Naar aanleiding van de tweede herdenking van de sterfdag van Breyten Breytenbach (1939-2024) verschijnt een gelegenheidsbundel met getuigenissen van dichters, vertalers en vorsers. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op het symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (Universiteit Gent, 26-27 november 2026).
Postumiteiten voor Breyten. Door het oog van dichters en vorsers presenteert reacties van Zuid-Afrikaanse en enkele Nederlandstalige dichters op een reeks met vragen.
Daarnaast komen vorsers aan het woord in een tweede deel. Zij spreken over hun specifieke framing van Breytenbachs werk, de accenten die ze leggen in het wetenschappelijk onderzoek. Niet alleen schrijvers en vertalers construeren hùn beelden van Breytenbachs oeuvre, ook onderzoekers dragen bij aan de (academische) beeldvorming. Zij belichten hun persoonlijke leeservaringen en geven te kennen hoe zij een aandeel hebben in de beeldvorming van Breytenbach of dus de literaire postuur, met name de “heterorepresentatie”.
Voor het herinneringsboek reageren Zuid-Afrikaanse Breytenbach-experten op een vragenlijst. Een derde gespreksgenoot in die reeks is de jonge onderzoeker Anke van der Merwe, vorig jaar in Stellenbosch gepromoveerd op een proefschrift over “laatwerk” in de lyriek van Breytenbach. Zij is een van de sprekers op het congres “Inter-Breyten. Breytenbach in context” aan de Universiteit Gent (26-27 november 2026).

Anke van der Merwe (Foto deur Zana’s Lens)
...
Digitale navorsing moenie rekenaars wees wat die navorsing “vanself” uitvoer nie. Menslike kennis is steeds van waarde en moet benut word.
...
YT: Kun je in kort bestek een overzicht geven van het zelf ondernomen wetenschappelijk werk over facetten van Breytenbachs oeuvre? Welke framing – een benadering van literatuurwetenschappelijke, vertaalwetenschappelijke, kunstwetenschappelijke, cultuurhistorische, politiek-ideologische of biografische aard – kreeg daarbij de voorrang?
AVDM: Breytenbach het die kern gevorm van my doktorale studie vanaf 2021 tot 2024. Ek het sy volle Afrikaanse poëtiese oeuvre ondersoek deur middel van korpuslinguistiek teen die agtergrond van die teoretiese raamwerk van laatwerk. In die studie is Breytenbach se Afrikaanse poësie ontleed binne vier tydperke (vroeë poësie, tronkpoësie, nátronkpoësie en latere poësie) en drie parameters (styl, identiteit en tema) om te bepaal of die laatwerkteorie van toepassing is, en indien wel, watter soort. “Laatwerk” is ’n term wat afgelei is uit Theodor W. Adorno se Duitse woord vir werke in “Spätstil”, en is die werk wat kunstenaars voortbring digby die einde van hulle lewens, en gaan gepaard met intense “intimations of mortality”, soos dié van Wolfgang Amadeus Mozart (1756–1791) in sy dertigerjare (Said, 2006: xiii). My hipotese was dat daar ’n verskuiwing is in die rigting van laatwerk in die Afrikaanse poësie van Breyten Breytenbach en dat hierdie verskuiwing ten opsigte van styl, tematiek en identiteit gereflekteer word.
Onder die stylparameter is die volgende verskynsels ondersoek:
- Onkonvensionele skryfwyse
- Nuwe/sy eie samestellings & nuutskeppings
- Vervorming
- Kodewisseling
- Woordspel
- Hakies
- Interpunksie
- Gediglengte
- Strofebou
By die identiteitparameter is die volgende verskynsels ondersoek:
- Breytenbach se ouderdom wanneer hy gedigte skep
- Verwysing na Breytenbach se ouderdom
- Biografiese detail
- Name vir homself
- Voornaamwoorde en eiename
- Persoonlike simbole
- Verheffing van soortname tot eiename
Onder die temaparameter is temas uit die voorafstudie, bestaande literatuur en funksies van #LancsBox (sleutelwoordelyste en n-gramme) verkry en ondersoek. Die frekwensie van die temas uit die voorafstudie word op die frekwensielys verkry. Die frekwensie van die temas uit die sleutelwoordelys word ook op die frekwensielys gesoek. N-gramme word aan die hand van trigramme ondersoek, aangesien die parameter na drie opeenvolgende woorde gestel sal word. ’n Toptienlys (van die hoogste frekwensie) van trigramme uit elke tydperk word geskep. Die temas van hierdie woorde en die emosies wat daaruit oorgedra word, kan aandui of laatwerk aanwesig is en indien wel, watter soort laatwerk dit is.
Die navorsing bestaan dus uit ’n groot hoeveelheid data. Die drie parameters is gekies om alsomvattend te wees, hoe moeilik dit ook al sy. Alles wat Breytenbach gedoen het en die identiteite wat hy deur die jare aangeneem het, is moeilik om op een plek vas te vang. Hierdie navorsing vang egter ’n groot gedeelte van hom as mens en sy werk vas.
YT: Zijn er onderzoeksbevindingen die je, het onderzoek overschouwend, onder de aandacht kunt brengen? Of anders gezegd: op grond van welke overwegingen kan Breytenbach een schrijver en beeldend kunstenaar van internationale allure worden genoemd?
AVDM: Binne die stylparameter is die grootste bevinding dié dat die tronkpoësie duidelik van die ander tydperke se poësie verskil. Ek vermoed die skade van die tronk op Breytenbach se kreatiewe gees manifesteer in die verskille wat ten opsigte van styl aan die lig kom. Op grond van die vormlike eksperimentering en hoë frekwensie van onkonvensionele skryfwyses wat gevind is, is dit moontlik om die styl van die tronkpoësie as ruwer, robuuster en waaghalsiger as dié van die ander tydperke te beskryf.
In die ondersoek is ook gevind dat die nátronkpoësie en latere poësie die meeste ooreenkomste toon. Die gewigtigheid van hierdie ooreenkoms lê daarin dat dit waarskynlik op verskuiwings in die latere oeuvre dui. ’n Soort vryheid openbaar sigself in die laaste twee tydperke wat in kontras teenoor die tronktydperk staan en wat moontlik ’n bydrae tot die ooreenkomste tussen dié twee tydperke lewer.
In die identiteitparameter word die belangrikheid van Afrika in Breytenbach se oeuvre bevestig. Uit die ondersoek van plekname kom Afrika in totaal 123 keer voor. Daar is ’n verskil in hoe Breytenbach met dié vasteland omgaan. In die vroeë poësie het hy ’n intense identifikasie met Afrika, maar tydens die tronkpoësie koester hy ’n vervreemde blik op die vasteland. Viljoen (2014: 70) wys ook op ’n kontras tussen die tronkpoësie en vroeë poësie met betrekking tot hoe Breytenbach oor Afrika skryf, aangesien hy tydens hierdie tweede tydperk met minder konkreetheid daaroor skryf. Volgens Viljoen (2014: 70) is Breytenbach onseker of die buitewêreld nog bestaan en die uitwerking van die tronk tree sterk na vore. Dit is heel moontlik meegebring deur omstandighede in die tronk en net soos in die stilistiese ondersoek is dit duidelik dat die tronk ’n sterk invloed op Breytenbach se poësie het.
In die nátronkpoësie duik ’n identifikasie met Afrika weer op, soos in die eerste tydperk. Breytenbach se poësie wat hy “in hierdie fase van sy digterskap publiseer, gee dus erkenning aan ’n veelkantige ervaring van Afrika” en “dit is ’n kontinent waarmee hy nog steeds op oorrompelende wyse identifiseer, maar sy ervarings raak steeds meer divers en verwikkeld” (Viljoen, 2014: 75). Die frekwensie van Afrika styg weer in die nátronkpoësie (27) en latere poësie (39) – asof Breytenbach terugkeer na die eerste tydperk in sy oeuvre. Breytenbach het volgens Viljoen (2014: 59) Afrika in die loop van sy oeuvre as ’n verwysingspunt vir sy identiteit geskep, en hierdie studie bevestig sodanige gedagtes in die literatuur, deurdat Afrika as pleknaam in elke
tydperk voorkom.
Afrika as vasteland is van kardinale belang in die Breytenbach-oeuvre, maar wat ook ’n belangrike verskynsel van hom as mens is, is die gebruik van sy naam in sy werk. Die outobiografiese eienaam is onder andere ondersoek, aangesien die gebruik daarvan reeds in 1964 met Breytenbach se debuut aandag getrek het (Viljoen, 2014: 6). Die verwagting was dus dat Breyten Breytenbach ’n hoë frekwensie in die oeuvre sou oplewer maar dit is nie die geval nie, soos aangedui in tabel 1.
Tabel 1: Frekwensie van die outobiografiese naam in al vier tydperke
|
Outobiografiese naam |
Frekwensie in vroeë poësie |
|
Breyten |
3 |
|
Breyten Breytenbach |
7 |
|
|
Frekwensie in tronkpoësie |
|
Breyten |
2 |
|
Breyten Breytenbach |
3 |
|
|
Frekwensie in nátronkpoësie |
|
Breyten |
0 |
|
Breyten Breytenbach |
0 |
|
|
Frekwensie in latere poësie |
|
Breyten |
10 |
|
Breyten Breytenbach |
4 |
Breyten kom altesaam 15 keer in die oeuvre voor, en Breyten Breytenbach 14 keer. Dit staan in sterk kontras met Afrika wat 123 keer in die volle oeuvre voorkom.
Breytenbach is op ’n stadium in die vroeë tydperk van “ekkerigheid” beskuldig, maar Brink (1971) argumenteer dat dit nie die geval is nie, aangesien Breytenbach oor ’n verskeidenheid temas skryf en daar nie ’n selfbeheptheid in sy poësie is nie. Breytenbach se identiteit is ’n kernaspek van sy oeuvre en die voornaamwoord ek kom altesaam 4428 keer in sy poësie voor. Viljoen (2014: 19) noem in hierdie verband dat ek ’n voornaamwoord is wat van uiterste belang in die Breytenbach-korpus is. Korpuslinguistiek het dit moontlik gemaak om die presiese getal wat ek voorkom vas te stel.
Daar is by die temaparameter onder andere temas ondersoek wat vooraf saamgestel is deur wat as belangrik beskou word in reeds bestaande literatuur. Figuur 2 dui die hoeveelheid keer wat die temas voorkom in die oeuvre aan.

Figuur 2: ’n Vergelyking van elke tema se frekwensie in die vier subkorpusse (klik op die figuur om te vergroot)
Met betrekking tot die ondersoek na temas wat uit vorige studies gevind is, is daar ’n duidelike tendens: uit die geïdentifiseerde 12 temas in Figuur 2, toon 8 van hierdie temas die hoogste frekwensie in die latere poësie. Hierdie hoë frekwensies bevestig die Breytenbach-motiewe wat in die literatuur gesuggereer word, maar bevestig ook die voorkoms van laatwerk, aangesien temas soos dood, tyd (asook verjaardag wat met tydsverloop verband hou) as tipiese laatwerktemas beskou kan word. Die tema met die hoogste frekwensie in die latere poësie (D) is dood (266), met die tweede hoogste frekwensie daarvan in die vroeë poësie (A) (233), wat as bevestiging dien van Tait en Van Vuuren (2017) se stelling dat Breytenbach reeds van vroeg af oor tipiese laatwerktemas skryf. Hierteenoor toon die tronkpoësie (B) (194) en nátronkpoësie (C) (122) albei ’n laer frekwensie van dood, wat die argument van ’n “herlewing” in die nátronkpoësie (C) ondersteun.
Nog ’n tema wat dikwels met Breytenbach geassosieer word, is pampoen. Tait en Van Vuuren (2017: 153) sê dat die verjaardagprosavers uit 1964, “fascistiese pampoen”, die “sentrale beeld van die pampoen in Breytenbach se oeuvre inbring” en dit as simbool van kardinale belang in sy oeuvre vestig. Die pampoen het aanvanklik positiewe assosiasies met Breytenbach se gelukkige jeug met vriende en familie, maar later verkry die pampoen meer negatiewe konnotasies as vrug uit die “fascistiese” apartheidsland (1948-1994) (Tait & Van Vuuren, 2017: 154).
Die tema pampoen kom egter nie so dikwels voor as wat ek verwag het die geval gaan wees nie, met die onderskeie frekwensies 15 (A), 1 (B), 3 (C) en 39 (D). Hierdie data suggereer dat pampoen in die vroeë poësie bekend gestel word, maar dat dit eers in die latere poësie sterk gevestig word. Pampoen kom dus in totaal slegs 58 keer voor in die poëtiese oeuvre. Daar kan egter wel met sekerheid gesê word dat die verskille in frekwensie van dié tema ’n ontwikkeling in spesifiek die latere tydperk van die oeuvre aandui.
“Laatwerk is die werk wat kunstenaars digby die einde van hul lewens” voortbring en wat met intense “intimations of mortality” gepaard gaan (Van Vuuren, 2011: 463). Volgens Said (2006) is daar twee soorte laatwerk. Die “eerste soort laatwerk is volwasse en sereen en vorm die hoogtepunt van ’n lewe se estetiese uitsette” (Van Vuuren, 2011: 464). Vir Said (2006: 6) vertoon dit op tematiese vlak ’n spesiale volwassenheid, tesame met ’n nuwe gees van versoening en kalmte. Die tweede soort laatwerk wat Said (2006: 7) postuleer, bevat “a nonharmonious, nonserene tension, and [...] a sort of deliberately unproductive productiveness going against [...]”.
Van Vuuren stel egter ’n derde soort laatwerk voor waarin sy die Opperman-oeuvre plaas. “[Komas uit ’n bamboesstok] is nie sereen en vervul met gelate aanvaarding van die ouderdom wat ’n mens in die Eybers-oeuvre kry nie (die eerste tipe laatwerk)” en “is ook nie soos die werk van Antjie Krog en Breytenbach, wat wars van harmonie is, kwaad, opstandig dat hul moet doodgaan nie (die tweede tipe laatwerk)” (Van Vuuren, 2014: 695). “Dit adem vreugde en opgewondenheid oor die lewe, nuwe lewenslus, soos van ’n pasgeborene (dié Lazarus wat uit die dood opgestaan het).” (Van Vuuren, 2014: 695)
Lourens (2017: 80) postuleer ’n vierde soort laatwerk wat deur vryheid en transformasie gekenmerk word – “Eerder as om vasgevang te bly in die ballingskap van laatwees, is daar… ’n nuwe samehang wat as vryheid manifesteer” – en haal Sadoff aan wat oor die digter Czesław Miłosz se laatwerk skryf: “[R]ather than ending up exiled, as Said suggests of poets the late style leaves unreconciled, Miłosz comes down from the mountain of wisdom, and grows ‘smaller… more free’.” Volgens Lourens (2017: 80) skep hierdie uiteensetting deur Sadoff, “saam met die teoretisering deur Said, Clark en Van Vuuren… die moontlikheid om ’n raamwerk te formuleer waarvolgens daar tussen vier ‘soorte’ laatwerk onderskei kan word, naamlik, dié wat deur onderskeidelik die volgende eienskappe gekenmerk word”:
- Sereniteit, aanvaarding en transfigurasie
- Fragmentasie, ballingskap en onvoldoende samehang
- Herrysenis (anabasis volg op katabasis)
- Medemenslikheid, samehang, vryheid, transformasie en oorskryding
(Lourens, 2017: 80)
Die gevolgtrekkings wat in elkeen van die drie parameters gemaak is, bevestig die hipotese van hierdie studie. Tekens van laatwerk is in elke parameter opgelet, met die vierde soort laatwerk wat in elke parameter voorkom.
Uit die studie is ’n verdere vergestalting van laatwerk deur my voorgestel wat weens traumatiese gebeure te voorskyn kom. Hierdie gebeure versnel die proses van tekens van laatwerk wat in die digter se werk manifesteer. Tait en Van Vuuren (2017: 150) is van mening dat “Breytenbach se poëtiese korpus van gedaante verander saam met die veranderende digterlike fokus, biografiese omstandighede en gemoedstoestande” en hulle mening word in die ondersoek bevestig. Hierdie gedaanteverandering en “veranderende digterlike fokus” vind aansluiting by Lourens (2017: 77) se aanspraak daarop dat laatwerk “ook op tegniese vlak vergestalt word as byvoorbeeld vormlike eksperimentering, alhoewel ’n tematiese omgaan met aftakeling, siekte en dood direkte aanduiders van laatwerk is”.
Wanneer die voorkoms van trauma in hierdie ondersoek onder die loep geneem word, is die navorsing van Laub en Lee in 2003 van belang. Sigmund Freud se konsep doodsinstink (death instinct) is in sy latere poësie bekend gestel en beskryf ’n onbewuste dryfkrag na vernietiging, selfbesering en ’n terugkeer na ’n toestand van niebestaan (Laub & Lee, 2003: 435). Freud wou vasstel waarom mense traumatiese ervaringe wéér wou beleef (Laub & Lee, 2003: 435). Hierdie konsep van herhaalde ervaring kan met laatwerk geskakel word, in die sin daarvan dat kunstenaars neig om terug te kyk na sowel hulle voorheen geproduseerde werk as vergange lewenservaringe. Breytenbach kyk dus terug na die traumatiese ervaring wat hy tydens gevangenskap beleef het en herleef dit in sy skryfwerk. Dit manifesteer nie altyd letterlik in die tronk wat in sy skryfwerk aangesny word nie, maar ook in sy smagting na vryheid soos ooglopend in die latere stadiums van sy oeuvre. Die soeke na vryheid is wat hy in die traumatiese tronkjare ervaar het en op ander maniere in sy latere poësie vergestalt. Hiervoor dien die terugkeer na stylelemente in die vroeë poësie, asook herhaalde gebruik van temas as bewys. Laub en Lee (2003: 440) argumenteer dat trauma hierdie death instinct aktiveer en dié argument sluit aan by die studie se bevindinge dat laatwerk vroeg reeds in die oeuvre opgelet word. Al skryf Breytenbach in sy vroeë poësie reeds oor tipiese laatwerktemas, tree daar met verloop van tyd ’n verandering in in die manier waarop hy hierdie temas ná die tronktydperk gebruik. Die sogenaamde death instinct word dus geaktiveer.
YT: Zijn er in het ruime studiegebied aspecten die tot op heden relatief weinig aandacht kregen? Zie je krachtlijnen in de benaderingen van Zuid-Afrikaanse en buitenlandse onderzoekers, in zekere mate bepaald door onderzoekparadigma’s die in het onderzoek in de loop van de tijd verschuiven of wisselen? Waarop kan het onderzoek zich nu, na het overlijden van Breytenbach, méér toeleggen?
Er worden de komende jaren veel wetenschappelijke en essayistische publicaties, wellicht ook promotieonderzoek, toegevoegd aan een inmiddels indrukwekkend corpus van beschouwende teksten (zie de bibliografieën in de huldigingsbundel voor Breytenbach Woordenaar woordnar, 2019). Zijn er richtingen die het onderzoek bij voorkeur uitgaat, al dan niet leunend op of in kritische dialoog met bestaande studies?
AVDM: Dit is moeilik om die pad wat navorsers volg te voorspel sonder om te veralgemeen. Tendense bestaan, ja, maar dis uitdagend om toekomstige tendense te voorspel. Die maklike antwoord is dalk die groei van digitale navorsing binne geesteswetenskappe. Digitale gereedskap is besig om uit te brei en navorsers kan met meer gemoedsrus staatmaak op hierdie beskikbare gereedskap. Navorsers word nie meer beperk met sagteware wat nog nie 100% reg is nie. Daar is ’n verskeidenheid programme en elke program werk nie vir almal of hul doeleindes nie. Binne my veld van korpuslinguistiek moes ek ook ’n keuse maak tussen watter korpusprogram om te gebruik, met verskillende programme wat verskillende funksies rig. Wat ook vernuwend was, was die ondersoek van letterkunde op ’n kwantitatiewe wyse, maar steeds met die “menslike aspek” byderhand. Gereedskap bly gereedskap wat (korrek) gebruik moet word. Digitale navorsing moenie rekenaars wees wat die navorsing “vanself” uitvoer nie. Menslike kennis is steeds van waarde en moet benut word. Hoe navorsers die balans vind tussen wat moontlik is met masjiene en hul eie kennis, dink ek gaan al hoe belangriker word. Die navorser is onvervangbaar.
Met betrekking tot Breytenbach is daar in my navorsing gewys dat dit moontlik is om op ’n groot skaal na sy werk te kyk. Die stiplees van gedigte sal altyd onmisbaar wees, maar daar is nou ander, meer effektiewe maniere om die groter prentjie te sien en ondersoek. Alhoewel daar al reeds baie navorsing oor Breytenbach se werk gedoen is, is daar altyd ruimte vir nuwe perspektiewe en gesprekke. Digitale gereedskap bied ook meer geleenthede om hierdie gesprekke te hê, aangesien ander aspekte van sy werk nou ondersoek kan word wat nie voorheen moontlik was nie.
YT: Wanneer het onderzoekdomein omtrent het literaire en artistieke werk wordt overschouwd, welke inzichten hebben jou als onderzoeker zelf veel bijgebracht en/of hebben de studie een bepaalde richting uitgestuurd?
AVDM: Partykeer is dit uitdagend om die kunstenaar van die kuns te skei. Partykeer is dit nodig dat hulle nie geskei word nie. Met Breytenbach se kuns kry ek altyd die gevoel van egtheid. Hy was natuurlik in verskillende stadiums van sy lewe met die produsering van sy werk, maar nooit het dit geforseerd gevoel nie. Hy as mens is altyd te vinde. Ek dink nie ons interpreteer altyd sy werk soos wat hy dit bedoel het nie, maar dit maak dit nie minder hý nie. Ek het baie respek vir hom in daardie opsig. Met sy beroemdheid het hy nie weggeskram van sy waarheid wat hy geken het nie. Om ’n suksesvolle ouevre te hê wat oor so ’n lang tydperk strek is werklik merkwaardig en verdien om gevier te word. Die ondersoek van sy persoonlike simbole was dus vir my baie interessant. Ferreira (1982: 14) wys op hoe sekere skrywers binne die konteks van hulle persoonlike styl ook persoonlike simbole ontwikkel. Derhalwe het Breytenbach die pampoen in ’n persoonlike simbool verander. Nog simbole is die digter se geboortedatum as sentrale merker van sy verjaardagverse (dikwels gebruik as titel, of as datum in of onder dié verse); die digter as hond; sy outobiografiese spel met sy eienaam en/of voorletters; die maan; en variasies op die begrip om te kan vlieg (soos voël, fool en vere) (Tait & Van Vuuren, 2017: 156). Hy het hierdie simbole benut in sy werk, maar op sinvolle maniere.
YT: Breytenbachs werk is omvangrijk en uitermate veelgelaagd. Het is onmogelijk vanuit een specifiek literatuur- of kunstwetenschappelijk standpunt de (inter- en intratekstuele of intermediale) veelzijdigheid te benaderen. Zijn er invalshoeken – probleemstellingen en onderzoeksvragen – die je voor een eigen voortgezette studie overweegt?
AVDM: In hierdie studie is van sowel kwalitatiewe as kwantitatiewe metodes gebruik gemaak om mekaar aan te vul waar nodig. Die waarde van korpuslinguistiek is geïllustreer, met dié dat data maklik verkry is wat nie op ’n alleenlik kwalitatiewe metode bekom sou word nie. Een van die kenmerke van die korpusprogram (#LancsBox) is uitgewys, naamlik dat die program nie sonder die nodige verstelling afleidings en samestellings van ’n gesoekte term optel nie. So byvoorbeeld sal ’n soektog na Suid-Afrika nie Suid-Afrikaans insluit nie, en vice versa; maar ’n soektog na Suid-afrika sal wel Suid-Afrika oplewer. Dieselfde scenario kom by samestellings voor, sodat herfspampoen byvoorbeeld nie sal verskyn indien pampoen gesoek word nie. Die soekfunksie verskil dus van dié van Word waar ’n soekterm wat tussen asteriske geplaas word, ook ander vorme van die woord sal oplewer. Dit is egter nie in die ondersoek gebruik nie, maar toekomstige navorsing kan wel hierdie metode benut. Daar sal altyd nog iets wees om na te vors binne sy oeuvre en ek sal graag nog gereedskap in die navorsing wil benut.
Die metodologie wat ek opgestel en gebruik het, kan ook van toepassing wees op ander skrywers. Poëtiese oeuvres wat strek oor ’n lang tydperk, soos onder andere dié van Johann De Lange (1959-2025), Wilma Stockenström (1933) en Antjie Krog (1952) kan ondersoek word deur van die korpusmetodes gebruik te maak. ’n Vergelyking van Breytenbach se tydgenote met sy poësie sal ook interessant wees. Hoe die digters se styl en temas ooreenstem of verskil kan op ’n effektiewe manier ondersoek word met die gebruik van korpusse.
YT: Tot slot, Anke: Breytenbachs literaire werk is vertaald in meerdere talen en wordt mede dankzij het vertaalwerk internationaal gelezen en bestudeerd. Hoe heb jezelf, als particulier lezer of toeschouwer, het werk van Breytenbach ontdekt? Hoe verliep de eerste ontmoeting, wie heeft daar als beschouwer een bepalende rol in gespeeld? Welke teksten van Breytenbach waren voorgeschreven op school of aan de universiteit? Wat heb je zelf opgenomen op de leeslijsten voor studenten, teksten waarvan zou beslist hoogte moesten nemen? En ten slotte wat het receptieproces betreft: welke titels of kunstwerken van Breytenbach beschouw je zelf als hoogtepunten van de schrijvers- en kunstenaarsloopbaan?
AVDM: Van Breytenbach se gedigte is as voorgeskrewe poësie aangebied tydens my hoërskoolonderrig. Dit is wel net enkele gedigte en glad nie op die skaal wat ek latere jare op universiteit sou teëkom nie. In my eerste jaar het ek poësie by Louise Viljoen gehad. Ons het gedigte uit Poskaarte (1997) behandel, waarvan ’n paar van Breytenbach was. Ek het die lesings by Viljoen verskriklik geniet. Sy het gewys dat poësie uitdagend, maar nie oorkombaar is nie. Poësie was nie my sterkpunt op skool nie, maar dit het nooit my liefde vir die kuns weggevat nie.
Ysterkoei-blues 1964-1975 (2001) is in my tweede jaar voorgeskryf. Ek het natuurlik steeds die bundel met my potloodmerke in die kantlyne. Ek het beslis nie toe gedink dat die bundel eendag ’n kernrol in my navorsing, en dalk lewe, sou speel nie. Met die eerste paar vergaderings waar ek en my studieleier op ’n skrywer sou besluit, is ’n hele paar name rondgegooi. Ek het elkeen oorweeg en weer ’n paar tekste gelees om seker te maak of dit die regte keuse van onderwerp sou wees. Die gesprek het ook eers slegs prosa ingesluit. My liefde in letterkunde het wel altyd by poësie gelê en dit is waar ek toe gevra het of ons korpuslinguistiek en laatwerk op poësie ook kan toepas. Toe die antwoord ja was, het ek Breytenbach voorgestel. Die blou bundel wat in my boekrak gelê het was waaraan ek gedink het en geweet het dat ek nie net sou kans sien om vir drie jaar die werk te ondersoek nie, maar ook na sou uitsien. Tydens my navorsing het ek gewag vir die dag wat ek gedink het dat ek nooit weer ’n Breyten-bundel sou wou optel nie, maar daardie dag het nooit gekom nie. Ek dink ook nie dat dit sal nie.
Ysterkoei-blues 1964-1975 is ’n bundel wat ek gereeld oopmaak, maar nog ’n bundel wat by my bly, is op weg na kû (2019). Die toon van die bundel voel net vir my so anders as sy ander werk. Daar is verse wat meer uitstaan as ander, maar as geheel is dit ’n bundel wat ek geniet om weer te besoek.
Bronnelys
Anker, J. 2008. Die verwerking van trauma in twee Afrikaanse romans. LitNet Akademies, 5(2):153-170.
Breytenbach, B. 1964a. Die ysterkoei moet sweet. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel.
Breytenbach, B. 1964b. Katastrofes. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel.
Breytenbach, B. 1969. Kouevuur. Kaapstad: Buren.
Breytenbach, B. (skrywersnaam Jan Blom). 1970. Lotus. Kaapstad: Buren.
Breytenbach, B. 1972. Skryt: Om ’n sinkende skip blou te verf. Amsterdam: Meulenhoff.
Breytenbach, B. 1973. Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte. Kaapstad: Buren.
Breytenbach, B. 1976. Voetskrif. Johannesburg: Perskor.
Breytenbach, B. 1983a. Eklips. Emmarentia: Taurus.
Breytenbach, B. 1983b. (‘Yk’). Emmarentia: Taurus.
Breytenbach, B. 1984. Buffalo Bill. Emmarentia: Taurus.
Breytenbach, B. 1985. Lewendood – kantlynkarteling by ’n digbundel: Die eerste bundel van die ongedanste dans. Emmarentia: Taurus.
Breytenbach, B. 1990. Soos die so. Bramley: Taurus.
Breytenbach, B. 1993. Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde. Pretoria: Hond BK.
Breytenbach, B. (skrywersnaam Jan Blom). 1997. Oorblyfsels: ’n Roudig ter herinnering aan Daantjie Saayman. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. (skrywersnaam Jan Afrika). 1998. Papierblom: 72 gedigte uit ’n swerfjoernaal. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2001. Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte (1964-1975). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2005. Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte (1975-1983). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2007. Die windvanger. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2009. Oorblyfsel/Voice over. (Op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj/The nomadic conversation with Mahmoud Darwish). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2011. Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2012. Katalekte (artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2014. vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2016a. die na-dood (die singende hand se oggendboek-hierinneringe). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2016b. Die singende hand: Versamelde gedigte (1984-2014). Kaapstad: Human & Rousseau.
Breytenbach, B. 2019. op weg na kû: ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een. Kaapstad: Human & Rousseau.
Brezina, V., Weill-Tessier, P. & McEnery, A. 2021. #LancsBox v. 6.x. [sagtewarepakket].
Brink, A.P. 1971. Die poësie van Breyten Breytenbach. Kaapstad: Academica.
Ferreira, J. 1982. Die terugkerende simbool in die poësie van Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde magistertesis. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Laub, D. & Lee, S. 2003. Thanatos and massive psychic trauma: The impact of the death instinct on knowing, remembering, and forgetting. Journal of the American Psychoanalytic Association, 51(2):433-464.
Lourens, A. 2017. Die toepassingsmoontlikhede van die teoretiese gesprek oor laatwerk: ’n Ondersoek van die oeuvre van Pirow Bekker. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 29(2):73-94.
Maessen, F. 2019. Traumastudies en Breytenbachs gevangenispoëzie. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 26(2):20-29.
Said, E.W. 2006 [2007]. On late style. Music and literature against the grain. New York: Vintage Books.
Tait, C. & Van Vuuren, H. 2017. Die verjaardagversritueel in Breyten Breytenbach se oeuvre: 1964-2014. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 28(1):149-192.
Van Vuuren, H. 2014. “D.J. Opperman se laatwerk”. LitNet Akademies, 11(2):688-714.
Viljoen, L. 2014. Die mond vol vuur. Stellenbosch: Sun Media.
Lees ook:
Breyten schrijven #37: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Sandra Saayman
Breyten schrijven #36: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Laurens Vancrevel
Breyten schrijven #35: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Francis Galloway


