Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep

  • 0

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.

Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.

***

Frans skryf:

Goeiemiddag

Ek vra ’n bietjie raad asseblief.

My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep.

Sy het wel al haar eerste inspuitings gehad en ek het haar Saterdag by die veearts gehad waar hulle haar gehou het en op ’n drip gesit het. Haar koors was ook ’n bietjie hoog.

Ons was Sondagaand by die veearts en hulle het gesê sy is baie beter en ons kan haar huis toe vat, wat ons toe gedoen het.

Sy is baie pap en wil glad nie eet nie. Sy drink gelukkig baie water en ons sit ook glukose in die water. Het haar vanoggend ProNutro met glukosewater gegee en sy het dit gedrink.

Wat kan ek doen om haar te kry om te eet en krag op te bou? (Het fyn hoender en puppy-blikkieskos ook probeer, maar niks.)

Sal sy oukei wees net met die glukose-inname?

Baie dankie

Groete

Frans

 

Beste Frans

Katgriep is ’n aaklige siekte en een waarvoor Rottweilers ongelukkig besonder vatbaar is. Nes Covid is hulle nie ten volle beskerm na die eerste inenting nie, maar in die meeste gevalle is die simptome wel minder ernstig. Sonder inenting het klein hondjies nie veel beter as ’n 50%-kans om te oorleef nie.

Die feit dat sy sterk genoeg was om huis toe te kom, is goeie nuus! Ek verstaan hoekom jy bekommerd is dat sy nie wil eet nie, en indien dit meer as ’n dag of twee aanhou, sal ek tog voorstel om haar terug te neem veearts toe vir ’n opvolgondersoek, maar indien sy water met glukose in drink en dit nie weer onmiddellik opgooi nie, is ek wel tot ’n mate gerusgestel oor haar herstel.

Net soos kinders, het klein hondjies proteïen en ander voedingstowwe nodig om te groei, maar tydens katgriep voel hulle só olik dat dit baie moeilik is om hulle te kry om te eet, en om hulle ten minste water en ’n bietjie energie in te gee is ’n baie goeie vorm van tuissorg.

Probeer maar weer met sagte kossies om haar te tempteer. Maar as ’n veearts kan ek beaam dat ek altyd so dolgelukkig is om ’n katgriephondjie lewend te sien dat ek vermoed jou veearts sal glad nie omgee as jy haar terugneem vir raad nie! Daar is veeartskosse wat mikronutriënte het spesifiek gemik daarop om die dermkanaal te help herstel, en hulle sal dalk voel dat so ’n kos vir ’n rukkie kan help, tot haar stert weer lekker swaai.

Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.

Lees ook:

Vra die veearts: Ons honde trek vreeslik

Vra die veearts: Kan iemand help om ons honde in vrede saam te laat wees?

Vra die veearts: Diere versteur die balans in die huis

Vra die veearts: Honde moet ophou stout wees

Vra die veearts: My hond raak histeries, so erg dat sy my byt

Vra die veearts: Epilepsie

Vra die veearts: Dit is moeilik om my perde te verkoop

Ask the vet: My Yorkie cries when I leave

Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm

Vra die veearts: Abby jeuk, Lulu kry aanvalle

Vra die veearts: Vlekkie kry angsaanvalle

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top