0% alkohol sal nie dronkbestuur keer

  • 0

Die regering se voornemens om voor die einde van die jaar wetgewing deur te voer waarvolgens motorbestuurders 0% alkohol in hul bloedstroom mag hê, sal nie die probleem van dronkbestuur in die land oplos nie.

So sê die Outomobiel-assosiasie van Suid-Afrika (AA).

Die AA sê in ’n verklaring om verkeerswette oor dronkbestuur te verander is betekenisloos en van weinig nut as die bestaande wette wat alkohol reguleer nie behoorlik geïmplementeer en afgedwing word nie.

Die AA se reaksie volg op die minister van vervoer, Fikile Mbalula, se aankondiging vroeër die week dat Suid-Afrika se verkeerswetgewing hersien gaan word. Die regering wil die toegelate bloedalkoholvlak tot 0% verlaag. Die minister sê die departement het reeds die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Padverkeer by die parlement ingedien en dit sal in Desember van krag word.

Mbalula sê hy betreur verlede naweek se padongelukke weens alkoholmisbruik. Volgens hom was daar die afgelope naweek meer ongelukke te wyte aan alkohol as oor die hele tydperk sedert die begin van die staat van inperking einde Maart. Hy sê die afgelope naweek se syfers is ’n bewys dat die gebruik van alkohol regstreeks verband hou met die sterftesyfer op die land se paaie, en dit is waarom dit nodig is om die land se verkeerswetgewing te hersien.

Volgens die AA sit die minister die pot mis. Die AA sê die probleem van drink en bestuur kan baie meer effektief bekamp word deur die toelaatbare alkoholvlak tot 0,02% te verlaag, soos in sommige ander lande, maar dan toe te sien dat strenger strawwe vir oortreders deur die howe opgelê word. Die AA sê ’n 0%-alkoholbeperking in die bloedstroom sal niks aan mense se gedragspatrone verander nie, omdat daar geen gevolge is vir diegene wat gereeld onder die invloed van drank bestuur nie.

Hoewel Suid-Afrika se huidige toelaatbare alkoholvlak in die bloedstroom van 0,05% in ooreenstemmig is met die algemene wêreldstandaard, vereis die krisis op Suid-Afrikaanse paaie volgens die AA ’n strenger benadering van ’n ander aard.

Foto: Canva.com

Volgens die AA neem die regering se voorneme om die toelaatbare limiet tot 0% te verminder ook nie in ag dat sekere medisyne, soos hoesstroop, alkohol bevat nie. In hierdie gevalle kan motorbestuurders hulself ’n kriminele rekord op die hals haal as hulle een dosis medisyne vir hoes neem terwyl dit geen negatiewe effek op hul bestuursvermoë het nie.

“Die vermindering van die alkoholvlak na nul los nie die probleem van padsterftes op Suid-Afrikaanse paaie op nie, tensy dit gepaard gaan met ’n wetenskaplike diagnose van die probleem en behoorlike statistiese bewyse om dit te staaf,” sê die AA. Volgens die AA moet daar eerder gekonsentreer word op maniere om bestuurders se gedrag te verander. Dit vereis die behoorlike toepassing van bestaande wette en beter opvoeding oor die gevare van dronkbestuur, waarvan daar tans geen sprake is nie.

Die minister se voornemens is ook nie goed deur gewone Suid-Afrikaners ontvang nie. Talle mense het hom op sosiale media in die gees van die huidige #voetsekANC-hutsmerk aangesê om te voertsek. Van hulle sê as dit taxibestuurders was wat die probleem veroorsaak het, sou hy nie ’n vinger verroer het nie.

Mbalula sê padongelukke waarby alkohol en dronkbestuurders betrokke is, kos die land se ekonomie jaarliks in die omgewing van  R18,2 miljard.

Die AA hou vol dat mense wat drink en bestuur, nie hul gewoonte sal verander as daar nie daadwerklike gevolge is nie. Daarom hou sulke mense aan om die kans te waag om gevang te word. “As wetstoepassing op die oomblik geen verskil maak nie, hoe sal dit help om die wet te verander?” vra die AA in hul verklaring.

  • Mbalula sê die regering het geen planne om weer die verkoop van alkohol te verbied nie. Dit het gevolg nadat Suid-Afrikaners weer toegesak het op drankwinkels ná vals berigte dat die verbod op verkope weer ingestel gaan word. Die minister sê ondanks die toename in padongelukke wat met alkohol en roekelose bestuur verband hou, is daar geen rede vir paniekaankope nie.
Lees ook 

Verbod op verkoop van alkohol veroorsaak "korporatiewe bloedbad"

Mediese kenners sê drankverbod moet waai

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top