Die Krugerhek van die Wildtuin is die poort tot ’n natuurparadys – ook ’n simboliese poort tot sielerus en ’n volkome breuk met die daaglikse sleur van die “beskawing”.
Bedink die opwinding om by die bedrywige hoofhek van die park deur olifante of renosters verwelkom te word, of dat ’n spannetjie leeus jou vaskeer terwyl hulle ’n troppie rooibokkies bekruip en toeriste se voertuie vernuftig as skanse inspan. Dit gebeur nie elke dag nie, maar dit gebeur wel. Gelukkige toeriste het die foto’s.
Pas op vir die hond. Padbord vlakby die Krugerhek.
Enigeen van die Vyf Grotes – leeu, luiperd, olifant, renoster en buffel – asook die nie-amptelike sesde, wildehond, kan jy net duskant of net anderkant die hek teëkom, ook allerlei konfrontasies en diere-insidente.
As voorbeeld: Kort voor sluitingstyd in ’n skoolvakansie dam voertuie net binne die hek ongekend op. Veldwagters staan oral met gewere gewapen. Toe sien ons die rede: Ses leeus is in die sterk skemer agter ’n troppie rooibokkies aan wat agter die hek wei. Die motors verskaf gerieflike skuiling en word vernuftig as skanse ingespan. Ons kon ongelukkig nie wag om te sien of die jagters welslae behaal nie.
Soos tampans aan ’n hoender: ’n trop van by die duisend buffels steek die rivier oor.
Dat die Krugerhek en die private natuurreservaat Sabiepark se hek as’t ware bure is – net twee kilometer uit mekaar – skep vir ’n Sabieparker die potensiaal van droomervarings as ’t ware op sy drumpel. En Sabiepark is die plek waarheen ek al ’n kwarteeu lank vir die Kaapse winter vlug. Deur daardie hek is ek al honderde kere. En elke keer hou ek die kamera byderhand.
My selfoon lui een oggend terwyl ek kaalvoet op my stoep koffie drink. ’n Vriend op pad Hazyview toe, via die Wildtuin, rapporteer agt leeus op die teerpad, net ’n kilometer binne die hek. Nege minute later klik my Canon … en klik … en klik.
Elke voertuig word besnuffel.
’n Uur lank behoort die pad daardie oggend aan Koning Leeu se manskappe. Elke motor word besnuffel en besnuif.
Skoert polisiekar!
’n Verkeersvoertuig wat dwars geparkeer staan, word intensief geïnspekteer! Die leeus val uiteindelik in die pad hek toe met ’n konvooi voertuie agterna. Net voor die hek kom ’n motor darem te naby. Die groot katte swaai veld-in, buite sig.
Hek toe!
Om só gou op die toneel te wees, is natuurlik ’n uitsonderlike bonus van die voorreg om ’n Sabieparker te wees. Waar anders kan jy, nadat jy op jou eie stoep nog gou eers jou skoene aangeslof het, binne 10 minute in die Krugerwildtuin stilhou, tussen die olifante, langs die leeus, onder die boom waarin die luiperd skuil? Op geen ander plek op aarde aan my bekend is dié voorreg ’n doodgewone mens beskore nie.
As jy wakker en gelukkig is, kan jou Wildtuinervaring begin selfs voordat jy die Kruger binnery. Dit is raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik.
Een baba in mamma se bek, twee tou agter haar aan.
Allerlei verrassings is moontlik. ’n Klompie olifante plas in die water. ’n Trop van by die duisend buffels steek lui-lui die rivier oor. ’n Streep drawwende wildehonde keer jou voor (daar is selfs ’n waarskuwende padteken!). ’n Leeumamma slof aan met ’n welpie in die bek. ’n Luiperd is gewikkel in ’n rumoerigheid met bobbejane – ’n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het. Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.
Konfrontasie by die Krugerhek.
Skaars twee kilometer van die huis gewaar ons die luiperd op ’n rots in die Sabierivier, skuins voor die Hotel Kruger Gate. Dis ’n fris mannetjie. Dié is in ’n soort sielkundige oorlog gewikkel met ’n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die sekelsterte met ’n spoed. Staan hy stil, skuif die ou lot arrogant nader met die hoofman oor 100 handeviervoet op die voorpunt.
Pas op sekelestert, hier kom ek!
Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend. Die luiperd vererg hom en gee ’n elegante sprong in die bobbejaan se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal los voor.
Die granietbeeld van president Paul Kruger bied ’n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die voortvlugtiges naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ’n mens ’n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeeld van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe en verdwyn onder die brug. Toe moes ons aanstoot.
Olifante kom gereeld hierlangs voor. Die rivier by die bedrywige Krugerhek is, ondanks sy nimmereindigende kom en gaan van toeriste, taxi’s, busse en swaar vragmotors, ’n uithangplek waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak. Hier het besoekers al hope olifante afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare gesprek met, die forse granietfiguur.
’n Wilde welkom in die wildtuin
Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: Welcome to the Kruger National Park. Twee ander kere weer verdwaalde renosters aan Oom Paul se voete.
Die gras is soeter aan Oom Paul se voete.
Party haastige mense jaag blindelings oor die brug. Hulle besef nie wat hulle alles kan miskyk nie. By die hek se ontvangstoonbank herken ek een middag ’n jong man se melodieuse Franse aksent. Hy en sy vroulike metgesel kom van Parys. Hulle is pas haastig by ’n witrenoster op die gras voor die beeld verby. Ek groet en verduidelik: “In dié wêreld moet jy stadig ry en deeglik rondkyk, vriend.”
Ek vertel hom van die renoster waarby hulle, woeps, verby is. Hy betuig innige dank oor die vriendelike advies – “Thank you, thank you” – maar: “We have already seen a rhino in Hluhluwe.” Jy kon hierdie Suid-Afrikaner met ’n tarentaaldonsie omtik oor daardie nonchalante respons.
Nonchalantheid van ’n ander aard kom jy ook teë. In my verbeelding sien ek een oggend ’n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ’n gepantserde Dawidvoertuig spring om ’n Palestynse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem. In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ’n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag.
Die voertuig is ook nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ’n donkergroen Toyota wat as ’n safarivoertuig dien met ’n wildtuinerige embleem op die kajuit se deure. Die “vesting” is ’n groot olifant – donker en dreigend in die sterk skemer skuins ná 06:00. Ek sit in my 20 jaar oue Honda en wag. My vrou, Tokkie, staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.
“Elephant,” kreet ’n swartkop in ’n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ’n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.
Dis of haar maters ’n opdrag van ’n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in. Flits, flits, flits.
Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm, is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik. Die volgende oomblik raak hy inderdaad kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore. Jy sien net meisiekinders retireer. Ek klou net die stuurwiel al hoe stewiger vas.
Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir die olifant genoeg van ’n ego-stimulant vir die dag. Hy storm nie regtig nie. Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota. Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar doodonskuldige man amper betrek is.
Nie onverwags nie, wag ellelange toue motors soms in vakansies en op langnaweke om by die hek in te kom. Veral op Kersdag, Nuwejaarsdag en spesiale vakansiedae stroom al hoe meer dagbesoekers na die Wildtuin, en raak toegang weens die streng beheer oor die getalle (en hul drinkgoed) soms moeilik. Die beste raad is om vroeg te roer of te bespreek. Laasgenoemde kos jou ekstra.
Goeie kontrole is egter te verwelkom. Ek het al gesien hoe twee opportuniste met die Ster van Dawid op hul lapelle ’n jaggeweer verby die hekwagte probeer insmokkel (stropers?). ’n Wakker Sjangaanse vrou het haar, tot haar eer, nie om die bos laat lei nie. Sy het koppig volgehou sy “wil sien”. Die twee moes onwillig die geweer te voorskyn bring. Deesdae word drank partymaal met dieselfde ywer uitgesnuffel as daardie dame daardie skietding. Vir sommige dagbesoekers laat dit knor as hulle hul voggies kwyt is.
Snelstrikke is veral smiddae nie ongewoon tussen Skukuza en die Krugerhek nie. ’n Fris boete is nie die lekkerste manier om ’n Wildtuinvakansie mee af te sluit nie. Hou dus maar die horlosie fyn dop.
Daardie strik is in die jare ’90 meesal deur wyle Cas van der Walt van die Parkeraad (nou SANParke) beman. Een middag hoor hy takke kraak. Hy verstyf, maar dit is nie ’n roofdier wat hom bekruip nie. ’n Vrou met hare wat in toutjies hang en krapmerke op haar kaal arms en bene, beur haar pad deur die sekelbosse oop. Dit blyk sy en haar man het ’n verskilletjie gehad. Dit was naderhand só hewig dat hy haar uit die motor smyt. Sy was briesender as ’n leeu, het Cas vertel.
Elke af en toe word ’n nuwe toegangspermit by die hekke in gebruik geneem. Op een nuwe vorm is drie kolomme: een vir die getal volwassenes, een vir hoeveel kinders en een vir OSV’s. Ons vra ’n vriendelike hekwag waarvoor die OSV’s staan. Aanvanklik is hy ook uit die veld geslaan. Toe helder sy gesig op: “Perhaps it is for the unborn babies.” Ten minste ’n kreatiewe uitleg!
Tokkie, altyd prakties, wonder dadelik hoe swangerskappe van korte duur bepaal sou word: sonars vir elke vroulike besoeker? Later laat ’n ingeligte hekwag vir ons die lig opgaan: OSV staan vir “open safari vehicle” of oop safarivoertuig vir toeriste. Nou-ja.