Marianne Lomberg (BVSc Hons) is ’n veearts wat dit geniet om met mense oor hulle diere te gesels. Stuur jou vrae na veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is a veterinarian who enjoys talking to people about their animals. Send your questions to veearts@voertaal.nu.
Marianne Lomberg (BVSc Hons) is een dierenarts die graag met mensen over hun dieren praat. Stuur je vragen naar veearts@voertaal.nu.
***
Brenda Otto skryf:
Ons het onlangs getrek. Vandat ons in die nuwe huis is, kry my 15-jarige Jack Russell bewerasie in die aande en begin dan hewig asemhaal ("pant").
Hy is blind en dowerig, maar in die dag is hy aktief en eet hy goed. Sodra dit aand word, toon hy dié vreemde gedrag.
Wat kan dit wees en wat kan ons daaraan doen?
Beste Brenda
Soos diere ouer word, kan geluide wat hulle net-net kan hoor, hulle soms verbouereerd maak, en indien dit die geval is, kan ek dalk raad gee wat help.
Maar as 'n veearts sou ek aanraai dat jy eers ’n draai by jou eie veearts maak en vra dat hulle na jou kleinding se hart luister. Ouer honde kan hartversaking ontwikkel wat hulle kortasem laat voel, veral saans, en sommige honde raak paniekerig wanneer hulle voel of hulle nie kan asem kry nie. (Ek is presies dieselfde wanneer ek slegte asma-aanvalle kry!)
Indien jou woef se hart geen probleme toon nie, stel ek voor dat julle in die aande ’n roetine begin waar julle hom op 'n kombersie laat lê met 'n speelding of kouding waarvan hy hou, die gordyne toegetrek teen vreemde skaduwees wat deur die vensters kan inkom, en julle gunstelingradiostasie wat saggies in die agtergrond speel. Die bekende geluide hoort hom te help om rustig te raak, selfs in die nuwe omgewing.
Marianne
Vandag se antwoord word geborg deur My Pet Club (www.mypetclub.co.za). My Pet Club wil jou help om tyd en geld te bespaar, ook kennis op te bou wat jou sal help om die beste moontlike sorg aan jou troeteldiere te gee.
Lees ook:
Vra die veearts: Die werkers het vir my ’n babasteenbokkie gebring
Vra die veearts: Dit lyk soos ’n bosluis, maar is dit velkanker?
Vra die veearts: Dit lyk of iets in ons troetelhen se keel vassit
Vra die veearts: My nege weke oue rottweiler-tefie het katgriep
Vra die veearts: Kan iemand help om ons honde in vrede saam te laat wees?
Vra die veearts: My hond raak histeries, so erg dat sy my byt
Vra die veearts: My Jack Russell is doof, grondpaaie laat hom kerm