Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Adriana Beukes skryf:
Hallo, my worshondjie is sewe jaar oud, nou in Desember. Hy was lief vir spring; hy het gedink hy is Superman.
Sy ruggie het nou begin seer raak. Miskien een keer te veel gespring?
Hy is veearts toe en hul het hom antiinflammatoriese meds gegee en gesê hokrus vir twee weke.
Ons het hom toegesluit in ons badkamer, maar hy krap die deur stukkend en huil die hele tyd. Ons het nie hondehokke of kratte nie.
Hy spring nie meer op die banke nie, dis te seer, maar ons het baie trappe by ons voordeur, wat ’n probleem is as hy daar uitgaan en terugkom. Ons het ook nie iemand wat hom 24 uur per dag kan oppas nie. Ek het nou ’n rugstut aanlyn bestel maar dit maak hom depressief, en hy loop minimaal rond nou.
Sy pyngoed is klaar, maar die veearts sê ons moet hom terugbring. Hulle wil nie meds gee sonder dat hul hom sien nie. Hoe lank en wat is die beste langtermynmeds vir hom? Ek oorweeg dit om hom vir twee weke in ’n hondehotel in te boek, maar hy sal dink ons het hom verlaat.
Beste Adriana
Interessant genoeg het ek ook dié week gesels oor Sindy se hondjie en die redes om versigtig te wees vir pynstillers in hondjies – hulle magies en lewers is baie sensitief vir antiinflammatoriese medikasie. Dis hoekom hulle nie sommer menslike pille kan gebruik nie, en ook die rede hoekom jou veearts waarskynlik weer wil kyk hoe dit gaan.
In ’n middeljarige worsie soos jou klein Superman is daar twee redes vir ’n seer ruggie: artritis of ’n intervertebraleskyfprolaps. Die eerste is pynlik en kronies, terwyl die tweede oornag van effense ongemak na ongelooflike pyn en verlamming kan lei. Ons moet dus versigtig wees om dinge nie erger te maak nie, maar ek het goeie nuus: Fisioterapie kan ’n meerderheid hondjies help om gemakliker te leef. Spesiaal opgeleide hondefisioterapeute werk saam met veeartse, en net soos fisio’s vir menslike rehabilitasie help hulle om die spiere rondom die rug te versterk sodat die ruggie meer steun kry. En die meeste fisio’s help ook met maniere om hond se kind aktief en by julle te hou, sonder lang periodes van hokrus.
Gesels met jou veearts daaroor, of as jy meer wil uitvind, kan jy by die South African Animal Physical Rehab Association se webblad ’n draai gooi: https://saapra.co.za.
Sterkte!
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: My hond wil niks anders as tafelkos eet nie
Vra die veearts: Raad vir ’n rou kol wat nie wil genees nie?
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?
Vra die veearts: Sodra dit aand word, toon hond my vreemde gedrag
Vra die veearts: Die werkers het vir my ’n babasteenbokkie gebring
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: Dit lyk of iets in ons troetelhen se keel vassit
Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep
Vra die veearts: Kan iemand help om ons honde in vrede saam te laat wees?
Vra die veearts: My hond raak histeries, so erg dat sy my byt
Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm