Balule is ’n klein kamp in die Kruger Wildtuin. (Foto: verskaf)
’n Skielike bevlieging stuur my na Sanparke se besprekingsblad. Ek gaan soek Balule, ’n kamp na my hart, met net ses rondawels. Is een van die ses dalk nog beskikbaar vir ’n nag of twee vroeg in Augustus 2025? Inderdaad. Daar bespreek ek onmiddellik, en is so opgewonde soos ’n kind met ’n lank begeerde nuwe speelding.
Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 km van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ’n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
’n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank ’n paar dae in die winter saam met Tukkies-vriende van die koshuis Kollege.
Balule, ’n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ’n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy (ongelukkig net Engelse) reklame te beskryf. Balule is ál daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ’n reliek in ’n museum, is boonop ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
’n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank ’n paar dae in die winter saam met Tukkies-vriende van die koshuis Kollege. (Foto: verskaf)
Die ses rondawels staan in ’n kring om ’n grasperk waar reuse essenhoute en worsbome (met ’n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ’n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ’n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Anderkant ’n draadheining is vyftien kampeerplekke, ewe gewild by ’n vaste klandisie, van wie baie al saam met hul ouers in Balule kom kamp het toe enorme ou karavane agter kragtige Amerikaanse Fords, Chevs, Buicks, Pontiacs en Dodges nog die in ding was. Tente was doodgewone kakiekleurige weermageksemplare. Vandag is dit net duur 4x4’s, ryhuise en ontwerperstente oral.
Foto: verskaf
Nêrens in Balule is elektrisiteit nie. In sy hutte sal jy lank soek as jy, soos ’n nuwe generasie, jou mikrogolfoond, ysmasjien of groentestomer wil inprop. ’n Vrou daag laatmiddag om halfses op met ’n tros lanterns in die hand. Jou “en suite” bestaan uit ’n waskom op ’n driepootmetaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ’n outydse “koos”.
Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ’n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ’n Korterige mens moet buk by die deur, wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ’n strook sifdraad direk onder die dak wat só laag is dat jy gemaklik met een hand op die deurknop en die ander op die dekgras kan staan.
Die vrieskaste en stowe in die ruim gemeenskaplike kombuis is aan gasbottels gekoppel. ’n Reuse ketel op ’n gasplaat sorg vir genoeg kookwater vir almal.
........
Ek was nooit ’n tentmens nie, maar begrippe soos “rudimentêr”, “stoer” en “outentiek” vind by my sterk aanklank. Dit herinner aan die “ou Wildtuin” wat ek as kind leer ken en as jong volwassene leer lief kry het: ’n aardse plek – hoe nader aan die aarde hoe beter – en waarlik ’n natuurtuin – hoe nader aan die natuur hoe beter.
........
Ek was nooit ’n tentmens nie, maar begrippe soos rudimentêr, stoer en outentiek vind by my sterk aanklank. Dit herinner aan die “ou Wildtuin” wat ek as kind leer ken en as jong volwassene leer lief kry het: ’n aardse plek – hoe nader aan die aarde hoe beter – en waarlik ’n natuurtuin – hoe nader aan die natuur hoe beter. Dit is immers tog die magnete wat ’n mens keer op keer Wildtuin toe lok, en nie vyfstergeriewe, eksotiese geregte of oorgeorganiseerde programme nie.
Maar kyk, nou praat ons werklik van toeka, lank voor die hoogwaterbrug oor die Sabierivier 50 jaar gelede, in 1972, gebou en die bekende Paul Krugerhek op 21 Maart 1973 geopen is. (Coert Steynberg het sy granietbeeld van die bebaarde ou “vader van die Wildtuin” in 1976 by dié hek staan gemaak.)
Sonsondergang in die Wildtuin (Foto: verskaf)
Vir ons was die poort tot die Wildtuin toe nog die Numbihek, naby Pretoriuskop, met sy naam teen ’n hardekoolstomp en ’n karaktervolle grasdakrondawelkantoortjie, wat jou dadelik laat voel het jy is nou in die Wildtuin, anders as deesdae se lelike Chinese pagodagoeters. Hekwagte met kortbroeke, lang kouse en opslaanhoede het jou met ’n flinke saluut verwelkom.
Op pad na Skukuza is by die “Hippopoel” in Sabierivier stilgehou vir ’n toebroodjie en koffie uit die padkosmandjie – dalk ’n koue frikkadel en gekookte eier. Gewapende wagte het die insittendes van een stowwerige motor na die ander na die rivieroewer vergesel terwyl die seekoeie snork.
Foto: verskaf
Jou rondawel se deur is nooit gesluit nie. Trouens, die bestaan van sleutels was in die Wildtuin onbekend. Die beddens was staaldivans. Beddegoed is afgelewer op tweewieltrollies soos dié wat stasieportiere gebruik het. Dit is al lank vervang met gholfkarretjies, selfs 4x4’s.
Grasperke was asof gemanikuur, en is dwarsdeur die dag met dik strale rivierwater besproei. Welige tuine was ’n lushof, en in elegante, koloniale restaurants het kelners met wit baadjies en wit kepse tradisionele viergangmaaltye bedien.
Van vieruur soggens kon jy lê en luister hoe die personeel die koolstowe begin stook vir warm water vir die toeriste se eerste koppie boeretroos sodra hulle ontwaak. Die reuk van houtvure en antrasiet het in die lug gehang. Dit was voor die tyd van kombuisies in elke rondawel. Gespikkel in die kamp was enkele gemeenskaplike kombuise, soos die ene in Balule. Saans het die kampvuurtjies by haas elke rondawel in ’n gesellige kring geflikker. Nou word oop vure al hoe minder.
........
Vir almal wat smag na die herbelewing van sulke toeka se dinge, kan ek Balule – die oorspronklike Olifantskamp – van harte aanbeveel. Mense wat verlang om gepamperlang te word, bly egter eerder weg!
........
By piekniekplekke soos Tshokwane het hardekoolstompe heeldag gegloei. As jy kole nodig het, kon jy na hartelus met langsteelgrawe kom skep. Roomys op Onder-Sabie se stoep (voordat die dek gebou is) was ’n heerlikheid waarna uitgesien is van die oomblik dat die vakansie aangebreek het.
Vir almal wat smag na die herbelewing van sulke toeka se dinge, kan ek Balule – die oorspronklike Olifantskamp – van harte aanbeveel. Mense wat verlang om gepamperlang te word, bly egter eerder weg!
As jy Balule toe wil mik, en gelukkig genoeg is om plek te kry, moet jy jou in Satara of Olifants gaan aanmeld. Dáár ontvang jy jou beddegoedpapiertjie (ja, werklik, nes in die ou dae!). Met daardie klein dokumentjie in die hand begin jy jou avontuur: ’n sentimentele geestesreis die verlede in. Só kan ook jou Wildtuin-droom bewaarheid word.
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur
Die Chobe: Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep voor dit jou nie meer diep raak nie?