die Painted Dog Conservation-organisasie in Dete.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf