Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Goeienaand
Ek wil net graag uitvind: My gemmerkatmannetjie (5 jaar oud) het ’n urine-infeksie. Wat kan ek hom gee, asseblief?
Baie dankie
Madeleine
Beste Madeleine
Ongelukkig is ’n urineweginfeksie in ’n kat iets wat vinnig by ’n veearts moet kom, en in mannetjieskatte nog dringender as in wyfies. Die rede daarvoor is anatomies. As jy dink aan ’n mannetjieshond, dink jy aan ’n redelik ooglopende stuk toerusting waardeur hulle urineer. Maar waar is ’n mannetjieskat se geslagsorgaan? Binne sy bekkengordel ingetrek. Dit beteken daar is ’n baie nou gangetjie waardeur urine uitgelaat kan word. Tydens ’n urineweginfeksie kan bloedklontjies of klein kristalletjies wat in die urine vorm, hierdie gangetjie heeltemal verstop. Dit is absoluut ’n noodgeval en kan binne ’n paar uur dodelik wees.
Enige infeksie in ’n mannetjieskat is dus onmiddellik kommerwekkend.
Die goeie nuus is dat julle terugvalle teë kan werk met ’n aangepaste dieet sodra die oorspronklike infeksie opgeklaar is.
Sterkte
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?