Kom ons gaan "wiltyn" toe!

  • 0

In Februarie 2003 kom die uitnodiging van ons baie goeie vriende in Pretoria: Kom ons vier gaan vir ’n week wildtuin toe. Al wat ons moet doen, is om uit die Kaap te vlieg. Hulle sal ons by die lughawe kom haal, die verblyf is bespreek en hulle sal die maaltydbeplanning vir saans se braai en ontbyt doen. Wie kan nou “nee” sê vir só ’n gul aanbod van ’n vriend en sy vriendin?

Met die eerste paar deurmekaardae van die skoolvakansie agter ons, pak ons een vroegoggend sy koningsblou dubbelkajuit-Ford-bakkie. Daar is ’n klein kar-yskas, ons het genoeg vakuumverpakte biefstuk, wors en tjoppies om saans te braai. Die ander vars goed koop ons in elke kamp waar ons slaap.

As jy ’n luiperd in ’n boom sien, bloot omdat ander voertuie reg onder die boom gestop het en almal se kameralense boontoe wys, is jy baie gelukkig.

Sy pa was ’n voëlboekskrywer en wêreldbekend vir sy voëlkennis. Natuurlik het dit beteken dat ons arme vriend van kleins af soggens 05:00 sy stewels en warm baadjie moes aantrek om saam met sy pa na een of ander piepklein verelyfie te gaan soek. Dit het hy geduld tot sy tienerjare, maar daarna net viervoet vasgesteek en sy pa aan sy eie heil oorgelaat.

Die wonder van die voëllewe in die park is enige voëlkyker se droom.

Ons hoor toe sommer met die intrapslag toe ons ons verkykers en voëlboeke uithaal, dat hy nie van voëlkyk hou nie en ook nie “aanmekaar gaan stop om te kyk watter swart spikkel teen die lug draai nie”. Goed so, maar ons drie hou van voëls en hy stop darem elke keer (bra onwillig) as ons mooi vra.

Die snaakse ding is dat hy letterlik elke swart spikkel teen die blou hemel kan identifiseer sonder ’n boek of verkyker en lank voor ons die bladsynommers opgesoek het, het hy dit in die kol.

Tyd gaan staan stil as jy so in die oë van ’n hiëna kyk.

Hoe dit ook al sy, die kuier is salig. Vier jong mense, almal aan die begin van hul loopbane, kinderloos en avontuurlustig.

Dis so lekker as jy by die eerste hek inry en weet die wildtuin lê nou verwelkomend voor jou.

Die optimisme vir die lewe en ons land is hoog.

Gou bepaal ons dat ons vriendin se gunstelingvoëltjie die grysvalkie is en met ons langer kameralens neem ons verskeie vir haar af. Dis die dae voor digitale kameras en elke foto op film is ’n oorweegde kliek. Die opwinding as ons die foto’s ontwikkel het en vir haar kan pos (ja, kan jy glo dit was die dae van ’n betroubare posdiens) wat nog voorlê. Dan kan hulle weer die ervarings herleef.

Ons het allerhande name om voëlspesies te onthou: Die korhaan (Cori bustard in ons Engelse voëlboek) word gou die “Curry bastard”; die saalbekooievaar (Saddlebild stork) is gou “ou Saddlebags” en so meer.

Danksy twee baie goeie kameras, die Canon EOS R8 met drie verskillende lense en die handpalmgrootte Canon Zoom, sukkel ons nie met greinerige selfoonfoto’s van voëls of diere nie.

Die geelneushoringvoël (wat ons natuurlik die “vlieënde piesang” en sy neef met die rooibek, die “vlieënde mango”, noem) is die moeilikste om af te neem, omdat hulle nie lank genoeg stilsit nie en ook sy rug op jou draai sodra hy land. Die troupant is my gunsteling, die Bateleur my geliefde s’n en natuurlik brom ons vriend iets van “as jy al soveel voëls soos ek moes kyk, is jy oor die hele gunsteling-een-ding”.

Die geelneushoringvoël (wat ons natuurlik die “vlieënde piesang” en sy neef met die rooibek, die “vlieënde mango”, noem) is die moeilikste om af te neem, omdat hulle nie lank genoeg stilsit nie en ook sy rug op jou draai sodra hy land. Hier was ons vinnig – en gelukkig.

Maar heimlik weet ons dat hy tog die ritte geniet en dit sekerlik sy ego goeddoen dat hy elke keer in die kol is!

Ons sit in verwondering as ’n koedoebul ophou kou en mooi “poseer” vir ’n foto.

Ons lag vir die bontebok wat so hangkop loop, dit lyk asof hy depressief is. Ons sit in verwondering as ’n koedoebul ophou kou en mooi “poseer” vir ’n foto.

Ons stop vir ’n olifant wat in ’n klein riviertjie bad. Die ruite is af en die bakkie afgeskakel. Die koel winterluggie spoel deur die kajuit. Terwyl die ander foto’s neem en deur die verkyker kyk hoe die olifant modder oor sy rug gooi, sukkel my vriendin om ’n boksie Astros oop te maak. Uit frustrasie skeur sy dit oop en dit reën veelkleurige bolletjies oor die sitplek en by die venster uit.

Toe ons omswaai om by die anderkantse ruit uit te kyk oor waar die lekkergoed geval het, gewaar ons ’n reuse-bromvoël reg langs die voertuig. Die pikswart lyf en rooi kop en keel laat geen twyfel oor watter spesie dit is nie. Die voël druk sy bek horisontaal teen die teer en eet elkeen van die gekleurde soetgoed op. Toe hy klaar is, kyk hy op na ons toe met sulke vraende oë: “Is daar nog, asseblief?”

Ons is in stilte ingeskok. Die soetgoed kan gewis nie goed wees vir die voël nie, maar dit was darem nie aspris nie!

Twintig jaar later is ons twee alleen terug op ’n nostalgietoer.

Net vir die nostalgie gaan neem ons – 20 jaar later – weer die Paul Kruger-hek buite die park af.

Dis Julie 2023. Ons vlieg weer Johannesburg toe uit die Kaap. Ons vriende het baie jare gelede na Australië geëmigreer om vir hul enigste dogter ’n beter lewe te gee. Ons mis hulle baie en gesels graag oor WhatsApp en Zoom.

Danksy die gawe mense by Ford het ons hierdie steenkoolkleurige Ford Everest Next Gen XLT bestuur.

Ons is dié keer weer daar in ’n Ford: Die blinknuwe Ford Everest Next Gen XLT wat ons vir hierdie reis gebruik, is steenkoolkleurig en lekker ruim. Dit kort regtig twee pelle op die middelste ry sitplekke. Maar ons reis is een van nostalgie en terugloop op spore, maar ook om nuwe herinneringe te bou.

Die openingstye van die park se kampe, net vir oulaas, voor jy by die hek uitry

Ons hou by die tradisie van soggens vroeg uitgaan vir wildritte, ontbyt in die motor met koffie en teen laatoggend na die naaste kamp vir ’n geroosterde broodjie en melkskommel soos ons destyds saam met hulle gedoen het. Dan bespied ons die borde by die kampe om te sien waar mense diere gesien het en kies koers soontoe.

Die borde by elke SanParke-kamp waar jy kan gaan kyk wat ander mense daardie dag gesien het.

Jy leer gou dat as daar ’n paar motors bymekaar staan en almal só geparkeer is dat hulle ’n goeie uitsig het, dit gewoonlik die moeite werd is om ook af te trek en te soek. En ook – tot ons vriend se vreugde – gewoonlik nie ’n geveerde is wat mense laat stop nie, maar eerder ’n leeu, karkas, buffeltrop, hiëna of selfs een maal – ’n trop wildehonde.

Wanneer jou kantspieëltjie die beste raam verskaf vir jou foto, kan dit net ’n Ford Everest wees.

Ons Kruger-boek is weer baie handig want dit wys al die grootste diere en al die klein sirkelroetes weg van die teerpad wat jy kan volg. Heelwat hiervan eindig of draai by ’n lekker modderige watergat.

Laatmiddag is dit terug na ons verblyf toe, waar jy aartappelskyfies, neute en gin en tonics geniet, terwyl die son oor die Bosveld ondergaan en die sterre een vir een begin uitkom.

Terwyl die vlamme hoog in die hemele opskiet, maak jy braaibroodjies klaar en draai soetpatats, aartappels of uie in foelie toe en skuif dit in die kole in. Oor ’n glas rooiwyn (die kampe se winkeltjies het ’n lekker verskeidenheid) is dit lang stories gesels.

Dan praat jy oor die luiperd in die boom reg bo jou kop wat jy nie sou sien as jy nie die ander motoriste se lang kameralense gevolg het nie.

Op ons laaste dag moet ons by die naaste kamphek uit om die paar uur terug na Pretoria af te lê. In die laaste paar uur raak jy amper angstig as jy net hier en daar ’n olifant of soveelste trop olifante sien. Oor ’n uur of drie is jy uit by die hek. Dan pieng jou selfoon, die wêreld is klaar op jou gewag. Alle dolheid en spertye is terug.

Beloftes van katte is soms al wat jy in die wildtuin kry, maar dit hou jou op jou tone.

Om ’n leeu te sien of vir oulaas ’n visarend te hoor roep, is altyd die kersie op die koek, maar as die teerpad voor in ’n hek eindig, is dié hoop ook verby.

Tot jou oog ’n beweging in die vaal gras vang en jy “stop! stop! stop!” skree. “Gaan so drie karlengtes terug.” Almal is opgewonde. Wil weet wat jy sien. Is dit dalk ’n kat of wildehond...

Nee, helaas nie. Net ’n omgevalle boomstomp wat dieselfde kleur as ’n leeu het. Ai, die teleurstelling!

En net soos almal terugsak in hul sitplekke, beweeg die stomp en gaap dan. Reuse-slagtande kom in sig. Die mannetjie wat agter lê en slaap het, stap ’n paar tree, snuffel aan die wyfie en gaan lê. Die sonbesies skree, die windjie roer liggies in die lang grasveld en paadjies in die maanhaar se reuse-, goue kuif met sy swart omboorsel soos kant aan ’n kostuum.

Vir ’n paar heilige oomblikke gaan staan tyd stil. Jy neem elke detail in, ruik die lug, sit jou kamera en verkyker neer ná die aanvanklike koorsagtigheid om behoorlik te sien en af te neem.

Dis met traagheid dat ons moet groet. Jy weet dat tonele soos hierdie elke dag hier vir besoekers wag terwyl jy in spitsverkeer, vergaderings en doellose gesprekke vasgevang is.

Ons vier is egter vir die res van ons lewens deur daardie goue maanhaar gebind.

Om sulke nabyskote van vlakvarke te kry, is net danksy die lekker lang lense van ons Canons.

Met ons onlangse besoek is ons met die nuutste Canon EOS R8 met drie verskillende lense toegerus. Ook in die kamerasak is die nuwe handpalmgrootte Canon Zoom, wat beteken dat jy nie met greinerige selfoonfoto’s op Instagram of Facebook hoef te sukkel nie; daar is drie zoom-verstellings: 100 mm, 400 mm en 800 mm.

Ons neem foto’s waar jy elke klein haartjie op die olifant se slurp kan sien; die snorbaarde op ’n ystervark se kennebak kan sien tril en sien hoe die stof ’n bokhoring kan vaal maak. Veelkleurige voëltjies wat piepklein teen die blou lug sit, vul ’n kameralens danksy die sterk kameralense.

Die enigste teken van ’n bromvoël op hierdie reis van ons.

By ’n piekniekplek sien ons ’n plakkaat wat vra dat as jy enige bromvoëls gewaar, jy foto’s en inligting moet aanstuur. Die voëls is nou bedreigd in Suid-Afrika, Swaziland en Namibië. Dis egter die enigste teken van ’n bromvoël op hierdie reis van ons. Maar ons herleef weer die soetgoed-episode van 20 jaar terug.

Die voertuig waarmee ons die wildtuin hierdie keer platgery is, is groter as ons badkamer by die huis en kort net ’n groep vriende.

Ons sit weer by watergate en kyk voëls, sien olifante bad en koedoes ophou kou. Die verlange loop diep.

Só weer breek ons twee se laaste dag 20 jaar later ook aan. Benewens die wete dat ons ’n halfuur van die hek is, die gewone paniek en kom ons wees eerlik – ’n bietjie teleurstelling – is daar nou die wete dat jy nie weet hoe lank voor – en of jy weer – hier gaan kom nie.

Net toe ons ná ’n hele paar uur wil moed opgee dat ons wildkyk nou verby is en die hek baie naby is, draai ons by die kamp in en gaan kyk op die bord om te sien wat mense gesien het. Al die diere wat met klein gekleurde magnete gemerk is, het ons gesien. Geen “opwindende” dinge nie: Baie sebras, impalas, olifante, steenbokkies.

Vir ’n paar heilige oomblikke gaan staan tyd stil as ’n kameelperd nie vir jou voertuig skrik nie en bly staan. Jy neem elke detail in, ruik die lug, sit jou kamera en verkyker neer ná die aanvanklike koorsagtigheid om behoorlik te sien en af te neem.

Ná koffie en ’n geroosterde broodjie by die restaurantjie is ons terug in die motor vir die laaste paar kilometer. Hoopvol.

Is daar ’n mooier sononder as in die Bosveld, veral as jy weet net om die volgende draai is dalk ’n trop leeus, buffels of wilde honde?

Die pad is stil, ons moed maar laag. Dan kom ons oor ’n heuweltjie en sien ’n hiëna wat in die pad staan. Ondervinding het geleer hulle draf weg nog lank voor jy kan nader ry. Hy draf weg en verdwyn teen ’n hoë wal af. Ons ry stadig aan en is verbaas dat hy weer kop uitsteek langs die pad. Die Ford gly stadig en geruisloos vorentoe. Die hiëna bly staan. Toe ons twee meter van hom af die voertuig afsluit, ruik jy hom. Dit lyk of hy nuuskierig in ons rigting ruik. Ek is bang dat hy deur die afgedraaide ruit my arm sal kom byt. My geliefde lag saggies vir dié lawwigheid.

Ons sit daar in die doodse stilte op die teerpad; hy is net af van die teerpad. Ons kyk mekaar in die oë. Die oomblikke staan weer stil. Ons verlang na ons vriende wat hierdie natuurvergunning so skraps voor die hek net so baie soos ons sal geniet. Maar wat nie in ons ervaring in oorgawe kan deel nie.

Want sien, ons vriend en sy 20-jarige dogter kom Desember terug wildtuin toe van Australië. Dit sal haar eerste besoek wees, soos dit ons eerste was in 2003. Pa en dogter kom ons vriendin se as strooi op hul eie nostalgiereis. Sy is drie jaar terug aan kanker oorlede.

En ons reüniereis het nooit gebeur nie. En ’n mens weet ook nie of jy ooit weer hier sal kom nie, want die lewe is net te onvoorspelbaar.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Daar’s ’n hiëna in my truspieël

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Springbokkleure in gevegskuns

Kruis en dwars in Kruisrivier

Groot Vyf nie al wat jou asem hier sal wegslaan nie (Mhondoro Safari Lodge & Villa, Limpopo)

Veel meer as net windpompe in dié kontrei

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top