Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
AJ Voigt skryf:
My pitbull se vel het ’n rou stukkende plek in haar liesomgewing. Sy lek dit aanhoudend. Het haar al by veearts gehad sonder sukses. Dit bloei nie en lyk net soos ’n oop seerplek.
Wat kan dit wees en hoe kan ons dit behandel?
Veearts het pille gegee vir hotspots.
Hoop jy kan vir Coco help.
Dankie.
AJ Voigt
Beste AJ
Daar is ’n paar verskillende redes hoekom pille vir hotspots nie ’n verskil sou maak nie, selfs al was dit die regte plek vir jou veearts om te begin met die ondersoek van Coco se vel.
Hotspots se tegniese naam is superfisiële pioderma, ’n bakteriële infeksie van die vel, wat ongenadiglik kan jeuk en ook die vel rou kan maak.
So die eerste ding wat ’n veearts gewoonlik doen, is om antibiotika voor te skryf wat vir die meeste velinfeksies werk. Maar bakterieë bou al hoe meer weerstand op teen antibiotika. Dit is dus moontlik dat sy wel ’n hotspot het, maar net een wat nie reageer op die eerste tipe antibiotikum nie.
’n Tweede moontlikheid is dat sy ’n diep pioderma het. Dit is ’n hardnekkige infeksie van die onderste laag van die vel wat algemeen is in bulhonde en verwante rasse. Die bakterieë wat diep pioderma veroorsaak, is berug omdat hulle baie moeilik is om uit te roei. En ongelukkig is daar ook ’n tipe velkanker wat nes ’n oop seerplek lyk.
Dus is die beste raad wat ek vir Coco kan gee, om terug te gaan na jou veearts toe en die pad saam met hulle te stap. Hulle pille was die regte eerste stap. Nou moet ons saam verder loop om te sien hoe ons Coco kan help.
Sterkte!
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?
Vra die veearts: Sodra dit aand word, toon hond my vreemde gedrag
Vra die veearts: Die werkers het vir my ’n babasteenbokkie gebring
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: Dit lyk of iets in ons troetelhen se keel vassit
Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep
Vra die veearts: Kan iemand help om ons honde in vrede saam te laat wees?
Vra die veearts: My hond raak histeries, so erg dat sy my byt
Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm