Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Goeiemôre
Ons tienjarige gemengderashond (DBV) het die afgelope drie maande die probleem dat hy sy stoelgang net enige plek doen. Ons woon op ’n plot en hy het vroeër altyd ver van die huis af sy sake gedoen. Deesdae doen hy dit in die huis, kantoor en sy bed en bly lê dan so daarmee saam en slaap. Hy sal rustig buite rondloop en so elke paar treë ’n hopie agterlaat, sonder dat die lyk asof hy dit agterkom.
Raad, asseblief? Hy is gewoond om in die huis te kom en by my te wees, maar kan ook nie verstaan hoekom hy nie meer toegelaat word nie.
Ons vertrou dat daar raad is vir hom, want hy is baie geliefd.
Mooiste dag!
Naomi van Niekerk
Beste Naomi
Daar is ’n paar moontlike redes vir die gedrag wat jou hond op die oomblik toon:
- Dit kan wees dat die senuwees in sy rug begin agteruitgaan. Die senuwees is verantwoordelik vir die fyn beheer oor sy agterpote, maar ook dinge soos stoelgang.
- Dit kan ook wees dat hy begin ly aan ’n weergawe van honde-alzheimers, en dat hy van tyd tot tyd begin vergeet hoe om sy besigheid te doen.
- ’n Ander moontlikheid is dat hy ’n dikdermontsteking opgedoen het. So ’n ontsteking kan honde baie gereeld klein stoelgange gee, en ek het al ’n paar keer gesien dat hulle so reageer in plaas daarvan om elke tien treë te stop om te hurk.
- Dit kan ook ’n gewas wees wat die senuwees in sy dikderm aantas.
Ek weet dit klink na ernstige dinge, maar die goeie nuus is dat ons deesdae behandeling het vir die meeste van die bogenoemde kondisies – selfs vir honde-alzheimers, kan jy glo?
Ek sal dus aanraai dat jy jou hond veearts toe neem sodat hulle kan bepaal wat presies die oorsaak is, sodat ons hom vroegtydig op die regte behandeling kan kry en hom hopelik weer binnekort binne, by julle, kan terugkry.
Groete
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.


